Suid-Afrikaners soek stabiliteit, skoon regering en visie

MAANDAG MET MAX

Suid-Afrikaners soek stabiliteit, skoon regering en visie

Ons land kort ’n sambreelbeweging wat mekaar nie in verkiesings sal ondermyn nie en nie in die plaaslike politiek sal saboteer nie, skryf MAX DU PREEZ. En musiek moet meer as net die agtergrondklanke in jou lewe wees, meen hy. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 27 Maart 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiedag!

1. Die departement van openbare werke sê hy het meer as R7 miljoen bestee om opwekkers en omskakelaars aan ministers en adjunkministers se huise te verskaf sodat hulle nie deur beurtkrag verontrief word nie.

2. Twee bedrae van R15 miljoen elk wat Prasa aan ’n plaaslike owerheid en ’n diensleweraar moes betaal, is na privaat bankrekenings gekanaliseer, sê die vervoeragentskap. Teen die tyd dat Prasa dit agtergekom het, is groot bedrae reeds uit dié rekenings onttrek.

3. Volgens ’n steekproef van die Social Research Foundation kan die ANC 52% van die steun in ’n verkiesing trek as 66% van die kiesers stem, en 53 as die stempersentasie 56% is. Die DA se steun word op 24% vir die groter en 25% vir die kleiner opkoms geskat, ActionSA staan op 3% en 4%, die EFF verrassend op 6% en 4%. Die IVP se steun word op 6% geraam, wat ook al die stempersentasie.

4. Carl Niehaus het aan Rapport bevestig dat die aartsskelm en rassis Louis Liebenberg R55 600 aan hom gegee het vir ’n week lange vakansie in ’n hotel in Kaapstad oor Kersfees verlede jaar. Niehaus sê hy was onder druk van die aanvalle deur ANC-leiers en Liebenberg “het empatie met my en my familie bewys en seker gemaak dat ons ’n ordentlike vakansie kon hê”. Niehaus het verlede Maandag hand aan hand met Julius Malema in ’n optog as deel van die EFF se “national shutdown” gestap. Liebenberg, wat ook ’n deel van Jacob Zuma se regskoste dek, word deur die Valke vir bedrog ondersoek.

5. Vladimir Putin van Rusland het aangekondig dat sy land taktiese kernwapens in Belarus gaan stasioneer. Pres. Alexander Lukashenko het daarom gevra, sê hy, maar Moskou sal steeds beheer oor die wapens behou. Putin sê dit is niks vreemds nie, want Amerika stasioneer al dekades lank kernwapens in sy bondgenootlande. Belarus grens aan Oekraïne, Pole, Letland en Litaue.


Vandag se weer

Daar is ’n waarskuwing vir swaar reën wat tot oorstromings kan lei in dele van Limpopo en Mpumalanga. Enkele tot verspreide buie en donderbuie kan ook oor dele van elke provinsie verwag word, behalwe in die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 23°C • Rustenburg 27°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 26°C • Durban 22°C • Worcester 27°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 24°C • Upington 32°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 21°C.


Max du Preez | Die DA moet meer doen as net leiers kies

Die Demokratiese Alliansie moet veel meer doen as om net nuwe leiers te kies as hulle die komende naweek hulle federale kongres hou.

Die afgevaardigdes van die tweede grootste politieke party in die land moet hulle leiers aanspreek oor die benadering tot koalisiepolitiek, in plaaslike owerhede maar ook met volgende jaar se algemene verkiesing in gedagte.

Die onstabiliteit in Tshwane en ander munisipaliteite waar geen party ’n volstrekte meerderheid het nie, is baie sleg vir Suid-Afrika. Dit het in ’n sirkus ontaard en die ANC en die EFF is nie die enigste partye wat die skuld moet kry nie.

Dit is in die aard van politieke partye om ondersteuning te wil laat groei en beter by die stembus te vaar. Maar dit mag nie beteken politieke partye stel hulle eie belang en eie groei bo die nasionale belang nie.

Dit is tyd dat partye soos die DA, ActionSA, die IVP en die Vryheidsfront oor ’n sambreelbeweging begin praat wat mekaar nie in verkiesings sal ondermyn nie en nie in die plaaslike politiek sal saboteer nie.

Ek vermoed so ’n breë alliansie sal deur baie na aan (of selfs meer as) die helfte van die kiesers verwelkom word. Baie Suid-Afrikaners is gatvol vir die korrupte, onbeholpe ANC en die fascistiese EFF. Ons soek stabiliteit, skoon regering en ’n visie om ons uit die huidige reeks krisisse te kry.

’n Inklusiewe alliansie wat dít geloofwaardig kan belowe, gaan groot aftrek kry en mense motiveer om oor net meer as ’n jaar by die stembus op te daag.

Die ego’s en empire-bouery van sekere opposisiepolitici moet deur lede van dié partye gekortwiek word.

Die oomblik vir ’n nuwe politiek het aangebreek.


Image: ANGELA TUCK

Hoe klink die klankbaan van jou lewe?

Musiek is so oud soos die mens self. Dit is ’n basiese instink by Homo sapiens om musiek te maak of daarna te luister; dit is ’n kritieke element in ons spesie se geestelike en kulturele evolusie.

Toe Vasco da Gama in 1497 Mosselbaai aangedoen het, het sy geselskap ’n groep Khoekhoen raakgeloop. Sy notaris het aangeteken dat hulle fluite gespeel het, “sommiges hoog, ander laag, ’n goeie harmonisering vir mense van wie musiek nie verwag word nie”.

Pieter van Meerhoff, ’n Deense sjirurgyn van die VOC, vertel hoe Khoekhoen net buite Kaapstad hom in 1661 met musiek vermaak het. Ek het net die Engelse weergawe van sy vertelling: “Between 100 and 200 fine persons arranged themselves in a circle, each holding a hollowed reed in the hand, some long, some short, some thick, some thin. In the middle stood one with a long staff, and he sang while the others blew into their reeds and danced in a circle, making many beautiful movements with their feet.”

Lank voor die Khoekhoen, meer as 100 000 jaar gelede, het die jagter-versamelaars van Suider-Afrika, die voorsate van alle mense, al musiek gemaak, veral met snaarinstrumente en perkussie.

Die musiek waarna jy in jou lewe geluister het en nou na luister, is die klankbaan van jou lewe.

As ek een berou het, is dit dat ek nie van jongs af meer aandag aan die klankbaan van mý lewe gegee het nie. Ek het so half saam met die stroom geswem, geluister na wat mense om my na geluister het, die musiek gevolg wat ek op die radio gehoor het. Min verkenning en min avontuurlikheid.

Die laaste dekade of so het dit begin verander, en my lewe is oneindig ryker.

Ek het gister weer hieraan gedink toe ek hoor ’n stem uit my verlede, Yusuf Islam (Cat Stevens), is gekies om in die “Legends Slot” by die komende Glastonbury-musiekfees te speel. Ek het in die laat-1960’s na hom begin luister (“Morning Has Broken”, “Father and Son”, “Peace Train”, “Longer Boats”, ensovoorts) – dit is hoe hy toe gelyk het: 

Hy is nou 75, en dis hoe hy nou lyk en sing – sy nuwe album, King of a Land, kom binnekort uit: 

Iemand herinner my gister dat ’n ander ou vriend, Bob Dylan, in Mei 82 jaar oud word. Paul McCartney is 80. Brian May van Queen is 75 en is pas deur koning Charles tot ridder geslaan. John Fogerty van Creedence Clearwater Revival is 77. Mick Jagger van die Rolling Stones en Roger Waters van Pink Floyd is 79. Kris Kristofferson is 86 – ek onthou dit soos gister hoe ek en Van Zyl Slabbert by meer as een wyngevulde geleentheid “Why Me, Lord”, “Sunday Morning Coming Down” en ander Kristofferson-songs gesing het. Van Zyl is al 13 jaar lank nie meer met ons nie.

Die toppies van my jeug kap die een ná die ander om. Leonard Cohen is sewe jaar gelede dood. Jim Morrison van The Doors is in 1971 dood, Jimi Hendrix en Janis Joplin ’n jaar voor dit. Kurt Cobain het in 1994 uitgeklok, David Bowie in 2016. John Lennon se dood op 8 Desember 1980 was vir my ’n donker dag. Die lys is lank.

Ek dink ’n keerpunt in my klankbaan was toe ek in 2008 ’n groep Romani (sigeuners, gypsies) in Vojvodina in die suide van Serwië ontmoet het. Ek het na hulle musiek geluister en een van hulle musikante het vertel dat Roma-musiek ’n groot internasionale invloed gehad het – Franz Liszt het homself as ’n “halwe gypsy” beskryf en hy en komponiste soos Johannes Brahms het meermale vertel watter invloed Roma-musiek op hulle gehad het.

Maar toe sê die musikant vir my een van my gunsteling-musikante, Django Reinhardt, was self Roma. Dan moet ek Roma-musiek begin verken, het ek besluit, en dit was ’n openbaring. En toe ek eers my horisonne begin verbreed, het ek nie opgehou nie.

Roma-musiek dek ’n groot verskeidenheid style, maar hier is ’n proeseltjie van die Hongaarse Gypsy-orkes: 

As jy nie Django Reinhardt ken nie, luister gou na sy briljante “Minor Swing” – dit gaan dalk van jou ’n jazz-liefhebber maak as jy nie een was nie: 

Le Quintette Hot Club de France - 1937

Voor Spotify het ek na nuwe musiek op Apple iTunes gesoek en eindelose speellyste saamgestel waarna ek nou nog luister. Die genre “wêreldmusiek” het my aan wonderlike musiek uit Indië, die Balkans, Rusland, Suid-Amerika, Azerbaidjan, Senegal, Noorweë, Madagaskar, Japan, die DRK, Türkiye, Angola en elders voorgestel. Ek het ook na meer as net klassieke musiek, folk en rock begin luister, selfs hip-hop.

Die punt van my skrywe is dat ’n mens doelbewus behoort te besluit om meer gereeld en na meer soorte musiek te luister om jou lewe voller en ryker te maak. Musiek behoort meer as net agtergrondklanke in jou lewe te wees.

O, en moenie tradisionele boeremusiek vlak kyk nie. Ek het ’n hele paar speellyste met boeremusiek en trakteer my Engelssprekende vrou gereeld daarop.

Ek groet, met ’n lied in die hart

Max


Masters of War

Come, you masters of war –
You that build the big guns,
You that build the death planes,
You that build all the bombs,
You that hide behind walls,
You that hide behind desks –
I just want you to know
I can see through your masks –

You that never done nothin’
But build to destroy,
You play with my world
Like it’s your little toy –
You put a gun in my hand
And you hide from my eyes,
Then you turn and run farther
When the fast bullets fly.

Let me ask you one question:
Is your money that good?
A-will it buy you forgiveness?
Do you think that it could?
I think you will find,
When your death takes its toll,
All the money you made
Will never buy back your soul.

And I hope that you die
And your death will come soon –
I’ll follow your casket
On the pale afternoon,
And I’ll watch while you’re lowered
Down to your deathbed,
And I’ll stand over your grave
’Til I’m sure that you’re dead.

(Enkele verse uit die lied “Masters of War”)
Kopiereg ©: 1963, Bob Dylan


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Eersdaags vier ons boekefees in Cullinan! Bespreek nou jou kaartjies by Quicket en bespreek verblyf vir die hele naweek! Kliek hier om die volle program te sien. En vier solank fees met ons Boeke- en Vrye Tyd-bladsye propvol vermaak en inligting.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.