Spekskiet, koue en donkerte vir ontbyt

WOENSDAG MET PWILLEM

Spekskiet, koue en donkerte vir ontbyt

WILLEM KEMPEN wonder hoe naby Johannesburg aan breekpunt is, maar vind ook vreugde in 'n bietjie tinkerty tonk. Soos altyd is daar vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 07 Junie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Statistieke Suid-Afrika se syfers vir die eerste kwartaal van vanjaar wys dat die ekonomie met 'n skamele 0,4% gegroei het. Dit beteken die land is nie volgens die amptelike definisie in 'n resessie nie, maar van werklike groei en werkskepping is daar ook geen sprake nie.

2. Die burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda van Al Jama-ah, beplan om 2 000 “crime wardens" aan te stel om die stad se misdaadkrisis te probeer bestry. Gwamanda is tydens sy eerste (en heel moontlik ook laaste) stadsrede uitgejou toe hy die voormalige DA-geleide koalisieregering blameer het vir die stad se benarde finansiële posisie.

3. Tina Joemat-Pettersson, voormalige minister van energie wat Maandag in die ouderdom van 59 oorlede is, sou deur die parlement ondersoek word oor beweringe dat sy omkoopgeld gevra het van David Skosana, die man van die geskorste Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, om die ondersoek na haar geskiktheid vir die amp te laat “weggaan".

4. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het die SA Poskantoor tot 4 Julie grasie gegee voordat 'n beslissing geneem sal word oor moontlike sakeredding. Die Poskantoor is in Februarie in voorlopige likwidasie geplaas.

5. Pres. Cyril Ramaphosa sê hy sal self besluit oor Vladimir Putin se bywoning van die Brics-beraad in Augustus in Johannesburg. Ramaphosa sê hy besin nog oor die saak.


Daar is waarskuwings vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir die noordweste van die Wes-Kaap, suidweste van Noordwes, weste van die Vrystaat, ooste van die Noord-Kaap en noord-ooste van die Oos-Kaap. 'n Koue front sal ook vanaand die Weskus tref en temperature kan aansienlik daal in dele van die Wes- en Noord-Kaap. Mis kan vanoggend in die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga verwag word. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 21°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 25°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 25°C • Kimberley 26°C • Upington 26°C • Kaapstad 15°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | Dit word kouer en donkerder in die Goudstad

Die chaos met koalisies en die gevolglike ineenstorting van plaaslike regering in stedelike Gauteng het nou al só erg geword dat Ferial Haffajee gister in Daily Maverick selfs met 'n nuwe term vorendag gekom het: “This political experimentation with amateur politicians pushes Johannesburg, Tshwane and Ekurhuleni to micro-state failure quickly."

“Micro-state failure."

Terwyl die res van die land die afgelope twee dae 'n bietjie verligting van die afgelope weke se aanhoudende beurtkrag gehad het, het dinge in veral Johannesburg verder agteruitgegaan. Onderbrekings van langer as 12 ure op 'n slag is lankal nie meer uitsonderlik nie en in sommige plekke moet inwoners selfs vir dae sonder elektrisiteit klaarkom.

'n Groot persentasie van die stad se inwoners kry hulle elektrisiteit van City Power, en dié is besig om te swig onder die druk. 'n Woordvoerder het aan Haffajee gesê 4 000 onderbrekings word gemiddeld elke dag by City Power se oproepsentrum aangemeld – en dis veilig om te aanvaar baie mense doen nie eens meer die moeite om dit te probeer rapporteer nie.

“Our network is in a critical state, with the wear and tear increasing at a faster pace due to load shedding. We lose R3,6 million daily due to load shedding; most of it going to material needed, overtime for technicians, etcetera,” het die woordvoerder aan Haffajee gesê. 

Sowat 70% van die stad se substasies kan nie vanaf 'n sentrale punt aan- en afgeskakel word soos wat Eskom se beurtkrag-skedules vereis nie, wat beteken tegnici moet deur die reeds chaotiese verkeer sukkel om dit met die hand te gaan doen. En selfs as die krag aan is, is straat- en verkeersligte wat nie werk nie weens kabeldiefstal 'n algemene gesig.

Selfs hele substasies loop onder kabeldiewe en stropers deur. Pieter du Toit vertel gister op News24 wat in sy buurt gebeur het nadat die elektrisiteit ná beurtkrag nie weer aangekom het soos dit veronderstel was om te doen nie:

“Nicole van Dyk (DA), our councillor, sent a message along telling us a nearby substation had been raided during the night. And when I mean raided, I mean completely gutted. A video she circulated showed the empty shell of what used to be a substation. There was almost nothing left. Thieves literally took everything. All that was left was a shell."

Selfs in die Goudstad se middelklasbuurte is straatbetogings teen die verval nie meer 'n vreemde gesig nie – en dís die mense wat tot dusver die getrouste aanhou betaal vir dienste waarvan daar ál minder is.

Hoe ver is ons van breekpunt af?


Ek is nie die moer in nie, maar ook nie heeltemal daaruit nie

Ek wonder wat sou Pelham Grenville Wodehouse (1881-1975) gemaak het van die onlangse aankondiging dat nuwe uitgawes van sekere van sy boeke geredigeer is om sensitiewe moderne siele nie te ontstig nie:

“Please be aware that this book was [originally] published in the 1930s, and contains language, themes and characterisations which you may find outdated ... In the present edition, we have sought to edit, minimally, words that we regard as unacceptable to present-day readers.”

My raai is dat Wodehouse se reaksie 'n variasie sou gewees het op wat hy lank gelede oor apologieë te sê gehad het:

“It is a good rule in life never to apologize. The right sort of people do not want apologies, and the wrong sort take a mean advantage of them."

Wodehouse was g'n pleger van groot letterkunde nie. Jy moet hard soek na een of ander groot tema in sy werk, en sy karakters leef in 'n idilliese Victoriaanse rykmanswêreld waar hulle selde te staan kom voor 'n groter uitdaging as om te besluit watter das om na die Drones Club te dra. Tog tel van die beroemdste skrywers van sy eie tyd en vandag nog onder sy bewonderaars, insluitend Evelyn en Auberon Waugh. Laasgenoemde het oor hom gesê: “Wodehouse has been more read than any other English novelist by his fellow novelists."

Die Britse joernalis Nicholas Barber het in 2020 na Wodehouse verwys as “The man who wrote the most perfect sentences ever written". Een van Barber se eie gunsteling-paragrawe is Bertie Wooster aan die woord in Right Ho, Jeeves:

“‘Very good,” I said coldly. ‘In that case, tinkerty tonk.’ And I meant it to sting.”

En dan is daar die wonderlike karakter Psmith, die man wat 'n onuitgespreekte “P" vooraan sy naam gesit het om hom te onderskei van al die ander Smiths (“The ‘P' in his surname is silent, as in pshrimp").

Ons sal dalk nooit weet hoekom Rupert Psmith (wat in latere boeke Ronald Eustace Psmith geword het) uit Eton geskors is nie, maar ons sal Leave It to Psmith onthou vir aanhalings soos dié: 

“Love, Miss Halliday, is a delicate plant. It needs tending, nurturing, assiduous fostering. This cannot be done by throwing the breakfast bacon at a husband's head.”

As die Amerikaanse humoristiese tradisie geword het om 'n grap twee of drie keer te maak om seker te maak almal vang dit, dan was dit Wodehouse se styl om 'n grap net 'n halwe keer te maak. Dan kan jy jouself verbeel dis nét jy wat dit vang, soos in The Code of the Woosters (1938):

“He spoke with a certain what-is-it in his voice, and I could see that, if not actually disgruntled, he was far from being gruntled."

Wodehouse se werk het ook die geniale talente van die Britse akteurs Stephen Fry en Hugh Laurie bymekaargebring vir die TV-reeks Jeeves and Wooster. Een van Laurie se eie gunstelinge kom uit Mr Mulliner Speaking van 1929: “The drowsy stillness of the afternoon was shattered by what sounded to his strained senses like GK Chesterton falling on a sheet of tin.”

In ons eie tyd sou iemand dalk wou beweer dat Wodehouse hier aan body-shaming van die enigsins plomperige Chesterton skuldig sou wees, maar tot dusver lyk dit darem nog of die sensors daai een gaan laat staan.

Chesterton sou in elk geval van beter geweet het as om op 'n apologie aan te dring.


Hier is maar een van die gesprekke waarvoor jy NOU AL moet bespreek by ons VWB-Boekefees op Clarens - ons geliefde Hertzogpryswenner lees haar gedigte voor soos niemand haar dit kan nadoen nie.
Kliek hier vir die program en kliek hier om kaartjies te bespreek. 


VETMENSIE-VABOND

kyk vir Dik-dou-duine
wat sit tussen dors en klip
op sy doedel diedel dye
is strepies ingestik
dit maak dat hy nou
met nors doedel swye
heeldag op sy dikbek-lip bly sit

Antjie Krog, uit Vetplantfeetjies

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.