Eierstokke troef ’n leeu se kroonjuwele

WOENSDAG MET WILLEM

Eierstokke troef ’n leeu se kroonjuwele

WILLEM KEMPEN is ewe bang vir evangeliese motiveringsbroodjies as vir kunsmatige intelligensie. En daar's vyf dinge wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre


1. Suid-Afrika het algemene diplomatieke immuniteit toegestaan aan alle leiers wat Augustus se Brics-beraad in Durban gaan bywoon, klaarblyklik in 'n poging om die verpligting te omseil om Vladimir Putin in hegtenis te neem in terme van die lasbrief wat deur die Internasionale Strafhof uitgereik is. Terselfdertyd het die Reserwebank gister gewaarsku teen “rampspoedige gevolge" as die VSA sanksies teen Suid-Afrika sou instel as gevolg van sy hantering van Rusland se inval in Oekraïne.

2. 'n Senior verpleegsuster is gister op pad na haar werk by die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal in Johannesburg doodgeskiet deur twee mans wat deur haar motor se ruit op haar losgebrand het en toe gevlug het sonder om iets te probeer steel.

3. Die polisie se amptelike misdaadstatistiek vir die kwartaal tot 31 Maart dui op onder meer 'n toename van 8,3% in pogings tot moord. Een van die vele laagtepunte is dat 67 verkragtings in dié tydperk op skoolterreine plaasgevind het, en in ses van hierdie gevalle by spesiale skole, het News24 berig.

4. Die bekende uitsaaier, skrywer en politieke ontleder Eusebius McKaiser is gister onverwags in die ouderdom van 45 oorlede, glo weens 'n epileptiese aanval.

5. Die Mahikeng-hospitaal het 18 inkubators ontvang ná vroeëre berigte dat pasgebore babas in kartonbokse geplaas moes word omdat niks anders beskikbaar was nie. Noordwes se provinsiale departement van gesondheid het gesê “verpleegbestuurders" is voorlopig geskors omdat hulle nie die tekort betyds gerapporteer het nie.


Daar is waarskuwings vir swaar reën wat tot vloede kan lei in die ooste van KwaZulu-Natal en die noorde en ooste van die Oos-Kaap. Amper die hele land sal deels bewolk tot bewolk wees met moontlike buie in elke provinsie.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 18°C • Mahikeng 18°C • Mbombela 23°C • Bloemfontein 14°C • Polokwane 24°C • Kimberley 13°C • Upington 16°C • Kaapstad 17°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 19°C • Durban 23°C.


As Professor Bot selfs al soos ’n prokureur kan lieg ...

Die nuutste gratis weergawe van ChatGPT – 24 Mei s'n, toe ek gister gekyk het – is reeds strate beter as die een wat in November verlede jaar bekendgestel is en skielik al die aandag gekry het. ChatGPT Plus, teen $20 'n maand, is nóg beter en vinniger as die gratis ene. En dan kan mens maar net raai waarmee agter die skerms geëksperimenteer word waarvan die res van ons nog nie weet nie.

Die nuutste weergawe van Adobe Photoshop (24.31) is geïntegreer met sogenaamde Generative AI en Adobe Firefly. Dié tegnologie is volgens sommige kenners selfs meer revolusionêr as die oorspronklike Photoshop wat in 1990 die digitale manipulering van foto's vir die publiek toeganklik en maklik gemaak het.

Een van die nuwe Photoshop se funksies word “Generative Fill" genoem. Dit gebruik kunsmatige intelligensie om 'n bestaande foto te ondersoek en dan na gelang van 'n getikte opdrag deur die gebruiker sekere veranderings daaraan aan te bring. Kyk byvoorbeeld wat met hierdie foto gedoen kan word deur opdragte soos “reflective water surface" of “unicorn horn" in te tik:

Maar so skouspelagtig as wat kunsmatige intelligensie ontwikkel, net so dramaties kan die gevolge wees as dit foute maak, soos vandeesweek toe 'n New Yorkse regsfirma ChatGPT gebruik het om hofstukke voor te berei in 'n siviele eis teen 'n lugdiens – en die bot fiktiewe sake ingesluit het om die hof te probeer oortuig dat die betrokke voorval te lank gelede gebeur het en die saak uitgegooi moet word. Gelukkig het die eiser se prokureurs besef daar bestaan nie werklik sulke sake nie, maar selfs daarna nog het ChatGPT volgehou dis opgeneem in sowel die Westlaw- as die LexisNexis-databasisse.

Prof. Johan Fourie van die Universiteit van Stellenbosch vertel Woensdag op sy blog hoe prof. Ethan Mollick van die Wharton School aan die University of Pennsylvania vir ChatGPT4 gevra het om 'n akademiese studie te skryf gegrond op 'n stel data. Oor die resultaat sê Mollick: “It is not a stunning paper (though the dataset I gave it did not have many interesting possible sources of variation, and I gave it no guidance), but it took just a few seconds, and it was completely solid. And that, again, is kind of amazing. I think we are going to see massive changes coming to academic publishing soon, as journals struggle under the weight of these sorts of real, but automatically generated, papers."

Die gemene faktor tussen dié suksesse en mislukkings is onvoorspelbaarheid en die verbysterende tempo van verandering. En in 'n wêreld waar alles van Russiese kamikaze-hommeltuie tot by die ontstekingsmeganismes onder in 'n goudmyn digitaal beheer word en dus deel van die internet van dinge kan wees, wag daar nog 'n hele klomp verrassings op ons almal. Dis veilig om te sê baie van hulle gaan onaangenaam wees.


Wat was eerste: die hoender, die eier of die eierstok?

Sommige mense kan jou dinge vertel soos wie hulle kaas geskuif het, watter kleur hulle valskerm moet wees, hoekom die monnik 'n Ferrari gehad het wat hy toe weer verkoop het, wat The Secret van alles is, of watter sewe of nege of 12 eenvoudige reëls of gewoontes die sleutel is tot die bereiking van die beste moontlike weergawe van jouself en die optimale benutting van elke oomblik van jou dag.

Hierdie mense is slank en fiks en gesond en vol geld, en hulle werk en lewe is in onwankelbare harmonie. Hulle is nooit laat vir iets nie, beplan altyd vooruit, stel niemand ooit teleur nie, en word nooit kwaad of geïrriteerd nie. Hulle is altyd doodseker van hulle saak en twyfel oor niks nie.

Ek is nie een van daardie mense nie.

Ek wil onder geen omstandighede behoort aan 'n klub van mense wat elke oggend vyfuur opstaan nie.

Ek sukkel nou al jare om 'n dag of wat af te staan om 'n boek oor tydbestuur te lees.

Ek gaan waarskynlik nooit 10 000 ure haal met die slyp van enige nuttige vaardigheid nie.

Ek sien nie die punt daarvan om selfs net die eerste van 'n duisend happies te vat om 'n olifant te eet nie.

En my instinktiewe reaksie op die tipiese “motiveringspreker" is om te wonder hoe lank dit nog gaan wees voor ons gaan uitvind van die donker geheim wat hy al jare lank wegsteek.

Image: ANGELA TUCK

Hier by ons is die ergste van dié tipes die ouens wat hulle boodskap verpak in 'n soort evangeliese toebroodjie: 'n snytjie rugby bo, 'n snytjie Bybel onder, en 'n lekker dik laag testosteroon in die middel gesmeer.

Soos die knaap wat nou die dag by 'n hoërskool voor die groot derby-dag vir die kinders en hulle ouers vertel het van die twee faktore wat noodsaaklik is vir sukses op die sportveld: Liewe Jesus en knaters.

Ja, in soveel woorde, en kompleet met 'n foto van homself op die skerm wat wys hoe hy 'n lewende leeumannetjie se kroonjuwele in sy hand laat hang. Om te wys watter hoogtes jy kan bereik as al daai dinge bymekaarkom, sien?

(Ek verstaan heeltemal dat mense soms onnosel goed aanvang, maar dan moet daar mos ook 'n beloning wees wat die risiko die moeite werd maak. Ek sien nie enige upside in hierdie geval nie.)

Die knaap se bedenklike oordeel het skynbaar nie die meeste ouers gepla nie, en ook nie sy skaamtelose prediking van 'n tuisvervaardigde Christelik-testikulêre teologie in 'n staatskool in weerwil van die Grondwet nie.

Minstens een estrogeen-ontneemde ouer was trouens later so besiel met die knaap se filosofiese Vyf-Eenheid dat hy sommer opgespring het om mee te doen.

En, die vreemdste ding van alles, die skool se meisiespanne – wat op die beste moes klaarkom met net een van die knaap se voorvereistes vir triomf – het die volgende dag niks beter of swakker gevaar as die spanne wat swaarder in die broek was nie.

Kan dit wees omdat iemand stilletjies vir hulle vertel het van die kritieke rol wat eierstokke in 'n leeuwyfie se meerdere sukses op die jagveld speel?


agte-os

wanne djy sien ek haloep
issie ve exercise offie tryn
is virre hondt of my liewwe
of altwīe
óf
is nag

- Loit Sols, uit Moerstaal

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.