Met ’n skril stem op die verkeerde pad

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Met ’n skril stem op die verkeerde pad

MAX DU PREEZ dink dis hoog tyd dat Zuma in die bek geruk word sodat hy verhoor kan word, MERCY KANNEMEYER wonder waar sommige mans se vermetelheid vandaan kom, en soos gebruiklik is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre

1. Die Republikeine en die Demokrate het ’n ooreenkoms bereik oor die Amerikaanse kredietplafon. Die ooreengekome wetgewing moet nou so gou as moontlik deur die Kongres goedgekeur word om te keer dat die regering teen volgende week nie genoeg geld sal hê om al sy verpligtinge na te kom nie.

2. Elon Musk se Neuralink het goedkeuring van die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) gekry vir menslike proewe om ’n menslike brein regstreeks aan ’n rekenaar te koppel met sogenaamde brein-rekenaar-koppelvlak-tegnologie (BCI). BCI-tegnologie het die potensiaal om verlamdes te kan help om weer te loop of blindes om weer te sien, en dalk selfs om vir Musk ’n nuwe persoonlikheid te ontwikkel.

3. Die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) het die konsultasiefirma Gartner ’n boete van $2,44 miljoen (sowat R48 miljoen) opgelê weens sy rol in staatskaping wat verband hou met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Gartner het ingestem om die boete te betaal sonder om die bevindings van die SEC te bevestig of te ontken. Volgens die SEC het Gartner tussen Desember 2014 en Augustus 2015 bepalings van wetgewing teen omkopery en oor interne rekeningkundige beheer oortree.

4. ’n Video is oor die naweek uitgereik wat bevestig dat die Suid-Afrikaner Gerco van Deventer lewe en gesond is. Hy word in Mali as ’n gyselaar aangehou nadat hy in 2017 in Libië deur ’n Al-Kaïda-splintergroep gevang is waar hy as ’n paramedikus gewerk het. Gift of the Givers is betrokke by die onderhandeling oor sy vrylating.

5. Borgtog is geweier vir vier van die beskuldigdes in die Thabo Bester-ontsnappingsaak. Borgtog van R10 000 is wel toegestaan aan ’n vyfde beskuldigde, die voormalige G4S-werknemer Nastassja Jansen.


Vandag se weer

Daar is waarskuwings oor swaar donderbuie met sterk wind en moontlike hael in die ooste van die Noord-Kaap en weste en suide van die Vrystaat. Die Oos-Kaap kan ook swaar reën in die noorde en sentrale gebiede verwag. Geïsoleerde buie en donderbuie kan oor die grootste deel van die land verwag word. Dit kan vanoggend mistig wees in dele van Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 21°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 15°C • Durban 25°C • Kimberley 17°C • Bloemfontein 17°C • Polokwane 21°C • Upington 17°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 21°C.


Max du Preez | Stuit Stalingrad nóú in sy spore

Die tyd het nou aangebreek dat Jacob Zuma se jare lange Stalingrad-taktiek om sy korrupsieverhoor te vermy finaal gestuit word. Dit is besig om ’n bespotting van ons regspraak te maak.

Die hooggeregshof in Pietermaritzburg is nou gevra om presies dit te doen, en is sekerlik by magte om dit wel te doen.

Zuma se poging om die veteraan-aanklaer adv. Billy Downer privaat te vervolg en sodoende te keer dat hy verder in Zuma se korrupsieverhoor optree, is tans voor dié hof.

Zuma se regspan sê Downer moet tronk toe gaan omdat hy ’n brief van Zuma se dokter oor sy gesondheid aan die media laat lek het. Maar die brief was deel van die hofrekord en, sê Downer, Zuma se advokaat, Dali Mpofu, is self op rekord dat daar geen privaat inligting in die brief was nie.

Downer vra nou in sy hofstukke: “In the event that Mr. Zuma is unsuccessful in this application, we seek the following order: that the criminal trial should proceed and shall not be suspended by any applications for leave to appeal made by Mr Zuma.”

Downer verskaf ’n lys van Zuma se vele pogings om die strafsaak uitgestel te kry. “My removal as a prosecutor is but one step in Mr Zuma’ strategy never to see his day in court … Mr Zuma has been actively avoiding his day in court for a period of about 20 years.”

Wat die geval Zuma nog erger van ’n bespotting maak, is dat hy onregmatiglik op mediese parool vrygelaat is terwyl hy duidelik in goeie gesondheid vir sy ouderdom is. Dit volg natuurlik op die vrylating, ook op mediese gronde, van sy vriend en weldoener Schabir Shaik in 2009 nadat hy net twee jaar van ’n 15-jaarvonnis weens sy korrupte transaksies met Zuma uitgedien het. Schaik is, toe ons laas van hom verneem het, steeds blakend gesond.

Zuma hoop duidelik dat as hy lank genoeg speletjies met die reg kan speel, hy uiteindelik te oud gaan wees om tronk toe te gaan. Hy is 81 jaar oud.

Dit is belangrik vir die geloofwaardigheid van die regbank dat mense met politieke mag, soos Zuma en Shaik, presies dieselfde behandeling as enige ander landsburger kry. Dit is immers in art. 9 van die Grondwet se Handves van Regte vasgesement: “Elkeen is gelyk voor die reg.”

Regter Babalwa Mantame van die Wes-Kaapse hooggeregshof weet duidelik wat dit beteken. Sy het verlede week die minister van energie, Gwede Mantashe, skerp oor die vingers getik nadat hy teen haar vorige beslissing probeer appelleer het dat hy die anti-kernkragaktivis Peter Becker onregmatiglik van die raad van die nasionale kernreguleerder geskop het.

Mantame sê Mantashe en die raad bring geen argument nie, hulle bied bloot ’n eie interpretasie van haar vorige bevel. “The respondents cannot substitute the court’s analysis with their own convenient censure,” sê sy.


Dink ’n bietjie verder as jou adamsappel

Mans is darem maar ’n vreemde spesie. Die afgelope maand het ek ’n paar onderonsies met mans gehad wat my hard aan die dink gesit het. Hierdie is nie een van daai “men are trash”-tipe skryfstukke nie; ons spaar daai debat vir ’n ander tyd. Hierdie is een van daai skryfstukke waar ek wonder waar sommige mans se audacity vandaan kom.

Onderonsie 1:

In ’n kuierplek hier in Linden kom ’n ou na ons tafel toe oorgestap. Ek en ’n vriendin drink ’n koffie, en hier wil die man geselsies aanknoop. Hy sê hy’t dit nie bedoel nie, maar hy het dele van ons gesprek afgeluister. En hy wil net gou vir ons sê dat ons bietjie wyer oor die hele ding moet dink. Leser, weet jy waaroor ek en my vriendin gesels het? Nipple piercings! En hier wil die vreemde man vir ons kom vertel dat nipple piercings tot borskanker kan lei. En hy kon sommer hoor aan ons gesprek dat nie ek of my vriendin kinders het nie, want hoe sal ons ons babas borsvoed as ons nipple piercings het. The audacity.

Onderonsie 2:

Op pad werk toe. My Uber-bestuurder se GPS-stem is dié van ’n man. As iemand wat nie bestuur en gereeld ’n GPS gebruik nie, het ek darem geweet dat ’n mens jou GPS se aksent kan verander. Ek het nie geweet dat ’n mens ’n manstem kan kies nie. Ek vra die bestuurder hoekom is sy GPS ’n man. Hy sê vir my vroue se stemme is soms te high-pitched en hy kan dit nie verdra nie. Ek, met my high-pitch-stem, bly toe maar stil. Die bestuurder hou aan met praat. Die enigste vrouestem wat hy wil hoor, is sy vrou s’n. Vroue met skril stemmetjies is ’n steurnis. Mans ken in elk geval meer van rigting, so as hy die vrouestem-GPS aansit, verdwaal hy. As dit daai oggend nie vir die reën was nie, sou ek die bestuurder gevra het om my en my stem eerder net daar in die middel van die pad af te laai.

Onderonsie 3:

Weer op pad werk toe. My Uber-bestuurder het ’n ANC-T-hemp aan. Enough said.

Onderonsie 4:

In die tou by Pick n Pay staan ’n man agter my. Hy komplimenteer die rok wat ek aanhet en sê: “It’s very different. Almost all the women in Joburg dress half naked, so it’s nice to see someone with a long dress.” Hy gaan toe verder en vertel my dat my man seker nooit hoef te dink dat ek hom eendag gaan verneuk nie, want hy kan sommer sien ek is ’n baie beskeie vrou. Ek kon nie vinnig genoeg vir my goedjies betaal en uit die winkel uit hol nie.

Onderonsie 5:

In ’n Zoom-vergadering onderbreek ’n kollega (’n man) my die hele tyd. Nou julle weet mos ek is nie een vir konflik nie en bly toe maar stil. Op ’n kol wil die onderbreker weet hoekom ek so stil is. Ek sê toe ek is stil, want hy bly my onderbreek. Hy’t dit nie agtergekom nie, dalk moet ek volgende keer maar net ’n bietjie harder praat.

Image: ANGELA TUCK

Julle. Dit wil vir my voorkom asof sommige mans nog nooit gevra is om stil te bly, bietjie te luister, verder as hulle adamsappels te dink of om net hulle opinies vir hulleself te hou nie. Die audacity van sommige mans is ook seker ’n manier om te overcompensate vir hulle gebrek aan denke (ek wil hier eintlik sê gebrek aan intellek, maar netnou sê ’n man weer vir my ek hou my slim). Sommige mans dink seker ook hulle is tot alles in staat deur die patriargie wat vir hulle die krag gee. Een van my vriendinne sak ewe droog af: “Audacity is at an all-time high these days,” so ons met ons lang rokke en skril stemme sal moet ligloop en op die uitkyk wees vir mans met ’n vermetelheid wat genoeg is om enigiemand tot sterk drank te dryf.


vandag wil ek vaar soos ’n skip
oor blou deinings,
wieg soos die meeue in die wind,
woel soos ballonne
wat vrygelaat is by ’n kinderpartytjie,
soel en soepel en swewig en snoesig
soos die oggenddou,
soos die briewe
van my
aan jou.

– Koos Kombuis

(Uit: “vandag wil ek my blou skoene dra”)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.