Il faut profiter de la vie – jy moet die lewe geniet

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Il faut profiter de la vie – jy moet die lewe geniet

Nederlanders spaar graag 'n sentjie, skryf ANESCA SMITH. En kry die program vir ons Clarens-boekefees wat in Julie plaasvind – bespreek sommer solank kaartjies! DEBORAH STEINMAIR vertel meer oor die lekkerlees-stories in ons Boeke- en Vrye Tyd-afdelings hierdie week.

  • 03 Junie 2023
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Dagsê

Image: ANGELA TUCK

Waarmee hou die Nederlander hom besig tydens die Corona-jare? Veral met geld aan die opgaar, blyk uit syfers. 

Soos ons weet, spaar Nederlanders graag ’n sentjie. Trouens, in die hele Europa spaar niemand anders so ywerig soos Nederlanders nie. Logies dus dat daar tydens die pandemie selfs harder gespaar is, want waaraan moet jy jou geld uitgee tydens ’n lockdown? Maar syfers aan die begin van 2023 wys dat selfs ná Covid spaar mense hier nog onverminderd, ondanks stygende lewenskoste. 

Volgens gegewens van die sentrale statistiekburo wat aan die begin van die jaar uitgereik is, het de gemiddelde Nederlandse huishouding €42 300 (R888 300) se spaargeld in die bank. Daar word egter gewaarsku dat dié gemiddelde omhoog getrek word deur die wáárlik ryk Nederlanders en dat die mediaan nader aan €14 900 (sowat R312 000) is, 'n syfer wat ek steeds indrukwekkend hoog vind. 

Selfs onder mense wat ’n toelae van die staat kry, het byna 6 uit 10 ’n spaarpot van minstens €2 500 (R52 500), en enkeles (3%) het selfs €100 000 (R2,1 miljoen) gespaar gekry. Skynbaar veral onder werkloses en arbeidsongeskikte mense.

Ek vra my man waarom hy dink mense hier spaar soveel ondanks die feit dat spaarrente ’n lang tyd op so te sê 0% gestaan het en selfs negatief is vir die super-welgesteldes. (Dit is darem nou al weer 1% by sommige banke). In sy geval, sê hy, het hy gespaar vir ’n nuwe sportkar. En ek gun hom dit, want motors is sy passie. 

Dié het hy intussen gekry, en nou? Vir 'n “rainy day”, sê hy. 

Image: ANGELA TUCK

Die Nederlandse ekonomiese psigoloog Fred van Raaij het die drang om te spaar al 'n keer só verduidelik: “Om te spaar was al in de middeleeuwe as 'n deug gesien. Om in die skuld te sit was 'n slegte saak. Daar is ook die etiese aspek van skuld en boete.

“[In Nederland] word die idee van spaar met die paplepel ingevoer. Ons gee ons kinders van jongs af sakgeld om hulle sodoende te leer om met geld om te gaan. Ons is nie 'n feesvierende volk nie. Ons neem nie graag risiko's nie. Spaar gee ons sekerheid, daarom vind ons dit belangrik om 'n buffer op te bou.”

In die res van Europa waar minder gespaar word, word natuurlik hard en met 'n tikkie afguns gespot met die Nederlanders wat so “suinig” is. Dit het ook nie gehelp toe 'n Nederlandse minister van finansies 'n paar jaar gelede die Portugese, Grieke en Spanjaarde daarvan beskuldig het dat hulle hul geld aan “drank en vroue” uitgee en dan by die res van Europa moet bedel nie. 

Dat Hollanders soms te ver gaan met sente omdraai, is ek eens mee. Tog kan die res van die wêreld iets leer uit Nederlandse spaarsamigheid, want die stres en vernedering van skuld wat ek al te veel kere van digby in Suid-Afrika aanskou het, wens ek niemand toe nie. 

Die Amerikaanse sakeman en belegger Warren Buffett het eenkeer gesê die grootste fout wat ouers maak wanneer dit kom by hulle  kinders oor geld leer, is dat hulle te laat daarmee begin. “Die meeste ouers begin eers in die kind se tienerjare voor hulle oor die bestuur van geld praat.” Eintlik moet dit al op voorskoolse ouderdom gebeur, dink hy. 

Een van sy wenke is om kinders uit te daag om nuwe gebruike vir ou dinge rondom die huis te bedink. “So leer hulle om krities te dink, geld te bespaar, en duursaamheid.” 

Nóg 'n wenk is om hulle twee spaarvarkies te gee – een om geld vir langer te hou en die ander vir komende uitgawes. Sy ander advies oor hoe om kinders onder meer oor prys en waarde te leer, kan hier gelees word. 

Mooi naweek

Anesca


VWB, boeke, kaggels en Clarens

Bespreek nou vir die hele naweek se gesprekke en kom skuur skouers met groot name soos Antjie Krog, Max du Preez en andere.

Jy kan hier kliek om kaartjies te koop teen R90 per gesprek of R600 vir die hele naweek. Bespreek ook betyds verblyf.

Sien jou daar!


Dis winter en beurtkrag keil ons op, maar ons krag lê in ons boeke en koeke. Sprei die karos en put energie en inspirasie uit ons kraakvars stories oor boeke, kuns, sport en kos. Want elke naweek is Boeke- en Vrye Tyd-fees.


BOEKE

Deborah Steinmair skryf oor gekompliseerde verhoudings en skade. 

Mommy Dearest en Mamma Mia


Bekroonde skrywer Gerda Taljaard voer ons mee na 'n klein Russiese sirkus. 'n Aangrypende verhaal in twee aflewerings. 

Kortverhaal | Sofja en die beer


Nico Geldenhuys vertel van 'n ou liefde wat nooit geroes het nie.

Onblusbare bromanse van twee boekmanne


Wat het die housewives van die wynlande gemeen met Lolita en Madame Bovary? Lees Joan Hambidge se skuins blik op die petalje.

Madame Bovary en die Housewives van die Wynlande


Kerneels Breytenbach deel weer die skatkis van sy Kindle en bedkassiestapel. 

Slim swape en speurdernonne


Deborah Steinmair skryf oor Annemarié van Niekerk se aangrypende memoires wat pas bekroon is. 

Ons bak onder ’n bloedrooi son


VRYE TYD

Fotograaf Obie Oberholzer vertel 'n sage oor die soeke na 'n klein, skaars voël.

Die sage van Obie en die tobie


Laureen Rossouw vind uit dat die kruievrou die natuur soos 'n koerant lees en vir min dinge bang is.

15 vrae aan Antoinette Pienaar


Kerneels Breytenbach onthou 'n rock n roll-koningin.

Tina van ‘Rivers Deep’ tot ‘Mountains High’


Aletta Lintvelt bepeins die onverwagse slaggate van moederskap.

Souserige sampioene is goed genoeg


Egmont Sippel weeg die kanse van Verstappen en Kie. op in die naweek se Spaanse Grand Prix in Barcelona.

In GP mik jy vir amper raak, nie amper mis


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.