Die filosofie van die alledaagse lewe

SALIGE SONDAG

Die filosofie van die alledaagse lewe

ANNELIESE BURGESS vind inspirasie in 'n boekwinkel in die stil Sondagstrate van Los Angeles se middestad en nuwe perspektiewe al dobberende in die vreemde.

Goeiemôre

Dit reën liggies toe ek Vrydagaand in New York land. My hotel lê agter 'n geel deur bedek met graffiti in 'n smal stegie in die Lower East Side. Dis al donker. Ek koop vir my 'n koue bier by die bodega op die hoek. Die tillslaner maak dit vir my oop en sit dit in 'n bruin papiersak. Ek drink my bruinpapier-bier op 'n parkbank terwyl die plataanbome vlae druppels van hulle takke afskud. Die metro grom onder my voete. 

Ek groet vanoggend vir oulaas uit Amerika. 

Bo: Die smal stegie met die anonieme ingang van my hotel in die Lower East Side in New York. Onder: boodskappe in hysbakke.
Bo: Die smal stegie met die anonieme ingang van my hotel in die Lower East Side in New York. Onder: boodskappe in hysbakke.

Verlede Sondag het ek die meeste van die dag in downtown Los Angeles verwyl. LA se ou stadskern herinner baie aan Johannesburg –trouens die hele stad herinner my aan Johannesburg. Dit het dieselfde uitgestrektheid en frenetiese pas, en die LA-middestad het 'n eenderse argitektoniese gevoel (die twee stede is binne twee dekades van mekaar gestig).

Daar is 'n ander ooreenkoms: LA se historiese middestad, net soos Jozi s'n, was in 'n stadium erg vervalle, maar het die afgelope paar dekades 'n groot herlewing ervaar. Dit was deels te danke aan wetgewing in 1999 wat dit makliker, vinniger en goedkoper gemaak het om ou kommersiële geboue in woonstelle en lofts te omskep. Die stad se geboue is vandag gepak met inwoners wat teruggekeer het uit die suburbs. En daar is winkels en restaurante en kroeë en kafees en skoon parke, alhoewel daar Sondae tog steeds 'n effe verlate melankolie aan die strate kleef.

Dit woel in The Last Bookshop wat meer as 250 000 nuwe en gebruikte boeke in 'n lieflike ou gebou huisves. Dit is ook 'n anneks vir rare kunsboeke, 'n kunsgalery en 'n massiewe aanbod viniel-musiekplate.

Die naam van die boekwinkel is 'n ironiese verwysing na die fisieke boekwinkels wat destyds, 19 jaar gelede toe The Last Bookshop oopgemaak het, soos dinosourusse begin uitsterf het met die meteoriese opgang van Amazon en e-boeke. Maar vandag staan die winkel nog sterk, en het dit gegroei tot een van die grootste onafhanklike boekwinkels in die wêreld.

Bo: The Last Bookshop in Los Angeles.
Bo: The Last Bookshop in Los Angeles.

Nuwe en tweedehandse boeke word saam uitgestal. In die poësie-afdeling snuffel ek Mary Oliver se New and Selected Poems (vir net $8!) raak. En Linda Pastan se bundel Aspects of Eve. In die imposante kosafdeling ontdek ek 'n kopie van Michael Ruhlman se 2010-meesterstuk, Ratio: The Simple Codes Behind the Craft of Everyday Cooking. Sowaar vir net $5.

Vir David Remnick se Pulitzer-pryswenende Lenin's Tomb: The Last Days of the Soviet Empire betaal ek volprys. En so ook vir vir Alain de Botton se The Art of Travel.

De Botton is 'n filosoof en skrywer van meer as 10 versamelings essays oor “the philosophy of everyday life".

The Art of Travel bied 'n filosofiese blik op reis “vir plesier", met gedagtes oor lughawens, landskappe, museums, vakansieromanse, foto's, eksotiese matte en die inhoud van hotelle se minikroegyskaste.

Ek begin dit net daar in die winkel al verslind, op 'n ou leerbank in 'n hoek.

“Journeys are the midwives of thought. Few places are more conducive to internal conversations than a moving plane, ship or train. There is an almost quaint correlation between what is in front of our eyes and the thoughts we are able to have in our heads: large thoughts at times requiring large views, new thoughts new places. Introspective reflections, which are liable to stall, are helped along by the flow of the landscape. The mind may be reluctant to think properly when thinking is all it is supposed to do.”

“At the end of hours of train-dreaming, we may feel we have been returned to ourselves – that is, brought back into contact with emotions and ideas of importance to us. It is not necessarily at home that we best encounter our true selves. The furniture insists that we cannot change because it does not; the domestic setting keeps us tethered to the person we are in ordinary life, but who may not be who we essentially are.”

“If we find poetry in the service station and motel, if we are drawn to the airport or train carriage, it is perhaps because, in spite of their architectural compromises and discomforts, in spite of their garish colours and harsh lighting, we implicitly feel that these isolated places offer us a material setting for an alternative to the selfish ease, the habits and confinement of the ordinary, rooted world.”

De Botton vang iets vas waarvoor ek nie dieselfde elegante woorde het nie, maar ek kan wel sê dat ek met die afgelope vier weke se omswerwinge 'n ou ewewig begin voel het wat vir 'n lang tyd afwesig was. Dit was hierdie week die eerste jaarherdenking van my ma se dood, en ek het hier, dobberend in die vreemde, gevoel hoe, soos De Botton dit stel, ek begin terugkeer na myself. Dít is die wonder van reis – die ruimte wat dit vir nuwe perspektiewe skep.

Ek gaan nou opsuiker na Russ and Daughters vir 'n lox bagel, en dan 'n park soek om die vet Sondagse New York Times te verslind. Môre, een vergadering. En dan huis toe.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag.

Anneliese

NS: Aanbevelings kom volgende week weer wanneer ek, en my kop, terug is by die huis.


The Birds

are heading south, pulled
by a compass in the genes.
They are not fooled
by this odd November summer,
though we stand in our doorways
wearing cotton dresses.
We are watching them

as they swoop and gather—
the shadow of wings
falls over the heart.
When they rustle among
the empty branches, the trees
must think their lost leaves
have come back.

The birds are heading south,
instinct is the oldest story.
They fly over their doubles,
the mute weathervanes,
teaching all of us
with their tail feathers
the true north.

–  Linda Pastan: uit The Imperfect Paradise


Luister ...


Lees vir jouself

WILLEM KEMPEN | Wie is Nicolás Maduro

ALI VAN WYK |
Gayton: Van mampara tot madala?

ANNELIESE BURGESS | Ervaar 'n Amerikaanse diner

KERNEELS BREYTENBACH | Boeke: kortkuns en 'n skarminkel

LAUREEN ROSSOUW| 15 Vrae vir Jeanette Ferreira-Van Jaarsveld


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.