Nasionalisering van die Reserwebank: Dit het álles met die...

POLEMIEK

Nasionalisering van die Reserwebank: Dit het álles met die prys van eiers uit te waai

Devaluasie van ʼn geldeenheid gaan oor meer as net finansiële verlies. Dit laat ook vertroue, identiteit en menswaardigheid kwyn. Dís hoekom dit so belangrik is dat die Reserwebank onafhanklik bly, verduidelik NICOLAAS HANEKOM. Want wanneer ’n geldeenheid misluk, word die koste gemeet aan die getal lyke wat agtergelaat word.


EKONOMIESE aktiwiteit berus op handel tussen mense wat mekaar nie ken nie. ’n Dokter studeer jare lank en lewer dan dienste aan onbekendes. Die ekonomiese stelsel berus dus op vertroue.Mense aanvaar geld in ruil vir hul arbeid. Die waarde wat mense aan mekaar se dienste heg, word met geld gemeet.Geld is dus die maatstaf van waarde, asook die maatstaf van vertroue. Geld is die boodskapdraer van die wedersydse behoeftes van vreemdelinge. Naas taal is geld die belangrikste vorm van kommunikasie.Wanneer die waarde van die geldeenheid dus weggekalwe word, word onderlinge vertroue in die gemeenskap ook weggekalwe. Die vernietiging van die koopkrag van die geldeenheid is dan ook die grootste katastrofe wat ’n land kan tref.Nie alleen word die ekonomie en die spaargeld van inwoners vernietig nie, die onderlinge vertroue en samehorigheid in die gemeenskap word terselfdertyd vernietig.“Die geldeenheid is meer as ’n agent in ekonomiese aktiwiteite; dit vorm ook die manier waarop mense dink, hoe hulle sin maak uit hul werklikheid, hoe hulle kommunikeer, en ook hoe hulle hul plek in die moderne samelewing vind,” sê die skrywer Bernd Widdig.Inkomste en identiteitDit is normaal dat ’n mens trots is op sy salaris en sy bates. Reg of verkeerd, ons koppel onbewustelik ons identiteit en menswaardigheid aan ons inkomste, spaargeld en bates. Nou kan ons verstaan waarom die identiteit, selfbeeld en menswaardigheid van inwoners vernietig word wanneer die geldeenheid se waarde vernietig word.Populistiese aksies van regerings lei dus tot baie meer as slegs die devaluasie van die geldeenheid. Wanneer die waarde van die geldeenheid vernietig word, dan word vertroue en respek vernietig. Die verlies aan vertroue en samehorigheid in ’n gemeenskap veroorsaak dan dat gemeenskappe teen mekaar in opstand kom.
Dit is menslik om iemand anders te blameer vir jou skielike armoede as jy dit nie self veroorsaak het nie. Omdat minder as een uit ’n duisend mense die konsep van devaluasie verstaan, soek almal iemand om vir die stygende lewenskoste te blameer. Onder sulke omstandighede val die blaam onafwendbaar op ’n minderheidsgroep.
Die geskiedenis is besaai met die “begraafplase” van mislukte geldeenhede. Wanneer ’n geldeenheid misluk, word die koste gemeet aan die getal lyke wat agtergelaat word.
In die tyd van die keiser Nero was Christene die minderheidsgroep wat geteiken is toe die denarius gedevalueer was. Gedurende die Middeleeue het meer hekse op die brandstapel gesterf tydens tydperke van hiperinflasie.
Die Franse Revolusie, waar 17,000 mense op die guillotine gesterf het, en die dood van 6 miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog was van die katastrofiese gevolge van hiperinflasie.
Elias Canetti, aan wie in 1981 die Nobelprys vir Letterkunde toegeken is, het in ontstellende detail geskryf oor die effek wat die hiperinflasie gedurende die 1920’s in Weimar, Duitsland, op sy gemeenskap gehad het. “Die man wat gewoond was aan die waarde van die geldeenheid kan nie anders as om die devaluasie daarvan persoonlik aan te trek nie. Hy het homself vir baie lank daarmee vereenselwig, en die vertroue in die geldeenheid was soos sy vertroue in homself. Sy selfbeeld en identiteit word saam met die waarde van die geldeenheid vernietig.”
Vernietig sonder reperkussies
Verder beskryf Canetti hoe gewone middelklas-burgers die skielike devaluasie van sy menswaardigheid ervaar.
“Die persoon soek dan na iemand wat hy kan blameer, wat minder werd is as hyself, wat hy kan verafsku soos wat hy homself verafsku. Hy soek na iets wat hy met soveel minagting kan behandel dat dit minder en minder werd word, soos wat met die geldeenheid gebeur het. Hierdie proses moet voortduur totdat die voorwerp heeltemal waardeloos is. Dit is dan ook hoe die Duitsers die Jode behandel het. Hulle is behandel asof hulle plaagdiere was en miljoene is vernietig sonder reperkussies.”
Friedrich August von Hayek, skrywer van The Constitution of Liberty en medewenner van die Nobelprys vir Ekonomiese Wetenskappe in 1974, het na aanleiding van die Holocaust geskryf: “Die mense wat nie besef dat anti-Semitisme en antikapitalisme dieselfde oorsprong het nie, verstaan nie wat daar gebeur het nie.”
Noudat ons die vernietigende effek van devaluasie, of hiperinflasie, op die psige van inwoners verstaan, kan ons weer vra wat “die onafhanklikheid van die Reserwebank met die prys van eiers uit te waai het”.
Vanuit die ANC en die EFF is daar ’n geweldige aanslag teen die Reserwebank.
Die ANC het ’n kongresbesluit geneem dat die Reserwebank genasionaliseer moet word. Die huidige (onbekwame) Openbare Beskermer het aanbeveel dat die Reserwebank se beleid die armes meer moet bevoordeel.
Toe Des van Rooyen as Minister van Finansies aangestel was, het hy in sy toespraak gesê: “Ons moet die staatskas deursigtig maak en dit toeganklik vir die mense maak.”
Tydens die VBS-skandaal het die EFF die Reserwebank daarvan beskuldig dat hulle teen “swart uitnemendheid” diskrimineer. Na aanleiding hiervan het Lesetja Kganyago, die prysenswaardige president van die Reserwebank, gesê: “Rassepolitiek is die laaste wegkruipplek van die skurk!”
Ons moenie die fout maak om te dink dat die EFF en die ANC die belange van die armes op die hart dra nie. Dit gaan hier suiwer oor die begunstigdes van SEB-kontrakte wat meer geld uit die staatskas soek. Hierdie kaders met politieke kontakte soek ’n manier om die waarde van die geldeenheid onder ons neuse te steel.
Die koopkrag van die geldeenheid is ’n gemeenskaplike bate; dit behoort aan ons almal. “Die tragedie van die gedeelde” beskryf hoe die mees gewetenlose individue die hulpbron tot nadeel van die gemeenskap uitput.
Die verval van munisipale infrastruktuur en die haglike finansiële posisie van die staatsinstellings, waaronder Eskom, is voorbeelde van hoe kaders hulself tot nadeel van die land verryk.
Wanneer die bronne by hierdie instellings binnekort opdroog, sal die Reserwebank en die koopkrag van die geldeenheid die teiken word vir die verdere voortsetting van die plundertog.
Politieke inmengingDit is dan waarom die Reserwebank onafhanklik van politieke inmenging moet wees. Dit is van die uiterste belang dat ons as burgers die media, en veral die dapper ridders van ondersoekende joernalistiek, ondersteun en aanmoedig.
Daar is baie op die spel.Indien die internasionaal hoogs gerespekteerde president van die Reserwebank sneuwel, sal elkeen van ons die prys betaal.Indien ons ’n situasie soos in Venezuela of Zimbabwe beleef, sal 18 eiers binne 12 maande R300,000 kos. Iemand wat R10 miljoen in sy pensioenfonds gespaar het, sal kan bekostig om vir 12 maande drie eiers per dag te eet voordat sy pensioenfonds uitgeput is.Dít is wat die onafhanklikheid van die Reserwebank met die prys van eiers te doen het.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.