Goeiemôre vriende
Ek groet uit Stilbaai, waar ons boekefees dié naweek plaasgevind het.
Ek het gister hierdie nuusbrief begin skryf so tussen die Baptiste-kerksaal, waar die boekbesprekings plaasgevind het, en die markiestent, waar tussendeur gekuier is (en toe gisteraand geëindig in ons huurhuis met Elmari wat oorkant my sit en my sinne edit soos wat ek skryf, Laureen wat voorstelle oor die kamer skreeu en Anastasia wat sit lag vir wat voor haar afspeel).
Met die openingsgesprek Vrydagaand het Max ons herinner dat toe ons ’n jaar gelede ons eerste boekefees geopen het, dit die dag was wat Rusland Oekraïne binnegeval het. Ek onthou die gevoel daardie aand – van wéét dat iets fundamenteel in die wêreldorde aan die skuif was. Oekraïne is nou ’n hele jaar lank reeds onder bombardering van die Russe.
Maar daar was ook iets wat anders was as ’n jaar gelede. Ons moes toe nog sekere Covid-regulasies toepas. Daar was ’n beperking op hoeveel mense ons in die saal kon toelaat en ons het maskers gedra, selfs buite. Vanjaar was ’n regte gul fees met omhelsings en bladskud en groepe mense wat met koffie en pannekoek om tafels gekloek het in die markiestent.
Die saal was Vrydagaand propvol met die redakteursgesprek met Max, Piet Croucamp, Anastasia de Vries en ek, en nóg voller met die finale boekbespreking laat Saterdagmiddag toe Max in gesprek was met twee van ons voorste ondersoekende joernaliste, Jacques Pauw en Pieter du Toit.
Dit is presies wat ons met ons Vrye Weekblad-nisfeeste wil doen: Dit moet klein genoeg wees vir intieme en deurdringende gesprekke, maar groot genoeg om van die grootste name in die boekewêreld aan ons lesers bekend te stel. (Alhoewel bekendstel waarskynlik die verkeerde woord is om te gebruik, want Vrye Weekblad-lesers is boekbehep en ken die meeste skrywers reeds.)
Daar was twee sessies wat die gehoor in trane gehad het. Lindie Stander en Ivor Swartz het gepraat oor hulle kindertrauma. Albei het hard geval en weer opgestaan. Albei ken depressie. Daar was nie ’n droë oog in die gehoor aan die einde van die gesprek nie.
Daar was ook weer trane toe Thérèse Hulme vertel hoe sy jong kinders bemagtig deur hulle te laat dig. In dieselfde sessie, wat vir my besonders was, was Elna van der Merwe se gesprek met Ingrid Jones, die samesteller van Beyond the Blue: Women of the Sea, ’n boek oor vissersvroue wat ’n bestaan maak in kusdorpies. Die vertellinge van een van die visservroue, tannie Betsie, wat Tannie se Kombuis in Waenhuiskrans begin het, het die gehoor vasgenael gehou.
Ons Stilbaai-boekefees was baie dinge. Dit was 'n viering van boeke en skrywers. Dit was liefdesbrief aan Afrikaans. Maar dit was ook 'n dag lange gesprek oor ons diep gedeelde menslikheid, oor die liefde vir ons land en ons diep bekommernis oor die toekoms. En dit was ook, soos Max in sy slotwoorde gesê het, 'n erkenning van die merkwaardige veerkragtigheid van ons, die mense van Suid-Afrika.
En hier is die goeie nuus! Wat ons hierdie naweek op Stilbaai gedoen het, doen ons binnekort weer in Cullinan.
Ek is volgende week weer terug met aanbevelings.
Daarmee groet ek
Anneliese Burgess
annelieseburgess@vryeweekblad.com
Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees!
Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.