Die een ding wat SA nié is nie

WOENSDAG MET WILLEM

Die een ding wat SA nié is nie

MAX DU PREEZ skryf oor wat die belangrikste boodskap is wat Suid-Afrikaners aan die res van die wêreld moet verkondig, WILLEM KEMPEN is dankbaar vir die rol wat die Britse monarg speel om Afrikaanse joernalistiek aan die gang te hou, en soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre


1. Ace Magashule en Edwin Sodi se pogings om hulle vervolging in die Vrystaatse asbessaak onwettig verklaar te kry, is met koste deur die appèlhof van die hand gewys. Dit beteken die saak teen hulle en twee van hulle medebeskuldigdes kan Vrydag begin, het News24 berig. Die hof het onder meer gesê die aangeklaagdes het “no reasonable prospects of success … and there is no compelling reason why an appeal should be heard”.

2. Die groothandelprys van diesel is van vanoggend af laer, maar petrol word duurder, het die departement van minerale bronne en energie gister aangekondig. Petrol (93 sowel as 95) word 37c per liter duurder. Diesel met minder swael (0,005%) word 47,5c per liter goedkoper en dié met meer swael (0,05%) word 73,5c per liter goedkoper.

3. Thabo Bester se advokaat het hom gister aan die saak onttrek, oomblikke nadat News24 hom gekonfronteer het oor sy eie verhoor op aanklagte van korrupsie en bedrog. Dié saak teen adv. Jeremiah Pela hou verband met ’n tender vir veiligheidsdienste by die Motheo TBOO-kollege in Bloemfontein.

4. Pres. Joe Biden het ’n groepie leiers in die Kongres genooi om op 9 Mei te beraadslaag oor maniere om die geskil oor die Amerikaanse skuldplafon by te lê. Kevin McCarthy, die Republikeinse speaker van die Huis van Verteenwoordigers, weier om die plafon te lig tensy daar ooreenstemmende inkortings in die staat se begroting aangebring word, maar die Demokrate sê dis nie onderhandelbaar nie. Janet Yellen, minister van finansies, het eergister gewaarsku dat die VSA so gou as teen 1 Junie ’n wanbetaler kan word as die regering nie toegelaat word om meer skuld aan te gaan nie.

5. Die histerie oor die sogenaamde “hidrasie-koeldrank” Prime het gister ook in Suid-Afrika losgebars, maar dis darem hier verkoop teen ’n fraksie van die prys wat in sommige oorsese markte gevra is. Checkers, wat Prime in Suid-Afrika verkoop, het in sommige winkels al sy voorraad uitverkoop, het eNCA berig. Prime word besit deur die YouTube-sterre KSI en Logan Paul.


Kyk weer ...

Daar is waarskuwings oor ’n hoë brandgevaar in die suide van die Vrystaat, die ooste van die Noord-Kaap en die suidweste van Noordwes. Die grootste deel van die binneland en KZN sal deels bewolk en warm wees met geïsoleerde buie en donderbuie. Dit sal deels bewolk tot bewolk wees in dele van die Wes- en Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Polokwane 28°C • Mbombela 28°C • Upington 30°C • Bloemfontein 27°C • Kaapstad 22°C • George 20°C • Worcester 25°C • Durban 24°C • Gqeberha 24°C.


Max du Preez | Die ANC is nie SA nie

Die DA-leier, John Steenhuisen, se kernboodskap verlede week aan die Amerikaanse politieke establishment was nét die regte een: Die ANC is nie Suid-Afrika nie.

Steenhuisen is blykbaar goed te Capitol Hill ontvang, so ook sy talentvolle hoofsweep, Siviwe Gwarube, en die party se finansies-ghoeroe, Dion George. Hulle het pas uit Washington teruggekeer waar hulle verskeie invloedryke wetgewers en stemmingmakers ontmoet het.

Dit is inderdaad tyd dat die wêreld, en al ons Suid-Afrikaners, dit deeglik begin verwerk dat die eens “sole and authentic representatives of the people” sy hegemonie kwyt is.

Die ANC sal seker vir ’n tyd lank nog die grootste enkele politieke party in die land wees, selfs al gaan dit volgende jaar minder as 50% van die steun by die stembus trek en selfs as dit deur ’n koalisie van partye uit die regering geboender word.

Maar die ANC definieer lankal nie wie ons as ’n nasie is nie. As daar ’n datum uitgewys moet word wanneer die ANC se pad met die nasionale etos begin skei het, is dit 9 Mei 2009, toe Jacob Zuma president geword het. Nege jaar later was daar hoop dat sy opvolger, Cyril Ramaphosa, dié proses sou omdraai, maar hy het daarin klaaglik misluk. Die verrotting was te diep.

Selfs kiesers wat om historiese, nostalgiese of etniese redes nog vir die ANC stem, glo nie meer in die ANC as die versinnebeelding van die Suid-Afrikaanse droom van vryheid, vordering en menswaardigheid nie.

Ek kan dink Steenhuisen se woorde het in Washington op goeie teelaarde beland. Hoeveel keer die laaste klompie jare het Amerikaners vir my gesê: Donald Trump is nie Amerika nie, al het amper die helfte van die kiesers in 2016 vir hom gestem en al oorheers hy steeds die nuussiklus met sy manewales.

Dit is ’n boodskap wat ons almal, nie net opposisiepartye nie, die wêreld moet indra: Die ANC is nie Suid-Afrika nie. Die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners steun ’n oop gemeenskap, skoon en effektiewe regering op alle vlakke, nierassigheid en verdraagsaamheid. Ons het ’n renons in magsmisbruik, politieke vertoon en korrupsie. Ons is demokrate.

Ons moet veral die demokratiese lande van die wêreld daarvan oortuig. Hulle moet verstaan dat ons in ’n oorgangstadium is; dat die regering-van-die-dag nou wel nie meer “Mandela se Suid-Afrika” verteenwoordig nie, maar ons, die mense, se harte is nog daar.

Die ANC se klakkelose steun vir Vladimir Putin se oorlog in Oekraïne het ons “soft power” in die demokratiese wêreld erg verswak, soos onlangs getoon is toe Japan Suid-Afrika nie soos gebruiklik na die G7-spitsberaad genooi het nie.

Ironies genoeg was daar ’n afvaardiging van die ANC in Washington op dieselfde tyd wat die DA daar was – hulle wou gaan witvoetjie soek om die skade van die steun vir Rusland ongedaan te maak.

Ek het gister die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se dreigement dat Putin in hegtenis geneem sou word as hy in die Kaap land, as populisties en kinderagtig afgemaak. Ek dink steeds hy kon sy druk op die regering oor Putin se moontlike besoek aan Suid-Afrika anders bewoord het.

Maar dit smaak my Steenhuisen het dalk iets met Winde se verklaring te make gehad. Steenhuisen wou skynbaar sy Amerikaanse gashere met iets tasbaars konfronteer, en daarin was dit geslaagd: Senator Jim Rasch, invloedryke lid van die Amerikaanse senaat se komitee oor buitelandse sake en ’n Republikein, het op Twitter gereageer: “It’s good to see some leaders in South Africa speaking openly & without ambiguity about Putin's visit to their country. This kind of honest government leadership is desperately needed to build the US-South Africa relationship.”


Image: ANGELA TUCK

Dankie vir alles wat julle vir ons beteken, Prinstjals en Lyriedaai

Die meisietjie voor my in die tou by Checkers wil by haar ma weet wie is die man met die swierige klere op die voorblad van wat lyk na 'n baie duur tydskrif wat daar tussen die grondboontjies en die energy bars te koop aangebied word. Dit sê boaan iets van “Koninklike", en dit lyk of daar minstens vyf of ses eksemplare op die rak is.

“Dis Lyriedaai se man," antwoord die ma. “Hulle sit Saterdag die kroon op sy kop, want hy is nou koning."

Ek wag dat sy byvoeg “... as die Here wil", maar nee.

Ek staan en wonder wat kos die publikasie, maar ek wil nie een optel en dalk vuilsmeer en dan moet ek daarvoor betaal nie, en die prys is te klein gedruk dat ek dit van agter my trollie gelees kan kry. Ek sal verbaas wees as dit minder as R80 of R100 is, want daai dik glanspapier kos baie geld en adverteerders val nie juis meer oor hulle voete om hulle produkte en dienste in verskillende kleure ink op platgerolde boomstompe te laat pryk nie. En die wêreld se grootste (soort van) Afrikaanse mediamaatskappy, wat ek raai agter hierdie projek sit, is nie in die gewoonte om dinge te doen wat nie geld maak nie.

Die ander vreemde ding is dat ek nie 'n Engelse weergawe van dieselfde publikasie op die rakke van Checkers sien nie. Lyriedaai self was, let's face it, eintlik Afrikaans, maar sy was sonder twyfel ook vir die Engelse pers in Suid-Afrika 'n groot aanwins. Daarenteen was Prinstjals very much 'n Engelsman wat gebore nie in staat was om in enige taal enigiets vir enigiemand se sirkulasie te beteken as sy eerste vrou nie saam met hom op die foto was nie.

En tog, daar pronk hy nou op die voorblad van 'n Afrikaanse publikasie in Checkers. Kan dit wees dat Lyriedaai se man oplaas in die oë van die volk (en die uitgewers van Huisgenoot) genoegsaam gerehabiliteer is Ná Alles Wat Hy Daai Arme Vrou En Sy Kinders Aangedoen Het? Gaan hý nou tydskrifte van die rakke af laat rol soos wat Lyriedaai eens gedoen het?

Ek hoop nogal so. Dit sal vir my mooi wees as die koning van Engeland ook sy deeltjie kan doen om Afrikaanse joernalistiek te laat oorleef, en dat ons nie meer net op sy aangetroude familie (lewend of dood) hoef staat te maak daarvoor nie.


Whenever I feel loss or lack, I imagine
The wind roaming outside of my childhood’s lair
—as I am a child again, with my red knapsack
bouncing lightly on my back—
Beckoning me to run to it, into its slurry white expanse ...
And in my heart, I am already on my way
To some thrilling future
Which is not yet weak and diluted with a lonely pain.
There, I am someone who wishes to be ~
~An exception and I am. A third and ringing note
Edges the banal alternatives of
Yes, and No. A lyric possibility rises
Everywhere and at once, a thousand roses—allusive, corrosive.
Think how much you must change. Even more than you dare.

– Sandra Lim

(Uit: Poem - a - day | Poets.org)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!