Cyril verras nooit niemand nie

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Cyril verras nooit niemand nie

Ná 11 maande se diep nadink en konsultering is Ramaphosa se ‘nuwe’ kabinet maar baie bla, skryf MAX DU PREEZ. MERCY KANNEMEYER voel kwesbaar nadat sy sosiale media gelos het. En daar is vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 07 Maart 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Die Suid-Afrikaanse ekonomie se amptelike groeikoers – wat heel moontlik op geen groei sal dui nie – vir die vierde kwartaal van verlede jaar word na verwagting vandag uitgereik. Die nasionale tesourie verwag (of hoop, eintlik) dat die groeikoers vir 2022 op ’n lewensmoeë 2,5% te staan gaan kom, wat darem daarop sou dui dat die groei vir die laaste kwartaal van verlede jaar nie negatief was nie, en dus ook dat die land streng gesproke nog nie in ’n resessie is nie. Afgesien van wat die syfers sê: Die meeste Suid-Afrikaners se eie ekonomie is al lankal in resessie.

2. Die Inkomstediens sê geen stawende dokumente kon opgespoor word dat die $580 000 wat glo in ’n rusbank op pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas versteek was, wel aan die owerhede verklaar is toe dit die land binnegekom het nie. Die Inkomstediens het beklemtoon dat dit nié beteken sodanige rekord bestaan nie, net dat nie gevind kan word nie. Die Soedannese sakeman Hazim Mustafa het vroeër aan eNCA gesê dit was sy geld, en dat hy dit wel verklaar het toe hy Suid-Afrika binnegekom het om te kom wild koop.

3. Prof. Thuli Madonsela, vorige openbare beskermer, het gister lekker ingeklim onder adv. Dali Mpofu, regsverteenwoordiger van die huidige posbekleër, adv. Busisiwe Mkhwebane, tydens die art. 194-ondersoek na laasgenoemde se moontlike impeachment. Madonsela het gesê Mpofu mors belastingbetalers se geld deur háár te roep om te getuig oor sake waaroor reeds breedvoerig deur die howe besin is. “Is this my impeachment process? Because if it is, then this is the wrong forum. This is a forum about my successor,” het Madonsela in ’n virtuele verskyning voor die ondersoekkomitee gesê.

4. ActionSAEFF-raadslede het gister ’n privaat perseel binnegestorm en poligraaftoerusting gesteel, vermoedelik sodat die identiteit nie verklap word van koalisielede wat nie verlede week vir die DA se Cilliers Brink vir burgemeester van Tshwane gestem het nie. ActionSA was besig om sy raadslede aan die toetse te onderwerp toe die EFF’s opgedaag en dinge ontwrig het. ActionSA gaan glo klagte indien teen drie EFF-lede weens betreding en diefstal.

5. Manchester United se Nederlandse bestuurder, Erik ten Hag, het sy spelers gister laat deurloop weens wat hy hulle “onprofessionele” vertoning op Anfield teen Liverpool genoem het. Man United se nederlaag van 0-7 is gelykstaande met die klub se historiese nederlaag teen Wolves in 1931.


Vandag se weer

’n Waarskuwing oor toestande wat ’n hoë brandgevaar inhou oor die grootste deel van die Noord-Kaap. Dan basies die teenoorgestelde vir groot dele van die res van die land, insluitende die Wes-Kaap, met enkele tot verspreide buie en donderbuie wat verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 30°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 27°C • Durban 27°C • Paarl 29°C • Oudtshoorn 25°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 27°C • Upington 36°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 24°C.


Max du Preez | Gwede bly en die Prinses waai. Dis omtrent al

Die president gaan, ná 11 maande se diep nadink en konsultering, uiteindelik om 19:00 sy nuwe kabinet aankondig. Wag, nee, dis 20:00. Uhm, dalk 20:30?

Die TV-aanbieders en hulle gaste maak praatjies om die dooie lugtyd te vul. Gaan dit ’n kabinet wees wat die mense hoop gee, wat die krisisse gaan aanpak? Watter verrassings wag? Bla bla. Cyril verras nooit niemand nie.

Om 20:26 stop die konvooi swart BMW’s voor die Uniegebou. Die president is hier! Maar Cyril Ramaphosa sit nog vir drie minute agter toe deure in sy kar. Bel hy gou iemand?

Om 20:29 gaan die deur oop. Ramaphosa lyk moeg en gatvol. Omring deur vyf lyfwagte stap hy die gebou in. Maar ons moet nog 11 minute wag voor hy voor die podium staan.

’n Stugge Ramaphosa slaan gou alle hoop op vernuwing die nek in. Hy gaan eintlik net vakante poste vul, nie overhaul nie, sê hy. Dis net meer as ’n jaar voor die algemene verkiesing.

Image: © GALLO IMAGES/FANI MAHUNTSI

Ja, Paul Mashatile is toe die nuwe adjunkpresident. Dalk is dit hoekom Cyril so dikbek lyk – hy kan Mashatile nie verdra nie en weet voor sy siel hy gaan ’n groot klip in sy skoen wees, maar daar was nie ’n manier waarop hy die nuutverkose adjunkpresident van die ANC uit die pos kon hou nie. Drie hoera’s in elk geval dat David Mabuza uiteindelik sy goed gevat en geloop het.

Almal wil weet wie is die nuwe minister van elektrisiteit, en die breë bespiegeling dat dit dr. Kgosientso Ramokgopa sou wees, is toe in die kol. Hy is ’n ingenieur en is lankal belas met infrastruktuur, so ’n goeie keuse. Maar wie gaan die ander twee ministers wees met wie hy sal moet saamwerk?

Meneer Steenkool, die man wat André de Ruyter by Eskom verjaag het, bly minister van minerale bronne en energie: Gwede Mantashe. Say no more. En Pravin Gordhan bly baas van openbare ondernemings, dus ook Eskom.

Hello darkness my old friend.

Soos hy die name van die nuwe kabinet lees, raak dit duidelik: Lindiwe Sisulu (en Nathi “Vlagpaal” Mthethwa en Maite Nkoana-Mashabane) is uiteindelik in die pad gesteek, maar Bheki Cele bly ten spyte van alles steeds minister van polisie.

Nkosazana Dlamini-Zuma word ’n hele paar range afgeskuif na vroue en jeugsake (sy’s soos ’n neet op ’n wolkombers), maar om die KZN-ANC tevrede te hou, word oudpremier Sihle Zikalala die minister van openbare werke – Patricia de Lille se ou pos, maar sy is nou minister van toerisme.

Angie Motshekga (basiese onderwys), Ronald Lamola (justisie), Blade Nzimande (hoër onderwys), Thulas Nxesi (arbeid), Ebrahim Patel (handel en nywerheid), Senzo Mchunu (water en sanitasie) en Enoch Godongwana (finansies) bly net waar hulle is.

Daar is heelwat ander vroue in die nuwe kabinet: Noxolo Kiviet (staatsdiens), Khumbudzo Ntshavheni (presidensie, getaak met staatsekuriteit), Sindisiwe Chikunga (vervoer), Maropene Ramokgopa (presidensie, getaak met beplanning en evaluering) en Thembi Nkadimeng (samewerkende regering).

En dan is daar ’n helse lang lys van adjunkministers, maar ons sal nie maklik weer hulle name hoor nie, tensy hulle van misdade aangekla word of ander skandes maak.

Ek is sommer spyt ek het nie gisteraand eerder na Comedy Central op TV gekyk nie. Of ’n visvangprogram – hel, kyk so ’n kabeljou!


Image: ANGELA TUCK

Sonder sosiale media kyk mens binnetoe

In ’n poging om meer teenwoordig, meer geanker, meer uit my kop uit, meer in die oomblik, meer hiér te wees, het ek besluit om my Instagram- en Facebook-profiele vir ’n rukkie te delete. ’n Spesifieke tyd is nie voorgestel nie, maar 30 dae klink goed. Of dalk moet ek dit 40 dae maak? Dis nou al dag 12 en ek mis dit nie.

Die gewenste uitkomste van hierdie social media cleanse was om ligter te wees. Hoekom het die teenoorgestelde gebeur? Voor ons die vraag kan beantwoord, moet ons seker eers bietjie konteks skep vir hóékom presies ek myself van sosiale media moes verwyder.

Image: ANGELA TUCK

Ek het myself altyd as ’n redelik helder mens gesien. Ek is sonskyn, ek is sonneblom, ek is veer. So maklik soos ek kan lag, net so maklik kan ek huil. Ek is obsessed met mense, maar my sosiale battery hardloop ook gou leeg. Ek luister graag, en ek lees absoluut alles. Ek is reserved en kies maar wat ek wanneer wil sê.

Punt is, ek dink nie ek was altyd so ’n bemoeide mens nie. Om nog meer spesifiek te wees: Ek het my sosialemediaprofiele verwyder omdat ek nie gehou het van hoe ek op mense en dinge reageer nie. Dit het gevoel asof almal rondom my se lewe met ’n stink spoed vorentoe beweeg, en ek sit hier op 28 jaar oud en weet nog nie heeltemal wat ek met my lewe wil doen nie. Mense saam met wie ek op skool was, is verloof, getroud, swanger, geskei. Mense saam met wie ek studeer het, kry cool jobs, word promote, trek buiteland toe. Sosiale media het my laat glo almal anders se lewe is beter as myne, en dat ek altyd ’n soeker gaan bly (cue “Kinders van die wind” …).

Image: ANGELA TUCK

Met die bostaande in ag genome maak dit tog sin dat ek sosiale media delete het en meer in die oomblik wou wees. Maar – hier is die waarheid – in hierdie tyd waar ek nie na almal se flat whites, avo toast en hoogs gefilterde vakansiefoto’s op Instagram moes kyk nie, moes ek, so clichéagtig soos dit ook al mag klink, binnetoe kyk. Ek was (is) aan myself uitgelewer. En, at the risk of sounding like a motiveringspreker wat al honderde geestesreisboeke geskryf het, moes ek myself vra: Hou ek van myself?

(Innerlike monoloog: Askies, ek moes net gou kliphard lag, want ek kan nie glo ek skryf sulke dinge hier vir die wêreld om te lees nie. Ugh, hoekom is ek nou so kwesbaar? Dis so vernederend. Kom nou, Merc, man up).

In elk van die gevalle, social media is fake. Dalk bly ek vir ewig van Instagram en Facebook af weg. Ons sal maar nog sien.


As jy ’n boom was
sou ek jou kon waarsku
dat die winter
’n smous met koue dinge is
en die herfs
’n handelaar in pragtige leuens
geel en rooi rokke
van sogenaamde sagte vuur
die lieflike vodde
van die somer se “closing sale”

– Jan de Bruyn

(Uit: Te bruin vir groen)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.