Oor die R-woord, die G-lys en SH-countries

WOENSDAG MET WILLEM

Oor die R-woord, die G-lys en SH-countries

WILLEM KEMPEN doen drie dinge wat hy gewoonlik vermy, ANNELIESE BURGESS is bevrees ons is nou inderdaad 'n shithole country, en soos altyd is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 01 Maart 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Welkom in nog ’n ramptoestand! Die regering het gister omvattende regulasies hieroor in die Staatskoerant gepubliseer.

2. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers (volgens die konserwatiewe definisie) het in die laaste kwartaal van verlede jaar effens gedaal van 32,9% to 32,7%.

3. Minister Enoch Godongwana se beëdiging gister as ’n ANC-LP berei die weg vir pres. Cyril Ramaphosa om nog iemand van buite die parlement in sy kabinet aan te stel. News24 het van ’n bron verneem dat die skuif gedoen is sodat Ramaphosa vir Kgosientso Ramokgopa in die nuwe pos as minister van elektrisiteit kan aanstel.

4. Die Proteas was met uitskeityd 314/8 teen die Windies ná die eerste dag van die eerste toets op SuperSport-park in Centurion. Dean Elgar se 71 en Aiden Markram se 115 het die Suid-Afrikaners ’n goeie begin gegee voordat die middelorde weer teleurgestel het.

5. Elon Musk is volgens Bloomberg se lys weer die wêreld se rykste mens. Die sterk lopie in Tesla se aandeleprys tot dusver vanjaar het Musk verby die Franse magnaat Bernard Arnault van LVMH Moët Hennessy Louis Vuitton laat skuif. Tesla is nou die sesde grootste Amerikaanse maatskappy volgens markkapitalisasie, met Warren Buffett se Berkshire Hathaway in die vyfde plek binne trefafstand.


Kyk weer ...

Daar word steeds swaar reën in Limpopo verwag wat tot moontlike oorstromings kan lei. Die hittegolf in dele van die Noord-Kaap duur voort. Warm toestande word vir Gauteng voorspel, terwyl enkele buie en donderbuie oor die grootste deel van die land verwag kan word.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Polokwane 27°C • Mbombela 25°C • Upington 38°C • Bloemfontein 32°C • Kaapstad 29°C • George 24°C • Worcester 35°C • Durban 28°C • Gqeberha 25°C.


Anneliese Burgess | Niemand dink meer ons is ‘exceptional’ nie

Ek ontvang soggens ’n nuusbrief, International Intrigue (II), wat deur voormalige diplomate geskryf word. Dit gee elke dag ’n geopolitieke snapshot van wat in die wêreld aangaan, en Suid-Afrika het gisteroggend op hulle lys van vyf moet-weet-stories gepryk omdat ons verlede Vrydag op die Finansiële Aksietaakmag (FATF) se gryslys geplaas is.

Kollega Piet Croucamp het in ons jongste uitgawe oor dié twyfelagtige eer” geskryf wat verband hou met die vermoë van ons finansiële stelsels om korrupsie, geldwassery en die finansiering van terrorisme te beveg. 

Ons maatjie op die lys is Nigerië, ’n land met ’n dekades lange reputasie vir ongebreidelde korrupsie. Dit sit ons dramaties op ons plek. 

Image: ANGELA TUCK

“Like getting put on Santa’s naughty list, A FATF listing is a serious reputational blow. It also means more scrutiny and costs for South African banks, making it tougher to do business and invest in the country.”

Asof ons nóg iets nodig het om ons ekonomie te rem. In die nadraai van die aankondiging het die rand (nog verder) teen die Amerikaanse dollar geval. Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) voorspel dat ons ekonomie vanjaar met ’n anemiese 1,1% sal groei. En volgende jaar met 1,6%. Dit is die ekwivalent van ’n noodsorg-pasiënt op ’n ventilator.

“The Covid-19 crisis has weakened an already fragile economy. South Africa’s growth underperformed during the past decade: GDP per capita was already lower in 2019 than in 2008 … youth unemployment [now] exceeds 50%.”

In ’n klein voetnota aan die einde van die nuusflits voeg die II-nuusbrief die volgende by, net om seker te maak sy internasionale lesers kry die volle prentjie:

“Last year, South African President Cyril Ramaphosa was accused of covering up the theft of $4m in an undisclosed foreign currency he kept hidden in a sofa.”

Dít is hoe die wêreld ons sien. Korrup. Onbevoeg. Gelei deur ’n president wat geld wegsteek in sy sitkamermeubels. 

Enige meerderwaardigheidsgevoel wat ons nog kon gehad het oor Suid-Afrika se sogenaamde “exceptionalism” in Afrika is met ons insluiting op die gryslys weggevee. In die oë van die wêreld is ons net nog ’n mislukte “shithole country”. Toe Trump destyds só na lande in Afrika verwys het, was ek die eerste een op my perdjie oor die man se oningeligte en Afro-fobiese veralgemening. Maar die hemel weet, ons doen ook niks om ons van dié soort stereotipes te red nie. 

Die nuusbrief sluit af: “Unemployment in South Africa is now at around 34% (ten times the US rate). Its economy is actually smaller than it was a decade ago. So South Africa needs this FATF listing like Grey’s Anatomy needed a 19th season.”

Ek moes lag. Dit is nogal skerp. Maar dat ons ’n internasionale punchline geword het, is allesbehalwe snaaks.


Image: ANGELA TUCK

Willem Kempen | Ons beter práát daaroor, of dit gaan net erger word

Ek doen nou drie dinge wat ek gewoonlik vermy: om ’n skrywe met die woord “ek” te begin, om heeltemal ernstig te wees, en om oor rassisme te praat. Veral laasgenoemde, want dis ’n ingewikkelde ding waaroor die meeste van ons sukkel om ons gedagtes bymekaar te hou.

En daar is sommer die eerste probleem, sal sommige mense sê: Rassisme is g’n so ingewikkeld nie, dis eenvoudig verkeerd. En wie is die “ons” van wie ek praat?

Oor laasgenoemde: Ontspan, ek sluit niemand uit nie, en allermins praat ek namens ander mense. Oor die “ingewikkelde” deel: Wel, my eintlike punt is dat die meeste van ons (die meeste van ons álmal) nog steeds sukkel om in die openbaar met mekaar oor ras en rassisme te praat. Want tussendeur is daar ’n worsteling oor hoe ras en kultuur bymekaar kom, en alles van skuldgevoelens oor die verlede tot by ’n onvermoë om eerlik te wees oor hoe bevoorreg jy hier en nou nog is. Ons kan nie eens altyd saamstem oor wat presies rassisme is nie.

Ek praat onlangs met ’n wit Afrikaanse man wat op die kruin van sy professie is. Hy is kundig, ervare en belese. En uiters welgesteld. Ek is baie seker hy gee net sy beste vir ál sy kliënte, maak nie saak of hulle swart of wit of ryk of arm is nie.

Maar daar is een ding wat hom konstant pla: Van sy swart kollegas kom weg met tekortkominge en oortredings en selfs onetiese gedrag waarvoor hý al lankal afgedank sou gewees het. Of so sê hy, in elk geval.

En die organisasie waarvoor hy werk, het hom verbied om weer daaroor te kla, want hulle is te bang om op te tree teen swart mense. Of so sê hy.

Nou gaan hy maar aan, sê hy, sonder om in die openbaar te kla – hy werk trouens harder én maak meer geld as ooit tevore omdat soveel kliënte sy swart kollegas wantrou.

Image: VAN 23 NOVEMBER 1989. © BIBLIOTEKE VAN DIE UNIVERSITEIT VAN KAAPSTAD

Ek kan my indink dat sy vier of vyf swart kollegas waarskynlik heel ander paaie as hy moes gestap het om te kom waar hulle is; in ’n professie (soos die meeste in Suid-Afrika) waar wit mense steeds heeltemal oorverteenwoordig is, en swart mense die uitsondering. Ek kan goed glo dat die meeste van sy swart kollegas agterstande en vooroordele en uitsluiting moes oorkom wat nooit vir hom nodig was nie. Maar ek kan ook insien dat daar soms vir hulle agteroor gebuig is sodat hulle kon aanhou vorder deur ’n onderwysstelsel wat te dikwels desperaat is om swart presteerders op te lewer ten spyte van al die harde werklikhede van ons geskiedenis van rassisme. The soft bigotry of lowered expectations is sometimes not that soft at all ...

Daar is nie maklike antwoorde vir dié soort ding nie, maar waaroor ek wel baie seker is, is dat dinge net gaan erger word as daar nie veel meer openlike en eerlike gesprekke daaroor gaan wees nie. En die heel ergste uitweg is om mense te verbied om eerlik te wees oor wat nie reg is nie. Selfs al weet ons nie altyd so lekker hoe om daardie onreg in woorde om te sit nie.

Tot volgende keer
Willem


The pennycandystore beyond the El
is where I first
fell in love
with unreality
Jellybeans glowed in the semi-gloom
of that september afternoon
A cat upon the counter moved among
the licorice sticks
and tootsie rolls
and Oh Boy Gum

Outside the leaves were falling as they died

A wind had blown away the sun

A girl ran in
Her hair was rainy
Her breasts were breathless in the little room

Outside the leaves were falling
and they cried
Too soon! too soon!

– Lawrence Ferlinghetti


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.