Goeiemôre!
1. Hier gaan ons alweer: ActionSA het 'n mosie van wantroue ingedien teen die onlangs aangestelde Johannesburgse burgemeester, Kabelo Gwamanda. ActionSA sê Gwamanda moet oop kaarte speel oor bewerings van bedrog teen hom.
2. Verskeie sakegroepe en politieke organisasies maak gereed om die omstrede Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming teen te staan. Die konsepregulasies stel rasseteikens vir elke provinsie waaraan maatskappye binne vyf jaar moet voldoen, hoewel dit onduidelik is hoe die voorgestelde wysigings in praktyk en in pas met die Grondwet afgedwing sal kan word.
3. Dit lyk of die Suid-Afrikaanse regering weer wil probeer om die Gupta-broers uit die Verenigde Arabiese Emirate uitgelewer te kry, maar dis nie duidelik of hulle wel in daardie land is nie. Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het vroeër vandeesweek met sy VAE-eweknie Abdullah Sultan bin Awad Al Nuaimi in Abu Dhabi oor die saak vergader, het eNCA berig.
4. Mondli Gungubele, minister van kommunikasie, sê Anoosh Rooplal het sy beskikbaarheid bevestig om toesig te hou oor die sakeredding van die SA Poskantoor. Rooplal is sedert 2018 verantwoordelik vir die likwidasie van die omstrede VBS Bank. Die staat wil hê die Poskantoor moet eerder in sakeredding geplaas word as om gelikwideer te word, en die kabinet steun 'n plan om van tot 7 000 poste ontslae te raak om sakeredding te laat slaag.
5. Die IMF waarsku in 'n jaarlikse verslag dat Suid-Afrika se ekonomiese en maatskaplike probleme aan die toeneem is. Die IMF sê swak groei, lae sake- en verbruikersvertroue en groeiende politieke risiko gaan dit vir die regering moeilik maak om die staat se finansies op 'n stabieler grondslag te plaas.
Daar is waarskuwings vir reën wat tot vloede kan lei in Stellenbosch en die omliggende areas, asook toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van die Vrystaat en Noordwes. 'n Koue front het vanoggend oor die Wes-Kaap begin beweeg. GeÏsoleerde buie kan verwag word in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap.
Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 15°C • Durban 25°C • Kimberley 18°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 27°C • Upington 18°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C.
Willem Kempen | Wat kan Zuma en Dali nou nóg doen om die gereg te dwarsboom?
Hier is 'n onverbeterlike wenk vir enigeen wat 'n hofsaak het om te wen: sorg net dat Dali Mpofu aan die ander kant is. Selfs nie Jacob Zuma se Stalingrad-strategie is meer opgewasse vir die konstante stroom dwase advies wat Mpofu skaamteloos aan hom opdis nie.
(Kan dit wees dat Mpofu eintlik die Nazi's se verloor-strategie in die Slag van Stalingrad volg, en nie die seëvierende Russe s'n nie?)
Die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg het gister Zuma se aansoek van die hand gewys om 'n privaat vervolging teen die staatsaanklaer adv. Billy Downer en die News24-joernalis Karyn Maughan in te stel. Die hof het Zuma boonop aangesê om benewens sy eie ook Downer en Maughan se regskoste te betaal.
Regter Paul Wallis was ondubbelsinnig in sy verwerping van die aansoek: “The respondent (Zuma) is interdicted and restrained from re-instituting, proceeding with, or from taking any further steps pursuant to, the private prosecution."
Die aansoek moes nooit gebring gewees het nie. Dit was van die begin af nie op goeie regspraak gegrond nie en het ook nie aan die tegniese vereistes voldoen nie. Geen ernstige kommentator het geglo dat daardie mediese dokumente op 'n onbehoorlike manier bekom of gepubliseer is nie. Die privaat vervolging van 'n joernalis en 'n staatsaanklaer op sulke twyfelagtige gronde is onversoenbaar met die idees van vrye spraak, 'n vrye media en die oppergesag van die reg.
Aan Karyn Maughan en News24: die land is julle dank verskuldig dat julle sterk gestaan het en nie toegelaat het dat Zuma julle intimideer en die aandag aflei van homself nie.
Niks behoort nou nog in die pad te staan van wat al jare gelede moes gebeur het nie: dat Jacob Gedleyihlekisa Zuma sélf in die beskuldigdebank staan en antwoord op die aanklagte van korrupsie teen hom.
En met 'n bietjie geluk sal sy regsverteenwoordiger op daardie heuglike dag die einste Dali Mpofu wees, want dan is die kans soveel beter dat geregtigheid uiteindelik sal geskied.
Die dag toe Oprah soos ’n vlakhaas weghol
Die dinge wat ons droom. Ek droom laasnag ek is per bus op pad na ’n bekendstelling van Oprah se nuwe boek in New York. Moenie vra watter boek nie, dit was ’n droom. Ek was nog nooit in die VSA nie en weet ook nie hoe ek dit nou kon bekostig nie, met die beroerde wisselkoers.
Ek is saam met ’n vriendin wat ook hartstogtelik lief is vir lees en altyd die hele wêreld ken. Ons klim af op ’n plein (dalk was dit Times Square, ek weet nie, dit was bietjie vaag) en my vriendin gewaar vir Oprah, wat sy natuurlik persoonlik ken. Oprah is slank en blink in ’n geel rokkie. Sy het pas vir haarself ’n boksie sjokolade in ’n bruinpapiersak gekoop, maar my vriendin gryp dit by haar: Nee, sy gaan dit eers mooi versier vir haar.
Maar toe Oprah weggestap het, besluit my vriendin nee wat, sy gaan liewer vir haar iets anders koop. Sy gooi die papiersak met die boksie sjokolade in ’n vullisblik. Nou staan ons in ’n ry by ’n kiosk wat geskenke verkoop, eerder as die ry om die venue in te gaan. Ek weet nie hoekom het ons nie opgesplit nie, maar ek dink ’n mens was bang jy vind mekaar nooit weer in so ’n skare nie.
Uiteindelik is ons voor en sy koop weer dieselfde boksie sjokolade wat sy weggegooi het, en ’n klompie kersies. Ook net so in die bruinpapiersak.
Ná wat soos ure voel, is ons amper reg om die venue in te gaan, saam met hordes en hordes mense. Maar nee, my vriendin gewaar weer vir Oprah, wat op die punt is om by ’n sydeur in te glip. Sy hardloop soos ’n wildsbok agter haar aan. My vriendin is nie regtig so ’n bakvissie nie, hoor. Sy haal die verbaasde, eintlik verskrikte Oprah in en stop die papiersak in haar hande.
Uiteindelik gaan ons ook in. Die plek lyk soos ’n reusekatedraal en dis volgepak. Ek dink wrewelrig: As sy nie so sterverskrik was nie, kon ons baie beter sitplekke gekry het. By die ingang waar Oprah in is, tussen die reling en die muur ingedruk, gewaar ek die bruinpapiersakkie met my vriendin se vergeefse offerhande.
Wat sou dit beteken? Volgens een skool van droomontleding is alle karakters in jou droom jyself. Ek is die boekliefhebber wat graag ’n goeie sitplek wou hê, ek is die bakvissie wat 'n glansgans agternasit met ’n ongewenste geskenk en ek is Oprah, wat bly is oor al die belangstelling, maar ook net uitgelos wil word en verkieslik nie agternagesit wil word deur ’n oorywerige fan nie.
So het die droom geëindig: Ons kry sitplekke ver agter in ’n sysaal waar ’n mens nie eens die podium kan sien nie. ’n Skare in rystoele word voor ons ingerol. En wat is die gedagte in my kop: Ek wou so graag vir Vrye Weekblad oor hierdie baie belangrike event skryf en nou kan ek net mooi niks sien nie.
Nou vertel ek julle maar van my droom.
Evening
Another word I love is the balance it implies, balance
being something I struggle with.
I suppose I would like to be more
a planet, turning in & out of light
It comes down again to polarities,
equilibrium. Evening. The moths
take the place of the butterflies,
owls the place of hawks, coyotes
for dogs, stillness for business,
& the great sorrow of brightness
makes way for its own sorrow.
Everything dances with its strict
negation, & I like that. I have no
choice but to like that. Systems
are evening out all around us—
even now, as we kneel before
a new & ruthless circumstance.
Where would I like to be in five
years, someone asks—& what
can I tell them? Surrendering
with grace to the evening, with
as much grace as I can muster
o the circumstance of darkness,
which is only something else
that does not stay.
- Jeremy Radin
Na hierdie gesprek sien ek baie uit. Het jy al bespreek vir ons eerste VWB-Clarens-boekefees? Kom kuier saam met legendes soos Antjie Krog, Max du Preez, Piet Croucamp, Anneliese Burgess, Francois Smith, Jolyn Phillips, Kirby van der Merwe, Pieter P. Fourie, Bibi Slippers en ander! Hier is die skakel na die program en hier kan jy bespreek.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.