Wanneer royals meer boei as rugby

MAANDAG MET MAX

Wanneer royals meer boei as rugby

Die ANC-regering moet sy laissez faire-houding oor die SANW verander, sê MAX DU PREEZ. Hy skryf ook oor hoe Charles III se kroning en die koninklike geskiedenis hom ondanks sy skeptisisme uiteindelik gefassineer het. En soos gewoonlik is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 08 Mei 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, moes ingryp om ANC-raadslede in Johannesburg te verplig om die ANC se pas aangenome beleid oor koalisies te verbreek en vir ’n burgemeester van Al Jamah-ah te stem. Die beleid bepaal dat die party met die meeste steun in koalisies moet lei.

2. Suid-Afrika is die negende slegste plek, 53ste uit 62 lande, in die wêreld vir belegging in mynwese, het die Fraser-instituut in sy jongste jaarlikse opname van mynboumaatskappye bevind.

3. Die inwoners van Graskop in Mpumalanga het die polisie in dié toeristedorp weggejaag nadat hulle in die polisiekantoor weggekruip het toe ’n bende rowers verlede Sondag alle toegangsroetes na die dorp versper en toe vele winkels beroof het, berig Rapport.

4. Frankryk het R41 biljoen oor vyf jaar begroot om die infrastruktuur vir fietse te verbeter en om mense te help om fietse te koop en só die gebruik van motors te verminder.

5. ’n Man het agt mense doodgeskiet en sewe gewond toe hy by ’n winkelsentrum net noord van Dallas op omstanders losgebrand het. Dit was die 199ste massaskietery in Amerika vanjaar. Altesaam 521 tieners en 93 kinders is in hierdie voorvalle dood. Meer as 14 600 Amerikaners is al vanjaar doodgeskiet.


Vandag se weer

Ontwrigtende reën en oorstromings kan voorkom op die platorand van die Hoëveld van Mpumalanga, in die Oos-Vrystaat, dele van KZN, en die noordooskus en aangrensende binneland van die Oos-Kaap. Deels bewolk tot bewolk met verspreide buie en donderbuie oor die grootste deel van die binneland, maar sonnig tot deels bewolk oor die Noord-Kaap en die kus langs die Wes- en Suid-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 19°C • Johannesburg 17°C • Rustenburg 20°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 21°C • Durban 22°C • Worcester 23°C • Bloemfontein 17°C • Polokwane 23°C • Upington 26°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 21°C.


Max du Preez | Die weermag het ingrypende herprioritisering nodig

Die ANC-regerings sedert 1994, maar veral in die laaste dekade, kan nie van visie en doelgerigtheid beskuldig word nie. Laissez faire is die beste wat ons van hulle strategie kan sê.

Ons voel dit elke dag met kragonderbrekings aan ons bas, maar iets wat dit amper beter illustreer, is die stand van ons weermag.

Vrye Weekblad doen in ons jongste uitgawe verslag oor die agteruitgang van die SANW. Die militêre spesialis Helmoed-Römer Heitman berig onder meer dat net twee van die 12 Rooivalk-aanvalshelikopters operasioneel is. Net ses uit 50 Oryx vervoerhelikopters werk op die oomblik, met 30 wat op herstelwerk wag, en net een van 12 C-130 vragvliegtuie kan opstyg. Daar is net een maritieme verkenningsvliegtuig – ’n gemoderniseerde Dakota van 1934 – en geen Gripens en Hawks vlieg op die oomblik nie.

Die vloot vaar niks beter nie: Net een van vier peperduur fregatte is seewaardig en net een duikboot is in die proses om herstel te word. Die hele een kaai van die Simonstadse vloothawe staan vol kuspatrolliebote wat aan die oproes is.

Die grootste probleem is beskikbare geld om al dié bates aan die gang te hou. En dit sou waansin wees om voor te stel dat die regering skielik biljoene der biljoene aan die weermag bestee terwyl ons soveel ander probleme het wat elke beskikbare rand nodig het.

Maar ons sou wel ’n ingrypende herprioritisering kon verwag.

Suid-Afrika, soos enige ander land, behoort ’n basiese weermag te hê. Ons kan nie wag dat daar eendag groot onstabiliteit in ons streek is voor ons ’n weermag begin bou nie.

Maar daarvoor het ons geen duikbote nodig nie, en net ’n handjievol vegvliegtuie.

Die weermag se primêre rolle in die afsienbare toekoms gaan wees om vrede verder noord in Afrika te help bevorder, om ons vis- en territoriale waters te patrolleer, om binnelands met rampbystand te help en ons landsgrense te bewaak.

Ons moet daarop aandring dat die regering die weermag ingrypend verander om vir dié rolle geskik te wees.

Die eerste stap sou wees om ’n behoorlike oudit van alle SANW-bates te doen, insluitende eiendom. Dit wat nie in die nuwe model inpas nie, moet verkoop word. Grond in en om stede wat nie meer absoluut noodsaaklik is nie, moet vir behuising beskikbaar gemaak word en ander grond, en daar is tienduisende hektaar hiervan, moet aan opkomende boere gegee word.

Hier waar ek bly, Simonstad, is daar letterlik honderde geboue soos pakhuise, werkswinkels, woonstelle en woonhuise wat nie meer gebruik word nie en by die dag meer vervalle raak. Net ’n klein deel van die groot hawegebied is nog operasioneel en sou baie geskik vir ’n kommersiële waterfrontontwikkeling wees, iets waarvoor entrepreneurs groot geld sal betaal.

Die weermag moet dan ’n behoorlike vloot vragvliegtuie en helikopters aanskaf wat vir die nuwe take noodsaaklik is en die opleiding deur die leër, die lugmag en die vloot by die nuwe visie aanpas.

Maar moenie jou asem ophou nie. Ons huidige regeerders laat veel eerder gods water oor gods akker loop.


Image: ANGELA TUCK

God save the winner of the genetic lottery

Daar sit ek toe Saterdagoggend voor my TV-stel en bekyk die praal en seremonie van Charles III se kroning. Alles wat ek aanskou, is die simbole van die empire wat my ouma in die konsentrasiekamp gegooi en my oupa as krygsgevangene in Ceylon aangehou het.

Ek is skepties en in die versoeking om te spot met die oordrewe uniforms en kostuums (pure cosplay, soos die mense wat ek laas week by die Kaapse Comic Con sien opdrês het toe ek my laatlammetjie daar gaan aflaai het), die Disney-agtige goue koets, die ingewikkelde en op die oog af absurde rituele.

Maar hoe langer ek kyk en hoe meer die Sky News-aanbieders my help om te verstaan wat gebeur, hoe meer fassineer dit my. Die hele geleentheid weerspieël ’n kontinuïteit van meer as ’n duisend jaar.

Ek is geen aanhanger van koningshuise, van royalty nie, nie in Brittanje nie en nie hier in Afrika nie. Ek het selfs ’n renons in hoofmanne en ander tradisionele leiers wat nie verkies is nie. Ek is in my wese ’n demokraat en ’n republikein. Maar die simboliek en die oproep van ou geskiedenis is absoluut fassinerend en ek het maar by die voorspelbare nare opmerkings oor die Britse Empire, slawerny en die Anglo-Boereoorlog verbygehou.

Op Twitter skryf iemand: “Bless the reign down in Africa: Britain’s new king gets to have a big party to celebrate winning the genetic lottery and the rest of us are supposed to just forget how his family acquired all that power and wealth.”

Ja, Charles is net koning omdat hy in die koninklike familie gebore is, omdat hy die genetiese lotery gewen het. Maar dan dink ek daaraan dat dié soort nepotisme tog wyd in die moderne lewe voorkom. Die Suid-Afrikaanse sake-empires Anglo American, Pick n Pay, PSG en die Rupert-groep word byvoorbeeld almal vandag beheer deur die seuns van die mans wat dit begin het.

Die verskil is natuurlik dat dit private geld en posisies is, wat die koning van Groot-Brittanje nie is nie, maar tog. Charles is ’n superryk man sonder dat hy ooit regtig ander werk gedoen het as om ’n prins te wees, maar hy het darem ook geen politieke mag nie, hy is net ’n simbool. En te oordeel na die tienduisende mense in die strate en die vele miljoene van oral oor die aardbol wat die regstreekse TV-uitsendings dopgehou het (selfs CNN), bly hy ’n belangrike simbool.

Die seremonie is in die Westminster-abdy gehou. Op Kersdag 1066 is Willem die Veroweraar, oftewel William I, net daar as koning gekroon.

Herkou ’n bietjie daaraan: Dit is 957 jaar gelede. Hier in ons land was daar toe net ’n klompie duisend Boesman-jagters-en-versamelaars en Khoekhoen-veeherders. Die Bantoesprekende landbouers het eers so 500 jaar daarna hier aan die suidpunt begin aankom, en nog 500 jaar later my eerste Europese voorsate.

My skoonma, Teresa Hebden-Tuck, is ’n nasaat van William I. Maar my vrou het nie in die minste in die kroningsplegtigheid belanggestel nie, net so nou en dan verby gestap en sarkastiese opmerkings gemaak oor dié Boerseun wat so vasgenael na die Engelse royalty sit en kyk. “Ek is Engelssprekend, ek is nie Engels nie,” sê sy graag.

Die abdy (amptelike naam: Collegiate Church of Saint Peter at Westminster) is in 1042 deur Eduard (oftewel Edward) die Belyer laat bou, maar dit was toe al vir langer as ’n eeu ’n kerk, St. Peter’s Abbey. Edward is in 1066 dood en is in die abdy begrawe, vandag een van meer as 300 deurlugtiges wie se oorskot daar ter aarde gelaat is. Dit sluit 18 konings in, maar ook die wetenskaplikes Charles Darwin, Isaac Newton en Stephen Hawking, die komponiste George Frideric Handel en Henry Purcell, die skrywer Charles Dickens, die “ontdekker” David Livingstone en die akteur Laurence Olivier.

Ek het die abdy al ’n paar keer besoek. Die eerste keer was in 1981, maar ek moes buite tussen die skare staan, want prins Charles en Diana Spencer, toe pas verloof, het daar aangekom vir die troue van een of ander lord se seun. Ek het ’n pragtige foto van die paartjie geneem wat ek terstond aan ’n foto-agentskap verkoop het – Charles en Diana was so gatvol vir die paparazzi dat hulle vér verby die kampie met persfotograwe en tussen ons gewone mense deur gestap het.

Die ingewikkelde rituele met die kroning het die tradisies van die 16 kroningsplegtighede die laaste nege eeue gevolg. Charles moes aan antieke ringe, spore en swaarde raak en moes twee septers vashou, een vir “kingly power and justice” en een vir “mercy”. Camilla het weer ’n “rod of equity and mercy” moes vashou. Charles moes sy hand in ’n oeroue handskoen druk om hom te herinner dat die koning “gentle in power” moet wees. Nogal cool.

Die kroon wat op Charles III se kop geplaas is, is St Edward’s Crown van soliede goud, wat in 1661 vir Charles II gemaak is en 444 sierstene bevat. Die paar minute wat dit op sy kop was, was die enigste keer dat hy dit sou dra, want voortaan gebruik hy die Imperial State Crown. Dié kroon bevat die omstrede Cullinan en 2 867 ander diamante, 17 saffierstene, 269 pêrels en 17 smaragde. (Ek het nie gedink daar is nog plek in my brein vir sulke besonderhede nie.)

Charles se gewaad is eers na ’n gangster blinkgoue baadjie verander en toe na die indrukwekkende “robe of righteousness and garment of salvation”. Lekker gay, as jy my vra.

Charles moes ook die Sovereign’s Orb ronddra, ’n aardbolletjie van goud met diamante, pêrels en ander sierstene. Sjym, die teenwoordiges moes seker flashbacks gehad het van die dae toe die British Empire die magtigste ter wêreld was. En kyk hoe lyk die Brexit-eiland nou.

(Ek het gewonder wat Charles en Camilla, hy synde 74 en sy 75, sou doen as hulle wou gaan pie – die seremonie het ure lank aangehou. Plek-plek het dit gelyk asof Camilla ’n bietjie knyp, maar dalk is dit maar hoe sy lyk.)

As prins William ooit vir Charles opvolg, sou ’n mens hoop die erg godsdienstige, Protestantse wese van die kroningsplegtigheid sal aangepas word om by Brittanje se status as sekulêre gemeenskap te pas.

Die seremonie is deur ’n man gelei wat homself “Justin of Canterbury” noem – die aartsbiskop van Kantelberg (wie het besluit Canterbury moet in Kantelberg vertaal word?). Selfs die Britse eerste minister, wat ’n praktiserende Hindu is, Rishi Sunak, was verplig om uit die Bybel voor te lees. Die eerste minister van Skotland, Humza Yousaf, en die burgemeester van Londen, Sadiq Khan, wat die plegtigheid as eregaste bygewoon het, is Moslems.

Charles moes boonop plegtig sweer dat hy as koning die Protestantisme bo ander gelowe en tradisies sal bevorder. Natuurlik gaan hy dit nie doen nie, maar dit voel vreemd dat die eed nog nie verander is nie.

Dit was ’n erg sedige affêre binne die kerk – die enigste lewendigheid was ’n koortjie van agt swart mense wat hulle lywe rondgeswaai het. Wat sou die wêreld sonder swart mense gemaak het?

Ek kon ongelukkig nie tot die heel einde van die kroningsdrama kyk nie, want die rugby het begin en my innerlike Boer, Max van Kroonstad, het toe weer oorgeneem.

Maar toe was die Sharks se wedstryd teen Leinster glad nie sulke boeiende kykstof as Charles en Camilla nie.

Ek wonder of my oumas en oupas in hulle grafte omdraai omdat die Britse tradisies en geskiedenis my so boei. Sou hulle my van Anglofilie beskuldig?

Groetnis

Max


onthou jy die nag toe ons meer as enigiets
die more wou sien breek oor magersfontein?
met die wegtrek het jy nonstop gepraat
oor die verskille tussen fisante en patryse,
maar skuins ná drie was die maan kil
oor clanwilliam se water die more ver
patryse net so stom soos fisante
ons was koud en moerig
vir onsself maar meestal vir mekaar

– Tom Dreyer

Uit: “slaap solank, dan hou ek die fort”, vir Jaco Botha (1972– 2016)

(Bron: Versindaba)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.