Malema praat g’n vir die massa mense in hierdie land

DONDERDAG MET DEBORAH

Malema praat g’n vir die massa mense in hierdie land

WILLEM KEMPEN sê die EFF moet kortgevat word, en DEBORAH STEINMAIR pleit dat die kreatiewe baba nie saam met die politieke badwater uitgegooi word nie. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy wil weet.

  • 16 Maart 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die JSE se indeks van alle aandele het gister vir die sewende opeenvolgende dag laer gesluit, die beurs se langste strek van verloor-dae sedert Oktober 2018. Die markwaarde van Suid-Afrikaanse maatskappye het in dié sewe dae met sowat R1 triljoen gedaal, het Moneyweb berig.

2. Noodwerkers het gister steeds oorlewendes in Blantyre in Malawi probeer opspoor nadat tropiese sikloon Freddy vroeër vir die tweede keer oor Suider-Afrika inbeweeg het. Meer as 220 mense het na raming al in Malawi, Mosambiek en Madagaskar in verwante vloede of modderstortings omgekom. “We found people in the trees, on rooftops or on higher ground,” het ’n Rooikruis-woordvoerder in Malawi aan AFP gesê. Freddy oortref steeds rekords: “Tropical Cyclone Freddy is exceptional mainly due to the fact that it has lasted longer than any other in historical records,” het Melissa Lazenby van die Sussex-universiteit volgens eNCA gesê.

3. Die lewe van die aktivis Stephanie Kemp, wat verlede week op die ouderdom van 81 oorlede is, word op 21 Maart by die Trevor Huddleston-gedenksentrum in Johannesburg herdenk. Kemp was volgens SA History Online die eerste wit vrou onder apartheid wat tydens aanhouding aangerand en gemartel is. Sy het in 2022 by die heropende ondersoek na die dood van imam Abdullah Haron in die Kaapse hooggeregshof getuig hoe sy 58 jaar tevore vyf keer per dag ondervra is terwyl sy ná haar inhegtenisname in Julie 1964 in die destydse Caledonplein-polisiestasie aangehou is. Die ANC het in ’n verklaring oor Kemp gesê: “As an Afrikaner, during years of apartheid South Africa, Comrade Stephanie jettisoned privilege and comfort for the humanity and freedoms of all people. It was her quest for justice, equality, a non-racial, and non-sexist South Africa that will keep her name inscribed in the collective memory of South Africa’s valiant leaders who trampled darkness and despair with goodness and light.”

4. Huldeblyke het gister ingestroom vir die jazz-sangeres Gloria Bosman, wat eergister ná ’n kort siekte in haar huis in Johannesburg oorlede is. Sy was 50. Bosman is onder meer twee keer bekroon met ’n Sama (die South African Music Awards). Sy het gereeld saam met ander beroemde kunstenaars soos Hugh Masekela, Sibongile Khumalo en Sipho “Hotstix” Mabuse gewerk.

5. Suid-Afrika het genoeg ruolie-reserwes om “etlike weke” te hou in geval van ’n aanbodkrisis, maar beperkte raffineringskapasiteit bly ’n probleem. Godfrey Moagi, uitvoerende hoof van die staat se strategiese brandstoffonds (SFF) het aan News24 gesê: “If we are hit with a crisis, we may have enough crude, but we do not necessarily have enough fuel to keep the country running.” Gevolglik oorweeg die regering om nou ook ’n reserwevoorraad reeds verwerkte petrol en diesel te hou.


Weersake

Brandgevaartoestande kom steeds voor in dele van die Noord-Kaap. Die Noord- en Wes-Kaap kan ook albei ’n hittegolf én ’n kouefront in sommige dele verwag. Matige tot warm toestande word oor die grootste deel van die land verwag, asook enkele buie en donderbuie in sommige dele.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 31°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 28°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 34°C • Durban 27°C • Howick 26°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 28°C • Upington 37°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Waarmee gaan die regering die EFF Maandag laat wegkom?

Dis baie duidelik vir almal om te sien: Die EFF gaan Maandag sy bes doen om moeilikheid te maak oral waar hy kan.

“We are saying to you, close down all your businesses to avoid the looting. Close down all your shops to avoid the looting. Close down all your factories to avoid the looting,” verkondig een van Julius Malema se Rooihemp-kornuite op een van die vele video’s wat in omloop is.

Vragmotorbestuurders “waag dit op die paaie op eie risiko”.

“Come Monday, we don’t want to see any kid wearing a school uniform,” sê nog een.

Ene Obakeng Ramabodu, wat homself op Twitter identifiseer as “A Leader of the Economic Freedom Fighters in Tshwane Region”, plaas ’n foto van ou buitebande onder die opskrif “EFF Tshwane Shutdown logistics”.

Buitebande, met al die afgryslike konnotasies wat dít inhou vir almal wat die 1980’s onthou.

“We will defend the defenseless masses of our people with our bodies, and our bodies will be on the streets,” sê Malema gister op ’n mediakonferensie. Laat die president ons probeer keer, “like he did at Marikana”, “like the apartheid government did with Sharpeville”, dan “let history repeat itself.”

Let history repeat itself. Soos Marikana en Sharpeville.

Die EFF is g’n die party van “the defenseless masses of our people” nie. Nie nou nie, nie by Marikana nie en allermins by Sharpeville. Die EFF is ’n skaamtelose gespuis van Born Free-opportuniste wat nêrens te sien is as daar konstruktiewe oplossings gevind moet word nie. Dis net raas en rumoer en minag en dreig, en boonop van ’n party wat net-net 10% van die kiesers kan oortuig om vir hom te stem.

En daarin lê ook sommer die eintlike rede vir die EFF se planne vir Maandag: om met goedkoop straatpolitiek die steun te wen wat die land se kiesers nou al herhaalde kere nié by die stembus vir die party wou gee nie.

Die president maak nogmaals of niks hiervan gebeur nie. Gaan hy weer wag tot dit te laat is en dan kla dat niemand hom gewaarsku het wat kom nie? Tel die EFF se steun as ANC-koalisievennoot meer as die veiligheid van die vragmotorbestuurders wat dit op die paaie gaan waag, of die eienaars van fabrieke en winkels wat dit gaan waag om hulle deure Maandag oop te maak, of die kinders wat dit gaan waag om in hulle uniforms skool toe te gaan?

In ’n funksionerende demokrasie het die staat ’n mandaat van die bevolking om namens hulle die nodige geweld te gebruik om die reëls en wette af te ding waaroor redelike mense konsensus kon bereik. Om dit nié te doen nie – soos as die staat Maandag die EFF toelaat om die landswette openlik te minag – sou neerkom op ’n abdikasie van die president se verantwoordelikheid om die Grondwet bo alles te handhaaf.

Helaas is dít presies wat die meeste Suid-Afrikaners verwag gaan Maandag gebeur.


Image: ANGELA TUCK

’n Vetpak en hope talent

Wat is die Afrikaanse term vir cultural appropriation? Kulturele toe-eiening? Dit is gewoonlik ’n skelwoord. Skrywers is glo nie veronderstel om te skryf vanuit die oogpunt van iemand wat tot ’n ander ras of geslag as hulle te behoort nie.

Maar beteken skryf nie in die eerste plek om jou te verbeel nie, om in ’n ander se skoene te staan, ’n ander se hoed op te sit nie? Van my gunstelingskrywers soos Lionel Shriver steur hulle nie aan sulke woke voorskrifte nie: “Yet that’s what we’re paid to do, isn’t it? Step into other people’s shoes, and try on their hats.”

Dieselfde voorskrifte geld wanneer dit kom by toneelspel: Allerlei groepe is ontstig wanneer akteurs nie die demografie verteenwoordig van die rol wat hulle vertolk nie. Hoe durf ’n horende akteur die rol van ’n dowe vertolk, ensovoorts. Maar is dit nie ook die essensie van toneelspel nie, om deur die spieël te klim en jou met ’n ander persoon se werklikheid te klee nie? Resensente reken soms ’n akteur het die rol hulle “eie gemaak”. Toe-eiening?

Die verontwaardiging het weer kop uitgesteek toe Brendon Fraser, slank en straight, die rol vertolk van Charlie, ’n morbied obese gay man in The Whale, en boonop ’n Oscar losslaan vir sy vertolking. Ek het die fliek gisteraand gekyk en dis ’n pynlike ervaring, meestal omdat Fraser so oortuigend is in die rol. Van alle siektes is eetverslawing een van die mees opsigtelike, en een wat die meeste veroordeling uitlok: Hou in hemelsnaam net op eet, maan geskokte toeskouers.

Fraser weerspieël die weerloosheid en skande wat met ’n walvislyf gepaard gaan. Hy vra gedurig om verskoning en spot met homself. En lê weg aan ’n emmer braaihoender.

Daar is sekerlik gevalle waar die kritiek meriete het: Daar is nie altyd genoeg rolle vir swart akteurs of ouer vroueakteurs nie. In die slegte ou dae het wit akteurs politoer aan hulle gesigte gesmeer en swart mense vertolk. En mans het die rolle van vroue vertolk, toe dit nog onbetaamlik was vir ’n vrou om op die verhoog te verskyn. En tog.

Daar is volop voorbeelde van onvergeetlike vertolkings oor die gender- of generasiegaping. Dink maar aan Dustin Hoffman in Tootsie, Robin Williams in Mrs Doubtfire, Meryl Streep in die TV-minireeks Angels in America.

Genderfluïditeit is nie meer vreemd nie. Straight akteurs het die rol van gay mense hulle eie gemaak, soos Kate Blanchette in Carol, Charlize Theron in Monster, Tom Hanks in Philadelphia en Sean Penn in Milk.

En as jy mooi daaroor nadink: As jy ’n akteur kon vind wat so morbied oorgewig is soos die karakter in The Whale, sou so ’n persoon nie kon werk nie. Die karakter kan nie meer sonder hulp loop nie en het asemnood en een voet in die graf. Dit vra noodwendig vir ’n vetpak en ’n fikse akteur met hope talent.

Ja, Fraser het vir die rol van Charlie daagliks ’n vetpak van 45 kg aangetrek en sê daaroor: “It just stayed with me. It made me appreciate how strong you have to be, both physically and mentally, to inhabit a body such as Charlie, who is a man, who wears on his corporeal being the trauma that he has been through.”

Ons wil almal wakker en politiek korrek wees, maar laat ons nie die baba met die badwater weggooi nie – laat ons ruimte laat vir kreatiwiteit, verbeelding en talent. Dis tog alles oëverblindery.


Rolspelers by die VWB-Cullinan-boekefees

Ken jy Sihle Khumalo se boeke? Hy is die outeur van Almost Sleeping My Way to Timbuktu, Heart of Africa en die topverkoper Dark Continent, My Black Arse. In 2011 is Sihle gekies as een van die tydskrif Destiny se 40 top-Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 40 wat bestem is vir groter dinge. Hy het ’n heerlike, oneerbiedige humorsin en sal in gesprek wees met die kunsjoernalis en blogger Diane de Beer oor sy jongste boek, Milk the Beloved Country.


Verstrooiing van die parte

Die kliniek op Worcester het my mangels
Karel Bremer my prostaat
en waar waai nie al my hare rond.
Kondome het my saad.

Die Vader alleen weet waar my tande
rondlê, om van toonnaels nie te praat.
En dan wil my voete net eenstryk deur
na Steenwerp, na my hart.

– Barend J. Toerien

(Uit: Die huisapteek)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!