Soms help ‘jammer’ nie

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Soms help ‘jammer’ nie

ANESCA SMITH skryf oor haar sosiale faux pas met ’n Türkiyiese kollega, en DEBORAH STEINMAIR vertel van die heerlike Boeke- en Vrye Tyd-stories wat jy hierdie week kan geniet.

  • 04 Maart 2023
  • Daagliks
  • 4 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Dié week begaan ek ’n sosiale misstap met ’n Türkiyiese kollega in een van die winkels waar ek produkte verkoop wat in Afrika gemaak is.

Ek het verskillende ooreenkomste met verskillende winkels in ’n aantal Nederlandse stede. Sommige koop regstreeks van my en aan ander betaal ek ’n kommissie om produkte in die winkel te verkoop. My gunstelingsoort is egter waar ek ook twee dae per maand in die winkel moet werk.

Behalwe dat dit ’n goeie manier is om die groot stede van Nederland te leer ken, is dit ook heerlik om self met klante om te gaan en boonop uiters leersaam vir ’n beginnende ondernemer. Jy doen veel handelskennis op, maar bowenal leer jy oor mense se voorkeure, wat hulle graag koop, en kan soms jou produkte dienooreenkomstig aanpas. Só weet ek byvoorbeeld nou dat sierade ’n bietjie die holy grail is in dié soort winkels – alhoewel nie enige soort sierade nie – en dat ek meer sierademakers in Suid-Afrika moet benader.

Die meeste van die tyd werk jy ook met ’n ander ondernemer – of iemand wat vir hulle werk – en dié keer was dit ’n Türkiyiese dame. Ongelukkig praat sy byna nie ’n woord Engels of Nederlands nie, wat dit moeilik maak om met klante te kommunikeer of as iets by die kasregister skeefloop.

Onder die indruk dat ek met ’n assistent van die ondernemer gewerk het, skryf ek, sonder om na te dink ewe verontreg, die volgende dag ’n e-pos om my misnoeë uit te spreek aan die ondernemer dat sy iemand stuur wat geen woord met klante kan praat nie.

Gou blyk dit, dit wás die ondernemer met wie ek gewerk het – iemand wat net soos ek uit die buiteland ’n nuwe lewe hier probeer skep. En was sy kwáád toe sy my e-pos lees. Maak nie saak hoeveel keer ek om verskoning vra nie, verduidelik dat dit geen persoonlike aanval was nie, sy wou dit nie hoor nie.

Ek het rede gehad om te kla, maar ek kon wel die situasie beter hanteer het.

Ons probeer hard om dinge rég te doen. Ons is beleef, stuur blomme, skryf notas om dankie te sê, vra om verskoning, onthou verjaarsdae. Maar tóg beland ons soms in ’n situasie waar hierdie soort lompheid of onbedoelde ongevoeligheid tereg voor ons deur gelê word.

Soms is daar geen keuse as om iets wat gebroke is te aanvaar nie. Dat ons in die oë van dié persoon vir ewig ’n agterbakse idioot sal bly. Soms moet ons ons eie hoogheiligheid – die idee dat ons áltyd die regte ding doen – laat vaar en hoop ons leer iets uit die ondervinding.

Groete
Anesca


Die Stilbaai-boekefees verlede naweek was ’n reusesukses. Intussen kan jy tuis feesvier met ons Boeke- en Vrye Tyd-aanbiedings wat jou sal inlig, amuseer en prikkel. Naweekleesgenot uit die boonste rak.


BOEKE

Deborah Steinmair het twee dapper mense se memoires en selfhelpboeke gelees en met hulle gesels.

Chokers en survivors wat deur depressie dans


Kerneels Breytenbach, ons letterkundige smulpaap, lig speur-leesgieriges in oor die jongste misdaadaanbiedings.

Vyf nuwelinge vir lesende speurlustiges


Shané van der Merwe, redakteur van kinderboeke, kyk na die stand van hierdie genre in Afrikaans.

Hoe gaan dit met Afrikaanse kinderboeke?


Wat broei op Hakkiesbaai? Lees Episode 5 van Zirk van den Berg se spannende vervolgverhaal.

Episode 5: ’n Verloopte lugballon


Ons lesers deel hulle kreatiwiteit. Lees vandag ’n kortverhaal en ’n gedig. E-pos jou bydrae aan Deborah Steinmair vir ’n kans om ’n boek te wen.

Van potplante tot skeidingsangs


VRYE TYD

As die skoen jou pas. Wie het besluit Crocs is lelik, vra Laureen Rossouw.

13 gate aan elke voet is die slimste manier om styl te groet


Jan Wolmarans is op sy stukke: Al wat Janneman by die liederlike Liederaand snap, is dat die antieke sanger uit Wene se Frankfurter so groot soos ’n Vienna is.

Janneman en die liederlike Lieder-abend


Laureen Rossouw ondervra Ricardo Arendse, digter en skrywer van draaiboeke en kortverhale.

15 vrae aan Ricardo Arendse


Egmont Sippel reken Max Verstappen is goed geplaas om vanjaar sy derde jaerstitel agtereenvolgens te verower.

Nog ’n titel vir Max?


Die Thaise weergawe laat Gerhard Greyvensteyn verlang na sy ma se kerriemaalvleis.

Die pad van kerriemaalvleis tot Pad Kra Pao


André-Pierre du Plessis, ’n Suid-Afrikaanse expat, voel baie tuis in The Newt, die niggie van Babylonstoren in die Franschhoek-wynvallei.

Afrikaans, Hobhouse en rooibos in ’n Engelse hotel

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!