Cyril die vredemaker, spronge in tyd, en ’n oesfees wat begin

WOENSDAG MET WILLEM

Cyril die vredemaker, spronge in tyd, en ’n oesfees wat begin

WILLEM KEMPEN wonder of die ANC dophou wat in Türkiye aan die gang is, en verlang terug na 'n bietjie magic. Soos altyd is daar ook vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre


1. Pres. Cyril Ramaphosa en ses ander Afrika-leiers gaan op ’n vredesending na Rusland en Oekraïne vertrek om die oorlog te probeer beëindig. “Die kern van ons besprekings is pogings om ’n vreedsame oplossing vir die verwoestende konflik in Oekraïne te vind ... In hierdie verband het ek die inisiatief namens Afrika-leiers van Zambië, Senegal, Kongo, Uganda, Egipte en Suid-Afrika voorgestel,” het Ramaphosa gesê. Vladimir Putin sowel as Volodymyr Zelensky het glo ingestem om die afvaardiging te ontvang.

2. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers het in die eerste kwartaal van vanjaar met 0,2 persentasiepunte tot 32,9% gestyg vergeleke met die vierde kwartaal van verlede jaar, het Statistieke SA gister gesê. Nuwe poste is wel in die ekonomie geskep, maar dit is oorweldig deur die groot aantal nuwe toetreders tot die arbeidsmark.

3. Nampo se 55ste jaarlikse nasionale Oesdag-byeenkoms het gister buite Bothaville in die Vrystaat begin. Dit duur tot Vrydag.

4. Die Move Forward Party se onverwagte sukses in Thailand se parlementêre verkiesings is gister toegeskryf aan uitgebreide navorsing onder jonger kiesers. Die 42-jarige Pita Limjaroenrat, leier van die MFP, sal die nuwe eerste minister word as ander opposisiepartye sy voorstelle vir 'n koalisieregering aanvaar. Die MFP se oorwinning oor Thailand se militêre en monargistiese establishment is op drie D’s gebou: demilitarisering, desentralisering en demonopolisering, het Limjaroenrat gesê.

5. Wêreldmarkte was gister steeds rigtingloos weens onsekerheid oor of die Demokrate en die Republikeine mekaar kan vind sodat die Amerikaanse skuldplafon gelig kan word en die regering kan aanhou funksioneer. Pres. Joe Biden sou gister ontmoet met Kevin McCarthy, speaker van die Huis van Verteenwoordigers, maar dié het vroeër gewaarsku dat gesprekke op personeelvlak “geheel en al nie produktief was nie”.


Kyk weer ...

Oggendmis oor dele van die Vrystaat, Wes-Kaap en Mpumalanga, waar dit later deels bewolk sal wees. Dit raak deels bewolk met geïsoleerde buie en donderbuie oor dele van Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en Limpopo. Noord-Kaap sonnig, maar raak deels bewolk in die noordooste. In die Wes-Kaap sal dit in die suide by tye bewolk wees met geïsoleerde buie en reën. Oos-Kaap sonnig, maar raak later bewolk met buie en reën in die weste. KZN sonnig. Matige tot sterk wind langs die suidkus van die Wes-Kaap, asook die Oos-Kaapse en KZN-kus.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 24°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 22°C • Kimberley 23°C • Upington 27°C • Kaapstad 17°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 20°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | Wat is die teenoorgestelde van ’n sterkman-leier?

Recep Tayyip Erdoğan van Türkiye het 'n skrik weg met dié dat hy nie Sondag reeds in die eerste ronde van die land se presidentsverkiesing die vereiste 50% van die stemme kon trek nie.

Erdoğan sal op 28 Mei in 'n tweede ronde weer te staan kom teen Kemal Kılıçdaroğlu, wat as die kandidaat van 'n koalisie van ses opposisiepartye teen hom gestaan het, maar dié keer sal die dienende president waarskynlik ook die steun hê van die nasionalisties-gesinde Sinan Oğan, wat Sondag 5,2% van die stemme gekry het.

Kılıçdaroğlu se Nasionale Alliansie van opposisiepartye is net so teleurgesteld met die uitslag van die eerste ronde. Menseregtegroepe (en die meeste Westerse regerings) het gehoop die alliansie se planne om Türkiye weg te stuur van Erdoğan se toenemend outoritêre leierskap sou kiesers oorreed om hom uit te stem. Oğan is polities nader aan Erdoğan as aan Kılıçdaroğlu, maar sy nuwe posisie as koningmaker kan maak dat hy sy steun opveil aan die kamp wat bereid is om die meeste toegewings aan hom te doen.

As dít alles vir Suid-Afrikaners baie bekend klink, daar is nog: Erdoğan se Adalet ve Kalkınma Partisi (die Party vir Geregtigheid en Ontwikkeling, in die Weste bekend as die AKP) is al lank in die saal, maar word steeds deur kiesers baie dinge vergewe in 'n land waar komplekse etniese en religieuse oorwegings gewoonlik meer tel as dinge soos monetêre beleid.

Image: ANGELA TUCK

Soos die ANC het die AKP die afgelope jare politieke beheer afgestaan in die meeste groot stede, insluitende Istanbul en Ankara. Net soos die ANC het die AKP toegelaat dat staatsinstellings afgetakel word weens die roekelose aanstelling van partylojaliste sonder die nodige vaardighede in leiersposisies. Net soos Suid-Afrika moes Türkiye die afgelope dekade 'n toeloop van vlugtelinge hanteer; in laasgenoemde geval hoofsaaklik uit die oorloggeteisterde Sirië na die suide.

En dan is daar Erdoğan se vriendskap met Vladimir Putin se Rusland, en sy troebel verhouding met die VSA, asook met die meeste Wes-Europese lande en selfs met verskeie Midde-Oosterse leiers. Soos in Suid-Afrika se geval het die Russiese inval in Oekraïne Türkiye as 'n Navo-lidland in 'n ongemaklike posisie gelaat. 

Maar heeltemal ánders as die Suid-Afrikaanse regering het Erdoğan die geleentheid gebruik om Türkiye se diplomatieke invloed uit te bou, nie af te breek nie. Dalk is dit sy sterkman-beeld wat maak dat hy die een staatshoof is wat ewe ernstig deur Vladimir Putin én Xi Jinping én Volodymyr Zelensky opgeneem word. Die beskermde uitvoer-korridor in die Swartsee waardeur Oekraïniese graanuitvoer volgehou kon word, sou byvoorbeeld sonder Türkiye se bemiddeling waarskynlik nie moontlik gewees het nie.

En tog maak Türkiye strykdeur goed geld deur onder meer geleide missiele en die gevorderde Bayraktar-gevegstuie aan Oekraïne te voorsien. Dis ook moeilik om jou in te dink dat Erdoğan homself in die soort verleentheid sal laat beland dat hy onseker is aan wie sy land wapens voorsien, of nie sou weet hoe om vir Putin te sê om nie te kom kuier as hy onder 'n verpligting was om hom in hegtenis te neem nie.

Dan moet die ANC sekerlik ook wonder: Met dieselfde binnelandse probleme as Erdoğan, maar geen van sy diplomatieke suksesse nie, gaan Suid-Afrika se regerende party volgende jaar net so sukkel om 50% te haal?


Image: ANGELA TUCK

Ware geluk is wanneer Romeinse priesters opkyk om vir die helikopter te waai

Dit puzzle my nog altyd waarom Afrikaans dieselfde woord vir die Engelse woorde “luck” en “happiness” het. Of moet ek sê dit intrigeer my?

Ek dink aan dié ding oor ek lees van ’n Italiaanse skoolhoof met die naam Nicolino Lombardi wat al van universiteit se dae af die droom gehad het om eendag ’n groot historiese vonds te maak. Hy was ook ’n entoesiastiese helikoptervlieënier, en een koue oggend in Februarie 2000 vlieg hy oor die Monte San Nicola buite die antieke dorpie Pietravairano in Campania, en sien ’n buitengewone struktuur raak. Lang storie kort: Dit blyk toe, baie tyd en moeite en navorsing later, die ruïnes van ’n amfiteater-tempel uit die Romeinse tyd te wees. Vandag bied die gerestoureerde Teatro Romano di Pietravairano dieselfde skouspelagtige uitsig oor die vallei wat Romeinse priesters 2 000 jaar gelede sou gehad het terwyl hulle daar bo besig was om hulle magic te doen.

Hoekom het Afrikaans nie ’n lekker woord vir “magic” nie? Dalk om soortgelyke redes as dat Engels nie ’n lekker woord vir “lekker” het nie? Ek dink hieraan toe ek lees van ’n groepie Japanse navorsers wat vorendag gekom het met ’n woord vir die wiskundige meting van hoe moeilik dit is om ’n kwantumtoestand na te boots deur ’n nie-kwantumrekenaar te gebruik – hulle noem dit “magic”.

Dalk is hulle bietjie moedswillig om nou weer iets magies aan sulke gevorderde fisika te wil haak, maar aan die ander kant, watter beter woord is daar om te erken dat jy nog nie heeltemal verstaan waarmee jy te doen het nie? Die antieke Romeine en voor hulle die Grieke het die woord “magia” gebruik wanneer hulle wou verwys na ’n buitengewone invloed; net soms het daar ’n element van die okkulte of die bonatuurlike bygekom. Die “wyse manne uit die Ooste” van Mattheus in die Nuwe Testament – “the Magi” – sou nie towenaars of kulkunstenaars gewees het nie, wel invloedryke geleerdes met kennis van die filosofie, wiskunde en astronomie.

In elk geval, die ding met ons eietydse (Verre-)Oosterlinge se magic is dat dit ons dalk kan help verstaan hoe niks minder nie as tyd en ruimte tot ontstaan gekom het. Ons dink gewoonlik aan albei dié konsepte as “fundamenteel”, dit wil sê onderliggende verskynsels waaruit die res van die veelal gevolg het, maar sê nou daar is iets selfs dieper as dit? Iets waaruit tyd en ruimte self ontstaan het? As so iets waar is, kan dit dalk help om te verklaar waarom ander natuurwette as waaraan ons gewoond is klaarblyklik in die vreemde wêreld van kwantummeganika geld. Soos die idee van kwantumverstrengeling, dat fisieke voorwerpe op ’n kwantumvlak mekaar kan beïnvloed sonder dat Newton se wette van toepassing is.

En as verstrengeling in ’n fisieke ruimte moontlik is, sê nou net dit kan ook oor tyd plaasvind? Dan is die 2 000 jaar tussen die Italiaanse skoolhoof in die helikopter en die Romeinse priesters daar bo op die berg dalk glad nie so ’n groot gaping soos ons nog altyd gedink het nie.

Of dalk is alles eintlik nog altyd net magic, wie weet?


Sonbesies

Sonbesies sterf ook soms,
teësinnig, in die hitte van die stryd.
Daagliks daal daar, van hierdie hoë hoekomboom,
tien – selfs elf – soos eggo’s
na die stof.

Skril is die silwer klank
van kaalvoetkinders wat boomseskadu binnehink
en met stompie-vingertjies dubbeltjies
vlym vir vlym uitangel, totdat daar – bebloed –
’n hopie lê.

– Jean Meiring

(Bron: Ou LitNet)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.