Lemoeniese wederhelftes en toe-hek-paniek

DONDERDAG MET DEBORAH

Lemoeniese wederhelftes en toe-hek-paniek

Vir baie jong Suid-Afrikaners, skryf PIETER VAN DER MERWE, is demokrasie sinoniem met swak dienslewering, misdadigheid en leë beloftes. DEBORAH STEINMAIR mymer oor die vertroosting van taal en woorde. En soos altyd is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 23 Maart 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Duurder kos het die grootste rol gespeel in Februarie se styging van verbruikersinflasie tot 7% vergeleke met Januarie se 6,9% (van jaar tot jaar). Dit is die grootste maandelikse styging sedert Julie 2022, het Statistieke Suid-Afrika gister gesê. Kos en nie-alkoholiese drank was 13,6% duurder, met spesifiek mieliemeel wat byna 35% duurder as ’n jaar tevore was.

2. Die EFF se mosie van wantroue in die speaker van die nasionale vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, is gistermiddag bespreek en verslaan. Die EFF’s is vies oor die manier waarop hulle in Februarie uitgejaag is toe hulle die president se staatsrede probeer ontwrig het.

3. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, het sy landwye toer van Eskom se kragstasies voortgesit met ’n besoek aan Kendal in Mpumalanga. Hy het ontken dat die afgeskaalde beurtkrag iets te doen het met die EFF se #Shutdown-poging van Maandag, en gesê dis danksy ’n kombinasie van laer aanvraag voor Dinsdag se vakansiedag en ’n herstel in die opwekkingsvermoë by ses kragstasies.

4. ’n Kaliforniese meer wat meer as agt dekades gelede opgedroog het, sal na verwagting binnekort weer vol water wees terwyl “monster rainfall” die staat se riviere oorweldig. Owerhede in Central Valley het inwoners naby die meer gevra om hulle huise te ontruim.

5. Groot dele van Beijing was gister in ’n oranje waas gehul terwyl die stad deurloop onder ’n enorme stofstorm. Die stad se amptelike lugbesoedelingsindeks het die maksimum vlak van 500 bereik, en sig was op sommige plekke minder as ’n kilometer ver.


Weersake

Swaar donderbuie word vir dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap voorspel. Die binneland kan meestal sonnige en warm toestande verwag met enkele buie en donderbuie oor Noordwes en Vrystaat.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 31°C • Johannesburg 28°C • Rustenburg 28°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 28°C • Durban 29°C • Howick 25°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 27°C • Upington 32°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 23°C.


Kom luister saam na Piet Croucamp se gesprek met Trevor Manuel. Dis gratis.


Pieter van der Merwe | Ons moet begrip bou vir die waarde van demokrasie

Afrobarometer se jongste peiling oor die stand van die demokrasie op die vasteland bevestig dat die meeste mense steeds ’n demokratiese en aanspreeklike regering verkies, al is hulle ongelukkig met die standaard van die demokratiese stelsel waaronder hulle leef.

Die syfer vir Suid-Afrika is steeds kommerwekkend laag: Net 40% van plaaslike respondente het in Januarie saamgestem met die stelling: “Democracy is preferable to any other kind of government”.

Dit beteken darem nie Suid-Afrikaners wil een of ander diktator in die Uniegebou hê nie, want meer as 60% van die plaaslike respondente was gekant teen ’n militêre staat of ’n eenparty-bedeling. Tog dui dit op ’n kommerwekkende wantroue in die demokrasie in die jaar voor ’n algemene verkiesing. Suid-Afrikaanse respondente se houding, waarsku Afrobarometer, “signal the potential for democratic disaster, with support for democracy now among the lowest levels recorded across 34 [African] countries”.

Geen van die onlangse politieke verwikkelinge gaan dié situasie enigsins verbeter nie. Inteendeel. Kiesers wat opposisiepartye in 2021 ’n kans gegee het, moes die afgelope maande toekyk hoe koalisies in groot metrorade wankel of in duie stort, in verskeie gevalle weens opposisie-raadslede se eie toedoen.

Die gebrek aan politieke opsies word weerspieël in dalende deelname aan die demokratiese proses. In 2019 het 2 miljoen mínder mense – en minder as die helfte van die volwasse bevolking – die moeite gedoen om te gaan stem as in 1994, terwyl die land se totale bevolking oor dieselfde tydperk met meer as 14 miljoen gestyg het.

Die ANC se steun van 57% in 2019 verteenwoordig minder as ’n derde van die volwasse bevolking, en kom neer op net meer as 10 miljoen mense. Die ANC regeer nie met ’n mandaat nie, maar met genade.

Die EFF, wat die vorige keer deur minder as 2 miljoen volwasse Suid-Afrikaners by die stembus gesteun is, het die aansien van die demokrasie die afgelope week ’n verdere knou toegedien deur prakties gesproke te erken hulle kan meer met massa-aksie en dreigemente vermag as deur in die parlement aan die demokratiese proses deel te neem. Boonop teiken die EFF jonger Suid-Afrikaners, die groep met tegelyk die hoogste werkloosheidskoers en die laagste teenwoordigheid by die stembus.

Vir dié jong Suid-Afrikaners, wat geen herinnering het van enige ander soort bestel nie, is demokrasie sinoniem met swak dienslewering, misdadigheid, leë beloftes en ’n gebrek aan aanspreeklikheid. Ons gaan almal ’n duur prys betaal as hierdie groep mense nie oortuig kan word dat die beste pad vorentoe méér en nie minder demokrasie is nie.


Image: ANGELA TUCK

Jy is die ander helfte van my lemoen

Taal het my nog altyd gefassineer. Iemand wat uiters onderhoudend oor taal skryf, is Bill Bryson in sy boeke The Mother Tongue en Made in America. Hy kyk na die merkwaardige geskiedenis, die koddighede, veerkragtigheid en prettigheid van die Engelse taal. Hy vertel die storie van taal vanaf die eerste afsak van die larinks na die keel (dis hoekom mense kan praat en honde nie) tot die fyn en verlore kuns van kreatiewe swetswoorde.

Geleerdes probeer navors presies waar en hoe taal ontstaan het, maar die getuienis is skraps omdat gesproke taal geen fossiele agtergelaat het nie. Gefossileerde skedels verklap slegs die vorm en grootte van hominiede breine en nie waartoe dit in staat was nie. Die enigste bewysstuk wat ons het, is die vorm van die spraakorgane; mond, tong en keel. Tot ongeveer 100 000 jaar gelede kon die vorm van hominiede spraakorgane nie moderne spraakgeluide moontlik maak nie. Hulle kon wel steeds deur middel van beperkte klanke kommunikeer, of deur gebaretaal, waarvan ons skadu’s behou het. Lyftaal, gesigsuitdrukkings.

Ek lees ’n heerlike boek, soos gewoonlik: Amazing Grace Adams, deur Fran Littlewood. Grace herinner aan die heldin van Lessons in Chemistry (deur Bonnie Garmus), Elizabeth Zott: Sy is ’n slim, eksentrieke vrou wat haar eie kop volg. Grace is vlot in vyf tale en boonop aansienlik. Wanneer iemand haar op straat teister, snou sy hom “go fuck yourself” in vyf tale toe: Frans, Spaans, Japannees, Russies en Nederlands. Laasgenoemde is “rot op”, wat vir my ’n bietjie mak klink, maar ewenwel.

Sy bied ook ’n TV-program aan, soos Elizabeth. Die poniepers doop haar “The Polyglotty Hotty”. Van haar mymerings oor taal en woorde gryp my aan die keel. Sy praat byvoorbeeld van “Torschlusspanik”. Duits is my derde taal, so ek verstaan. Sy breek die woord op in sy segmente: “Tor” is hek. “Schluss” is toemaak. “Panik” is paniek. Die woord dateer uit die Middeleeue toe burgers hulle teruggehaas het na die dorpshekke voordat dit sluit en hulle die nag weerloos buite die poorte moes deurbring. Dit het ’n idiomatiese betekenis gekry: daardie angstige, benouende gevoel dat geleenthede besig is om op te droog en vensters besig is om toe te gaan, om bang te wees dat daar nie genoeg tyd gaan wees om jou doelwitte te bereik nie. Amper soos ’n middeljarekrisis.

Sy vertel van die Türkiyiese woord “hüzün”, wat ’n Arabiese wortel het en ’n sekere geestesangs beskryf: die somber gevoel dat alles agteruitgaan en dat die situasie – dikwels polities van aard – heelwaarskynlik gaandeweg verder gaan vererger.

Woorde troos, maak ons minder alleen. Daar is ’n gedeelde vreugde in die bestaan van ’n woord soos hüzün: Dit herinner ons daaraan dat ons ongeluk, ons neerslagtigheid, kollektief is. Ons is saam in hierdie sinkende bootjie. En mistroostigheid verwelkom geselskap.

As ons meer tale geken het, kon ons liefde en ander ontwykende toestande veel aangrypender verwoord het. As jy in Spaans wil sê iemand is jou sielsgenoot, sê jy: “Tú eres mi media naranja” – jy is die ander helfte van my lemoen.

Ek klou vas aan woorde.

Onthou, jy is nie alleen nie. Ndiyakuthanda!


Rolspelers by die VWB-Cullinan-boekefees

Bettina Wyngaard is ’n Overbergse dromer en aktivis. Sy is ook ’n bekroonde skrywer. Ilse Salzwedel, self skrywer en RSG se boekepersoon, praat met Bettina en Elizabeth Wasserman oor hulle boeke Lokval en Die fantastiese mevrou Smit. Al twee boeke is in VWB bespreek. Wasserman is ’n patoloog en bekroonde kinderboekskrywer.

Kom luister Saterdag 15 April om 14:00 na Vrouespeurders tot die redding.

Kliek hier vir die volle feesprogram en kliek hier om kaartjies te bespreek.


Uit Lewis Carroll

Ek loop langs sy tuin en sien uit die hoek
van my oog Tier en Uil eet saam aan 'n koek;
Tier verorber die baksel, versiersel en kersie
en Uil kry die koekbord as deel van sy porsie.
Toe die koek opgeëet is, word Uil toegelaat
om die lepel vir homself te neem as 'n baat.
en Tier kry die vurk en gryp die mes beet
en beëindig die fees deur vir Uil ...

– Barend Toerien

(Uit: Die huisapteek)

 ♦ VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.