Oor die bruin Voortrekker en minder spin op die media-bal

MAANDAG MET MAX

Oor die bruin Voortrekker en minder spin op die media-bal

MAX DU PREEZ vertel die verhaal van Jan Bantjes, en wys hoe mens met dieselfde korrekte aanhaling twee verskillende stories kan vertel. Soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 05 Junie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiedag!

1. Verskeie landbou-organisasies staan reg om die regering se konsepregulasies wat raskwotas vir waterverbruik instel, in die hof uit te daag. As 'n onderneming water wil opgaar of onttrek, moet hulle volgens die regulasies swart aandeelhouding van tussen 25% en 75% hê.

2. Hedging your bets: Die Durbanse biljoenêr wat sy geld uit die dobbelbedryf gemaak het, Martin Moshal, het al R14,5 miljoen aan ActionSA en R30 miljoen aan die DA geskenk. 

3. Die ANC se hoofsweep, Pemmy Majodina, se toespraak in die debat oor die president se begroting in die parlement beteken “she has proved herself to be nothing more than a vacuous vessel who draws mirth and exasperation from those who listen to and interact with her,” skryf die redakteur van City Press, Mondli Makhanya. “Pardon the overuse of animal kingdom analogies, but she pranced like a grasshopper and yelled like a hadeda at six in the morning. It was hard to imagine that this was an individual who, after the Speaker of the National Assembly, should formally be the most powerful person in the parliamentary system.”

4. Die verslag van die regterlike ondersoek wat moet bepaal wat die Russiese vragskip Lady R in Desember in Simonstad op- of afgelaai het, gaan nie openbaar gemaak word nie, sê die presidensie.

5. 'n Skooldistrik in die Amerikaanse deelstaat Utah het besluit om die Bybel uit skole te verwyder omdat dit “vulgariteit en geweld” bevat.


Daar is 'n waarskuwing vir sterk wind oor dele van die Oos-Kaap, asook langs die kus tussen Port Elizabeth en Koffiebaai. Mooi weer en koel toestande word meestal verwag, maar dit kan warm word in Limpopo. Miskolle sal vanoggend in dele van die Noordwes en Noord-Kaap voorkom. Die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal sal deels bewolk wees terwyl die ooste van Mpumalanga vanaand bewolk sal wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 14°C • Durban 22°C • Kimberley 15°C • Bloemfontein 15°C • Polokwane 28°C • Upington 18°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 19°C.


Max du Preez | Die gejaag na scoops is só 1980’s

Dis 'n geweeklaag wat ek gereeld raakloop: ons kan nie meer die hoofstroommedia vertrou nie. Hulle lieg en dien net hulle meesters.

Dis natuurlik twak. Die publiek is grotendeels op die hoofstroommedia hier en elders aangewese om feit van sosiale media-twak en waarheid van propaganda te onderskei.

Maar soms vertroebel joernaliste van selfs ons voorste media se ego’s, en hulle koorsige soeke na scoops en vet opskrifte, hulle oordeel en dan word die media se grootste bate, geloofwaardigheid, ondermyn.

Ons het pas weer so 'n episode beleef.

In April het Kevin Bloom van Daily Maverick met groot fanfare “onthul” dat ANC-politici by diepgaande korrupsie by Eskom betrokke is. Hy het onder meer gepraat van 'n “territorial commander” wat 'n reuse-misdaadsindikaat beheer en die indruk gelaat dat dit die gewese adjunk-president, David Mabuza, is.

Kort daarna kom Jacques Pauw en skryf op news24.com dat dié storie gebaseer is op intelligensieverslae wat die oudkommissaris van polisie George Fivaz vir André de Ruyter laat voorberei het, en dat dit alles loutere twak was.

Erger nog, skryf Pauw, een van die voorste ondersoekers was 'n man wat vir die apartheidpolisie gemoor het.

Fivaz het toe 'n advokaat en oud-polisie-offisier, Cerita Joubert, gevra om sy ondersoekverslae te takseer.

Bloom se verslag oor Joubert se oordeel staan onder die opskrif: “George Fivaz’s Eskom ‘dirty’ dossier gets clean bill of health in legal opinion”.

Toe skryf Pauw oor dieselfde dokument en die opskrif op sy artikel lees: “Fivaz reports on Eskom contained ‘virtually no evidence’, finds advocate”.

Bloom gebruik 'n sin uit die Joubert-verslag om sy aanvanklike storie goed te laat lyk: “In the light of the above, it is concluded that the intelligence reports compiled by George Fivaz Forensic and Risk constitutes a critical first step and forceful springboard from which investigations into the undoubted criminalities at Eskom can and should be launched.”

Pauw gebruik 'n ander sin uit die verslag om te bewys hý was reg: “These reports are mainly characterized by raw allegations (even rumours), contain virtually no evidence and are in some instances drafted in an emotional tone.”

Ja, albei joernaliste het Joubert korrek aangehaal.

Die probleem is myns insiens dat Bloom en Pauw se aanvanklike stories te veel spin op die bal gehad het, en nou wil hulle dit vergoeilik.

Bloom was naïef om die Fivaz-verslae wat hy onder oë gehad het, te glo en as feit aan te bied. Verskeie ander mediahuise het reeds toe al van die verslae gesien en besluit om nie daaroor te skryf nie, want dit was net kru aantygings sonder bewyse.

Pauw het in terme van skreeuende opskrifte gedink toe hy sy eerste storie geskryf het en news24 het die Fivaz-verslae dramaties die “Eskom Dirty Dossier” gedoop.

Sy en news24 se besluit om in dieselfde berig sensasioneel te openbaar dat die verslae deels 'n apartheidpolisieman se werk was, en om dit enkele ure voor De Ruyter se belangrike verskyning voor die parlement se staande komitee oor openbare rekening te publiseer, was myns insiens swak oordeel.

Meer sensasie soek as die waarheid ontbloot, as jy my vra. Dit is immers 'n baie belangrike en sensitiewe, veelkantige storie. Die rol wat die oud-polisieman gespeel het, het tog nie noodwendig 'n impak op die bevindinge gehad nie. Sy identiteit kon op 'n ander manier of geleentheid geopenbaar gewees het.

Die essensie van die kwessie lê inderdaad by die twee sinne wat Bloom en Pauw aangehaal het.

Van die beweringe in die Fivaz-verslae was wel wild, ongetoets en sonder bronne – laevlak-intelligensieverslae eerder as harde inligting.

Maar, en dit is intussen deur ander verwikkelinge gestaaf, dit vervat genoeg inligting en vermoedens om ernstig deur die Valke en ander eenhede gebruik te word om dieper te grawe. Heelwat of selfs die meeste daarvan kan dalk eendag waar bewys word. Of nie.

Minder spin op die bal, kollegas. Die gejaag na scoops is só 1980’s.


Piet Retief en die slim bruin ou

Toe ek vir ons jongste uitgawe my mening oor wit en swart leierskap gegee het, het my gedagtes gedwaal na die uitsonderlike verhaal van Jan Bantjes.

Vir baie Afrikaners wat in die eerste helfte van die 19de eeu uit die Kaapkolonie na die onbekende binneland getrek het, was onderwys iets skaars. Enigiemand met goeie geleerdheid was gerespekteer.

Jan Gerritze Bantjes was een van diesulkes. Hy was nie net 'n volbloed-Voortrekker nie, hy was ook een van die Groot Trek se mees prominente intellektuele.

Méér as dit: Bantjes was die outeur van een van tradisionele Afrikanerdom se heiligste dokumente: die verdrag tussen die Zoeloe-koning Dingaan en die Voortrekkerleier Piet Retief. Bantjes was een van die Trekkers wat by Bloedrivier geveg het en hy het later die klerk van die Natalse Volksraad geword.

Daar is selfs Groot Trek-historici wat glo dit was Bantjes wat Paul Kruger, later die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek en een van Afrikanerdom se grootste ikone, geleer lees en skryf het. Kruger was toe 'n jong seun wat saam met sy ouers op trek was.

Maar Jan Bantjes was nie 'n wit man nie. Hy was 'n bruin man, 'n afstammeling van slawe aan die Kaap.

Kroonstad, 1975. Die Sarel Cilliers-monument met die Nederduitse Gereformeerde kerk in die agtergrond.
Kroonstad, 1975. Die Sarel Cilliers-monument met die Nederduitse Gereformeerde kerk in die agtergrond.
Image: SAR

Bantjes is op 8 Julie 1817 in die distrik Graaff-Reinet gebore, die derde kind van Bernhard Louis Bantjes en Isabella Johanna Swanepoel. Bernhard se ouma was Hilletje Agnita Jacobs, dogter van twee slawe, Jan Jacobs van de Kaap en Agnietie Pieters van de Kaap.

Bantjes het in 1838 by die Trek aangesluit. Die Voortrekkerdominee Erasmus Smit het in sy dagboek geskryf: “Mnr. De Klerk het 'n jong Kleurlingman saam met hom gebring, en omdat laasgenoemde sekere talente had, het ek hom versoek om 'n passasie te lees en te sing. Hy het my veel genot verskaf: sy naam is Jan Bantjes.”

In latere dokumente en boeke is daar nie weer na Bantjes as 'n “Kleurling” verwys nie, hy word bloot die “sekretaris”, die “skriba” of die “amanuensis” van Trekkerleiers soos Andries Pretorius, Piet Retief, Gerrit Maritz en Piet Uys genoem.

Alf Wannenburgh skryf in sy boek Forgotten Frontiersmen dat Bantjes se skryftalent “sodanig was dat hy in 'n kort tydjie in staat was om homself in hulle [die Trekkers] se oë blank te skryf.” Johannes Meintjies skryf in The Voortrekkers dat Bantjes 'n “belangrike rol as skoolmeester en algemene optekenaar van die toneel sou speel”.

Bantjes het die traktaat tussen Retief en Dingaan opgestel ingevolge waarvan die Zoeloekoning die gebied tussen die Umzimvubu- en Tugelariviere aan Retief oorgedra het. Die dokument, in Engels en in Bantjes se sierlike handskrif, is op 4 Februarie 1838 onderteken.

Twee dae later is Retief en van sy manne na uMgungundlovu om die koning vaarwel te gaan sê. Dingaan het hulle almal laat vermoor. Bantjes, toe sekretaris van Andries Pretorius, het die nuus aan die ander Trekkers oorgedra.

'n Litografie van 'n toneel wat die Slag van Bloedrivier uitbeeld.
'n Litografie van 'n toneel wat die Slag van Bloedrivier uitbeeld.
Image: NLSA

Die heiligste gebeurtenisse in die geskiedenis van Afrikaner-nasionalisme was die gelofte wat op 9 Desember 1838 afgelê is, en die Slag van Bloedrivier (Ncomerivier) ‘n week later waarin sowat 3 000 Zoeloes gesterf het.

Bantjes het 'n belangrike rol in albei dié gebeure gespeel en sy weergawe, wat in die Kaapse joernaal De Zuid-Afrikaan gepubliseer is, is die dokument waarop historici die swaarste steun.

In die jare daarna was Bantjes onder meer klerk van die Volksraad van die Republiek van Natal, 'n prokureur in Pietermaritzburg, 'n skoolhoof in Humansdorp en 'n winkeleienaar in Prins Albert. In 1855 het hy Pretoria toe getrek en is as posmeester van die Transvaalse Republiek aangestel. Daarna was hy onder meer 'n staatsaanklaer en skoolhoof op Lichtenburg en Ventersdorp.

Hy is in 1887 in Potchefstroom oorlede.

Diep spore getrap, dié bruin Voortrekker.

Groetnis

Max


Hierdie is maar een van die boeiende gesprekke by ons boekefees! Kliek hier vir die program en hier om kaartjies te bespreek. 


Rhinocerus 1515

In tekstuur dié van ’n skilpad se karapaks, die vel
pantserdik geskub, op die skof die ekstra narwaltand,
’n spits horing op die neus waarmee hy straks alles 
– volgens Plinius ook die grote olifant – van kant

kan maak. Toe die karveel by Porto Venere sink
met sy antieke vrag vasgeboei op die dek, bedoel
vir Rome, was al wat oorleef het Dürer se indruk
van dié dier – veel meer as sien, ’n geval van voel.

- Johan Myburg, uit Narreskip

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.