Et tu, Pravin

MAANDAG MET MAX

Et tu, Pravin

Pravin Gordhan het nie saam gesteel of bedrieg nie, sê MAX DU PREEZ. Maar dat hy die ANC se belang bo dié van die land kies, soos blyk uit sy opmerkings ná André de Ruyter se onthullings in ’n omstrede TV-onderhoud, maak hom aandadig. ANNELIESE BURGESS is voel magteloos en moedeloos oor transitorowers wat wéér nie aan die pen sal ry nie. En soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 27 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Pres. Cyril Ramaphosa het luidens berigte sy konsultasie met sy alliansievennote, Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), hierdie naweek afgehandel en ’n nuwe kabinet sal “binnekort” aangekondig word. Geen verrassings word verwag nie.

2. ’n Aankondiging oor ’n nuwe ooreenkoms tussen die Europese Unie en Brittanje oor ’n post-Brexit-handelsooreenkoms vir Noord-Ierland sal na verwagting vandag aangekondig word. Brittanje wil hê dat die Noord-Ierland-protokol, ’n ooreenkoms wat vereis dat goedere wat vir Brittanje bestem is deur doeane moet gaan, verander moet word.

3. Die eerste uitslae van die Nigeriese verkiesing behoort vandag bekend gemaak te word. Daar word verwag dat ’n rekordgetal kiesers (uit 93,5 miljoen) hulle kruisies sal trek om ’n nuwe president te kies. Daar is 18 kandidate wat hulle verkiesbaar gestel het. Die verkiesing kom te midde van groot ekonomiese en sekuriteitskwessies in die land. Tweederdes van die 220 miljoen inwoners lewe in armoede, olieproduksie het tot die laagste vlak in 40 jaar geval, en inflasie het tot 21,8% gestyg.

4. Minstens 59 vlugtelinge uit onder meer Afghanistan en Iran is dood toe ’n boot aan die kus van die suide van Italië op die rotse geloop het.

5. Die Proteas het naelskraaps teen Australië verloor in die T20-Wêreldbeker.


Vandag se weer

Waarskuwings is uitgereik oor ontwrigtende reën wat tot oorstromings kan lei en moeilike rytoestande kan skep oor dele van Limpopo en Mpumalanga. Uiters hoë brandgevaartoestande word oor die sentrale, oostelike en noordelike dele van die Noord-Kaap verwag. ’n Hittegolf word tot Donderdag oor die Dawid Kruiper- en Kai !Garib-munisipaliteite in die Noord-Kaap verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 31°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 26°C • Durban 28°C • Worcester 34°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 25°C • Upington 41°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 27°C.


Anneliese Burgess | Woede van magteloosheid oor transitorooftogte

Die Valke se taktiese eenheid en lede van die blitspatrollie in Pretoria het Saterdagaand die skuilplek van vermeende transitorowers in ’n rustige voorstedelike woonbuurt oopgekrap.

Netwerk24 berig dat die verdagtes “weggekom het en dat beurtkrag ook nog tussendeur toegeslaan het”, maar dat gesteelde voertuie, hope ammunisie en aanvalsgewere sowel as plofstof gevind is.

Die huis is strategies geleë naby die N1- en N4-hoofweë waar transitorooftogte gereeld plaasvind.

Dit is wonderlik dat die polisie dié slag geslaan het. Maar hierdie saak gaan bly by dié blymoedige media-opskrif. Niemand sal in hegtenis geneem word nie. Niemand sal vervolg word nie. En niemand sal in die tronk beland nie. Ons strafregstelsel is nie opgewasse teen die tipe georganiseerde misdaad wat transitorooftogte insluit nie.

In my boek, Heist: South Africa’s Cash in Transit Epidemic Uncovered, verduidelik ek presies hoekom. Om doeltreffend teen georganiseerde misdaad op te tree, het ons een basiese ding nodig: ondersoekbeamptes wat die kennis en ervaring het om ’n saak te bou wat in ’n hof kan staan. Dit klink eenvoudig. En dit klink voor die hand liggend, maar die feit is dat dit iets is wat ons nie meer het nie. Ja, hier en daar is dit nog, maar oor die algemeen is dié heel basiese boublokke afwesig. Ek hoor dit oor en oor by die (vuisvoos) mense in die transitowêreld: “Ons weet wie die ouens is wat oor en oor en oor transitorooftogte pleeg, en ons het die intelligensie om hulle oor en oor te vang, maar dit is waar dit eindig. Sodra dit na die strafregstelsel oorgaan, is dit ‘die einde’. Die sake word óf deur onbekwaamheid gekelder óf deur korrupsie deur ondersoekbeamptes en staatsaanklaers wat voor die voet omgekoop word.”

Ek lees ’n storie soos dié in Netwerk24 vandag, en ek word oorkom deur ’n moedeloosheid, en ’n woede. Dit is ’n klug. Aanvalsgewere en plofstof in ’n voorstedelike huis?!!! In ’n ander land sou dit vir weke die voorblaaie haal, en ons sou die vervolging van die saak met groot aandag volg. En dan sou ons uiteindelik die bevrediging hê van ’n uitspraak in die hof. Maar hier in Suid-Afrika is ons is afgestomp om niks beter te verwag nie.


Image: ANGELA TUCK

Gordhan is deel van die probleem

Naas die skone Marie wat my op 16-jarige leeftyd afgesê het, is Pravin Gordhan my grootste teleurstelling. Wel, Cyril Ramaphosa seker ook, maar ek is nou al daaroor.

Ek het Gordhan oor meer as 30 jaar leer ken as ’n toegewyde politikus wat nooit in vertoon belanggestel het nie en nooit by enige ongerymdhede of korrupsie betrokke was nie. Hy het ’n hekel aan konvooie swart weeldemotors en falankse lyfwagte gehad en het harder gewerk as enige ander kabinetslid.

Gordhan het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) een van die bestes ter wêreld gemaak, was ’n bekwame minister van finansies en het sy vingers stomp geveg sodat die nasionale tesourie nie in die Zuptas se warm kloue kon beland nie.

Hy was wel nie baie suksesvol om as minister van openbare ondernemings Eskom, Denel, die Poskantoor, PetroSA, Transnet en Prasa van staatskaping te laat herstel nie, maar ek het geglo dit was in ek geval ’n onbegonne taak en dat sy etnisiteit in die toenemend swart nasionalistiese ANC hom van die nodige politieke spierkrag ontneem het.

Gordhan het rotsvas gestaan toe die EFF, die RET-faksie en die uittredende openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, genadeloos op hom jag gemaak het.

Toe die minister van minerale en energie, Gwede Mantashe, die hoofbestuurder van Eskom, André de Ruyter, van hoogverraad beskuldig het omdat hy kwansuis beurtkrag gebruik het om die staat te laat val, was Gordhan die enigste senior figuur wat dit as ’n onregverdige aanklag bestempel het.

Image: GALLO IMAGES/MLUNGISI LOUW

Toe De Ruyter in Desember bedank, het Gordhan sy waardering vir De Ruyter se “sacrifice and resilience” uitgespreek, al was De Ruyter toe al die gunsteling-teiken van die populiste. Gordhan het selfs stewig teen Mantashe en sy steenkoolbende se propaganda gestaan.

Maar toe gee De Ruyter sy onderhoud aan eNCA verlede week waarin hy die ANC en misdaadsindikate die skuld vir Eskom se verval gegee het en gesuggereer het dat daar ’n kabinetslid is wat aandadig is.

Net daar sien ons toe die ander kant van Pravin Gordhan. Hy het De Ruyter skerp aangeval en gesê hy moet sy werk doen en hom uit die politiek hou. “What Mr. De Ruyter effectively said was that all of us in government are idiots and that stirred the backlash. He did not pay the attention to Eskom’s generation that he should have, and instead swanned around the world looking at renewables.”

“Swanning around the world” verwys na De Ruyter se pionierswerk in die buiteland en by die VN om nywerheidslande te oorreed om $8,5 biljoen aan Suid-Afrika te bewillig om die gebruik van steenkool geleidelik te verminder – ’n fonds wat De Ruyter nou vrees geplunder gaan word.

Die korrupsie by Eskom wat nou aan die lig begin kom, slaan ’n mens se asem weg. Met al die bewimpeling van groot tenders (’n Switserse maatskappy het pas erken dat hulle omkoopgeld betaal het vir kontrakte met die bou van die Kusile-kragstasie, byvoorbeeld), die diefstal van honderde miljoene en die sabotasie en verneukspul van misdaadsindikate sou Eskom nooit gered kon word nie. En De Ruyter se herhaalde pleidooie dat die strafregstelsel daarteen optree, het grootliks op dowe ore geval.

Twee van Suid-Afrika se voorste ondersoekende joernaliste, Jacques Pauw en Pieter du Toit, het Saterdag tydens ’n paneelbespreking op Vrye Weekblad se Stilbaai-boekefees gesê hulle weet vir ’n feit dat De Ruyter en sy bedryfshoof, Jan Oberholzer, al dié feite in besonderhede aan Gordhan en pres. Cyril Ramaphosa voorgelê het. Name en al.

De Ruyter het in sy onderhoud met eNCA gesê toe hy die korrupsie van ’n “high-level politician” aan ’n minister noem, het die minister aan ’n kollega opgemerk: “It was probably inevitable that it would come out.”

Die minister ter sprake was die einste Pravin Gordhan.

Miskien kan ek hier net noem dat die uittredende adjunkpresident, David Mabuza, inderdaad ook ’n lid van die kabinet is en sekerlik as ’n “high-level politician” kwalifiseer.

Image: ANGELA TUCK

Pravin Gordhan het nie saam gesteel of bedrieg nie. Maar toe puntjie by paaltjie kom, toe kies hy die ANC se belang bo dié van die land, bo die waarheid. En dit maak hom aandadig.

Gordhan en die raad van Eskom wat hy aangestel het, was baie meer ontsteld dat De Ruyter vingers na die ANC wys as wat hulle ontsteld was oor die onthullings wat hy gemaak het.

Gordhan is dus deel van die probleem. Hy glo aan ysere staatsbeheer oor alles, en die staat en die party is vir hom ook een ding. In sy hart, so lyk dit vir my, is hy nog ’n ortodokse kommunis. (Sy hantering van die SAL-sage is ’n verdere bewys daarvan.)

Mantashe het gister in dieselfde koor gesing en gesê De Ruyter “moenie ’n klip in die bos gooi en hoop daar kom ’n dier uitgehardloop nie”, hy moet die feite en name in sy beskuldigings bekend maak. Maar daar is niks wat De Ruyter nou sê wat Mantashe nie reeds weet nie – en hy het self ook niks daaraan gedoen nie. Inteendeel, hy is waarskynlik skuldig daaraan dat hy die korruptes beskerm het.

Die ANC het gister in ’n belaglike mediaverklaring gesê hulle oorweeg dit om teen De Ruyter op te tree as hy nie strafregtelik aanklagte aanhangig maak oor sy beweringe van korrupsie nie.

Asof De Ruyter en Oberholzer nog nooit presies aan die kabinet gesê het wie die skuldiges is en wat hulle gedoen het nie.

Dat die ANC nou vir De Ruyter wil diskrediteer eerder as om die booshede uit te roei, verbaas my nie. Dat Pravin Gordhan daaraan deelneem, is ’n verskriklike teleurstelling.

De Ruyter het in sy onderhoud gesê hy het reeds alle relevante inligting by ’n samekoms van senior polisie-offisiere en amptenare van staatsekuriteit verskaf. “We shared chapter and verse what we’d found, obviously in a way that protected our sources, and the generals and SSA colleagues were aghast and said, you know, this is completely unacceptable, we will immediately start acting on this and then nothing happened.”

De Ruyter neem oormôre aan ’n webinaar van die Centre for Development and Enterprise deel en gaan waarskynlik meer besonderhede van die verrotting by Eskom verskaf.

In hofstukke voor die hooggeregshof het De Ruyter pas ’n uitvoerige relaas gegee van alles wat by Eskom verkeerd geloop en die huidige regime van beurtkrag genoodsaak het. Hy plaas die aksies van vorige hoofbestuurders van Eskom op die rekord en gee detail van die uitgebreide korrupsie en sabotasie van die afgelope jaar – daar was reeds 25 arrestasies vir sabotasie en diefstal. Hy sê ook: “On 12 December 2022, I was poisoned with cyanide.”

Ek hoor boonop dat hy op die punt staan om ’n boek met die hele sak patats te publiseer.

Dít is waarvoor Mantashe en Gordhan bang is – die hele land gaan nou vir seker weet hoekom ons elke dag lang kragonderbrekings het wat ons ekonomie saboteer en ons lewe versuur.

En dit net 10 maande of so voor die komende algemene verkiesing. Met elke episode van beurtkrag verloor die ANC stemme.

Dat die ANC nou vir De Ruyter wil diskrediteer eerder as om die booshede uit te roei, verbaas my nie.

Dat Pravin Gordhan daaraan deelneem, is ’n verskriklike teleurstelling.

Hy verdien nie om in die kabinet te bly wat Ramaphosa nou enige oomblik gaan aanwys nie.

Groete
Max


Drieankerbaai

'n Koue wind het opgesteek
en vul die baai met mis
tot dit jou lyk of meeue
bloot dobbervlokke is.
Was hulle die aand teenwoordig,
kop onder vlerk gesteek,
toe Ingrid deur die wiere beur
en haar as offer breek?

Hoe kon hul weet, met oë toe,
skuimvlokke wat ook meeue is?
Die see stoot slissend oor die sand:
'n Selfmoord is skoon uitgewis.

–  Hennie Aucamp 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.