Renosterhoring en die Viëtnamese: ʼn Kuur vir babelas, jig en...

STOP DIE STROPERS

Renosterhoring en die Viëtnamese: ʼn Kuur vir babelas, jig en vertroosting vir sterwendes

Viëtnam is een van die wêreld se grootste verbruikers van renosterhoring, en blykbaar is die gebruikers nie gepla oor die tragiese lot van wilde renosters nie. VU HOAI NAM DANG en MARTIN REINHARDT NIELSEN was deel van 'n navorsingspan wat probeer uitvind het waarom renosterhoring so gewild bly in dié land.


VERLEDE jaar in Afrika is 1,100 renosters deur stropers doodgemaak. En vandag is daar slegs sowat 29,500 wêreldwyd oor. Die gebruik van renosterhoring deur Viëtnamese dra aansienlik by tot die stroop van wilde renosters.
Daar is al baie gedoen om die vraag na renosterhoring in Viëtnam te verminder. In 2015 het die land se regering meer sanksies ingestel op die onwettige handel en gebruik van renosterhoring. En bewaringsorganisasies probeer deur ’n verskeidenheid veldtogte om Viëtnamese verbruikers oor die stropingskrisis in Afrika in te lig, asook oor die nutteloosheid van renosterhoring as medisyne.
Ons navorsing toon mense gebruik dit hoofsaaklik om mediese redes, en ook as ’n statussimbool. Dit word egter meesal benut om ’n babelas te behandel. Dan word dit ook gebruik ter ere van familielede met ongeneeslike siektes.
Ons het gevind dat mense die horing van ’n wilde renoster bo dié van geteelde diere verkies. En dat hulle nie gepla is oor die stigma rondom die gebruik van renosterhoring, of hulle steur aan kwynende renostergetalle nie.
Aangesien mense se sienings oor renosterhoring so sterk gevestig is, sal die vraag daarna heel moontlik ook nie verminder nie. Ons hoop dat hierdie bevindinge toekomstige bewaringsveldtogte positief sal beïnvloed deur te fokus op die redes vir die gebruik van renosterhoring en die waardes wat daarmee verband hou.
Gesondheid en welvaart
Ons het onderhoude gevoer met 30 selferkende onlangse verbruikers van renosterhoring, asook een renosterhoring-handelaar. Hulle is in die hoër inkomstegroep in die Viëtnamese hoofstad, Hanoi.
Uit ons onderhoude het geblyk dat mense renosterhoring vir verskeie kwale gebruik, waaronder babelas, koors en jig, potensieel ongeneeslike siektes soos kanker, en beroerte. Sommige het ook renosterhoring aan dodelik siek familielede gegee om hulle te troos en te wys dat alles moontlik gedoen is om hulle te help.
Ons bevindings bevestig die diepgewortelde geloof onder mense in Viëtnam dat renosterhoring magiese helingskragte het. Dit word ook as statussimbool beskou. Verbruikers vertel hulle deel dit in sosiale en professionele kringe om met hul rykdom te spog en om sakebande te versterk. ’n Hele renosterhoring as geskenk is ook ’n manier om gunste van invloedryke mense te bekom.
Stigma en regsgevolge
Daar is geen stigma verbonde aan die gebruik van renosterhoring in Viëtnam nie. Verbruikers met wie ons onderhoude gevoer het, is nie bekommerd oor die stropery en die afgryslike lot van renosters nie. Hulle sien die uitwissing van renosters in Afrika as ’n geringe kwessie – iets wat ver weg en buite hul invloed gebeur omdat hulle nie self die renosters doodmaak nie.
Hulle bekommer hulle ook nie oor die regsgevolge van die koop daarvan nie. Strafreg in Viëtnam verbied die onwettige handel en gebruik van renosterhoring. Maar die meeste mense glo die polisie sal hulle nie aan die gebruik van renosterhoring steur nie, en dat wetstoepassing slegs op onwettige handel van groot hoeveelhede daarvan fokus. Hulle is helaas nie ver verkeerd nie.
En dis nie net verbruikers wat hulle nie hieroor bekommer nie. ’n Voormalige renosterhoring-handelaar sê die moontlike wins uit die bedryf is baie groter as die risiko’s daaraan verbonde.
Inligtingsveldtogte
Die bevindinge werp ook nuwe lig op hoekom huidige veldtogte teen die koop van renosterhoring nie werk nie. Die veldtogte is geneig om op die lot van renosters te fokus, en dat renosterhoring geen medisinale waarde het nie, of dit beklemtoon die regsgevolge van die koop daarvan. Sekere veldtogte vergelyk ook renosterhoring met mense-naels (aangesien albei uit keratien bestaan).
Uit die navorsing is dit duidelik dat geen van die bogenoemde argumente kopers van renosterhoring gaan oortuig nie. Boonop is dit insiggewend dat gebruikers wilde horing verkies, gesien in die lig van voorstelle dat beheerde wettige handel renosterstropery sal verminder. Sulke handel sal heel moontlik juis die vraag na gestroopte renosterhoring vergroot.
Ons hoop ons insigte sal tot veldtogte lei wat mense se gedragspatrone sal help verander; veldtogte wat beter inligting bied oor die waardes rondom renosterhoring-gebruik wat op die mees algemene tipes verbruikers gemik is. Ons is tans besig met ’n studie oor of die wettiging van handel in renosterhoring ’n moontlike oplossing vir die stroperskrisis sal bied.
 

Vu Hoai Nam Dang is ʼn doktorale student met ʼn navorsingsbeurs aan die Universiteit van Kopenhagen. Martin Reinhardt Nielsen is ʼn medeprofessor aan die Universiteit van Kopenhagen.
Hierdie artikel kom uit www.theconversation.com

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.