Praat maar verder, ek luister sommer oor die draadloos

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Praat maar verder, ek luister sommer oor die draadloos

Kom wit mense agter wanneer hulle die enigste wit mense in ’n vertrek is, wonder MERCY KANNEMEYER. Die volle skokkende waarheid oor Eskom moet nog uitkom, voorspel MAX DU PREEZ. En soos gewoonlik is daar vyf dinge in die nuus wat jy vandag sal wil weet.

  • 28 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre

1. Politici en organisasies van die ANC tot by Mmusi Maimane van Build One SA het gister steeds geskarrel om klagte aanhangig te maak of te dreig om dit te doen in reaksie op André de Ruyter se verdoemende Eskom-bewerings. Die ANC het De Ruyter “sewe dae gegee” om sy bewerings te staaf, anders gaan die party hóm verkla omdat hy kwansuis nie vroeër al die korrupsie aangemeld het nie. (Almal is in die moeilikheid behalwe die diewe en stropers en saboteurs en landsverraaiers.)

2. eThekwini het ’n forensiese ondersoek begin na hoe dit gebeur het dat die metroraad altesame R579 miljoen betaal het vir die herstel en instandhouding van straatligte vir ’n kontrak wat net R91 miljoen werd was. ’n Ongeïdentifiseerde bron in die raad het aan News24 gesê die kontrak was veronderstel om oor twee jaar te loop, maar die geld was op ná net sewe maande. Verskeie van die 18 begunstigde tenderaars het glo miljoene ontvang, maar g’n werk as teenprestasie daarvoor gedoen nie.

3. Nog ’n skietvoorval in die geweldgeteisterde Westbury wes van Johannesburg het woede in die gemeenskap laat uitbars. Inwoners sê hulle voel konstant onveilig en die polisie is van geen hulp nie. Minstens nege mense is oor die naweek en tot gister in die omgewing geskiet, en minstens een van hulle het aan hulle wonde beswyk, het eNCA berig.

4. Pres. Cyril Ramaphosa, een van die voorste leiers van die ANC en die regering, het van hom laat hoor. Hy sê die regering is vasbeslote om Suid-Afrika van die sogenaamde “gryslys” verwyder te kry. Die land het dié lys gehaal omdat die internasionale Finansiële Aksietaakmag nie tevrede is met ons maatreëls om geldwassery en ander ernstige finansiële misdade te bestry nie.

5. TikTok is met meer as ’n biljoen gebruikers nou op vyf na die wêreld se gewildste sosiale media, volgens die bemarkingsagentskap We Are Social. TikTok word deur die Chinese firma ByteDance besit en word gereeld daarvan beskuldig dat die Chinese regering dit gebruik om op teenstanders te spioeneer of openbare mening te beïnvloed. In die ouderdomsgroep 10 tot 19 jaar is TikTok die heel gewildste sosiale media, met meer as ’n derde van sy gebruikers wat in dié segment val.


Vandag se weer

Swaar reën wat moontlik tot oorstromings kan lei, word in dele van Limpopo verwag. ’n Hittegolf word vir dele van die Wes- en Noord-Kaap voorspel, en in die Noord-Kaap word toestande verwag wat ’n hoë brandgevaar inhou. Die res van die land kan enkele buie en donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 31°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 26°C • Durban 30°C • Paarl 34°C • Oudtshoorn 33°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 26°C • Upington 40°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 27°C.


Max du Preez | Al hardloop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel

Nee, liewe kamerade van die ANC, dit is nie regtig so dat jy net genoeg keer ’n leuen hoef te herhaal voordat dit die waarheid word nie. Soms vat dit tyd, maar die waarheid kom altyd uit.

Die ANC dans soos ’n kat op ’n warm plaat oor die vertrekkende Eskom-baas, André de Ruyter, se aantygings in ’n televisie-onderhoud en in ’n beëdigde verklaring voor die hooggeregshof dat die ANC vir die mislukking van Eskom moet pa staan.

Verskeie ministers en die party se segspersoon bombardeer die media met verklarings dat De Ruyter “wilde bewerings” van korrupsie maak en eintlik net die aandag van sy eie mislukkings wil kamoefleer. Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en minister in die presidensie, Mondli Gungubele, sê nou sommer ook De Ruyter is “regs”.

Die party dreig nou om hom te laat vervolg omdat hy kwansuis nagelaat het om korrupsie by die polisie aan te meld.

Maar, soos ons al hier berig het, De Ruyter en sy bedryfshoof, Jan Oberholzer, het by meer as een geleentheid ál die getuienis van korrupsie en sabotasie aan kabinetslede en die president voorgelê. De Ruyter het heelwat hiervan nou voor die hof herhaal, insluitende die feit dat hy die inligting aan ’n groep polisiegeneraals en senior mense van staatsekuriteit voorgelê het.

Maar die media het tot gisteraand nog oorgeloop met stories dat De Ruyter sy plig versuim het deur nie die inligting aan die wetstoepassers te verskaf nie.

Pres. Cyril Ramaphosa is ook al daarvan beskuldig dat hy nie ’n misdaad – die diefstal van miljoene rande by sy plaas Phala Phala – aan die wetstoepassers gerapporteer het nie. Hy het verlede jaar verduidelik dat hy wel vir ’n polisiegeneraal wat hom moes help oppas, daarvan vertel het – ’n verduideliking wat deur die ANC aanvaar is.

Die minister van staatsondernemings, Pravin Gordhan, het gistermiddag in ’n onderhoud met Newzroom Afrika bevestig dat De Ruyter teenoor hom beweer het dat ’n senior politieke figuur by Eskom-korrupsie betrokke is. Maar dit was net ’n sinspeling (allusion), nie bewyse nie, sê hy. “As mnr. De Ruyter getuienis het, moet hy nou die inisiatief neem en doen wat wetlik van hom vereis word: Hy moet na die wetstoepassers toe gaan en die getuienis aan hulle gee.”

Op ’n vraag of hy, soos De Ruyter beweer, tydens die gesprek na ’n kollega gedraai en gesê het die storie oor die senior politieke figuur sou seker die een of ander tyd uitkom, het Gordhan gister geantwoord: “Ek weet nie. Ek kan nie onthou nie.”

Gordhan sê hy het nie ’n uitval met De Ruyter gehad nie en het hom en sy gesin destyds gaan besoek nadat hy vergiftig is, “uit solidariteit”. Gordhan het met duidelike bitterheid gesê De Ruyter se TV-onderhoud was ’n “ideologiese aanval” op die ANC.

Gordhan verswyg die feit dat De Ruyter onder eed verklaar het dat hy sy getuienis aan ’n falanks generaals voorgelê het, dat hulle geskok was en toe niks daaraan gedoen het nie.

Die ANC is paniekerig, want oor net meer as ’n jaar hou Suid-Afrika ’n algemene verkiesing, en probeer nou alle aanklagte van korrupsie en onkapabelheid met leuens en teenaanklagte verdoesel.

De Ruyter, wat onder streng private bewaking is, het hom intussen aan ’n webinaar van die Centre for Development and Enterprise onttrek wat môre sou plaasvind. Die CDE sê in ’n verklaring bloot dat “given the developments of the past week André de Ruyter is no longer able to participate”.

Al wat ek in dié stadium met sekerheid kan sê, is dat die volle, skokkende waarheid nog op die lappe gaan kom. En André de Ruyter gaan nie dan die een wees wat met pap op sy gesig sit nie.


Image: ANGELA TUCK

‘Mooi kind’ op haar eentjie by die Tinteltong-toekennings

Julle. Toe beland ek mos per ongeluk verlede week by ’n AfriForum Sakenetwerk-geleentheid – die Tinteltong-toekennings. Een van my vriendinne het my genooi, en ek is so uitgehonger vir sosiale interaksie dat ek nie nog gevra het waarheen ons gaan nie. Ek het inligting oor ’n datum, tyd, dress code en plek ontvang, en dit was vir my genoeg om ja te sê. Die dag voor die geleentheid vind ek uit dat dit ’n AfriForum-gig is … en mense! Ek begin toe sommer gespanne raak. My mond het so droog getrek en ek het skielik warm gekry. Mind you, ek was in ’n ongelooflike lugverkoelde vertrek, maar dit voel toe vir my ek kry warm gloede.

Teen hierdie tyd is dit geen geheim dat ek nie die grootste AfriForum-fan is nie. Wag. Ek trek dit terug. Ek is GLAD nie ’n AfriForum-fan nie. In beginsel, op ideologiese vlak, stem ek nie met hulle retoriek saam nie. Pragmatiek? Ja nee lekker. Ek kan erkenning gee dat AfriForum goeie werk doen op die plekke waar hulle goeie werk wíl doen.

Die gevoel het al op universiteit begin. Knap nadat ek by die Stellenbosse taaldebat betrokke geraak het, is ek genooi na ’n vergadering oor Afrikaans saam met “leierskap” van die Wes-Kaap. Dit was vaag genoeg vir my om ja te sê. Ek kom by die vergadering aan. En wie is die “leierskap”? Helen Zille. Ander vergaderinggangers was studentelede van die kampus se AfriForum-tak.

Ek was in ’n strik gevang, maar dankie tog ek is (was in daardie stadium) nog gretig en fighty. My liefde en zest vir die taal was genoeg om my deur daardie meeting met Zille te kry. Ná die vergadering loop ek en sy in mekaar vas in die badkamer, en sy’t toe gesê ek is ’n baie mooi kind. Toe dink ek, hmmm … Zille, jy’t goeie smaak.

Image: ANGELA TUCK

Nietemin. Ek is toe daar by die Tinteltong-toekennings, heelwat opgedress en gereed vir die saak. So gereed soos ’n mens nou maar kan wees vir iets wat AfriForum gereël het. Hoe kan ek hierdie nou verstaanbaar maak vir diegene wat nog nie in so ’n ongemaklike situasie was nie? Verbeel jou jy is ’n ateïs en jy word kerk toe genooi. My ma sal nou sê: “Mercy-kind, dis te extreme.” Maar ek belowe!

Ek het myself voorberei. Mos gedurig gewapen en gepantser. Ek het vir myself gesê: Wees net oop, wees net toeganklik, wees vriendelik, hierdie mense kan jou nie seermaak nie, en een ding van die AfriForum-mense, hulle ken van onthaal! So, lekker kos en drank is vir seker op die spyskaart.

Image: ANGELA TUCK

Met die intrapslag sien ek, oe oe, ek is die enigste bruin mens hier. Ek laat my oë oor die gaste vlieg op soek na nog ’n bruin of swart gesig. Helaas. Ek en die waiters was die enigste bruin en swart mense daar. Indien daar nog bruin en swart mense was en julle lees nou hier (haha, dink julle AfriForum-liefhebbers lees Vrye Weekblad?!), korrigeer my, asseblief. Ek sal dit haat om ’n valse weerspieëling van julle gesogte geleentheid weer te gee (tong stewig in kies).

Hierdie ervaring, sowel as die een wat ek as student saam met Zille gehad het, het my laat wonder: Kom wit mense agter wanneer hulle die enigste wit mense in ’n vertrek is? Wit mense, ek luister by die draadloos.

Groete
Mercy (mooi kind)


Nolens volens

Suid-Afrika, toe ek jou moes verlaat
nie om jou domheid maar om eie seer
– met tongval wat my land van herkoms meld –
wis ek nog nie dat ek ook as gas sou geld
by hierdie fuif waar hulle jóú trakteer
op amptelike monomane haat.

– Elisabeth Eybers
(Uit: Bestand)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!