Hou verby, seldery, vir die duiwel wat ons ken

DONDERDAG MET DEBORAH

Hou verby, seldery, vir die duiwel wat ons ken

DEBORAH STEINMAIR bedank die grapmakers, WILLEM KEMPEN dink die president kan net sowel oorsee gaan probeer vrede maak, en soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Die SAL het gister in 'n voorlegging aan die parlement se parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gevra dat 51% van die nasionale lugdiens “so gou moontlik" aan die Takatso-konsortium oorgedra word.

2. Gesondheidsowerhede in Limpopo sê 'n groot toename in die aantal malariagevalle is die afgelope vier weke in die provinsie aangemeld. Altesame 1 423 gevalle en twee sterftes is aangeteken, berig Netwerk24.

3. Ten spyte van die voortgesette swakheid van die rand teenoor die Amerikaanse dollar kan motoriste waarskynlik uitsien na beduidend  laer brandstofpryse in Junie, berig eNCA.

4. Die beskermde uitvoer-korridor in die Swartsee waardeur graanuitvoer ten spyte van die oorlog in Oekraïne  volgehou kan word, sal vir minstens nog twee maande voortbestaan, het pres. Recep Erdoğan van Türkiye gister aangekondig. Die ooreenkoms hieroor sou vandag ten einde geloop het as Rusland se besware oor graan- en kunsmis-uitvoere nie uit die weg geruim is nie.

5. 'n Wyd gebruikte aanwyser dui daarop dat die totale internasionale skuldlas in die eerste drie maande van vanjaar met $8,3 triljoen tot $304,9 triljoen gestyg het vergeleke met die einde van 2022. Dié  indeks van die Institute of International Finance is op sy hoogste vlak sedert die eerste kwartaal van verlede jaar en die tweede hoogste kwartaallikse lesing tot nog toe.


Weersake

Die grootste deel van die land sal deels bewolk tot bewolk wees en kan reën, buie en donderbuie verwag, met 'n waarskuwing oor moontlike oorstromings in Nelson Mandelabaai en die Kouga-gebied.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 21°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 17°C • Durban 22°C • Kimberley 22°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 22°C • Upington 19°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 16°C.


Willem Kempen | Goeie nuus: Nog ’n flater (vir eers) afgeweer

Meer as ’n dag nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat hy en vyf ander Afrika-staatshoofde met Vladimir Putin in Moskou en Volodymyr Zelensky in Kyiv gaan beraadslaag in ’n poging om vrede te help bewerkstellig, het die hele storie teen gistermiddag nog nie in ’n verleentheid vir die regering ontaard nie.

Hoe verfrissend. Ek vermoed ek was nie die enigste een wat so half voorbereid was om te moet lees dat minstens een van Putin of Zelensky ontken het dat hulle hoegenaamd van so iets weet nie. Of dat Zambië of Egipte sou sê dit was eintlik húlle idee, nie Suid-Afrika s’n nie. Of dat Nigerië wou weet waarom hulle nie ook genooi is nie.

Sommige mense is nou kwaad vir Ramaphosa, en sê hy moet eers sy eie huis in orde kry voor hy homself aanstel om elders te gaan help. Ek weet darem nie. Dis nie asof dit veel verskil maak of hy hier of in die buiteland is nie. En gewoonlik het hy omtrent net in Europa of iewers geland, dan tref een of ander nuwe krisis met Eskom of wat ook al ons. Dan kom hy dadelik terug, om te wat? Drie maande later ’n nuwe minister of kommissie van ondersoek aan te stel?

Aan die ander kant, dalk kan ’n blik van buite ons president laat besef hoe diep in die gemors ons is. Soos die voormalige vakbondleier David Lewis gister in Business Day skryf:

“So next time we sit in our suburban residences, with our solar panels, our guards at the gate, our JoJo tanks brimming, and our ailing parent in a private hospital and smugly assure ourselves that the state is not failing, spare a thought for those millions of fellow South Africans for whom the state has already failed.”

Ook gister skryf John Eligon en Lynsey Chutel in The New York Times oor Johannesburg se lagwekkende koalisiepolitiek: “South Africa’s largest city is now on its sixth different mayor in 22 months. While politicians argue over power, residents struggle with dry taps, heaps of garbage and dilapidated buildings.”

Oor die ANC se strategie in volgende jaar se verkiesings haal hulle vir Michael Beaumont van ActionSA aan: “I think the ANC is going to actively campaign on the ticket of saying, ‘Better the devil you know than this kind of coalition mess.’”

Beaumont is waarskynlik reg, en so ’n ANC-strategie gaan tien teen een werk, want te veel mense het ophou glo dat verandering iets anders as verdere agteruitgang kan wees. Die fiasko met koalisies in plekke soos Johannesburg gaan nie dié persepsie verdryf nie.


Image: ANGELA TUCK

Dankie vir die grappie

Ek glo om grappies te maak, is bedagsaam. Dit beteken jy is ingestel daarop om ander op te beur. Flou grappies, dad jokes, almal is welkom. Ek hou van grappies. En wanneer iemand wat jy goed ken, jou steeds verras met die flinkheid van haar kop. Gisteraand staan my persoon en groente kap. Sy begin sing: “Seldery, Seldery, sal jy die Boere kom lei, Seldery?”

Soms lees ek ’n boek wat die absurde, waansinnige aard van hierdie lewe reflekteer terwyl dit my uitasem laat skaterlag. Dit wil gedoen wees. Humor sonder ’n donker onderstroming kan maklik laf raak. Dit is die kontras wat verras en amuseer – absurditeit as die keersy van verlies en ontsetting.

Toe ’n goeie vriend van my een dag onverwags oorlede is, daag sy susters uit Duitsland op vir die begrafnis. Ons sit in sy sitkamer. Sy groot rifrughond is verward en troosteloos. Hy breek weg uit die erf en jaag ’n man in die straat. Die man beklim ’n klein boompie, wat ombuig sodat hy soos ’n ryp vrug sentimeters van die blaffende hond se neus af swaai. Dit alles sien ons, die vriende en naasbestaandes, deur die venster, deur betraande oë, apaties. Toe vra die oorledene se suster, met ’n vinger wat wys: “Ist das normal?” Sulke absurde detail bly ’n mens by.

The Dog of the North deur Elizabeth McKenzie is ’n onvergeetlike road trip. Die titel verwys na ’n voertuig, ’n verwaarloosde kombi-agtige tjor op sy laaste bene. Die verteller, Penny Rush, se huwelik is op die rotse en sy is werkloos. Sy neem vanuit Kalifornië die bus en trein na Santa Barbara om uit te help met ’n krisis. Haar ouma, Pincer, is monsteragtig: ’n chirurg, ’n beheervraat en pakrot met sadistiese neigings. Haar huis en sake is ’n puinhoop. Haar rekenmeester, Burt Lampey, het Penny ontbied om die huis te laat skoonmaak terwyl hy haar ouma besig hou.

Maar Burt beland in Ongevalle en die skoonmaakmense vind ’n wapen in haar ouma se huis en ’n lyk in haar skuur. Penny probeer die gemors uitsorteer. Boonop is haar biologiese pa, die versteurde Gaspard, op haar spoor en bekruip haar oor deelstate heen. Sy is platsak, al is haar grootouers (geskei) albei skatryk en beheer sy hulle sake.

Terwyl Burt in die hospitaal is, woon sy in sy tjor vol hondehare met ’n fiets, ’n strykplank, ’n buiteband, ’n piñata in die vorm van ’n donkie en darem ’n futon. Sy is in rou omdat haar ouers ’n paar jaar vantevore spoorloos verdwyn het tydens ’n ekspedisie in Australië. Haar ouma het haar in ’n woedevlaag met ’n geroeste borsspeld in die bobeen gesteek en die wond raak septies, maar sy beur voort. Boonop ontwikkel sy in haar verwarde toestand gevoelens vir Burt se broer wat soos ’n krimpvarkie lyk.

Penny het ’n manier om na die lewe te kyk wat my verruk. Sy kom op een van haar verdwene ma se gunstelingboeke af, Voss deur Patrick White, ook een van my gunstelingskrywers. Hier is haar opsomming van sy styl: “…White is a writer who can find the disgusting in everything, and his language and syntax create primal unease. He won the Nobel Prize for it.”

Die boek herinner my daaraan hoe belangrik dit is om te lag. Uit die maag, dat die trane loop. Dankie vir die reis, Elizabeth McKenzie. Ons het dit nodig.


As ’n miskruiersou weier
ommie akkies
aan te jaag,
moet ’n ander ou
(óf vrou)dit doen,
vir my is dit te laag ...
Want — besef dit tog maar goed —
ek is pragtig opgevoed
en wil nooitstenimmer rol
aan ’n defekasiebol.

− Philip de Vos

(Bron: Ou LitNet)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.