Kom ons span die natuur in teen klimaat se aanslag!

ONS IS NIE HULPELOOS NIE

Kom ons span die natuur in teen klimaat se aanslag!

Ons kan nie ontsnap aan die gevolge van klimaatsverandering nie, maar ons kan natuurlike “lugsakke” in ons woonbuurte inbou. Dít sal help om die skok van hittegolwe, storms, droogtes, brandtyd en vloedgolwe te absorbeer, skryf LEONIE JOUBERT.


DIT het 'n helse stryd van 17 jaar gevat om te keer dat 'n winkelsentrum in Princessvlei in Grassy Park, Kaapstad, gebou word. Buiten 'n paar van die plaaslike koerante het dit nie juis die voorblaaie gehaal nie.
Maar die gemeenskapsaktiviste en stadsraad het eindelik 'n ooreenkoms bereik dat die raad die vlei, wat erg agteruitgegaan het, sou herstel. Boonop sou geen verdere ontwikkeling toegelaat word nie.
En dié ooreenkoms was van nasionale belang.
Om vleilande en ander groenstroke in ons stede te bewaar, beteken nie daar word na die pype gedans van 'n paar voëlkykers en naweek-piekniekgangers nie. Die beskerming van Princessvlei was 'n oorwinning – al was dit hoe gering – in die stryd teen “die dood wat deur 'n duisend snywonde veroorsaak word”.
Selfs al lyk dit niksbeduidend, dra elke besluit op plaaslike vlak om 'n geplaveide winkelsentrum of behuisingsontwikkeling in 'n natuurgebied te bou, by tot die stadige wurgdood van natuurstelsels wat gemeenskappe kan beskerm teen klimaatskokke.
Wanneer 'n hittegolf 'n stad tref, sal groenstroke soos die herstelde vleiland in Makhaza in Khayelitsha, die Philippi-tuinbougebied op die Kaapse Vlakte of Princessvlei help om temperature in die nabyheid laer te hou as die hitte-eilande van geteerde parkeerareas of middestede vol wolkekrabbers.
Wanneer stormgetye die skiereiland tref, sal die rotsstrande van Oudekraal of Muizenberg se duine eerder die geweld van die golwe weerstaan as die sementpromenades langs die kus.
Wanneer dit brandtyd in Kaapstad is – die somer se dodelike kombinasie van lae humiditeit, versengende hitte en 'n loeiende suidoostewind – sal stroke natuurlike plantegroei en bome 'n teenvoeter wees vir die omstandighede wat brande in informele nedersettings so verwoestend maak.
En wanneer dit winter word en die swaer reënstorms begin, sal die gras-weikampe in Philippi help om die water op te dam, vloede vertraag en die water dan na ondergrondse reservoirs laat deursypel. In die somer kan dié water weer gebruik word.
Die droogte laas jaar, wat veroorsaak het dat Kaapstad se damme amper opdroog, was die ergste wat opgeteken is in meer as 'n eeu. Niemand het dit sien kom nie – of voorspel dit sou bykans drie jaar lank aanhou nie. Terwyl die stad ingenieurs aangesê het om maniere te vind om watervoorrade aan te vul sodat 'n soortgelyke krisis afgekeer kan word, het bewaringskundiges daarop gewys dat indringerbome in die stad se belangrikste water-opvangsgebiede 'n hele twee maande se watervoorraad op 'n slag opslurp.
Om ontslae te raak van hierdie dorstige bome en die reën-opvanggebiede te herstel, sal 'n beter belegging wees as om ontsoutingsaanlegte te bou of boorgate vir algemene gebruik te dril.
Hierdie stelsels is nie bloot “lekker om te hê” nie; hulle is noodsaaklik om ons gemeenskappe gesond en gelukkig te hou.
Ons is nie hulpeloos nie
Dit word al meer algemeen aanvaar dat klimaatineenstorting onvermydelik is. Baie mense wat aan die voorpunt is van pogings om klimaatsverandering teen te werk, is bekommerd dat die meeste van ons net ons skouers gaan optrek omdat dit voel asof daar geen hoop is nie.
Dieselfde geld waarskynlik baie mense se gevoel van hulpeloosheid in Suid-Afrika. Is daar enigiets wat ons kan doen as korrupsie die biljoene rande gesluk het waarmee skole gebou moes word, wat ons elektrisiteitsnetwerk aan die gang moes hou, informele behuising moes verbeter en ons hospitale moes voorsien van goed opgeleide mense, voorrade en medisyne? Wat doen ons as 'n dekade van staatskaping die instellings wat juis korrupsie moes voorkom, uitgehol het?
Die droogte in Kaapstad gee ons 'n idee van hoe klimaatineenstorting op globale vlak sal lyk, waar alledaagse ontwikkelings- en stadsbestuurskwessies bots – en omgewingskokke tot gevolg het. Tot onlangs het dit gevoel soos 'n probleem wat 300 jaar lank al gloei. Nou weet ons dit is 'n grasbrand – en dit lyk of dit buite beheer is.
Elke oorwinning tel
Op die oog af is die herstelwerk aan die Makhaza-vlei in Khayelitsha ook nie nuuswaardig nie, maar dit is net so belangrik as die Princessvlei-sege. 'n Groep vroue was moeg daarvoor dat 'n nabygeleë vlei toegegooi is deur bourommel en gemors. Uitheemse plante het dit toegegroei. Dit was vuil en bloot 'n bymekaarkomplek vir leeglêers en kwaaddoeners.
Hulle het dus saam met die stadsraad en 'n paar ander bereidwillige organisasies, aan die werk gespring om die bosse uit te kap, ontslae geraak van die bourommel en gemors, en grasperke en blombeddings geplant.
Nou het hulle “hul eie Kirstenbosch”.
Hul sukses was nie net dat om ontslae te raak van 'n misdaadnes of om 'n gawe plek te hê waar die gemeenskap kan bymekaarkom nie. Hulle het nog 'n klimaatskok-lugsak geskep - en dít in 'n gemeenskap wat minder hulpbronne het en dus reeds meer kwesbaar is vir ekstreme voorvalle as die spogwoonbuurte.
Hierdie oorwinnings herinner ons dat ons binne ons gemeenskappe – en binne ons invloedsfere – 'n impak kan hê op die spasie om ons sowel as die beleidsrigtings wat sal bepaal hoe aanpasbaar ons stede, landelike gebiede en woonbuurte gaan wees.
Stadsrade en politici is pal onder druk om die agterstand in behuisings-  en diensleweringsbehoeftes in te haal. Hulle moet besluite neem oor beplanning wat werkgeleenthede sal skep en ekonomiese groei sal bevorder. 'n Mens kan dus verstaan waarom hulle oop stukke onbenutte grond beskikbaar stel vir ontwikkeling.
Die waarde daarvan kan in kommersiële en politieke terme gemeet word: die huur- en belastinginkomste uit 'n nywerheidsontwikkelinggebied is baie makliker om op 'n balansstaat te wys as die voordele van 'n vlei of bebosde groenstrook wat die impak van 'n hittegolf of vloed teëwerk.
Ons moet vra hoe ons ons somme maak.
Wanneer 'n vleiland of bos of stuk veld eers onder 'n stootskraper deurgeloop het en met beton bedek is, is daar geen omkeerkans nie. Elke besluit oor plaaslike hersonering of ontwikkeling, ongeag van hoe onbeduidend dit mag voorkom,  moet dít in gedagte hou.
Ondanks die feit dat dit onvermydelik is dat die klimaat in duie gaan stort, of dat die staat in Suid-Afrika op soveel vlakke misluk, is ons nie magteloos nie.
Ons moet binne ons eie woonbuurte skouer aan die wiel sit en betrokke raak by enige pogings wat help om die omgewing in stand te hou en soos wat dit in die Grondwet omskryf is: een wat nie skadelik is vir ons gesondheid of welsyn nie; een wat beskerm word tot voordeel van huidige én toekomstige geslagte. 
Dít kan beteken 'n mens moet deelneem aan vakbonde se optogte teen nywerheidslugbesoedeling wat die longe wegvreet, of saam met skoolkinders betoog vir 'n laekoolstof-ekonomie. Dit kan ook net wees om te 'n rivier saam met 'n plaaslike gemeenskapsgroep skoon te maak, of daarop aan te dring dat 'n stad nie 'n rivier in 'n sementkanaal dwing nie.
Elke nietige oorwinning is 'n manier om die dood deur 'n duisend snywonde te vermy.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.