DIE “oorsigtelike uitwerking” is iets wat nog net enkele mense ervaar het.
Dis die gevoel van verwondering wat baie ruimtevaarders beleef wanneer hulle die aarde se atmosfeer verlaat en terugkyk na die blou en wit rots wat deur die duisternis voortwentel, en besef: Dís ons tuiste. Dis dit. Daar is nêrens anders om heen te gaan nie.
Dit is ook wat die Nasa-ruimtevaarder William Anders beskryf het toe hy die beroemde Earth Rising-foto in 1968 geneem het. Hy het uit die ruimte teruggekeer nie net met ’n diepgesetelde gevoel van konneksie met die aarde nie, maar ook met ’n dringende besef van die noodsaaklikheid dat ons beter na ons enigste tuiste moet omsien.
Anders se foto is een van die belangrikste oomblikke in die mensdom se pogings om ons spesie se bestaan op hierdie planeet te dokumenteer. Die waarheid tref ons soos ʼn vuishou: Ons is maar een spesie in ’n komplekse web van lewe.
Dit is veral aangrypend op ’n tydstip dat ons, soos die skrywer Richard Powers dit in The Overstory stel, die helfte van die planeet in ’n fabriek omskep het ten einde ’n enkele spesie te onderhou. Dit lyk al hoe meer asof ons ons eie uitsterwing gaan veroorsaak met die idee dat die planeet nie veel meer is as ’n poel van hulpbronne om te onttrek, of ’n enorme stortingsterrein vir ons afval nie.
’n WekroepOns het ’n kollektiewe ervaring van die oorsigtelike uitwerking nodig. Nie net ’n oproep om ons waardestelsel oppervlakkig te verander nie. Dis ’n wekroep dat ons die politieke ekonomie in sy totaliteit moet verander ten einde die onwrikbare wetenskaplike feit te weerspieël dat ons oorlewing deur die wette van die natuur ondervang word. Ons hoef nie in swaartekrag te glo nie; die appel gaan in elk geval op ons val.Woude wat suurstof sirkuleer, sypelwater wat gefiltreer word, insekte wat bestuif, groen sones wat ons teen hitte en storms beskerm, voorspelbare kouefront-weerstelsels, diverse genepoele, lewende grond: alles dinge wat nie bloot lekker is om te hê nie; ons voortbestaan hang daarvan af.
Dis regtig tyd vir paniek, soos die Sweedse skoolmeisie-aktivis Greta Thunberg se plakkate dit stel, want ons tuiste ís aan die brand. Dit brand met die momentum wat oor drie eeue van ekstraktiewe nywerheidskapitalisme opgebou is. Ons gaan dit nie maklik stadiger laat brand nie. Dalk is dit reeds te laat.
’n Dekade is ’n blote oogwink in die tydspan van die menslike verhaal, maar as die Amerikaanse joernalis David Wallace-Wells se boek The Uninhabitable Earth nie vanjaar nie, maar tien jaar gelede verskyn het, sou hy soos ’n waansinnige doemprofeet geklink het. In die boek wys hy hoe ons die mate onderskat het waarin ekonomiese ekstraksie die afgelope 300 jaar die hitteruiling tussen die aarde se atmosfeer en oseane verander het, en hoe dit die klimaat laat verval het in ’n toestand wat buite die bestek val van dit waarin menslike “beskawing” ontwikkel het.
Wetenskaplike konsensus
Die skrilheid van Wallace-Wells se boodskap word nou deel van die hoofstroom. Sommige waarnemers aan die voorpunt van navorsing oor klimaatsverandering reken ons kan oor so min as 12 jaar van nou af reeds die ineenstorting van samelewings begin beleef.
Hierdie sienings kry houvas nie net omdat hulle die grootste skares met die sappigste oordrywings of oortuigendste retoriek lok nie, maar omdat die wetenskaplike konsensus besig is om te korrigeer ten einde ’n beter weerspieëling van die data te wees.
Elke sewe jaar publiseer die Verenigde Nasies se interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) ’n lywige maar omvattende oorsig van die skaal van klimaatsveranderende koolstof-emissies. Dit gee ’n samevatting van die gevolge daarvan vir ons omgewing, samelewing, ekonomie en gesondheid.
Dit probeer om ’n aanduiding te gee van hoe die situasie gaan eskaleer as ons ekonomie soos normaalweg aangaan, en met hoeveel ons koolstof-emissies sal moet verminder as ons wil verhoed dat klimaatsineenstorting onvermydelik word.
Die wetenskaplike portuuroorsigproses waaraan hierdie publikasie onderwerp word, is waarskynlik van die strafste wat daar is. Tog wys al hoe meer wetenskaplikes daarop dat die verslae se gevolgtrekkinge versag word ten einde politieke ongemak of ontsteltenis onder die publiek te vermy.
Wallace-Wells se The Uninhabitable Earth is deur ’n internasionale uitgewer goedgekeur, en sy boodskap is nou deel van die hoofstroom. Hoewel hy in sommige kringe gekritiseer word vir sy gebruik van hiperbool, is daar ander wat soos hy aanvoer dat ons veel nader is aan klimaatsineenstorting as wat die IPCC bereid is om in sy verslae toe te gee. Een van diegene is prof. Jem Bendell van die University of Cumbria se Institute for Leadership and Sustainability.
Tyd om die reëls te verbreek?Bendell het in 2018 ’n navorsingsverslag van 34 bladsye aan die Sustainability Accounting, Management and Policy Journal gestuur. Daarin omskryf hy waarom die samelewing in die nabye toekoms weens klimaatsverandering in duie kan stort. Die vaktydskrif se oorsiggroep het die studie vir publikasie afgekeur uit vrees vir die potensiële “emosionele impak” wat dit sou kon hê.Bendell se reaksie was die akademiese ekwivalent van wat Thunberg gedoen het toe sy verseg het om terug te gaan skool toe totdat iemand haar klimaatboodskap ernstig opneem. Hy het protokol verbreek deur sy studie aanlyn te publiseer sonder dat dit deur ’n portuurgroep hersien en goedgekeur is.
Die studie, getiteld Deep Adaptation: A Map for Navigating Climate Tragedy, het blitsig op die internet versprei en in die proses aan die Deep Adaptation-beweging geboorte gegee.
In die studie bied Bendell ’n “konseptuele padkaart” vir hoe die samelewing behoort te reageer as ons eers aanvaar het dat dinge veel erger is as wat ons vroeër geglo het. Pleks daarvan om te fokus op die vermindering van koolstof-emissies, gaan “diepgaande aanpassing” daaroor om op plaaslike vlak met gemeenskappe saam te werk om te sien hoe ons die ekonomiese, politieke, maatskaplike en omgewingskokke kan absorbeer wat ons al hoe meer gaan tref.
Indien klimaatsverandering reeds in ons leeftyd die ineenstorting van die samelewing gaan veroorsaak, sal dit nie wees soos ’n pes wat uitbreek en op een slag oor die planeet spoel nie, of dat die lyke van afgemaaide mense soos in een of ander apokaliptiese fliek in die strate lê nie.
Só gaan dit lykNee, dit gaan lyk soos toe Kaapstad se water amper opgeraak het, met die gevolg dat die rioolwerke tot stilstand kom, siektes begin uitbreek, mense oor water slaags raak en die ekonomie tot stilstand kom.Of soos Knysna, waar ’n veldbrand woonhuise in ’n oogwink afgebrand het, of soos toe 90% van Beira deur sikloongedrewe vloedwater oorspoel is. Of soos die lamlendige bootjies waarop vlugtelinge uit Noord-Afrika oor die Middellandse See gevlug het, met dié wat gelukkig genoeg was om dit te oorleef wat hulle toe vasgeloop het in reaktiewe Europese nasionalistiese politiek.
Of soos die burgeroorlog in Sirië, wat begin het weens droogte en politieke spanning lank voordat die Tunisiër Mohamed Bouazizi die Arabiese Lente ontketen het deur homself aan die brand te steek.
Die verhaal van klimaatsverandering strek oor veel langer as die politieke verkiesingsiklus. Dit strek oor veel langer as die drie dekades waarin Suid-Afrika probeer herstel het van geslagte van ekonomiese ekstraksie onder koloniale en apartheidsbewind, ten koste van die meerderheid en ten bate van die minderheid. Dit strek ook oor veel langer as die lewe van enige enkele individu.
Die Klub van Rome se beroemde woorde – dat ons nie oneindige groei op ’n eindige planeet kan hê nie – het in 1972, die jaar waarin ek gebore is, oral begin weerklink. Tog, bykans ’n halfeeu later, het ons politieke ekonomie steeds nie hierdie fundamentele waarheid geïnternaliseer nie.
Bendell, Wallace-Wells, Thunberg en skrywers soos Powers is reg. Dis tyd om paniekerig te raak, want ons lewe hang daarvan af.
Ons kan nie ontsnap aan die natuurwette nie. Dis tyd dat ons openbare gesprekke, aktivisme, en kiesersgedrag daarop aandring dat ons politici en groot maatskappye – dikwels van die grootste omgewingsoortreders – met uiterste dringendheid optree.
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.