Die tyd stap aan, maar nie altyd vinnig genoeg nie

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Die tyd stap aan, maar nie altyd vinnig genoeg nie

Nederlanders dink nie flou grappies oor ‘African time’ is snaaks nie, skryf ANESCA SMITH. Kry die program vir ons Clarens-boekefees wat in Julie plaasvind – en bespreek sommer solank kaartjies! En ELMARI POTGIETER vertel meer oor die lekkerlees-stories in ons Boeke- en Vrye Tyd-afdelings hierdie week.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

’n Gelukskoot in my huwelik is dat ek en my man verbasend veel gemeen het vir mense uit verskillende kulture. Maar daar is ook dinge waaroor ons hemelsbreed verskil – soos ’n besef van tyd.

Só verkies hy om altyd eerder te vroeg as te laat te wees. Om dié rede was ons al gisteroggend seweuur op Corfu se lughawe vir ons terugreis na Nederland al was ons vlug eers twaalfuur.

Ek kon natuurlik vasskop, maar ek vind in dié soort gevalle is dit beter om jou mond te hou en jouself die stres te spaar van iemand wat snaarstyf in die hotelkamer die horlosie sit en dophou.

Ongelukkig, hoewel Corfu ’n mooi Griekse eiland is, is daar weinig te vertel oor sy lughawe. Maar daar sit jy dan vir vyf uur met niks om te doen nie behalwe wag op jou vlug.

Ek, daarenteen, is omtrent altyd laat. Ek weet dis nie oorerflik nie, maar ek wil net noem my moeder is dieselfde. As jy haar vir enigiets nooi, selfs ’n begrafnis, is dit beter om maar ’n uurtjie of twee te vroeg by te lieg.

Image: ANGELA TUCK

Glo my, ek weet hoe onbeskof dit is om byvoorbeeld laat te wees vir ’n afspraak, maar om een of ander rede skat ek my voorbereiding vir die afspraak altyd te kort in. Nederlanders is gesteld op tyd. By hulle moet jy nie kom met flou grappies oor “African time” nie.

En ek dink ek weet waar my laatheid vandaan kom. Toe ek so 11 jaar oud was, het ek, ’n enigste kind, by my tante in Atlantis gaan woon waar daar nog 10 ander kinders in die huis was. En skielik het jy soggens in die badkamer net vyf minute om klaar te maak voor iemand aan die deur hamer.

En vanaf daardie tyd het ek myself oortuig dat ek iemand is wat net vyf minute nodig het om te klee. Dit is natuurlik onsin.

Wat my man betref, het ek geen idee waar sy obsessie met vroeg wees vandaan kom nie. Miskien iets te make met die Nederlander se drang om beheer en alles goed gereël te hê.

Ek skryf die ure op Corfu se lughawe maar af as ’n verlore dag.

Mooi naweek
Anesca


Image: ANGELA TUCK

Ons hou weer boekefees – in die Vrystaat!

Die naweek van 21 tot 23 Julie, in die hartjie van die winter, gebeur Vrye Weekblad se Clarens-boekefees in hierdie skilderagtige Oos-Vrystaatse dorpie. Sneeu is (dalk) nie uitgesluit nie! Populiere troon soos goue kerse aan die voet van berge. Daar is heelwat kunstige restaurantjies, want dis ’n toeristedorpie. Die fees vind plaas in die Protea Hotel by Marriott Clarens – swierig en bestand teen wind, weer en beurtkrag. Bespreek vroeg verblyf en kom kuier saam.

Hier is die program. En jy kan hier kliek om kaartjies te koop.

Sien jou daar!


Skink vir jou ’n koppie of ’n glasie ietsie, kry vir jou ’n kombers, skop jou skoene uit, en maak jou tuis op ’n snoesige plek om ons jongste uitgawe se Boeke- en Vrye Tyd-stories te geniet. 


BOEKE

Image: ANGELA TUCK

Wanneer alles oral benard lyk en dit voel of jou lewe buite beheer is, is misdaadfiksie die oplossing. Hoe donkerder hoe beter, skryf Deborah Steinmair. Hierdie twee stikdonker krimi’s is net wat jy nodig het.

Twee vreesaanjaende krimi’s om jou te laat vergeet van alles wat hier haper


Image: ANGELA TUCK

Louis Gaigher skryf oor die nalatenskap van 'n merkwaardige optekenaar, die skrywer van The Journalist and the Murderer.

Janet Malcolm: Voyeuristiese agie en groen borde


Image: ANGELA TUCK

Gielie Hoffmann het met Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting, gesels oor die stigting se skrywersresidensie in Paulet Huis in die Oos-Kaap, en dit wat hom na aan die hart lê: om jong skrywers na publikasie te lei.

’n Hartshuis vir skrywers


Image: JEFF RANKIN

Linza de Jager vertel die storie van ’n oudjoernalis en ’n oudlanddros se vriendskap en die weë van die noodlot .

Karma is ’n tief


Image: ANGELA TUCK

Nadat Kerneels Breytenbach André de Ruyter se boek gelees het, het hy die behoefte ervaar om goed te voel oor iets. ’n Vriendin het liefdesverhale aanbeveel. Hy hou nie ewe veel van almal nie.

RIV Martin Amis, en kom ons voel vir ’n slag goed


VRYE TYD

Image: ANGELA TUCK

Hy het vir homself kompleet soos die Prins van Wallis gelyk, van sy stoep af geboer, vir sy swerfjare in Europa het hy sy Vrystaatse erfplaas verpand en oor die algemeen ’n heuglike lewe gelei, skryf Dominique Botha. Uiteindelik sou die ‘sonderlinge suiplap’ genadebrood eet in ’n agterkamer by familie.

Elke familie het ’n oom Boxer


Image: ANGELA TUCK

Die wêreld se vroue was in twee kampe toe Martha Stewart op 81 in haar swembroek op 'n tydskrifvoorblad verskyn. Bianca du Plessis breek 'n lansie vir die eksbeige ekstronkvoël, eerste Amerikaanse vrou wat haar opgewerk het tot biljoenêrstatus wat nou met oorgawe middelvinger wys vir vooropgestelde idees oor oudword.

Martha voel ’n goue donsveer


Image: ANGELA TUCK

Die draaiende seisoen laat Emilia Smuts verlang na haar ma en na gewone frikkadelle. Omdat laasgenoemde ’n huisgenoot aan sy koshuisdae laat dink, maak sy khinkali – wat haar laat terugverlang na Georgië.

Kos om ’n herfshart te laat bedaar


Image: ANGELA TUCK

“Belowend” kan ’n vloekwoord word vir ’n jong sportman. Vra maar vir Swys Watsenaam, skryf Zirk van den Berg. Kyk nou maar vir Jiri en Felix. En dan is daar die jonges wat wel by daardie etiket verbybeur boontoe. Soos Holger Vitus Nødskov Rune.

Rune die astrante Deen bly die bal bliksem


Image: ANGELA TUCK

Op die oomblik is die gevierde akteur werkloos nadat hy klaargemaak het met Die Moeder van Florian Zeller en Mirakel van Reza de Wet. Hy verduidelik vir Laureen Rossouw hoekom daar 'n vurk en 'n lapsakdoek in sy bedkassie is.

15 vrae aan Dawid Minnaar


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.