Die geringste mate van kommer oor sub-optimale Suid-Afrika

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Die geringste mate van kommer oor sub-optimale Suid-Afrika

MERCY KANNEMEYER kom nie net van een plek nie. WILLEM KEMPEN hoop vergeefs op 'n vuriger president, en soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 06 Junie 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre

1. Laer internasionale oliepryse het opgemaak vir die swakker koopkrag van die rand wat plaaslike brandstofpryse betref, wat beteken albei soorte petrol sal van middernag met 71 sent per liter goedkoper word. Diesel word 84 sent per liter goedkoper en beligtingsparaffien 43 sent per liter goedkoper.

2. Statistieke Suid-Afrika maak vandag syfers oor die bruto binnelandse produk (BBP) vir die eerste kwartaal van vanjaar bekend. Ten spyte van hewige beurtkrag het die land moontlik vir eers 'n formele resessie vrygespring.

3. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het vanjaar bykans 700 000 belastingbetalers weens uitstaande opgawes beboet. Die meeste van die boetes was vir slegs een uitstaande opgawe, het eNCA berig.

4. Eksamens sal voortgaan by Fort Hare-universiteit ten spyte van  oproerigheid op die Alice-kampus waartydens geboue aan die brand gesteek is, glo weens 'n eksamenrooster wat te druk is. Volgens die polisie is 12 studente weens brandstigting en vandalisme in hegtenis geneem.

5. Internasionale lugverkeer gaan dalk gouer as verwag terugkeer na die vlakke wat dit voor die pandemie was, het die Internasionale Lugvervoer-vereniging (Iata) gister gesê. 'n Bykans rekord-hoë totaal van 4,35 biljoen lugpassasiers sal vanjaar vervoer word, het Iata voorspel.


Dis vandag deels bewolk in die Wes- en Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, en veral Limpopo en Mpumalanga. Mis kan ook vanoggend oor dele van die Noord-Kaap, KZN, Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga verwag word. Mooi weer word in Gauteng en Noordwes verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 20°C • Kaapstad 17°C • Durban 22°C • Kimberley 22°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 20°C • Upington 24°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Die eerste klein ou puntjies van ’n krisis steek kop uit 

Ek volg verlede week 'n driftige verkiesingsgesprek op WhatsApp waar die een ná die ander deelnemer kla oor hoe moeilik dit is om vorige generasies te laat wegstap van hulle blinde lojaliteit aan die ANC. Dit laat een van die jongeres toe voorstel: Comrades, may I suggest we hide our grandparents' ID documents before election day?

Hy is gou op sy plek gesit: Nee, kameraad, dis nie soos óns dinge doen nie. Ons kan nie kla oor die ANC as ons self ook die reëls buig wanneer dit ons pas nie.

Ek weet nie wat die ware motiewe vir die veroordeling van die voorstel was nie. Dalk was die gesprek maar net openbaar genoeg sodat sommige deelnemers besef het hulle gaan self in die sop beland as hulle nie darem net máák of hulle dit veroordeel nie.

Wat ook al die ware redes, dis goed om te sien daar is darem nog minstens 'n skyn van idealisme onder die aktivistiese jeug – mense wat kwaad raak oor wat hulle om hulle sien, selfs as die oplossings wat hulle aanbied naïef of oningelig is.

Aan die teenoorgestelde kant van die spektrum is daar dié met meer ervaring, meer kundigheid, meer insig in die soort kompromieë wat in die regte politiek nodig is vir oorlewing. Minder drif, minder entoesiasme, minder dringendheid. En groter waaksaamheid om niemand aanstoot te gee of jou eie waentjie aan die verkeerde lokomotief te haak nie.

As dié wêreldmoeë mentaliteit eers begin inskop het, dan kry jy woorde soos hierdie Maandag uit pres. Cyril Ramaphosa se weeklikse nuusbrief:

Last week, the Auditor-General released the Municipal Audit Outcomes for 2021/2022. It is worrying that only 38 out of 257 municipalities – and only two out of the eight metros – achieved clean audits."

Dis baie meer worrying dat “worrying" die beste manier is wat die president kon vind om die situasie te beskryf. Iets soos “die nuutste voorbeeld van die gevolge van rampspoedige plaaslike bestuur onder die ANC" sou akkurater gewees het.

En so gaan dit aan in die res van die nuusbrief: “All spheres of government must therefore work together ..."

Vae planne, vae versoeke, vae opdragte. Niemand se kop word op 'n blok gesit nie, niemand word vertel jý en jý en jý gaan hierdie ding help regmaak nie. Geen plan van aksie nie, geen dringendheid nie, skynbaar geen besef van die omvang van die krisis nie, selfs nie eens 'n aanbod om te sê “hoe kan die presidensie help?" nie.

'n Mens begin al amper hoop iemand steek op stemdag Cyril se ID weg.


Ek? Kan ek maar sê ek kom van oralste?

Leser. Ek beleef tans ’n totale identiteitskrisis. Verlede Vrydagaand by ’n braai vra ’n ou my waar ek vandaan kom, want my Afrikaans is uitstekend. Vir sommige mense is dit ’n kompliment as jy vir hulle sê hulle praat “mooi Afrikaans”. Nie vir my nie, want wat is “mooi Afrikaans” en “lelike Afrikaans”? Ieder geval. Die ou by die braai het nie soos die tipe gelyk wat belang sou stel in my eksistensiële semi-aktivistiese uitgangspunte oor my uitstekende Afrikaans nie. Hy wou weet waar ek vandaan kom.

Nou waar loop haal ’n mens jou komvandaan? Dit was nog altyd ietwat van ’n ongemaklike vraag wanneer mense wil weet waar ek vandaan kom. As predikantskind het ons baie getrek. Ek was in vyf verskillende laerskole. Ons het al in elf verskillende huise gebly. Ek het al meer taalvariante opgetel as wat daar Covid-variante is, en soms voel ek soos ’n verkleurmannetjie wat ’n reënboog ingesluk het.

Die maklike antwoord op die vraag is Mosselbaai. Dis waar ek gebore is, maar dis nie waar ek grootgeword het nie. My grootword lê versprei tussen Mosselbaai, Maphumulo in KwaZulu-Natal, Bloemfontein, Grassy Park, die sendingdorpie Amalienstein in Kannaland, Port Elizabeth en Stellenbosch.

So, waar kom ek vandaan? Ek wil nou die filosofiese roete volg en vra waar kom enige van ons anyway vandaan? Maar ongelukkig skiet my filosofiekennis tekort om vrae van sulke omvang te beantwoord.

Is dit airy fairy om te sê ek kom van oralste? Oral waar ek al gewoon het, maak deel uit van my vorming. Op Mosselbaai het ek geleer dat ek van die strand hou, en strande bo berge verkies. Ek was te jonk om Maphumulo te onthou. Bloemfontein het my kom wys dat ek regtig nie van die winter hou nie. Amalienstein se sout-van-die-aarde-mense het my van goedhartigheid geleer. Port Elizabeth het my street smart gemaak. Ek moes byvoorbeeld met die skoolbussie by die skool kom, en as ek dié bus gemis het, was dit drie taxis van waar ek gebly het tot by die skool. En Stellenbosch. Ai Stellenbosch. My amper-alma mater.

Stellenbosch het my geleer dat ek ’n stem het, en ja dis 'n cliché, maar daai ding wat mense sê universiteit gee jou meer as net ’n graad – ’n ruggraat ook – is blerrie waar.

Nou is ek in Johannesburg. Ek sal maar sien wat hierdie stad vir my in stoor het.

My naam is Mercy Kannemeyer en ek kom van oral af. Die identiteitskrisis is vir eers verby. Hopelik. 


Die eerste afvallige

op die eerste vrydagaand
was daar ’n moerse office
party in die hemel. niemand
kan meer veel daarvan onthou
nie maar almal weet dat daar tequila
was en dat iemand met iemand
seks gehad het in ’n besemkas

daar is baie kak gepraat
om bakke vol kaaskrulle, die raad-
saal was ’n dansvloer en die CFO
het ’n rep gemoer. die sekretaresse
het doosdronk op ’n tafel uitgepass
en die bure het die cops gebel
om te kla oor die geraas

tot vandag toe wil niemand erken
dat dit hy was wat die knoppie gedruk het
toe god kaalgat en vrot van die drank
op die fotostaatmasjien gaan sit het nie

Lucifer is egter sonder uitbetaling
afgedank

– Bibi Slippers

(Uit: “Fotostaatmasjien"

♦  VWB  ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.