Is ons probleme selfs werklik?

WOENSDAG MET WILLEM

Is ons probleme selfs werklik?

WILLEM KEMPEN vertel van drie ‘moer slim’ mense wat hom soos ’n harkpatat laat voel het. Op ’n ander noot wonder hy of Eskom nou weer die krake toeverf pleks van regmaak. En soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 05 April 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Die prys van diesel is van vandag af 73c per liter laer, terwyl petrol net effens goedkoper word: 93 oktaan met 1c per liter en 95 oktaan met 2c per liter.

2. Verteenwoordigers van die Britse multinasionale maatskappy G4S is deur die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste ontbied om te kom verduidelik oor die omstandighede waaronder die moordenaar en verkragter Thabo Bester ontsnap het. G4S bedryf die gevangenis in Mangaung waaruit Bester in Mei verlede jaar ontsnap het.

3. ’n Staking in busdienste oor die Paasnaweek is moontlik as die vakbonde Numsa, Sabea en Cobea nie hulle sin kry nie, berig eNCA. Eise sluit in ’n mediese fonds en ’n 7%-loonstyging. Sowat 20 000 mense werk in dié bedryf in Suid-Afrika.

4. Die prys van dogecoin het met meer as 30% opgeskiet nadat Elon Musk Twitter se voël-simbool met die kripto-eenheid se kenmerkende shiba inu-hond vervang het. Dis vermoedelik net tydelik en vir die grap gedoen nadat Musk se prokureurs verlede week gevra het dat ’n skadevergoedingseis teen die biljoenêr laat vaar word omdat hy dogecoin se prys sou manipuleer het.

5. Die Kremlin het met “teenmaatreëls” gedreig nadat Finland amptelik by Navo aangesluit het. Die Russiese minister van verdediging, Sergei Shoigu, het gesê dit kan die konflik in Oekraïne verder laat eskaleer.


Kyk weer ...

Toestande wat ’n uiters hoë brandgevaar inhou, kan in die noordweste van die Wes-Kaap verwag word. Die binneland kan sonnige tot bewolkte toestande verwag met ligte reën in sommige dele. Oggendmiskolle kan al langs die suid- en ooskus verwag word.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 24°C • Johannesburg 22°C • Polokwane 24°C • Mbombela 24°C • Upington 33°C • Bloemfontein 25°C • Kaapstad 30°C • George 24°C • Worcester 32°C • Durban 26°C • Gqeberha 26°C.


Willem Kempen | Het ons nou weer te mín beurtkrag?

In sy boek Sabotage: Eskom Under Siege verduidelik Kyle Cowan van News24 breedvoerig hoe Matshela Koko as destydse waarnemende groephoof dit reggekry het om beurtkrag te verminder deur die bestuurders van kragstasies in effek te beloon as hulle kortpaaie met instandhouding gevat het. Korttermyn-skyn van sukses, langtermyn-rampspoed.

Dis dieselfde Koko wat tans saam met onder andere sy vrou en twee stiefdogters teregstaan op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met onregmatige tenders van biljoene rande, en wat by geleentheid gesê het: “I just don’t understand why South Africans don’t have uninterrupted electricity supply when in my time I made sure that they have it.”

Die onlangse afskaling van beurtkrag het net te gerieflik saamgeval met die EFF se Shutdown en die nuwe minister van elektrisiteit wat met sy werk begin het. Net ’n maand gelede nog is ons vertel die nasionale netwerk is op die rand van totale ineenstorting.

Beurtkrag, so vernietigend soos wat dit is, help Eskom om die tekort te bestuur sodat die gevaar van totale ineenstorting afneem, nie toeneem nie. Word die skedules nou gemanipuleer om politieke punte aan te teken?

Nicky Weimar, hoofekonoom van Nedbank, se ontleding van die vraag na en aanbod van elektrisiteit dui daarop dat ons steeds moet gereed wees vir die ergste:

“We need to get business, in general, to become prepared if that happens. So, we’ve all been roped into this operational risk to say if the power goes out, how will we as banks continue to keep the lights on, keep people’s money safe, make sure that lending continues,” het sy aan Carol Paton van News24 gesê.

En die onafhanklike politieke ontleder JP Landman, iemand wat beswaarlik van onnodige pessimisme beskuldig kan word, sê as dit nodig is dat ons selfs “fase 10 of 15” moet trotseer om seker te maak die netwerk bly staan, dan is dít wat Eskom moet doen, nie die probleem probeer wegsteek met laer fases nie.

Maar in plaas van oop en deursigtig te wees, hoor ons vandeesweek dat Eskom aansoek gedoen het om vrystelling van dele van die Wet op die Bestuur van Staatsfinansies, vermoedelik om ’n gekwalifiseerde oudit en dus ook ’n laer kredietgradering te vermy.

Is ons dan terug by die dae van krake toeverf pleks van regmaak?


Image: ANGELA TUCK

’n Harkpatat peusel aan verbode Kennis van Goed en Kwaad

Al ooit van ’n harkpatat gehoor? Ek ook nie, tot nou die dag. Iemand het op ’n aanlyn forum só na homself verwys, en hy het nie reageer op my vraag oor wat dit beteken nie.

Gegrond op die res van wat hy daar sê, wat nie baie was nie, het ek toe maar my eie definisie begin vorm: ’n Harkpatat is iemand wat eens die potensiaal gehad het om nuttig en produktief te wees, maar om die een of ander rede dit nooit verwesenlik het nie. Soos ’n knol wat nooit geoes is nie, sien, maar aan een van die hark se punte beland het toe dit tyd word om die patatland skoon te maak. (Ek weet nie of my definisie strook met die landboukundige werklikhede van patatkultivering nie, so ek doen by voorbaat ’n kniebuiging voor meerdere kennis.)

Hoe dit ook al sy, ek het presies soos ’n harkpatat gevoel toe ek onlangs na ’n YouTube-video kyk van ’n gesprek met sekerlik drie van die wêreld se slimste mense:

Eerstens, prof. Donald Hoffman van die Universiteit van Kalifornië. Hy is primêr verbonde aan die universiteit se departement kognitiewe wetenskappe, maar ook aan die departemente filosofie, logika en die filosofie van wetenskap, en die skool vir rekenaarwetenskap. Lees weer: Hierdie ou is ewe tuis in die harde wetenskappe as in die sagtes, ewe tuis in die klassieke as die moderne. Hy is ongetwyfeld die soort mens na wie akademici verwys as “moer slim”.

Dieselfde kan gesê word van sy gespreksgenoot, prof. John Vervaeke van die Universiteit van Toronto. Hy is ook ’n kognitiewe wetenskaplike en professor in sielkunde. Hy spesialiseer in die filosofie van wysheid, die aard van bewussyn, en die relevansie van antieke filosofiese en geestelike tradisies vir die moderne lewe. Hy is ook die aanbieder van ’n YouTube-reeks met die titel Awakening from the Meaning Crisis.

Derdens, die gespreksleier, Curt Jaimungal, aanbieder van die YouTube-kanaal Theories of Everything, wat wiskundige fisika aan die Universiteit van Toronto studeer het en hom besig hou met onderwerpe soos kwantum-paradokse, vrye wil en die aard van bewussyn. Ook nie ’n brood nie, en ’n dekade of drie jonger as die ander twee.

As hoogstens ’n kenner van die harkpatatologie het die grootste deel van dié gesprek moeiteloos en verskeie ordegroottes ver oor my kop verbygegaan, maar ek het my nogtans verluister aan die respekvolle en deurdagte manier waarop die drie van hulle mekaar se kennis en insigte aanvul.

M.C. Escher se Drawing Hands.
M.C. Escher se Drawing Hands.

Hoffman se denke oor die aard van wat ons as die werklikheid sien, is eenvoudig verbluffend. Oor evolusie en natuurlike seleksie sê hy byvoorbeeld: “So that’s just a theorem of evolution by natural selection. Do I believe evolution by natural selection? I don’t believe any theory. I don’t [even] believe my own theories. I think ‘belief’ is the wrong attitude to have toward scientific theories, so I don’t believe evolution by natural selection. What I do believe, is it’s the best story we have so far.”

Hieruit volg dat ons as mense met ’n selfbewussyn nie evolusioneer het om die wêreld te beleef soos dit “werklik” is nie, maar wel om dit te beleef op die manier wat die beste opbrengs lewer ten opsigte van ons geskiktheid om daarin te leef.

En hierin is ’n paradoks, van die soort wat jou gemiddelde patat dadelik van die rank af laat spring: Hoe kan ons ’n ervaring van die werklikheid as eg beskou as daardie ervaring in die eerste plek deur evolusie só ontwikkel het dat dit ons meer geskik maak om daarin te funksioneer?

Wie weet?


Image: ANGELA TUCK

Boekefees-rolspelers:

Kom kyk hoe sewe vroueskrywers die pot roer in die gesprek Borrel, gorrel, smoeg en wroeg. Michele Meyer is die Moer in, Marida Fitzpatrick is so bitter soos Mara, Renee Rautenbach Conradie hys Die Vierkleur in Parys, Gerda Taljaard is so uitgeslape soos een van Vier susters, Bettina Wyngaard gaan jou in ’n Lokval lei, Celeste Theron sal jou Helder oordag laat droom en Emma Bekker gaan onder jou Vel kom. Hulle deel hulle geheime met Deborah Steinmair.

Kliek hier vir die volle program en kliek hier om kaartjies te bespreek.


I like my body when it is with your

i like my body when it is with your
body.  It is so quite new a thing.
Muscles better and nerves more.
i like your body.  i like what it does,
i like its hows.  i like to feel the spine
of your body and its bones, and the trembling
-firm-smooth ness and which i will
again and again and again
kiss,  i like kissing this and that of you,
i like, slowly stroking the, shocking fuzz
of your electric fur, and what-is-it comes
over parting flesh… And eyes big love-crumbs,

and possibly i like the thrill

of under me you so quite new

- e. e. cummings


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.