Oor basiese waardes durf joernaliste nooit neutraal staan nie

MAANDAG MET MAX

Oor basiese waardes durf joernaliste nooit neutraal staan nie

MAX DU PREEZ neem standpunt in oor ‘onpartydige joernaliste’ en die skorsing van die BBC se sportaanbieder Gary Lineker, en skryf ook oor die EFF se beplande wegbly-aksie. Soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 13 Maart 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiedag!

1. Daybreak Farms, die Openbare Beleggingskorporasie se hoenderprodusent, het sowat R75 miljoen daaraan bestee om fluitjieblasers te teiken wat korrupsie ontbloot, berig die Sunday Times.

2. Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben E. Brigety, sê die ANC se vyandiggesindheid jeens Amerika is “deeply regrettable”. Hy sê die ANC se kongresbesluit dat die oorlog in Oekraïne ’n stryd tussen Amerika/Navo en Rusland is, is demonstreerbaar vals. Brigety sê as ’n jong swart Amerikaner was Nelson Mandela se portret teen sy kamermuur.

3. Vier manskoshuise in Stellenbosch, naamlik Dagbreek, Helshoogte, Huis Marais en Huis Visser, is geoormerk om vrouekoshuise te word omdat daar veel meer vroue- as manstudente is wat koshuiskamers soek. Rapport, wat al jare lank jag op rektor Wim de Villiers maak, se opskrif lui: “Woede oor Maties vroue in manskoshuise wil laat bly.”

4. ActionSA se leier in Gauteng, Bongani Baloyi, het ’n uitval met die party se leier, Herman Mashaba, gehad en gaan glo vandag sy bedanking aankondig.

5. Honderdduisende Israeli’s het die naweek ’n protesvergadering bygewoon om beswaar te maak teen die voorstel van die regering van Benjamin Netanyahu om die magte van die howe in te kort. Die opposisieleier, Yair Lapid, sê dit is Israel se grootste krisis en bedreig die wese van die demokrasie.


Vandag se weer

Toestande wat ’n uiters hoë brandgevaar inhou, kan in dele van die Noord-Kaap verwag word. Geïsoleerde buie en donderbuie kan oor dele van die Vrystaat, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap verwag word. Gauteng sonnig, raak later deels bewolk. Meestal sonnig en warm in die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Rustenburg 30°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 27°C • Durban 27°C • Worcester 34°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 25°C • Upington 38°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 27°C.


Max du Preez | ’n Onpartydige joernalis? Gmf!

Die BBC se skorsing van die ikoniese sokkerheld Gary Lineker as aanbieder van die gewildste sportprogram in Brittanje is omtrent al waaroor Britte die laaste paar dae praat.

Lineker, wat hom gereeld oor menseregtevergrype en klimaatverandering uitlaat, is deur die direkteur-generaal van die Britse openbare uitsaaier, Tim Davie, geskors nadat Lineker die Tory-regering se nuwe drakoniese wetsontwerp oor migrante gekritiseer het.

Gary Lineker
Gary Lineker
Image: GOAL.COM

“This is just an immeasurably cruel policy directed at the most vulnerable people in language that is not dissimilar to that used by Germany in the ’30s,” het Lineker getweet.

Davie sê Lineker het die BBC se reëls oor onpartydigheid verbreek. Lineker se mede-aanbieders van Match of the Day het toe uit solidariteit ook onttrek en die program is die eerste keer in 24 jaar nie uitgesaai nie.

Davie is gou daarop gewys, onder andere deur die konserwatiewe TV-persoonlikheid Piers Morgan, dat Lineker nie ’n nuusaanbieder is nie. Van die kos- en vermaaklikheidsaanbieders van die BBC het hulle destyds openlik ten gunste van Brexit uitgelaat en die motorjoernalis Jeremy Clarkson het selfs by geleentheid gesê stakers moet doodgeskiet word, en die BBC het nie teen een van hulle opgetree nie.

Die leier van die Arbeidersparty, Keir Starmer, sê die BBC het bloot voor druk van Tory-LP’s en die regering geswig.

As jy nie die drama gevolg het nie, kliek hier vir die BBC self se kort opsomming.

Die “onpartydigheid” van joernaliste en radio- en TV-aanbieders is natuurlik ’n kwessie wat gereeld ook in ander demokrasieë en hier in Suid-Afrika bespreek word. Ek self is al oor die jare male sonder tal van partydigheid beskuldig, omtrent altyd deur dié wat ek durf kritiseer of oor wie ek negatief berig het.

So hier is hoe ek dit sien.

Daar kan tog nooit iets soos absolute onpartydigheid of neutraliteit wees nie. Joernaliste kan nie hulle eie agtergrond, sosialisering of persoonlikhede tot ’n vlak onderdruk waar dit geen rol speel nie.

Joernaliste is boonop nie stenograwe nie. Ons verwag meer van hulle as net dié het so gesê en die ander sus. Ons verwag konteks, agtergrond, indruk, kleur en verduideliking – en dit alles is noodwendig grotendeels subjektief.

Ek het nog nooit ’n joernalis gevra om onpartydig te wees nie. Wat ek wel eis, is dat joernaliste gebalanseerd en regverdig moet wees, die feite bo alles moet stel en waar enigsins moontlik, al die kante van ’n saak moet reflekteer.

Joernaliste moet altyd probeer om die leser/luisteraar te laat verstaan wat is feit en wat is kommentaar of ontleding. Dit help ook dat skrywers se name en foto’s deesdae prominent by artikels geplaas word.

’n Joernalis en ’n aktualiteitsaanbieder se grootste bate is geloofwaardigheid. Oneerlikheid, jakkalsdraaie en verdraaiings ondermyn geloofwaardigheid.

Joernaliste durf nooit neutraal staan oor basiese waardes nie: vrye spraak, menseregte, rassisme, seksisme, homofobie, skoon en verantwoordbare regering is ononderhandelbares in ’n demokratiese samelewing. Maar binne die raamwerke van dié beginsels kan daar meningsverskille wees wat openlik en gebalanseerd weergegee moet word.

Ek staan by Gary Lineker.


Image: ANGELA TUCK

Oor die EFF se dreigement van geweld: Bly kalm en gaan jou gang

Die EFF het eensydig besluit om Suid-Afrika volgende Maandag tot algehele stilstand te ruk en dreig diegene wat nie gehoor wil gee nie met plundering en geweld.

Verstaan mooi: Julius Malema en sy paar medeleiers in die EFF matig hulle aan om te besluit wat 60 miljoen mense op 20 Maart moet doen en nie doen nie.

Dit gaan ’n toets wees wat ons as ’n nasie nie durf dop nie. Ons mag nie toelaat dat ’n 10%-party ons gyselaar hou nie.

“There will be no work, all ports of entry leading to borders will be closed, no business operations will be open on the day,” het Malema ’n paar dae gelede gesê, en bygevoeg dat veral trokke wat minerale vir uitvoer na hawens vervoer, verplig gaan word om vir die dag te parkeer. Leerlinge mag nie skool toe en studente nie na universiteite en kolleges toe gaan nie.

Die EFF het met bakkies met luidsprekers rondgery om die waarskuwings aan gemeenskappe oor te dra. Uit die een wat ek op TV-nuus gesien het, het die stem gesê: “We are saying to you close down all your businesses to avoid the looting. Close down all your shops to avoid the looting. Close down all your factories to avoid the lootings. Close down everything; nothing will be operating on that day; we are avoiding the looting.”

Die dreigement is duidelik: As daar nie na die EFF geluister gaan word nie, gaan daar ’n herhaling van die verwoestende anargie en plundering wees wat ons in Julie voorverlede jaar in KwaZulu-Natal en elders gesien het.

Dit is blatante afdreiging.

Uit Nkandla het een van die agitators agter die Julie 2021-insurreksie, Jacob Zuma se dogter Duduzile, klaar laat weet daar is steun vir die shutdown uit dié geweste: 

Dit is die EFF se reg om ’n wegbly-aksie te reël, maar dit is ’n misdaad en lynreg in stryd met verskeie bepalings van ons Grondwet se Handves van Regte om ander te dwing om daaraan deel te neem: Art. 12 waarborg die reg op sekerheid en vryheid van die persoon; Art. 15 en Art. 16 verskans die reg op vryheid van gewete, denke, oortuiging en mening en van vrye spraak; Art.18 waarborg vryheid van assosiasie; en Art. 21 die reg op vryheid van beweging.

Wat is die doel van die EFF se aksie? Die beëindiging van beurtkrag, asof protesoptogte enigiets daaraan kan doen, en die bedanking van pres. Cyril Ramaphosa, iets wat die EFF nie in die parlement kon vermag nie.

Dit is tipies van die EFF se fascistiese strategie: Wat jy nie met politieke oorreding kan regkry nie, doen jy met politieke teater, geweld en afdreiging.

Ek hoop die sakegemeenskap, burgerlike aktiviste en opposisiepartye gaan die howe binne die volgende paar dae vir ’n dringende interdik nader om die EFF te verhoed om Suid-Afrikaners te intimideer en aan te val wat met hulle werk en onderwys wil voortgaan. Dit gaan die EFF nie keer nie, maar dit gee legitimiteit aan teenoptrede.

Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, was die eerste wat sy rug styf gemaak het. Hy sê in ’n video wat wyd op sosiale media versprei is: “Let me say, in Cape Town, it will be business as usual. We will do what it takes to make sure kids get to school on time, that workers can get to work, that our economy can keep running.”

Hill-Lewis speel nie: “Don’t be stupid, don’t organise a national shutdown and don’t try that nonsense in Cape Town.”

Dit is maklik vir ons wat in Kaapstad woon om ons agter Hill-Lewis te skaar. Die EFF en die RET-faksie geniet nie veel steun hier nie. Elders in die land kan dit volgende Maandag rof gaan.

Dit is ’n lakmoestoets vir Ramaphosa se regering. Of is hulle so bang vir die EFF as wat hulle vir die RET’s was?

Die polisie en die weermag het in Julie 2021 klaaglik misluk om die anargie te beheer. Meer as 350 mense is dood en baie biljoene rande se skade is aangerig.

’n Paneel eksperts onder prof. Sandy Africa van die Universiteit van Pretoria wat die agt dae van geweld ondersoek het, was baie krities oor die veiligheidsmagte se magteloosheid/onwilligheid en het verskeie voorstelle gemaak, maar daar is min aanduidings dat dit ter harte geneem is.

Prof. Africa het ná die bekendstelling van die verslag gesê: “South Africa can hopefully avoid a repeat of the events of July 2021. But that calls for a recalibrated security sector which is effective, responsive, accountable, serving the country’s democracy and not the interests of a few who manipulate them for personal or partisan gain.”

Die manier waarop die polisie toegelaat het dat stakers van Nehawu verlede week gewelddadig raak en toegang tot hospitale blokkeer, aksies wat tot verskeie sterftes gelei het, maak ’n mens nie optimisties nie.

Ons moet maar hoop dat die burgerlike aksies in Julie 2021 wat skole en winkelsentrums veilig gehou het, weer gaan gebeur. Africa het hieroor gesê: “An engaged citizenry is also one that acts lawfully to save the country from civil conflict. South Africans would do well to consider carefully whether and how to institutionalise the many acts of heroism displayed last year. They include spontaneously formed community patrols protecting shopping centres and private security companies assisting the police with operational equipment.”

Ons is dalk weer op ons eie.

Soos die gewilde meem dit wil hê: Keep calm and carry on.

Groetnis
Max


Ode to friendship

Edgewater Beach, 2019
for Kevin

The night so warm I could fall in love
with anything
including myself. My loves. You are the only people
I’d surrender my softness to.
The moon so blue. What’s gold
is gold. What’s real
is us despite
a country so grieved, so woke, so deathly.
Our gloom as loud as shells.

Listen. Even the ocean begs.
Put your hands in the sand, my friend.
It’s best we bury ourselves.
What’s heavy. What’s heavy?
Becomes light.

– Noor Hindi

(From: Dear God. Dear Bones. Dear Yellow.)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.