Bewaring van Botswana se jagluiperds

HONDE-HELDE

Bewaring van Botswana se jagluiperds

Bewaringsgesindes in Botswana help om erg bedreigde jagluiperds op die ongelooflikste manier te red. Hulle gebruik honde om die jagluiperds te verjaag wat bokke jag sodat hulle nie deur woedende boere uitgedun word nie. PETA THORNYCROFT vertel.


CHEETAH Conservation Botswana (CCB) plaas klein basterhonde, plaaslik as Tswana-honde bekend, by plaaslike boere en lei hulle op om jagluiperds te verdedig.
“Hierdie honde dink hulle is bokke,” sê Jane Horgan, CCB-koördineerder. Die CCB word wes van die Kalahari-wildpark diep in Botswana bedryf.
“Die honde word by die boere se bokkuddes geplaas wanneer hulle so ses tot agt weke oud is en word saam met die vee groot,” vertel sy.
Daar is minder as 2,000 jagluiperds in Botswana, en net 7,000 in die hele Afrika oor. Hogan sê boere wis na raming 200 jaarliks in Botswana uit wanneer jagluiperds bokke jag.
Aanvanklik gaan die hond net vir kort tye saam met die kudde uit. Teen die tyd dat die honde vier maande oud is, bring hulle die grootste deel van die dag saam met die bokke deur.
“Hul beskermingsinstink ontwikkel meestal natuurlik omdat hulle saam met die bokke grootword. Dié hondjies moenie soos troeteldiere behandel word nie omdat ʼn band dan tussen die hond en mense vorm, wat die band met die bokke kan benadeel,” sê sy.
“Sodra die verrassingselement verlore is, laat vaar die meeste karnivore die jagtog,” verduidelik sy.
Die honde help ook om ander roofdiere weg te hou. Net die reuk van die honde is genoeg om sommige jagluiperds en ander karnivore van die plase te verdryf.
Jagluiperds word geskiet, vergiftig, in lokvalle gevang of gejag, soms deur boere op perde. Hoewel jagluiperds die vinnigste soogdiere in die wêreld is, kan hulle nie oor langer afstande so vinnig soos sommige ander roofdiere beweeg nie en sal hulle van uitputting neerval.
“Sommige mense gebruik ook jaghonde, wat die jagluiperds verskeur. Ek het ook gehoor boere spog oor hoe hulle jagluiperds met hul motors jaag,” sê Hogan.
Die CCB het ʼn studie gedoen wat getoon het dat vee, soos bokke, net 6% van die jagluiperds se dieet uitmaak in ʼn gebied wes van die bekende Sentrale Kalahari-wildreservaat.
“Ons hoop dat ons uiteindelik nie net jagluiperds teen weerwraak sal beskerm nie, maar ook ander roofdiere eie aan die Kalahari,” sê Hogan.
Tot dusver het hierdie buitengewone liefdadigheidsorganisasie al sowat 120 “bok-honde” by plaaslike boere geplaas.
Kristina Kesch van Botswana se liefdadigheidsorganisasie Cheetah and African Wild Dogs beskryf die CCB se program as “nogal ʼn suksesverhaal”.
Die “grootste pluspunt” daarvan, sê sy, is die gebruik van die (plaaslike) Tswana-honde. Sy beskryf hulle as “goedkoop, gehard en beter toegerus om in die plaaslike omgewingstoestande te aard”.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.