Lak-hoes-hei, hoe lyk dit met ’n ommekeer?

WOENSDAG MET WILLEM

Lak-hoes-hei, hoe lyk dit met ’n ommekeer?

WILLEM KEMPEN kry moed as hy tekens van meer dissipline by die polisie sien, en hoop ons kan ’n ander plan bedink om puttoilette by skole iets van die verlede te maak. Plus vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 22 Maart 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Pres. Cyril Ramaphosa het in sy Menseregtedag-toespraak op De Aar in die Noord-Kaap gesê die EFF (of eintlik “others”) “would want to abuse the rights of others, intimidate them, compel them to participate in a protest, compel them to participate in days when they should not go to work”. En: “I am happy that the majority of South Africans did not heed the call, but they exercised their rights as South Africans,” het hy volgens News24 gesê.

2. Die sentrale banke van Afrika se grootste ekonomieë sal almal na verwagting oor die volgende twee weke uitleenkoerse verder opstoot in reaksie op volgehoue inflasie en kommer oor die stabiliteit van die internasionale bankstelsel. Dié lande sluit in Suid-Afrika, Nigerië, Egipte, Marokko en Kenia. Terselfdertyd het internasionale oliepryse ook onder druk gekom, wat beteken Suid-Afrikaners kan dalk uitsien na effens laer brandstofpryse.

3. Oudpres. Donald Trump was met die skryf hiervan nog nie in hegtenis geneem soos hy self verlede week gesê het gister sou gebeur nie. Sy eie prokureurs het bevestig dat Trump dinge waarskynlik vooruitgeloop het, en dis onwaarskynlik dat die jurie in die voorverhoor Maandag al oor ’n moontlike formele aanklag besluit het.

4. Meer as 2 000 cholera-gevalle is die afgelope week in Mosambiek aangemeld weens vloed- en ander skade aan die land se water-infrastruktuur weens die sikloon Freddy, het eNCA berig.

5. Die Keniaanse polisie het 238 mense in hegtenis geneem te midde van die ergste geweldpleging in die land sedert pres. William Ruto ses maande gelede aan die bewind gekom het. Die opposisieleier Raila Odinga, wat sê Ruto het die verkiesing “gesteel”, het vroeër gevra vir ’n dag van aksie teen die regering en stygende lewenskostes.


Kyk weer ...

Brandgevaartoestande kom voor in dele van die Noord-Kaap. Daar is waarskuwings vir swaar donderbuie in die Vrystaat langs die Lesotho-grens en sterk wind aan die kus tussen Mosselbaai en Kaappunt. Sonnige en warm toestande word in die binneland verwag, met buie en donderbuie in dele van KwaZulu-Natal en die Oos- en Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 30°C • Johannesburg 27°C • Rustenburg 32°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 23°C • Durban 27°C • Worcester 28°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 28°C • Upington 35°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C.


Kom luister saam na Piet Croucamp se gesprek met Trevor Manuel. Dis gratis.


Willem Kempen | Toiletpolitiek gaan nie keer dat nog kinders in drek verdrink

Hier is ’n uittreksel van ’n toespraak wat pres. Cyril Ramaphosa op 14 Augustus 2018 by die Sheraton-hotel in Pretoria gehou het toe hy ’n projek genaamd Sanitation Appropriate for Education (SAFE) geloods het “which will spare generations of young South Africans the indignity, discomfort and danger of using pit latrines and other unsafe facilities in our schools”:

We are gathered here to answer an emergency.

There are nearly 4 000 schools across the country that only have pit latrines or other inappropriate sanitation facilities.

These are the schools that serve the children of the poor.

It was in such a school, Mahlodumela Primary School in Limpopo, where five-year old Michael Komape drowned in a pit toilet in 2014.

And it was in such a school, Luna Junior Primary School in the Eastern Cape, where Lumka Mkethwa lost her life in March this year.

Verlede week, bykans vyf jaar ná Ramaphosa se toespraak, het die vierjarige Langalam Viki in ’n puttoilet by haar skool in die Oos-Kaap verdrink.

Gister, op Menseregtedag, het die president in ’n toespraak op De Aar gespog dat die regering nou maatskaplike toelaes aan meer as 18 miljoen mense betaal, “which means that we are respecting the rights of South Africans”. En ook: “The introduction of the National Health Insurance – or NHI – will enable every South African to receive quality health care regardless of their ability to pay.”

Ook gister op Menseregtedag het die DA ’n “tweepunt-aksieplan” geloods om ontslae te raak van alle puttoilette by skole: “In consultation with our lawyers, the DA will be starting litigation proceedings to find the quickest and most effective means to instruct governments across the country to erect proper sanitation facilities for all school children as a fundamental human right.”

En: “The DA’s Shadow Minister of Basic Education, Baxolile Nodada, will also be launching a country-wide campaign to eradicate pit toilets, which will include widespread oversight visits of all school infrastructure, or a lack thereof, which may place the life of a child at risk.”

Sug. Nog ’n jaar of wat van woedende persverklarings en dringende hofbevele en politici wat ongevraagd die ouers besoek van nog ’n kind wat in ’n toilet verdrink het.

Kan ons nie ’n slag aan ’n nuwe manier probeer dink om die probleem op te los nie, of is dit te veel gevra met volgende jaar se verkiesing wat oor alles hang?


Image: ANGELA TUCK

Dalk is daar tog iets te sê vir eindeloos op en af met die paradegrond marsjeer

Afdeling!

Afdeling, aaaandag!

Links, in drieë afmarsjeer, liiiiiinks om!

Voorwaarts, mars!

Links! Regs! Links! Regs!

Daar maak ek myself nou bietjie bang, maar in elk geval: Ek dink gister aan die hele dril-ding toe ek ’n video sien van ’n klompie skarebeheer-polisielede wat in ’n gang in ’n winkelsentrum afmarsjeer, tot ’n halt gebring word, en dan die opdrag kry om op-die-plek-rus te staan. (Apologie aan al die drilmeesters daar buite as ek van die terminologie dalk aan die gat beet het.)

Die video is glo gister in die Boardwalk Mall in Gqeberha geneem, en iemand sal my sekerlik laat weet as dit al jare oud is of heel iewers anders geneem is of wat ook al, maar my punt is: Die idee van ’n klompie polisielede wat ingeoefen genoeg in basiese drilvaardighede is om dit ten aanskoue van die publiek in ’n winkelsentrum te gaan doen, het my nogal bietjie hoop gegee dat hulle opgewasse sou wees vir die res van die dag se shutdown-manewales. En dit was seker ook presies hoekom hulle dit gedoen het, om te wys hulle is gedissiplineerd en voorbereid.

Die drillery was nou nie naastenby die Changing of the Guard of so iets nie, maar dit was beslis ook nie ’n nasionale verleentheid soos met daai polisieparade verlede jaar in die Moses Mabhida-stadion in Durban nie.

’n Toneel uit The Meaning of Life van Monty Python.
’n Toneel uit The Meaning of Life van Monty Python.

Wat is nog die punt van “endlessly marching up and down the square”, soos Monty Python dit in The Meaning of Life noem? Dis mos nie nodig noudat ons nie meer oorlog maak deur duisende soldate in helderkleurige uniforms en in netjiese rye op mekaar te laat afmarsjeer en dan met skerp stukke metaal aan stukke te hak totdat die een kant uitgewis is nie? En nog minder in die polisie?

Wel, die oorspronklike rede is steeds geldig: om ’n klompie individue in ’n gedissiplineerde eenheid saam te snoer wat oombliklik en identies op bevele sal reageer. Dit hoef ook nie ’n drilsersant met ’n weglê-snor in ’n uniform te wees nie, soos wat die marshals van Cosatu, die UDF en later die MDM dit aan die einde van die 1980’s en in die vroeë 1990’s so dikwels in straatbetogings met tienduisende mense gewys het.

En natuurlik is ’n klomp mense met bose bedoelings óók gevaarliker met dissipline as daarsonder. ’n Meer gedissiplineerde polisiemag sou waarskynlik nie Sharpeville veel anders laat verloop het nie, maar ek het so ’n spesmaas Marikana sou glad nie gebeur het nie as meer van die polisie van daardie dag iewers in hulle jongdae ure en ure deurgebring het met endlessly marching up and down the square.


Boekefees-rolspelers:

Mercy Kannemeyer is ’n regisseur wat Jeanne Goosen se roman Ons is nie almal so nie op die verhoog vergestalt het, met groot trefkrag. Sy is ook ’n gereelde bydraer tot Vrye Weekblad. Gielie Hoffmann – wat individue en spanne help om veerkragtiger te wees, of hulle nou atlete, entrepreneurs of kunstenaars is – gesels die Saterdag van die fees om 12:00 met haar.

Kliek hier vir die volle program en kliek hier om kaartjies te bespreek.


Geluk

Jare gelede    dit maak nie saak wanneer
by my eerste ontmoeting    dit maak nie saak met wie
het ons mekaar op ’n tydstip los van tyd
stip aangekyk, gekyk.

Soms flits dit weer in my bewussyn terug
verblindend skerp, ’n pyl van louter lig,
bewys en waarborg van ek weet nie wat.

– Elisabeth Eybers

(Uit: Bestand)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!