Los die speletjies en besin oor wat werklik saak maak

MAANDAG MET MAX

Los die speletjies en besin oor wat werklik saak maak

Daar is bloot nie plek vir ses Afrika-state om ’n rol te speel om vrede in Oekraïne te probeer bewerkstellig nie, sê MAX DU PREEZ. Hy vertel ook hoe die 94-jarige Amerikaanse filosoof en intellektueel Noam Chomsky hom inspireer. En soos gewoonlik is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 22 Mei 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Terwyl alumni onder die aanporring van Jan Heunis, voorsitter van Stellenbosch se konvokasie, ’n volskaalse propaganda-oorlog voer teen die rektor van een van die bes bestuurde universiteite in Afrika, Wim de Villiers, het twee lede van Unisa se raad bedank ná ’n verdoemende verslag oor die vise-kanselier, Puleng LenkaBula. Die verslag meld onder meer ’n bevinding dat LenkaBula R285 000 se nuwe gordyne vir haar huis gekoop het terwyl dit net R20 000 werd was en dat sy R8 000 geëis het vir “opleiding om ’n stofsuier te gebruik”, al is daar net ’n stukkie mat op haar trappe.

2. Die minister van toerisme het ’n stokkie gesteek voor SA Toerisme se plan om drie parlementslede teen ’n koste van amper ’n halfmiljoen rand na New York te vlieg. Die drie is lede van die parlement se portefeuljekomitee oor toerisme wat onlangs skerp kritiek uitgespreek het op SA Toerisme se planne om deur die sokkerspan Tottenham Hotspur bemarking te doen.

3. Volgens ’n antwoord in die parlement deur die minister van openbare werke, Sihle Zikalala, is sowat R93 miljoen tussen 2019 en 2022 bestee om ministers, adjunk-ministers en direkteurs-generaal se huise in stand te hou en munisipale rekeninge te betaal. Dit sluit in R1,4 miljoen vir die opknapping van ’n kombuis en R240 000 om van kakkerlakke ontslae te raak.

4. Kom wat wil, sê die minister van energie, Gwede Mantashe, sy departement gaan kragskepe inspan om beurtkrag te verlig. “In South Africa we have done something very painful, where we have given environmentalists a veto power over development,” het hy aan Business Times gesê.

5. Die G7-staatshoofde wat in Japan vergader, het die rug styf gemaak teen wat hulle noem die “disturbing rise” van die “weaponisation of economic vulnerabilities” deur China. Die Britse premier, Rishi Sunak, sê China verteenwoordig die grootste uitdaging van die era sover dit globale sekuriteit en voorspoed aangaan en is “increasingly authoritarian at home and abroad”. Die G7 het ook die middelvinger vir Rusland gewys deur die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, na die beraad te nooi.


Vandag se weer

Dit sal sonnig en koel oor ’n groot deel van die land wees, hoewel miskolle vanoggend verwag kan word oor Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat, asook oor die weste en suide van die Noord-Kaap en die sentrale gebiede van die Wes-Kaap. Dit gaan egter deels bewolk en koud wees in die Oos-Kaap, waar geïsoleerde buie verwag word. KwaZulu-Natal kan ook reën langs die kus verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 19°C • Durban 20°C • Kimberley 20°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 21°C • Upington 24°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 18°C.


Max du Preez | Dis tyd vir die Oekraïne-herstelknoppie

Die ANC het nie die reg om weens sy eie ideologiese en nostalgiese redes die mense van Suid-Afrika nóg armer te maak nie.

Die ANC is grootliks verantwoordelik vir die ernstige ekonomiese insinking en gevolglike hoë werkloosheid, armoede en wanvoeding van kinders. En nou vervreem hulle ons grootste handelsvennote wat rampspoedige gevolge vir die ekonomie kan hê.

Dit is tyd om die herstelknoppie te druk.

Die aangekondigde inisiatief vir Suid-Afrika, Zambië, Senegal, die Republiek van Kongo, Uganda en Egipte om na Kyiv en Moskou te reis om vrede in Oekraïne te beding, is bloot teater en gaan geen verskil maak nie. (En waar is die ander sterk Afrika-demokrasieë, soos Nigerië en Kenia?)

Uit die ses lande was net Egipte en Zambië tot dusver bereid om die Russiese skending van die territoriale integriteit van ’n soewereine lidland van die VN in beginsel te veroordeel.

Die Suid-Afrikaanse regering se verklaarde beleid van onverbondenheid word weerspreek deur noue vriendskapsbande met Vladimir Putin se regering, uitlatings deur die regerende party dat die oorlog eintlik die Weste se skuld is en hartlike oor-en-weer-besoeke tussen Rusland en Suid-Afrika.

Die ANC-regerings sedert Jacob Zuma die president geword het, het Suid-Afrika se internasionale prestige kwaai geknou en byna al die land se “soft power” ongedaan gemaak.

Daarmee saam het Suid-Afrika sy potensiële kans om ’n derde, werklik onverbonde blok naas die Navo-lande en Rusland/China te vestig, verspeel.

Suid-Afrika sal eers weer ernstig opgeneem word as hy terugkeer na die aanvanklike verklaring van die departement van buitelandse sake op 25 Februarie verlede jaar toe Rusland se aggressie en skending van die VN-handves gekritiseer is. Dié verklaring is kort daarna teruggetrek en sedertdien staan Suid-Afrika uit as een van Moskou se min vriende.

Ons moes die voorbeeld van ’n ander Brics-land, Brasilië, gevolg het wat Rusland se skending van die VN-handves gekritiseer het, al is die regering van pres. Lula da Silva goeie vriende met Rusland.

So ’n nuwe beleidsverklaring hoef glad nie kruiperig jeens Amerika en die Weste te wees nie, maar moet ten minste uitspel dat ’n militêre inval in ’n soewereine staat en demokrasie sonder regstreekse provokasie onaanvaarbaar is.

Daar word met reg gevra hoekom die ses Afrikastate nie ewe hard probeer om die konflikte in Sudan, Ethiopië, Mosambiek, Kameroen en die Sentraal-Afrikaanse Republiek te besleg nie.

Washington, Londen, Berlyn en Parys is Oekraïne se sterkste vennote en het al baie biljoene se hulp verleen. China is ’n supermoondheid met gevestigde belange in die streek wat besig is om sy eie vredesinisiatief van stapel te stuur. Putin se toekoms, dalk sy lewe, hang af van wat in Oekraïne gaan gebeur.

Oekraïne self het die afgelope 15 maande gewys dat dit ’n trotse, formidabele nasie is. Daar is geen manier waarop Oekraïne ’n vredesooreenkoms gaan aanvaar terwyl Rusland die provinsies Donetsk, Kherson, Luhansk en Zaporizhzhia beset nie.

Daar is bloot nie plek vir ses Afrika-state om ’n rol te speel nie.

Ramaphosa en sy regering moet ophou speletjies speel.


Image: ANGELA TUCK

Jou brein is soos jou e-pos-inboks

Ek wou vanoggend vir Cyril Ramaphosa raad gee oor hoe om sy prioriteite reg te kry sodat die vele krisisse in die land vinniger opgelos kan word.

En toe tref dit my: Kyk wie praat, Du Preez. Vee eers voor jou eie deur voor jy advies uitdeel, ou swaer.

Ek dink dit is ’n oefening wat elkeen van ons gerus van tyd tot tyd kan doen: Besin oor wat jy wil bereik, wat werklik belangrik is en wat nie, en wat die kortste pad daarheen is.

Dalk is dit net ek, maar ek vind my brein is te besig met beuselagtighede. Die lekker Amerikaanse term is “bandwidth”: My brein het te gereeld te min bandwydte om helder en eerlik te kan besin.

Dis soos jou e-pos-inboks: Jy moet so nou en dan tyd afvat en al die spam en onbelangrike boodskappe uitvee. Dit wat regtig belangrik is, stoor jy in die argief-lêer. Jy moet onderaan elke ongevraagde e-pos die “unsubscribe”-knoppie druk sodat dit nie weer in jou inboks beland nie. En die kans is goed dat jy op ’n e-pos gaan afkom wat jy eintlik moes beantwoord, maar nie het nie.

Ek weet nie of dit dieselfde as mental hygiene is nie. Ek wil darem ook nie hê my brein of my gemoed moet steriel wees nie. Ek stry elke kort-kort met my kiemfobiese laatlammetjie se alewige handewassery. Ek eet maklik ’n toebroodjie net nadat ek my hond se kop gestreel het. ’n Beesboer sal jou vertel dat so ’n paar bosluise op ’n bees sorg dat die immuniteit sterk bly. ’n Paar kieme en bosluise in my brein is maar oukei.

Image: ANGELA TUCK

Ek het op ’n keer ’n motiveringspreker hoor verklaar dat jy ’n rustige brein behoort te hê. Ek het g’n plek vir g’n rustig nie. Meer georden en gefokus, ja, maar rustig klink vir my te na aan vervelig en onkreatief.

Ek het ’n wakker, nuuskierige, soepel, avontuurlike brein nodig. Ek kry sommer ’n paniekaanval as ek dink my brein gaan dalk met ouderdom al hoe meer verstok en onbuigsaam word.

My grootste vrees as iemand in sy latere dekades is die D-woord: demensie. Ek doen gereeld breinoefeninge, soos om met my linkerhand te skryf terwyl ek regs is en deur boeke oor die filosofie en wetenskap te swoeg wat eintlik bo my vuurmaakplek is.

Ek weet nie of dit ’n erkende breinoefening is nie, maar ek glo vas te veel roetine is sleg vir jou brein. Ek maak byvoorbeeld ’n punt daarvan om my liggaamsdele in ’n ander volgorde te was elke keer as ek stort, om elke dag in ’n ander volgorde aan te trek (een dag broek en skoene eerste, die volgende dag hemp eerste, en so aan) en ek volg soveel ek kan verskillende roetes as ek êrens heen ry. Dis net my slaaproetine waarby ek hou, want slaap is uiters belangrik vir ’n gesonde brein: middernag tot 07:00.

Die ideaal is dat jou brein en jou liggaam gesinkroniseerd ouer moet word. Ek wil nie eendag op 90 nog om die blok kan stap, maar ek vergeet my vrou se naam nie, en ek wil nie helder van verstand wees maar ek is ’n invalide nie.

My inspirasie is die 94-jarige Amerikaanse filosoof en intellektueel Noam Chomsky. Ek weet nie of ek ooit so oud gaan word nie, maar as dit wel gebeur, sou ek wat wou gee om nog so ’n skerp brein te hê soos hy ’n paar weke gelede in ’n onderhoud met ’n arrogante jong upstart geopenbaar het:

Maar jy sien, daar dwaal my gedagtegang klaar af. Bandwydte. Ek wil eintlik skryf oor prioriteite.

Vir my beteken dit om nie maar net toe te laat dat goed met jou gebeur nie, om nie maar net met so min drama as moontlik deur die dag en deur die lewe te gaan nie. Ons moet nooit die “road of least resistance” volg nie.

Ons moenie net “cope” nie, ons moet ons bes doen om ons energie positief te kanaliseer, doelmatig en gefokus op ons omgewing te reageer en ons lewenspad sover ons kan optimaal te beïnvloed.

(Hier is sommer gratis raad oor verhoudings: As daar iets aan jou lewensmaat, kind of vriend is wat jou irriteer, tel tot 10 en vra jouself af of dit regtig belangrik is om daarop te reageer. Die irritasie – ’n gewoonte, ’n manier van praat, ’n maniërisme – gaan tog nie weggaan nie; dus sal ’n negatiewe reaksie net teenproduktief wees en jou energie mors. Rol jou oë in jou verbeelding en glimlag. Nou gaan pas dit self toe, Du Preez.)

Dit gaan nie help om net hieroor na te dink nie. ’n Doelbewuste aksie, ’n intervensie, is nodig. As jy ’n lysmaker is, skryf dit neer. In die een kolom: Wat is regtig belangrik, wat wil jy regtig bereik, watter probleme wil jy oplos? In die ander kolom: Wat is bysake, wat is nie die moeite werd om jou regtig mee te bemoei nie, wat verhoed jou om vordering te maak en jou ideale te verwesenlik?

Dis weer tyd dat ek my inboks gaan skoonmaak.

Mooi bly
Max

Naskrif: Ons komende uitgawe van Vrydag 26 Mei is ’n spesiale geleentheid: Die hele Vrye Weekblad is van dan af ook in Engels beskikbaar, en ons gaan boonop ’n bietjie anders lyk. Ek deel meer inligting deur die loop van die week, maar laat weet solank jou Engelssprekende vriende en kennisse.


Suid-Afrika

Suid-Afrika – ek het hoog bo vlaktes oor jou gesweef
Oor berge en riviere en oseane
Stede vol rook en roet
Berge met pieke vol sneeu
Landerye, skilferdroog
Boere wat huil langs bankbestuurders
Hawens met groot skepe en dik toeriste
Ek het die plekke gesien waar mans doelloos sit en wag vir werk
Maer kinders by verkeersligte
Meswonde, geweerskote, hospitale, ambulanse, motorongelukke
Kinderlyke en vroue wat soos lappoppe verkrag word
Sopkombuise met lang rye
Strate en stegies vol kots en urine
Skole onder bome en dooies in oorvol long drops
Ek het die vetblink pense en blinkswart motors van leiers gesien
Hul minagtende blik op ’n vernietigde land
Waar hulle agter hoë mure sit met KFC en Nando’s
Die reuk van olierige vleis druppend met drillerige welvaart
Riviere vol bloed stroom deur die strate
Ek het die reuk van die krematorium gekry
Jy is ’n ou man in ’n donker kamer
Waarvan die organe een ná die ander ingee
Die ontlasting stroom by jou uit en vlek die lakens
Jy stink en groen brommers sit reeds en zoem om jou oop mond
Land van armoede en dood
Ek draai my rug op jou soos iemand wat weet
Jy is vol aansteeklike siektes
Jou doodsroggel is vir my leersaam, selfs mooi, soos
Swane wat vir die laaste keer sing

- Herman Lategan

(Bron: LitNet)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.