Het Malema dié keer meer afgebyt as wat sy maag kan verwerk?

MAANDAG MET MAX

Het Malema dié keer meer afgebyt as wat sy maag kan verwerk?

MAX DU PREEZ skryf oor die gogga waarmee die EFF-leier die baba wil bangmaak, en oor taalregte en koshuise aan die Universiteit Stellenbosch. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 20 Maart 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Die sluipmoorde op ’n likwidateur van staatskapingsmaatskappye, Cloete Murray, en sy seun en vennoot, Thomas, die naweek is klipharde verdere getuienis dat Suid-Afrika in ’n mafiastaat verval het. Aanvallers op motorfietse het tot langs die Murrays se kar op die N1 naby Midrand gery en albei in die kop geskiet. Cloete sr. was onder meer die likwidateur van Bosasa en die Gupta-maatskappy Shiva Uranium.

2. Het pres. Cyril Ramaphosa ’n nuwe blaadjie omgeslaan? Hy het die naweek gesê hy is gekritiseer omdat hy nie die ANC geraadpleeg het voor hy ’n minister van elektrisiteit aangestel het nie. “Sometimes you say I consult too much, and when I don’t consult you complain. Sometimes I will consult, and sometimes I won’t consult. You better get used to it. This is how I’m rolling now, this is how I’m going forward.

3. Suid-Afrika het teoreties die kans om die oorlog in Oekraïne op ’n einde te bring. Die Internasionale Strafhof het Vrydag ’n lasbrief vir pres. Vladimir Putin van Rusland weens beweerde oorlogsmisdade uitgereik. Putin het vroeër aangedui dat hy in Augustus ’n leiersberaad van Brics-lande in Durban gaan bywoon. Suid-Afrika is as lidland van die Internasionale Strafhof verplig om hom in hegtenis te neem as hy hier aanland en hom dan aan die hof te oorhandig. Maar wat is die kans? In 2015 het die regering nagelaat om Soedan se president, Omar al-Bashir, vir wie daar ook ’n lasbrief was, te arresteer toe hy op besoek aan Suid-Afrika was.

4. Van weke en weke van Fase 5- en 6-beurtkrag tot ewe skielik net Fase 1? Hoe geloofwaardig is dit, al is dit hoe welkom? Is dit dalk om die nuwe minister van elektrisiteit se beuel te blaas, of hou dit verband met vandag se EFF-proteste teen beurtkrag? Dalk leedvermakerigheid teenoor André de Ruyter?

5. Die gewese Amerikaanse president Donald Trump voorspel dat hy môre in hegtenis geneem gaan word en het sy ondersteuners versoek om daarteen te protesteer. Daar is verskeie misdaadondersoeke na sy sake en optredes, maar dié een hou verband met die omkoopgeld wat hy glo in 2016 aan die porno-ster Stormy Daniels betaal het. Dit sal die eerste keer wees dat ’n oudpresident van Amerika strafregtelik aangekla word. Trump het Vrydag op Truth Social gesê: “Our nation is now Third World and dying. The American dream is dead! The radical left anarchists have stollen (sic) our presidential election and with it the heart of our country.” Dalk moet Jacob Zuma vir Trump ’n gerusstellende e-pos stuur en oor mediese parool adviseer?


Vandag se weer

Brandgevaartoestande word voorspel vir dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, asook Noordwes. Swaar donderbuie word oor dele van die Oos-Kaap verwag. Die binneland kan meestal sonnige weer tot deels bewolkte toestande verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 30°C • Rustenburg 32°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 21°C • Durban 30°C • Worcester 23°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 30°C • Upington 32°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 29°C.


Max du Preez | Die vrees van ’n herhaling van KZN 2021

“State of Panic”, skreeu die hoofopskrif op die voorblad van gister se City Press. “Massive police, private security mobilisation and army on standby as EFF’s planned national showdown spooks the nation.”

Paniek? Die nasie is verskrik? En dit oor ’n 10%-partytjie se dreigement?

As ons nie die plundering en anargie oor agt dae in Julie voorverlede jaar ervaar het nie, sou ons waarskynlik heeltemal anders gereageer het. Dít is wat by ons spook: die onverwagte, verskriklike tonele van brandstigting en diefstal in KwaZulu-Natal en ’n paar Gautengse townships wat biljoene rande se skade aangerig en honderde lewens gekos het.

Dit is dié gogga waarmee Julius Malema nou die baba bang wil maak.

Daar is nie ’n kans nie dat dié episode hom vandag gaan herhaal. Julie 2021 was eintlik maar ’n interne ANC-konflik.

Ons moet onthou dat omtrent elke gemeenskap in die land wat nie deur Zoeloesprekendes gedomineer word nie, in 2021 geweier het om daaraan deel te neem en eie instellings beskerm het.

Daar is genoeg getuienis dat die polisie en die soldate wat in 2021 die orde moes bewaar, nie net ongeorganiseerd was nie, maar weens politieke oorwegings/opdragte traag was om op te tree.

Dit is nie dié keer die geval nie, en boonop besef die meeste Suid-Afrikaners watter nagevolge sulke gewelddadige massa-optredes inhou.

Die polisie, die weermag, misdaadintelligensie en staatsekuriteit is ná 2021 kwaai gekritiseer en ’n paar koppe het gewaai.

Dié keer het pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet hulle eie geloofwaardigheid en dié van die veiligheidsmagte op die spel geplaas dat vandag nie naastenby so chaoties gaan verloop nie.

Die mense van Suid-Afrika is kwaad, ja. Kwaad oor beurtkrag, misdaad, korrupsie, swak dienste, werkloosheid en algemene verval.

As ons wel die potensiaal vir ’n Arabiese Lente-oomblik gehad het, sou nou ’n goeie tyd gewees het om dit aan te wakker.

Malema het dit gister herhaal dat vandag die begin van ’n revolusie is. “No-one can stop a revolution,” het hy gesê.

Dit is die slegte nuus vir Malema en die EFF: As hulle nie nou hond haaraf kan maak nie, gaan hulle waarskynlik vir die afsienbare toekoms ’n 10%-party bly.

Of gaan die blote feit dat die nasie ná Malema se dreigemente in paniek is en die ganse veiligheidsmasjien gemobiliseer word, sy aansien verhoog?

Ek skryf dié Sondagaand, voor ek enige aanduiding het wat gaan gebeur. Maar soos dit nou vir my lyk, het Malema dié keer meer afgebyt as wat sy maag kan verwerk.


Image: ANGELA TUCK

Praat Afrikaans, maar te hel met die Taaliban

Dit is ’n veer in die hoed van die soms omstrede en onbeholpe Menseregtekommissie dat dit die bestuur van die Universiteit van Stellenbosch aangespreek het oor die taalregte van Afrikaanssprekende studente.

Die destydse opdragte van studenteleiers in vier koshuise dat Afrikaanse studente hulle in die geselskap van anderstaliges daarvan moet weerhou om Afrikaans te praat, was absurd.

Soos Danie van Wyk van die DAK Netwerk vra: “Wat van Xhosasprekende studente wat in Xhosa met mekaar kommunikeer? Geld die beleid ook vir hulle?”

Ek dink ons almal weet wat die antwoord op dié vraag is: Niemand sou dit ooit gewaag het om so ’n opdrag te gee nie, en as dit wel gebeur het, sou daar ’n helse storm losgebars het. Dit sou as ’n minagting van swart mense en hulle tale en kultuur beskryf geword het.

Die beginsel is tog duidelik: Geen taalgroep se regte is belangriker as ’n ander s’n nie.

Ek voel sterk genoeg oor my moedertaal om twee keer ’n belowende loopbaan in die Engelse media prys te gegee het om eerder in Afrikaans te skryf.

Ek het ook destyds in my kommentaar op oudregter Sisi Khampepe se verslag oor transformasie op Stellenbosch, waarmee ek grootliks saamgestem het, die punt gemaak dat die universiteit (en ander instellings) baie versigtig moet wees om die agitering van sommiges te kondoneer dat swart studente heeltemal moet domineer voordat dit as ’n getransformeerde instelling gesien kan word.

Ek is geen taalbul of agent van die Taaliban nie, maar ek beskou Afrikaans as ’n wonderbaarlike, ryk inheemse taal met sterk wortels in die slawegemeenskap aan die Kaap en ek sal vir die voortbestaan en uitbreiding van Afrikaans baklei.

Ja, dit was deur Afrikanernasionaliste gekaap en ja, dit was die taal van die onderdrukker, maar dit was wat mense daarmee gedoen het, dit was nie die taal self nie. En oor die eeue heen, en weer tydens die stryd teen apartheid, was dit ook die taal van die bevryder, soos bruin sprekers en ander dit gebruik het om die kolonialiste en apartheidbase teë te gaan.

Ek dra nie ’n T-hemp wat verklaar “Praat Afrikaans of hou jou bek” nie, maar ek het ’n gewoonte om almal met wie ek in aanraking kom, vriendelik in Afrikaans te groet en te bedank. Ek wil hê hulle moet weet dat al lyk en klink ek soos Eugène Terre’Blanche of Eugene de Kock, is ek ’n middeljarige Afrikaanse man wat almal se menswaardigheid erken. Ek wil hê hulle moet Afrikaans as ’n vriendelike, meelewende taal sien.

Terug by Stellenbosch. Die rektor, Wim de Villiers, en sy bestuur het destyds toe die voorvalle bekend geword het wat nou voor die MRK gedien het, duidelik gesê dit was verkeerd en weerspieël nie die universiteit se beleid nie. De Villiers het inderdaad daarvoor om verskoning gevra.

Ek het self destyds mense in die rektor se kantoor gebel en gevra waarom dié onaanvaarbare gedrag toegelaat is. Die antwoord was dat dit oorywerige studenteleiers was wat baie sensitief daarvoor was dat swart studente op die kampus moes tuis voel.

Ek het noue bande met Stellenbosch, my alma mater, en kom gereeld op die kampus. Dié verduideliking het vir my eg geklink. As daar kritiek geopper kan word, is dit dat die rektor en sy bestuur dalk nie gou en duidelik genoeg die beleid uitgespel het om seker te maak dat sulke vergrype nie herhaal word nie – dit is ten minste die persepsie in sekere kringe.

Ek het lankal aanvaar dat Afrikaans nie langer die onderrigtaal op Stellenbosch kan wees nie en het my standpunt daaroor al verskeie keer verduidelik. Stellenbosch is een van die juwele in die intellektuele kroon van Afrika en Suid-Afrika. Dit is primêr ’n instelling van intellektuele uitmuntendheid en het geen taak om een taal bo ander te bevoordeel nie. (Ja, Gawie, dit “bevoordeel” wel Engels, maar net omdat dit die land se lingua franca en ’n internasionale taal is, eerder as een groep se taal.)

Image: ANGELA TUCK

De Villiers het ’n uiters moeilike taak om dié oorgang van ’n universiteit vir die Afrikaner-elite na ’n universiteit vir alle Suid-Afrikaners te bestuur, ’n plek waar swart, bruin en wit ewe tuis voel.

Aan die een kant is daar die druk van politici van die ANC en die EFF en swart aktiviste, aan die ander kant die DA, die Vryheidsfront, die Solidariteit Beweging en wit Afrikaanse alumni. En, ongelukkig, die Afrikaanse publikasies van Media24.

Ek dink De Villiers het tot dusver baie goed gevaar. Die universiteit se nasionale en internasionale prestige is aan die groei, dit is ordelik op die kampus, daar word uitstekende navorsing gedoen, die getal nagraadse studente is hoog en vele duisende goed onderlegde gegradueerdes begin jaarliks ’n produktiewe lewe in die werkplek. Die meeste studente met wie ek in die laaste paar jaar te doene gehad het, wit, swart en bruin, is trots en tevrede.

Maar die posisie van Afrikaans gaan nog lank omstrede bly, al is daar nou konsensus dat Afrikaanssprekende studente net soveel reg as die sprekers van enige ander taal het om onder mekaar in hulle eie taal te kommunikeer.

Daar is nog te veel oud-Stellenbossers en wit politici wat Stellenbosch as ’n “site of struggle” wil misbruik, ’n maklike teiken om die frustrasies van die verlies aan mag en voorreg op uit te haal en om die nostalgie van die “goeie ou dae” uit die kas te haal. Wim word nou sommer as woke uitgekryt en die DA se Leon Schreiber wil nou ’n mosie van wantroue in hom instel. Asseblief.

Dieselfde is nou aan die gebeur met die voorstel dat van die manskoshuise voortaan vrouestudente huisves. Dit sal die vleisbraaistories van die kaskenades in ou Dagbreek en Helshoogte van heelwat sappigheid ontneem.

Ek sien een rubriekskrywer probeer nou ’n saak uitmaak dat manskoshuise ’n noodsaaklikheid is vir die sosialisering van jong mans, dat dit ’n nodige coming-of-age-omgewing skep. Seker soos diensplig vir wit seuns eens was.

Dit is só 1980’s, só Eton College.

Hoe gouer universiteitskoshuise niks anders nie as bekostigbare studentebehuising, woonstelle, word waar vroue en mans saam kan woon, hoe gouer gaan die elemente van toksiese kultuur – soos suip jouself simpel en pie op jou buurman se boeke – geëlimineer word.

As jou seun nie volwasse genoeg is om op sy eie te gaan studeer nie, laat hom dan eers ’n jaar lank werk of, as jy dit kan bekostig, stuur hom vir ’n jaar oorsee.

Ek weet waarvan ek praat. Ek was 17 toe ek Stellenbosch toe is, en in alle opsigte nog ’n kind. Die “koshuiskultuur” met al die gedopery en gesuipery waaraan ek lustig deelgeneem het, het niks goeds aan my gedoen nie.

’n Universiteit is ’n instelling waar studente vir grade studeer en navorsing gedoen word. Dit is dit.

Gegroet
Max


skepper: twee foto’s

i.

bo jou ken sit ’n sagte sekelmaan
in ’n konstellasie fyn bruin sterre

alles wentel om die punt van jou neus –
die kanteling van die ruimte, die einde van tyd
relatiwiteit en onverstaanbaarheid

onder die gebeurtenishorison van wimpers
is jou tweeling swart gate gesluit

ii.

jy lê en slaap
herrangskik die heelal
as jy gaap

– Bibi Slippers

(Uit: Fotostaatmasjien)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.