Van ’n tofu-ete tot eiervrug-emoji’s: Dit raak soms warm in...

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Van ’n tofu-ete tot eiervrug-emoji’s: Dit raak soms warm in die kombuis

ANNELIESE BURGESS gee 'n kykie na die woelery in Vrye Weekblad se virtuele redaksiekantoor – veral op 'n Donderdag, wanneer dit woes gaan om die uitgawe aanmekaar te sit. Sy deel ook 'n gedig en 'n paar aanbevelings oor wat om te kook, kyk en lees.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Die afgelope paar weke was nogal warm hier in die kombuis. En daarmee verwys ek na die virtuele Vrye Weekblad-“kantoor", waarvan die redaksie regoor die land (en soms ander dele van die wêreld) versprei is. 

Potch. Kaapstad. Gordonsbaai. Pretoria. Oos-Londen. Johannesburg en Pretoria. En dié week was Adri in Londen ook by. Vrydagoggende is 'n heerlikheid wanneer ek die nuwe uitgawe (nou is daar 'n Engelse weergawe ook) oopmaak en die hele week se heen-en-weer van vroeë oggende en laat aande lê mooi verpak, met een van Angela se lieflike dink-vir-jouself-illustrasies bo-aan.

Maar dit gaan soms rof in die kombuis. Veral Donderdae. En veral noudat ons tweetalig is.

Ons probeer seker maak dat die meeste kopie vroeg op 'n Donderdag in is, maar soms is dit nie moontlik nie – soos my onderhoud dié week met Barney Pityana. Ons sou elfuur Dinsdagoggend gesels het, maar toe val iets voor en gebeur die onderhoud eers nege-uur Donderdagoggend. Dis 'n uiters stimulerende gesprek oor die stand van universiteite, hoekom ons staatsdiens so swak is en hoekom hy nie glo koalisies kan werk nie. Maar van onderhoud-tot-storie is 'n lang pad. En om dit in 'n dag klaar te kry, is klippe kou.

Teen eenuur Donderdagmiddag is ek steeds in my pyjamas (ek het darem 'n kopdoek en baadjie oorgegooi vir die video-gesprek met Pityana). Ek het nog niks geëet nie. Daar is net twee hompe tofu in die yskas. Ek vra vir Lientjie Wessels wat 'n mens vinnig met tofu kan maak. Sy stuur 'n stemnota met aanwysings vir “gemarineerde brosgebakte sesame-tofu met warm noedels, vinnige peanut-sous, peanuts, stir fried veg en avo".

Image: ANGELA TUCK

Dit klink fantasties, maar op 'n Donderdag (spesifiek hierdie een) is daar nie tyd vir noedels kook of roerbraai-enigiets nie. Ek gooi die tofu in haar twee-minute-marinade: gerasperde gemmer, sojasous, 'n splerts sesam-olie en 'n gehoopte lepel mielieblom. 'n Uur later skud ek die tofu-stukkies in 'n bak sesamsade en gooi dit in 'n blitswarm oond. Later eet ek dit uit die oondbak terwyl ek luister na nog 'n stuk van die opname van Pityana se onderhoud. Ek skryf in Engels want ek is vinniger daarin, veral as die onderhoud in Engels was.

Die Engelse storie is vyfuur klaar. Soos met elke storie word die teks dan eers noukeurig deur 'n subredakteur nagegaan voordat dit “gekloon” en vertaal word na hetsy Engels of Afrikaans. En dan word die vertaalde storie wéér deur 'n teksredakteur versorg. Dit vat tyd en koördinasie om al die drade bymekaar te hou en dit gaan soms wild op ons WhatsApp-produksiegroep. “Ek prep vir sub"; “Raait ek vat hom"; Ek bottie"; “OK ... laat weet as jy klaar is, dan timmer ek"; “In Ready".

Ons gebruik kunsmatige intelligensie (KI) om die eerste rowwe vertaling van 'n storie te doen. Soos elke nuuskantoor het ons span 'n unieke snelskrif ontwikkel. “Ek bottie hom gou" beteken jy doen die eerste vertaling. “Timmer" verwys na die proses om dié vertaling dan met 'n noukeurige mens-oog deur te gaan en seker te maak die feite en konteks is reg en die styl en idoom en vloei van die storie werk. Afhangende van die teks, kan hierdie redelik vinnig gebeur of ure vat. Angela se wonderlike storie oor haar grootwordjare in die Heilsleër het Willem hierdie week 5 ure geneem om reg te “timmer" na die “bottie". Piet Croucamp se ryk en diep idiomatiese Afrikaans is nooit 'n vinniger timmer nie. Maar soms, soos my Barney Pityana-onderhoud, gaan dit verstommend vinnnig – hoewel Adri nog 'n uur of wat daaraan geskaaf het. Agtuur die aand is my Afrikaanse weergawe, die laaste storie van die dag, gereed.

Nadat Max die “running order" gestuur het – waar die stories in die elektroniese uitgawe moet verskyn – sit Pieter, ons produksieredakteur, die twee uitgawes aanmekaar. Willem Kempen of "WK", redakteur van ons daaglikse nuusbriewe, dra ook 'n paar ander hoede: kenner-van-die-ekonomie, Feit-van-die-saak-koning en opskrif-towenaar.

Opskrifte en die sogenaamde “blurb" (die lokteks of prikkel) verg  dinkwerk, 'n aweregse streep en 'n slag met woorde. En as 'n mens dit eenvoudig nie regkry nie, vra jy net dat “WK asseblief 'n oog gooi". Want WK sal, weet ons, met iets uniek en prikkelend vorendag kom.

Iewers in die eerste weke van Vrye Weekblad 2.0 het ons kossstories oor eiervrug gedra. Niemand het dit gelees nie. En so het eiervrug 'n metafoor geword vir iets wat nie werk vir ons lesers nie. En het die eiervrug-emoji 'n spesifieke betekenis in ons redaksionele snelskrif aangeneem. As iemand 'n storie-voorstel in die redaksie-groep plak of WK 'n opskrif toets en iemand reageer met 'n eiervrug, is daar geen speelse wulpsheid ter sprake nie. Dit beteken eenvoudig iets werk nie. Dit gaan nie gelees word nie. Probeer weer.

Ons maak weer so hierdie Maandag. Om nege-uur, wanneer die span aanlyn vergader. En in ons lag en baklei en saamstem en verskil oor die stories wat julle volgende Vrydag gaan sien as die nuwe (twee!) uitgawes om 6:30 die oggend lewendig gaan op vryeweekblad.com.

Ek wil julle asseblief vra om ons Engelse uitgawe op julle sosiale media-platforms te adverteer. Vertel julle vriende daarvan. Ons is baie trots om die enigste tweetalige publikasie in Suid-Afrika te wees, en ons moet meer Engelssprekendes aan Vrye Weekblad voorstel.

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

Anneliese


Instructions for living a life:

Pay attention.
Be astonished.
Tell about it.

- Mary Oliver, uit die gedig, “Sometimes" van die bundel, Red Bird 


Koffie-staaltjie

Na ons lekker koffie-gesels verlede Sondag stuur 'n leser vir my hierdie interessantheid oor die Bialetti Moka-pot aan:

“In 1933, Alfonso Bialetti completed his design for the aluminium Moka Express. Fast forward to the present day, and that same iconic octagonal design has become the most popular coffee maker in the world and is still made in the same style and material as the original.

“Much of the credit for the spread of the Moka Express is actually due to Alfonso's son, Renato Bialetti, who passed away recently at the age of 93 and whose ashes were buried in a large Moka Express. Thanks to the father & son's works, not only have millions of Bialetti Moka Expresses been sold around the world but stovetop coffee makers like them (often called moka pots) can be found everywhere."

Lees

Toe ek die digter en filosoof David Whyte se versameling essays begin lees, het ek gedink dit sou perfek wees vir 'n Salige Sondag-nuusbrief. Maar toe besef ek dat ek meer spasie nodig het om sy lof te besing omdat sy woorde vir my so 'n verstommende en grensverskuiwende ontdekking was. 

Woorde wat soos ’n sagte gebed aan my hart kom klop ...

My ander gunstelingstorie in die Vrye Denker-afdeling was Sybrandus Adema se stuk oor koe’sisters.

Klik hier om te lees.

Kook

As jy van koljander hou (ek is mal daaroor maar ken mense wat 'n algehele weersin daarin het), is hierdie 'n briljante slaai. Net koljanderblare, geroosterde grondboontjies en 'n salot-en-sojasous. Verruklik. Dit werk ook baie goed met aspersies as net koljander vir jou 'n bietjie lig in die broek klink.

Kyk

Van Alain de Botton tot Malcolm Gladwell en Elizabeth Gilbert:
10 wonderlike TedTalks

Luister

Ook na aanleiding van ons koffie-geselse laasweek, hierdie aanbeveling van 'n leser. Ek hou van goeie, tranetrekkerige country, en het hierdie een nou al 'n hele paar keer in die kar geluister. Dankie Marietha.


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.