Nee vir die nuwe koning en ander weghol-suksesverhale

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Nee vir die nuwe koning en ander weghol-suksesverhale

MERCY KANNEMEYER dink nie 28 is te vroeg om af te tree nie, en WILLEM KEMPEN kan nie wag vir 'n fliek oor Thabo Bester nie.

  • 28 Maart 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Die Suid-Afrikaanse Habib Overseas Bank (HOB) is op aanbeveling van die Reserwebank deur die minister van finansies in kuratele geplaas en moes gister reeds sy deure voorlopig sluit weens vermeende oortredings van onder meer valutabeheermaatreëls. HOB was ook in 2016 in die nuus toe die Gupta-broers dit probeer koop het nadat hulle nie meer bankdienste by die land se groot handelsbanke kon kry nie. Die Reserwebank het ook gesê deposante se geld is veilig en dat dit onwaarskynlik is dat ander banke geraak sal word.

2. Die SAKP en Cosatu in Mpumalanga wil vandag betoog teen “buitensporig hoë” tolgeld op die N4- en N17- nasionale paaie. Dit loop saam met Cosatu se planne om die 50ste herdenking van 1973 se Durban-stakings op 31 Maart te vier.

3. Die 24-jarige Hilton Wicks van Nqanqarhu (Maclear) in die Oos-Kaap is skynbaar ongedeerd gevind nadat hy op 24 Maart ontvoer is, moontlik met die doel om ’n losprys te eis.

4. Vyf mans is luidens berigte deur Netwerk24 en News24 in Kaapstad in hegtenis geneem in verband met die moord op Kiernan “AKA” Forbes in Durban. Speurders van KZN is glo al die afgelope twee weke op die verdagtes se spoor.

5. Die prys van bitcoin en ander kriptogeld het gister gedaal in reaksie op die eis wat die Amerikaanse Commodity Futures Trading Commission ingestel het teen Binance Holdings, die wêreld se grootste kripto-beursplatform. Die owerhede sê Binance was nie behoorlik geregistreer nie.


Vandag se weer

Waarskuwings is uitgereik oor toestande wat ’n baie hoë brandgevaar inhou vir dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap, asook dele van Noordwes en die Vrystaat. Donderbuie kan moontlik oor die Oos-Kaap voorkom. Die grootste deel van die land kan andersins matige toestande verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 22°C • Rustenburg 26°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 22°C • Durban 28°C • Paarl 24°C • Oudtshoorn 32°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 24°C • Upington 34°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | ’n Hoofrol wink in The Mangaung Redemption

Wat sou die mees verstommende ding op die baie lang lys van verstommende dinge in die Thabo Bester-sage wees? En gaan die lys teen môre weer anders lyk omdat ’n selfs meer verstommende ding oornag bekend geword het?

Die eerste probleem is dat iets net die lys kan haal as dit bo redelike twyfel wel waar is, en daarvan is hier min sprake. Dis selfs nie eens ’n uitgemaakte saak dat Thabo Bester, ook onder meer bekend as Tom Bester, Tom Motsepe, Thabo Tom Bester, Tom Kelly, Thomas Kelly Bester, TK, Thomas Kelly Young, Kelly Young, Thomas Magagula, Thabo Magagula, Kelly Johnstone, Rufus Mahopo en Tom Rufus Reddy, wel in Mei verlede jaar uit die sogenaamde korrektiewe sentrum in Bloemfontein ontsnap het waar hy veronderstel was om ’n lewenslange vonnis uit te dien nie – G4S, die multinasionale privaat kontrakteur wat dié tronk bedryf, het gistermiddag nog volgehou dit was wel die berugte moordenaar en verkragter wat in daardie sel doodgebrand het.

Dis dieselfde G4S wat kamtig ’n “stewige boete” deur die departement van korrektiewe dienste opgelê sou word weens die omstandighede waarin Bester aangehou is toe hy “dood” is. En dieselfde Mangaung-sentrum waar daar luidens berigte geen DNS-toetsstelle was om die ware identiteit vas te stel van wie ook al eintlik in daardie sel aangetref is nie.

Nou is daar kamtig wel DNS-toetse gedoen wat daarop dui dit was nié Bester nie, en dat hy dus inderdaad voortvlugtig is. Hopelik is daar meer geloofwaardige bewysstukke as daardie toetse wanneer Bester dalk wel eendag weer voor ’n hof gedaag word.

En dit bring my by my voorstel vir die verstommendste deel van dié hele sage: dat Bester hoegenaamd in die eerste plek in hegtenis geneem, aangekla, skuldig bevind en gevonnis is vir ontvoering, verkragting en moord. ’n Man wat die vermetelheid gehad het om voor sy inhegtenisname ’n ondersoekbeampte te bel om te hoor of hy kan onderhandel oor sy tronkstraf. In die tweede plek: dat hy die moeite gedoen het om te ontsnap uit ’n tronk waar dit so lekker gegaan het dat hy ’n besigheid van daar af aan die gang kon kry en bedryf.

Dalk is Bester se ego ook die polisie se beste kans om hom weer agter tralies te kry: Bied vir hom die hoofrol aan in ’n fliek wat oor sy lewe gemaak word. Dit het al die bestanddele: seks, moord en doodslag, korrupte tronkbase, magtige tronkbendes, plaaslike celebs en selfs Hollywood-sterre wat amper bygesleep is.

’n Mens wil amper voorspel dit gaan ’n wegholsukses wees.


Image: ANGELA TUCK

Elders in die wêreld gaan dit ook gerook

’n Mens moet jou nie verlekker in ander mense se leed nie. Dis mos lelike maniere, en beslis nie hoe my ma my grootgemaak het nie. Maar, julle, dis só gerusstellend om te sien dat dit in ander lande ook maar net so sleg gaan soos hier by ons.

Ek hoef niemand aan ons swaarkry hier op eie bodem te herinner nie. Regdeur die bank is ons angs, kommer en vrese tasbaar. So, kom ons loer eerder na wat elders aangaan …

Blykbaar ruik Parys soos urine, en dit het nie nét met die onlangse onrus oor die aftree-ouderdom in Frankryk te make nie. Een van my vriendinne se ouers het bietjie gaan reis en ’n stop in Parys gemaak. My vriendin vertel my haar ouers was geskok toe hulle foto’s by die Eiffeltoring wou neem en hulle neuse byna moes toehou so erg stink dit daar. Die romantiese beelde van Parys as die stad van liefde is daarmee heen. Ook, hoekom sal pres. Emmanuel Macron die aftree-ouderdom later wil maak? Jis, ek sou dit haat as ek Frans was en ek nou skielik later moet aftree as wat ek beplan het. Flip. Ek wil nóú al aftree en ek is net nog 28.

In Libanon gaan die mense tekere oor Daylight Savings Time. Die laaste Sondag in Maart draai die horlosies mos ’n uur vorentoe vir die meeste Europese lande. Die Libanese regering het besluit om die horlosies eers vanaf 21 April vorentoe te draai, wat grootskaalse verwarring veroorsaak en daartoe gelei het dat die land tans twee tydsones het. So iets sal seker maar net ’n probleem wees as mense in jou land actually betyds is vir goed. Ek kan nie imagine dat ons in Suid-Afrika ooit met so ’n uitdaging sal sit nie.

Image: ANGELA TUCK

Op ’n meer ernstige en tragiese noot, in Uganda kan jy tot lewenslange tronkstraf opgelê word indien jy openlik gay is. In sekere gevalle kan gay mense selfs die doodstraf kry. Hierdie nuwe stuk wetgewing waaroor die Ugandese regering verlede week beslis het, is met enorme hartseer en teleurstelling begroet. Dit is as’t ware fokken scary dat lande nog mense kan straf vir wie hulle is. Dit is veral kommerwekkend omdat so ’n stuk wetgewing tot verdere verdeling, diskriminasie en dood op die Afrika-vasteland gaan lei.

Julle weet ook dat dinge in Oekraïne nog gerook gaan, en Putin is blykbaar nie naby aan ’n onderhandeling nie; dié soek totale oorwinning. Die oorlog gaan nou al vir meer as ’n jaar aan, en dit lyk so asof die wêreld nou maar net aangaan. Almal het nou aanvaar daar is ’n oorlog, en vir versieringsdoeleindes doen ons almal maar net ’n count down. Waar gaan dit stop? Wat is totale oorwinning vir Putin? Wil hy eers elke mens in Oekraïne dood hê voor hy tot ’n vredeskikking sal kom?

Anyway. Het julle gehoor dat heelwat popsterre decline het om by Koning Charles se coronation op te tree? Onder diegene wat nee gesê het, is die Spice Girls. Imagine jy’s Koning Charles en die Spice Girls bat jou?! HAHAHAHAHA!!!

Die lys kan nog aan en aan gaan, maar ek wil niemand depress op hierdie mooie Dinsdag nie. So, ja. Tot hiertoe.


VWB-Cullinan-boekefees se rolspelers

Frik de Jager is 'n swerwer, sjef en storieverteller. Hy kuier gereeld by Amore Bekker en deel sy resepte op RSG. Kom sit aan by sy StorieKosKuier en beleef sy reise en wedervaringe. Sondagmiddag 16 April by @Church in Cullinan.

Kliek hier vir die volle feesprogram en kliek hier om kaartjies te bespreek.


Still life with wild life

hier slaap almal. ook karen se man
wat vandag die gras gesny het.
maar karen is ’n insomniac vanaand
in haar smaakvolle nagjassie voor die kassie:
een of ander david attenborough special.
bokkies word deur leeus verskeur.
sebras kopuleer.
’n vlieg verdwyn in ’n giftige blomkelk.
sy vat ’n sluk warm melk, sit haar glas
op ’n coaster, kyk verder.
buite in die stilte groei die gras

– Loftus Marais

(Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.