Goeiemôre
Gisteroggend vat ek en my dogter die pad Cradock toe vir die Hoër Landbouskool Marlow se rugby-derby. Ons moet vieruur ry. Ilke slaap in die kar. Dit was vir my ’n riller van 'n week met ’n klomp onverwagte sadness en ek fokus op die metronoomritme van die wit padstrepe wat stilletjies onder die motor verdwyn.
Net anderkant Queenstown begin die landskap stadig vorm aanneem in die eerste lig. ’n Waterverfskildery van gebleikte gras en geel populierbosse.
Marlow se mooi kampus met rooi bakstene is ’n entjie buite Cradock tussen mielielande en groot skure geleë. Die jaarlikse derby tussen Grens, Tarkastad, Marlow en Lilyfontein gaan met ’n “junior” boeredag en landbouskou gepaard. Trekkers en ploeë en dorsmasjiene staan tussen die twee rugbyvelde uitgestal. Die vure brand. Ricus Nel se “Ploeg jy?” speel oor die luidsprekers.
Dis snerpend koud. Ons soek koffie. Voor ons in die tou is twee Marlow- seuns. Die een word Skottel genoem, die ander Vink. Die pannekoektannie vertel dat jy in Marlow in graad 8 'n bynaam gegee word en “dit bly dan vir die res van jou lewe met jou”. Ouuuukei.
My dogter is volgende jaar klaar met skool. Ek het my voorgeneem om my vanjaar vir oulaas in skoolgoed te verdiep. Ons haasbekdogter met haar lang, blonde vlegsels van destyds is nou ’n amasone wat volgende week matriekafskeid hou. Die einde van ’n era is in sig, en ek hou bietjie my hart vas.
Toe ons 10 jaar gelede Oos-Kaap toe getrek het, sou dit vir ’n kort tyd gewees het, maar toe bly ons omdat ons die Lilyfontein-skool ontdek het en dit ons droom was om ons dogter ’n stabiele, veilige, ongekunstelde, plattelandse opvoeding te gee. Ek het oor die jare baie gewonder of ek die regte besluite geneem het. Sou ’n groter stadskool of ’n elite- privaat instelling nie vir my kind met haar aanleg vir kultuur beter geleenthede gebied het nie? Ek het die laaste paar weke opnuut besef dat ek presies die regte besluit geneem het. Sy het miskien nooit die voorreg gehad om soos haar susters in Stellenberg se wonderlike koor te sing nie, maar sy het ’n onverbeterlike opvoeding in die lewe gekry. En baie daarvan het te doen met die uniekheid van plattelandse menseverhoudings in die Oos-Kaap.
Ek en Ilke sit op die pawiljoen en kyk hoe Marlow Lilyfontein se tweede span afransel. Dit is nie veel van ’n verrassing nie, sê sy. Marlow se landbouseuns is taai en hulle speel mos eintlik rugby voor hulle begin kruip.
Vir iemand soos ek wat in die 80’s in die totale abnormaliteit van wit, verkrampte apartheid-Suid-Afrika grootgeword het, sien ek steeds dinge raak wat my dogter se generasie nie sien (of waarin hulle nie belangstel) nie. Die gemaklike en genormaliseerde rasseverhoudinge tussen ons kinders, die sportspanne en pawiljoene waar daar soms net hier en daar ’n wit gesig is, die swart afrigters en skeidsregters. Dit bly vir my ’n wonder en iets om oor dankbaar te wees. En dit laat dit my elke keer onthou hoe ver ons in hierdie land gekom het. Ons mag dit nie vergeet nie.
En dit is soms op die mees onverwagte plekke, soos hier by Marlow, waar die skoolseuns hulle keppies vir jou lig as hulle verby jou stap en die oudskoliere in hulle jagbaadjies en Boerboel-plaasklere om die rugbyveld staan. Waar Suid-Afrika op ander plekke uitmekaar val, is daar iets wat ons oor die landbouers van ons land moet erken: Hulle is die ruggraat van dinge wat nog werk. Ek stap ná die wedstryd deur die skou. Daar is Dormer-ooie in klein kampies en uitstallings van sonpaneel-aangedrewe waterpompe en ander “oplossings” vir ’n land in nood.
Ek het weer hieraan gedink toe ek onlangs ’n toekenningsgeleentheid by Lilyfontein bygewoon het toe my dogter erekleure gekry het.
Daar is niks fênsie aan die skool nie. Toe Ilke hier begin het, het ons nie ’n verhoog of gordyne in die saal gehad nie. Vandag staan Ilke op ’n propperse verhoog met propperse gordyne. Ons het twee bykomende rugby- en krieketvelde gebou, uit skoolgeld. En nog klaskamers en ’n IT-sentrum. Stukkie vir stukkie. En in dié tyd is daar ook aan die diversiteit van die personeel gebou.
Na afloop van die toekennings word twee musiekitems gelewer. Axolile Hoza, die musiekonderwyser, skuif agter die klavier in om die twee leerlinge te begelei. Lamila Gcam-Gcam lewer ’n hoendervelweergawe van “Jantjie kom huis toe”. Die saal ontplof in applous. (Ek praat agterna met Axolile. Hy het op Maties studeer, en is nes ek drietalig. Aan sy ma se kant is hy Afrikaans, vertel hy, en aan sy pa se kant Xhosa. ’n Diversiteit van tale kom eenvoudig vir hom natuurlik.)
Die byeenkoms word afgesluit met die sing van die skoollied, ’n verwerking van “Uitspan op Mooifontein” in Afrikaans, Engels en Xhosa.
Ek sê dit weer. Ons mag nooit vergeet hoe ver ons die afgelope drie dekades gekom het nie. En die moeite wat dit geverg het om proaktief ’n inklusiewe omgewing te skep soos op Lilyfontein nie. Ek is diep dankbaar Ilke kon hier grootword. In ’n skool waar ’n swart kind as kaptein van die eerste rugbyspan op die veld kan draf. En die Afrikaanse plaasseun wat die hoofleier van die skool is, sy toesprake in vlot Xhosa kan lewer. En dat ons kinders nie eens agterkom hoe uitsonderlik dit is nie. Dít is die DNS van die Oos-Kaap.
Daarmee groet ek. Salige Sondag.
Anneliese
Travelling together
If we are separated I will
try to wait for you
on your side of things
your side of the wall and the water
and of the light moving at its own speed
even on leaves that we have seen
I will wait on one side
while a side is there
– M.S. Erwin
(Uit: From The Rain in the Trees, 1988)
Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees!
Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.