Ons moet minder praat en meer doen

MAANDAG MET MAX

Ons moet minder praat en meer doen

Ons kan net ’n kerngesonde samelewing bou waar ons almal in vrede en sonder skuldgevoel kan woon as daar niemand oor is wat nie ’n menswaardige bestaan kan voer nie, sê MAX DU PREEZ. Hy skryf ook oor die mosies en teenmosies by sekere instellings. En soos gewoonlik is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 29 Mei 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Unisa vier vanjaar sy 150ste verjaardag as ’n gebroke universiteit, sê die oudrektor prof. Barney Pityana. Hy vel ’n harde oordeel oor die huidige rektor, prof. Puleng LenkaBula, wat in ’n verslag deur haar adjunk, prof. Themba Mosia, van ernstige wanbestuur beskuldig word. Pityana skryf in die Sunday Times: “To the shame of our generation, and for the first time ever, there is a rising, well-substantiated crescendo of voices appealing for Unisa to be placed under administration.”

2. Die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, se eerste vergadering nadat pres. Cyril Ramaphosa Vrydag sy magte en take amptelik gemaak het, was met die kommissaris van polisie, Bheki Cele, en die president se raadgewer oor sekuriteit, Sydney Mufamadi. Ramokgopa het hulle volgens City Press gesmeek om meer daadkragtig teen sabotasie by kragstasies op te tree. Die gewese hoof van Eskom, André de Ruyter, het jare lank vergeefs hiervoor gepleit.

3. ’n Nagmerrie vir mense wat bang is vir vlieg: Die Koreaanse lugdiens Asiana het opgehou om sitplekke langs vliegtuie se nooduitgange te verkoop nadat ’n passasier een van dié deure tydens ’n vlug oopgemaak het. Die vliegtuig het veilig kon land, maar verskeie van die 200 passasiers moes in die hospitaal behandel word.

4. ’n EFF-raadslid van die Sekhukhune-munisipaliteit, Lebitsi Mpye, is die naweek in sy huis in Limpopo doodgeskiet.

5. Rusland het gister die hoofstad van Oekraïne, Kyiv, met 54 kamikaze-hommeltuie geteiken, waarvan 52 deur Oekraïne neergeskiet is. Die wrakstukke het verskeie hoë geboue aan die brand gesteek. ’n Burgerlike is gedood en een ander beseer. Die aanval is blykbaar beplan om saam te val met Kyiv-dag, ’n viering van die dag 1 541 jaar gelede toe Kyiv ontstaan het.


Vandag se weer

Daar is waarskuwings oor swaar donderbuie met moontlike hael en sterk wind in die sentrale dele van die Noord-Kaap, asook oor swaar reën wat tot oorstromings kan lei in groot dele van die Oos- en Wes-Kaap. Dis vanoggend mistig in dele van Limpopo en Mpumalanga en kan vanmiddag deels bewolk wees. Geïsoleerde buie en donderbuie word in die weste van Noordwes en suide van KZN verwag. Verspreide buie en donderbuie word vir die suidweste van die Vrystaat voorspel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 17°C • Durban 25°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 24°C • Upington 26°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 19°C.


Max du Preez | Die herrie rondom die rolbalklub van Papenfusburg

Die rolbalklub van Papenfusburg is al 105 jaar oud. Dit was altyd ’n belangrike instelling in die dorp en omgewing, na aan die hart van die gemeenskap; die dominee, die skoolhoof, die prokureur, die veearts en die vooraanstaandes van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging en hulle gades was tradisioneel almal lede.

Soos Afrikaners graag doen, is dit ’n goed gereguleerde klub met ’n grondwet en ’n beheerliggaam wat uit lede en oudlede bestaan, bekend as Oupaap.

Maar ná 1994, en veral die laaste 10 jaar, het al hoe meer bruin en swart Papies, soos die mense van Papenfusburg na hulle self verwys, by die klub begin aansluit. Volgens ingeligte bronne is daar deesdae boonop ’n spul liberaliste, homoseksuele en ander flentergat-andersdenkendes wat op die dorp die bolle rol.

Nou is daar ’n herrie op die dorp. Die voorsitter van Oupaap, Johan Genis, is woedend omdat die nuwe president van die klub, Willem de Winnaar, voorstel dat die artikel in die grondwet wat voorskryf dat alle spelers ten alle tye wit klere moet dra en dat elke vergadering met ’n gebed in Afrikaans begin, gewysig word.

Dié wysiging moet geskrap word, of De Winnaar se kop moet waai, sê Genis. Dis pure politieke korrektheid, sê hy. Hy vermoed boonop De Winnaar het die ander dag ’n brandewyn-en-coke met klubgeld in die klubhuiskroeg vir een van sy ondersteuners gekoop.

Veral die nuwe swart en bruin klublede sien nie die belangrikheid van wit klere in nie, en daar is twee Moslems en ’n Jood op die dorp wat sê hulle voel uitgesluit as daar gebid word.

Maar Genis is ’n ou hand in die politiek. Hy praat met groot sekerheid en welsprekendheid van waardes en tradisies, van grondwetlikheid.

Hy het gou seker gemaak die plaaslike koerant, Die Paaper, is aan sy kant. Hy reël dat sy ondersteuners daagliks briewe aan Die Paaper stuur om sy kritici te beswadder en het selfs ’n nefie stilletjies gehuur om filmpies te maak waarin hy wat Genis is as ’n dapper ridder op ’n wit perd met ’n vlymende swaard uitgebeeld word.

De Winnaar-ondersteuners sê Genis en sy Oupaap-komitee moet eers almal raadpleeg, hulle kan nie sommer net dekrete uitvaardig nie. Ons is nie almal so nie, sê hulle.

Siestog, sê Genis, julle verstaan nie die demokrasie nie. Ek is met ’n goeie meerderheid tot voorsitter van Oupaap verkies; dus is my stem Oupaap se stem.

L’Oupaap, c’est moi.

Politieke ontleders meen Genis het inderdaad baie steun in die Oupaap-gemeenskap, want verreweg die meeste Oupaap-lede kom uit die dae toe klere nog spierwit was en Liewe Jesus Afrikaans verkies het. Die meeste van hulle is ouer as 50.

Daar is nog te min van die nuwe, post-1994-lede in Oupaap om regtig ’n bepalende invloed te kan hê, sê die ontleders.

Die dwarstrekkerige koerant Vrye Weeklaag het nou in redaksionele kommentaar die vraag gevra of Oupaap, soos dit nou saamgestel is, nie eerder maar net ’n sosiale klub moet word nie.

Is Oupaap dan nou belangriker as die rolbalklub self?

Wanneer die Oupaaplede dié week oor die mosies en teenmosies gaan stem, skryf die koerant, moet hulle onthou dat hulle geledere meestal die verlede verteenwoordig – Genis self het al in 1975 opgehou rolbal speel.

As hulle regtig die belange van die klub op die hart dra, sal hulle erkenning daaraan gee dat die klub nie meer dieselfde instelling is of behoort te wees wat dit in die 1970’s was nie. Papenfusburg self is lankal nie meer die ou kakkerige Boeredorpie van die 1970’s nie.

En hulle moet reguit aan Genis en Kie sê die feit dat hulle eens as bestuur gekies is, beteken nie dat hulle net hulle eie koppe kan volg en nie met Oupaaplede hoef te konsulteer nie, skryf Vrye Weeklaag.

Dit is immers ’n trotse rolbalklub, nie sommer net iets soos ’n universiteit nie.


Image: ANGELA TUCK

Praat is nie kuur vir honger en vernedering

Ek sit verlede week saam met ’n buitelandse besoeker in die uitsoekrestaurant in Kalkbaai se hawe, reg op die see met ’n blik oor Valsbaai en die berge. Ons eet van die beste viskos wat jy enige plek op aarde kan kry, en ons drink Bolandse wyn wat internasionale fynproewers gaande het. Reg onder ons baljaar twee robbe in die branders; in die verte sien ons ’n walvisstert die water slaan.

“What failed state?” vra my tafelgenoot retories. Hy kan nie glo hy is in Afrika nie.

Gisteroggend bel ’n afgetrede Ierse joernalis my. Ons het mekaar in 1983 in Belfast ontmoet toe ek kortstondig daar gewerk het. Hy het Kaapstad toe gereis om die Verenigde Rugbykampioenskap se eindstryd tussen Munster en die Stormers by te woon, sy eerste besoek aan Afrika.

Munster, sy ou klub, het gewen, maar hy wil nie rugby met my praat nie. Hy is liries oor Kaapstad, “surely the most beautiful city in the world”. Hy kan nie ophou praat oor hoe lekker hy die laaste paar dae hier gekuier het nie. Hy huiwer ’n oomblik, en sê toe: “It’s so First World.”

Ja, plek-plek is Suid-Afrika nie net “First World” nie, maar “upper-class First World”. Groenpunt, Kampsbaai, Stellenbosch en omgewing, Umhlanga, Sandhurst, Sandton, Waterkloof kan meeding met die beste in Europa en Amerika.

Maar cholera.

Daar sal seker in alle gemeenskappe altyd ryker en armer mense wees. Ek is stewig in die middelklas, maar ek het verskeie vriende met baie duur vakansiehuise langs die kus, selfs ’n paar met huise of plase in Frankryk, Portugal en Italië. Waar ek ’n langnaweek in Hermanus as ’n lekker bonus sien, gaan dié ouens en hulle gesinne sommer ’n paar keer per jaar in die Alpe ski, in Florence kuns koop of na die aurora borealis in Ysland kyk.

Dit is meestal erfgeld, trust fund kids, tweede- of derdegeslag-rykdom. Iets wat in swart en bruin Suid-Afrika nie juis bestaan nie. Dis nou #whiteprivilege op sy suiwerste.

Swart en bruin mense wat so nou en dan by my kom werk, bou of iets regmaak, kyk na my soos ek na dié rykgatte kyk, al leef ek vergelykenderwys veel nederiger.

Armoede, werkloosheid en ongelykheid word tereg as Suid-Afrika se grootste uitdagings en gevaarligte gesien.

Ek sou wou sê ons moet eerder van ekstreme armoede praat, waar mense in haglike toestande leef en nie hulle kinders behoorlik kan voed nie. Om alle Suid-Afrikaners in my of jou leeftyd in die middelklas in te bring, is ’n onhaalbare droom, hoewel tog ’n droom wat ons moet nastreef.

Werkloosheid is verskriklik. Dit beteken nie net armoede nie, dit beteken mense se menswaardigheid en selfrespek word ondermyn. Genadiglik het ons sosiale toelaes wat die ergste impak hiervan teëwerk.

Ongelykheid is die moeilikste een om uit te skakel. Dit kan net in een generasie ongedaan gemaak word as jy van dié wat het, vat en dit vir dié wat nie het nie, gee. Ek bedoel iets meer ingrypends as die bestaande progressiewe belastingstelsel waar rykes tot amper die helfte van hulle inkomste aan belasting betaal en die armes niks.

Image: ANGELA TUCK

Ek praat van die konfiskering van eiendom, of ingrypend hoër belastingkoerse vir welvarendes. In elke land waar dit probeer is, het dit katastrofiese gevolge gehad, vir armes en rykes. Álmal buiten die klein politieke elite word dan arm.

Ek wonder of ons nie minder moet kyk na inkomsteverskille en die waarde van eiendom nie, en meer moet fokus op menswaardige lewensomstandighede vir almal.

Ons kan die Umhlangas, Constantias en Sandhursts maar laat begaan, maar ons sal ingrypend iets moet doen sodat alle Suid-Afrikaners in gesonder en veiliger omgewings kan leef en hulle kinders grootmaak.

’n Behoorlike dak oor die kop weg van die vloedvlaktes, elk met minstens ’n ekstra kamer waar ouers, seuns en meisies privaatheid kan hê.

Met skoon, lopende water, spoeltoilette, parke en oop ruimtes, begaanbare paaie sonder strome rioolvuil. En straatligte. En ’n goeie skool en kliniek in die omgewing. Geen vrees vir cholera of disenterie nie.

Gift of the Givers het verlede week ’n seminaar gehou om inligting oor rampbestuur en noodleniging met ander te deel. Imtiaz Sooliman het agterna iets gesê wat my geprikkel het: Hulle wil duisende klone van Gift of the Givers landwyd laat ontstaan.

Daar is baie goeie mense in vele verskillende organisasies wat wonderlike werk in gemeenskappe doen. Daar was die laaste tyd heelwat publisiteit oor verwaarloosde dorpe wat reggeruk word. Lofwaardige werk.

Maar dalk moet dié groepe ’n stappie verder gaan. Pleks van net geboue te verf, strate skoon te maak en parke op te ruim, moet ons meer ambisieus begin raak en help huise en klinieke bou, strate en straatligte in stand hou, oop ruimtes in natuurparke omskep.

As ons hoor van ’n skool wat nog puttoilette het, of van ’n bruggie oor ’n rivier wat weggespoel het, of van ’n kliniek of hospitaal met ’n lekkende dak en sonder ’n kragopwekker, of ’n klomp plakkershuise wat afgebrand het, behoort ’n noodspan helpers binne 24 daar op te daag.

Ja, dit is die staat se taak. Ja, ons betaal klaar oorgenoeg belasting.

Maar ons kan net ’n kerngesonde samelewing bou waar ons almal in vrede en sonder skuldgevoel kan woon as daar niemand oor is wat nie ’n menswaardige bestaan kan voer nie.

Ons moet die regerende party aanhou skaam maak omdat hulle die mense verraai en druk op die regering op al drie vlakke toepas om meer te doen, maar Suid-Afrikaners kan nie meer op die staat staatmaak nie, ten minste nie onder die huidige bewind nie.

Ek ken ’n dosyn of so mense, van hulle nogal prominent, wat tans besig is om versoeningsgesprekke te reël, dialoog te bevorder, gemeenskapsorganisasies onder een sambreel te laat opereer en om ’n anti-ANC-koalisie vir 2024 te bou.

My raad aan hulle is dat die tyd vir praat verby is. Praat vat nie mense se honger en vernedering weg nie.

Ons moet minder praat en meer doen.

Groetnis
Max


Op Paternoster

Die strandloper is baailangs
verstrik deur oewersinne
lê 'n seekastaiing uitgespoel
in 'n nabyskoot krassend
die swart note
van die oestervanger.

– Celesté Fritze

(Uit: Verdeelde stand | Divided Stance)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.