Gee ons weer hoop, minister Godongwana

WOENSDAG MET WILLEM

Gee ons weer hoop, minister Godongwana

WILLEM KEMPEN sê die opmars van die botte het reeds begin, PIETER VAN DER MERWE hoop vanmiddag se staatsbegroting bied 'n bietjie hoop, en soos altyd is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 22 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Suid-Afrika kan ’n “deurslaggewende aankondiging” oor die kragkrisis verwag wanneer die minister van finansies vanmiddag die staat se begroting vir 2023-’24 in die parlement ter tafel lê, het Mondli Gungubele, minister in die presidensie, volgens eNCA gesê. Die aankondiging het waarskynlik te doen met Eskom se skuldlas van meer as R400 biljoen.

2. Santaco het sy planne laat vaar vir ’n massiewe taxistaking vandag ná gesprekke met lede van die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad, onder wie premier Alan Winde, burgemeester Geordin Hill-Lewis en Ricardo Mackenzie, provinsiale minister van vervoer.

3. Panyaza Lesufi het in sy eerste provinsiale rede as Gautengse premier onder meer onderneem om naspoortoerusting op geregistreerde vuurwapens te laat aanbring en voertuigregistrasiedokumente moeiliker te maak om te vervals. Lesufi het belowe om misdadigers die stryd aan te sê: “Our province is home to heartless criminals who do as they wish. Our situation is out of control.” Van die premier se ander planne sluit in meer as R700 miljoen wat vir nuwe misdaadbestrydingsprojekte geoormerk is, 400 nuwe motors vir provinsiale wetstoepassers, en 180 afstandbeheerde dreuntuie om gebiede te monitor waar die polisie sukkel om uit te kom.

4. Cilliers Brink is verkies as die DA en die veelpartykoalisie se kandidaat as uitvoerende burgemeester van Tshwane. Brink is sedert 2020 die DA se skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake.

5. Rusland gaan ophou om by die New START-verdrag oor strategiese kernwapens met die VSA te hou, het pres. Vladimir Putin aangekondig. Hy het terselfdertyd aan die Russiese parlement gesê nuwe strategiese wapenstelsels gaan nou in die oorlog in Oekraïne in gebruik geneem word, en gewaarsku dat die land kerntoetse kan hervat. Dit sal Vrydag ’n jaar wees sedert Rusland se inval in Oekraïne, wat veronderstel was om ’n “spesiale operasie” van slegs dae of weke te wees.


Kyk weer ...

’n Hittegolf word oor dele van die Noord-Kaap verwag wat tot toestande kan lei wat ’n hoë brandgevaar inhou. Limpopo en KwaZulu-Natal kan nog enkele buie verwag, andersins matige toestande vir die grootste deel van die land.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Polokwane 28°C • Mbombela 26°C • Upington 35°C • Bloemfontein 29°C • Kaapstad 24°C • George 23°C • Worcester 30°C • Durban 26°C • Gqeberha 25°C.


Pieter van der Merwe | Maneskyn en rosegeur maak plek vir donker en stink 

Ek sal in uur drie van ’n vier ure lange kragonderbreking wees wanneer die minister van finansies, Enoch Godongwana, vanmiddag met sy begrotingtoespraak begin.

Van Godongwana se aankondiging in sy mediumtermynbegroting dat Suid-Afrika binnekort sy skuld sou kon stabiliseer – meestal danksy hoër kommoditeitspryse – gaan daar nie veel kom nie. Die werklikheid is dat ses maande se byna ononderbroke beurtkrag ’n swaar tol eis.

Die geloofwaardigheid van Godongwana se pragtige syfers in Oktober was gegrond op “voorwaardes” wat nie waar geword het nie. Die nasionale tesourie het byvoorbeeld gehoop op ’n jaarlikse ekonomiese groeikoers van 1,6%, maar in Januarie het die Reserwebank gesê vanjaar se werklike groeikoers sal nader aan 0,3% wees. Beurtkrag alleen kos die ekonomie tot twee persentasiepunte aan groei. En dit was nog voor daar sprake was van ’n tegniese resessie, soos Business Day gister berig het.

Godongwana het ook streng perke oor staatsbesteding in die vooruitsig gestel, soos ’n onderneming om stygings in staatsdienswerkers se lone tussen 2023 en 2026 tot 3,3% per jaar te beperk. Dit terwyl die regering reeds ’n styging van 4,7% aangebied het, en Cosatu en Saftu gereed maak vir stakings as hulle nie hou van wat die minister vandag sê nie.

Godongwana het in Oktober gesê die regering is van plan om ’n gedeelte van die kragreus se skuld van meer as R400 biljoen oor te neem, mits aan ’n reeks “streng voorwaardes” voldoen word. Sonder die berg skuld kan Eskom op langtermyn-volhoubaarheid fokus. Maar die meer dringende kwessie is hoe om die ligte aan te hou.

Hoewel Eskom sonder die enorme skuldlas weer in infrastruktuur sal kan belê om die netwerk te versterk, gaan dit nie op kort termyn veel beteken nie. Om die onmiddellike krisis die hoof te bied, is dit belangriker om noodfinansiering ingevolge die ramptoestand beskikbaar te stel, en om huishoudings en besighede te help om in sonpanele te belê. Ongelukkig vir die minister kos al dié dinge geld.

Asof dit nie genoeg is nie, is daar ook Ramaphosa se belofte tydens sy staatsrede dat maatskaplike toelae aangepas sal word om die miljoene begunstigdes teen hoër lewenskostes te beskerm. En sommer ook die verlenging en verhoging van die maatskaplike noodtoelae.

Kan Godongwana ondanks dit alles die syfers laat klop? Kan hy moedelose Suid-Afrikaners weer hoop gee, en potensiële beleggers weer laat nader staan?


Image: ANGELA TUCK

Goeie nuus oor fake rympies, maar slegte nuus oor die opmars van die botte

Is jy so gelukkig dat daar ’n skildery van een of ander groot kunstenaar iewers in jou huis hang? Dalk ’n Maggie Laubser of ’n Sekoto of ’n Kentridge? As jy regtig rol in die geld, dalk selfs iets van Elmyr de Hory.

Elmyr de Wié? vra jy.

Elmyr de Hory was heel moontlik die een groot meester van wie die meeste mense nog nooit gehoor het nie, want hy het nie ’n gewoonte daarvan gemaak om sy werke te onderteken nie. Trouens, hy het die meeste van die tyd iemand ánders se naam onderaan sy skilderye aangebring. Name soos Amedeo Modigliani en Pierre-Auguste Renoir.

Want sien, De Hory was ’n vervalser, ’n bedrieër, iemand wat ’n loopbaan daarvan gemaak het om die groot meesters se skilderye na te doen en dit dan vir groot geld aan niksvermoedende galerye of versamelaars te verkwansel. Die meeste mense wat sy naam vandag ken, is dié wat Orson Welles se 1974-fliek F for Fake gesien het. Daarin speel Welles met allerhande temas oor wat eg en wat vals is en wat van iets goeie of waardevolle kuns maak.

Want as iemand soos De Hory iets kan skilder wat nie van ’n ware werk van sê nou maar Henri Matisse onderskei kan word nie, is hy dan nie net soveel van ’n meester nie? Soos De Hory self graag gevra het: “Would you prefer a bad original to a good fake?”

Ek dink gister weer aan De Hory toe ek in Business Insider lees van Wineen Swart se besigheid, Paint by Numbers.

Hier kan jy vir ’n paar honderd rand alles koop wat jy nodig het om jou eie weergawe van die einste Matisse, of ’n Pierneef of ’n Irma Stern of Vincent van Gogh se Sonneblomme self by die huis te gaan skilder.

Ek sou nogal graag my eie nabootsing van De Hory se weergawe van een van Matisse se odaliske wou skilder, maar selfs met nommertjies om my te help gaan niemand dit ooit met ’n groot kunswerk verwar nie. Maar miskien het dit dan juis meer waarde hoe meer ek afwyk van die oorspronklike weergawe, want dan word dit mos my eie werk, nie waar nie?

Natuurlik is daar ook ’n groot verskil tussen iets wat vir mý waarde het en wat vir iemand anders waarde het. Die (deesdae erg gecancelde) Engelsman Rudyard Kipling het in sy gedig “The Conundrum of the Workshops” geskryf:

Our father Adam sat under the Tree and scratched with a stick in the mold;
And the first rude sketch that the world had seen was joy to his mighty heart,
Till the Devil whispered behind the leaves: “It’s pretty, but is it Art?”

Dis al klaar ’n moeilike vraag as iets deur ’n mens tot stand gebring is, maar wat maak mens met al die skeppings deur een of ander digitale dierasie soos ChatGPT of Stable Diffusion? Laasgenoemde kan skynbaar ’n heeltemal oorspronklike prentjie optower as mens net ’n paar sleutelwoorde intik – en dit kos niks nie, behalwe dat dit waarskynlik reeds “regte” kunstenaars hulle werk begin kos het.

Dis ook nie net kuns nie. Robotte kan deesdae alles hanteer van huurkontrakte tot bouplanne vir ’n landskap vol eenderse Toskaanse villas; en boonop goedkoper en waarskynlik net so akkuraat soos wat ’n prokureur of argitek met jare se opleiding en ervaring kon gedoen het. Microsoft se VALL-E kan enige mens se stem naboots, kompleet met verskillende emosies, deur vir net drie sekondes na ’n opname daarvan te luister.

En dinge is besig om te versnel. Kunsmatige intelligensie het die afgelope drie maande met enorme spronge vooruitbeweeg. Universiteite en skole oor die wêreld heen probeer plan maak om plagiaat en ander kopieregskendings te keer. Niemand is meer seker wanneer iets nuut of vars of oorspronklik is nie. Jy kan selfs nie eens regtig weet of wat jy hier lees nie dalk deur ’n bot geskryf is nie.

Net langs gister se berig oor Paint by Numbers sien ek ook Business Insider se aankondiging dat hulle gaan sluit. En ’n uur of wat later Adriaan Basson van News24 se betoog oor waarom dit geld kos om nuus in te samel: “Google and Facebook don’t employ journalists. We do.”

Daar is darem goeie nuus ook. ChatGPT was gisteroggend ure lank van lyn af, met die boodskap: “ChatGPT is at capacity right now.”

En daaronder ’n poging tot rap-lirieke om op te maak. Dit begin só:

Yeah, yo, what’s up ChatGPT fam
A lot of people trying to jam
But don’t worry, we got your back
Just check back soon, we’ll get on track

Ek was lanklaas so verlig om iets so swak te moet lees.

Tot volgende keer
Willem


Dis twee dae voor ons Stilbaai-boekefees!

* Vir nog inligting oor die fees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


Winternag

O koud is die windjie
en skraal.
en blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
tot ryp in die kou!

– Eugene Marais

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.