Die reuse-stryd teen piepklein plastiekkorrels

PIEPKLEIN BOMME

Die reuse-stryd teen piepklein plastiekkorrels

Wanneer dit by plastiekbesoedeling kom, is ons geneig om aan groter items soos sakke en strooitjies te dink, maar mikroplastiek hou ’n selfs groter gevaar in, skryf HENK BOUWMAN.


PLASTIEK is oral. Dit word gebruik in alles van duursame industriële toerusting tot huishoudelike toestelle, weggooibare enkelgebruikitems en selfs die klere wat ons dra. Die wye verskeidenheid van gebruike is danksy plastiek se veelsydigheid, bekostigbaarheid en duursaamheid.
Dié eienskappe maak dit egter ook problematies. Omdat dit so duursaam is, is die leeftyd van ’n plastiekproduk veel langer as die tyd wat dit gebruik word. Dit geld veral enkelgebruikplastiek soos strooitjies, bottels en sakke. ’n Plastieksak kan gemiddeld 20 keer gebruik word, maar dit kan tot 1,000 jaar neem om in die natuur af te breek.
Omgewingsgevaar
Groot plastiekartikels is onbetwisbaar ’n omgewingsgevaar. Diere kan daarin verstrengel raak en dit kan hulle laat versmoor of maak dat hulle van die honger doodgaan.
Hoewel makroplastiek duidelik die omgewing besoedel, is dit maar net ’n deel van die probleem. Onlangse navorsing het getoon dat mikroplastiek ’n baie groter besoedelingsgevaar inhou as wat voorheen gedink is.
Net soos plastieksakke en waterbottels is mikrokorrels ook ’n vorm van enkelgebruikplastiek, maar omdat dit nie sigbaar is nie, word dit dikwels geïgnoreer.
Die afgelope jare het wetenskaplikes egter tekens daarvan in die diepsee, afgeleë mere, grondwater en selfs drinkwater ontdek. Wat dit so gevaarlik maak, is dat die mikrodeeltjies skadelike chemikalieë in die omgewing absorbeer en wanneer dit dan opgeneem word, dra dit dié besoedelstowwe aan ons liggame oor.
Die probleem is dat dit soveel moeiliker is om van mikroplastiek ontslae te raak omdat dit so klein is en feitlik oral voorkom. Die beste manier om dié besoedelstof uit te roei, is om die hoeveelheid plastiek te verminder wat die omgewing binnekom.
Die stappe tot dusver
Mikroplastiek het twee oorspronge. Dit kan vervaardig word om mikroskopies klein te wees, soos die mikrokorrels in skoonheidsprodukte. Hierdie piepklein ronde plastiekorrels, wat tussen sowat ’n honderste van ’n millimeter tot een millimeter groot kan wees, word gebruik om die vel vir ’n minuut of twee te skrop voordat dit weggespoel word en vir tot 10,000 jaar in die omgewing kan voortbestaan.
Die meeste mikroplastiek ontstaan egter wanneer groter stukke plastiek deur sonblootstelling of fisiese verwering begin afbreek.
Baie lande is reeds bewus van die gevare van mikroplastiek en tree nou daadwerklik op. ’n Hele paar lande, waaronder Kanada, die VSA, Brittanje, Frankryk, Swede, Taiwan, Suid-Korea en Nieu-Seeland, het selfs die gebruik van mikrokorrels in skoonheidsprodukte verbied.
In 2018 het 57 handelsmerke aan die “Look for the Zero”-veldtog deelgeneem waarvolgens hulle moes verklaar dat hul produkte geen plastiek bevat nie.
Ook in Afrika voer ’n paar lande reeds oorlog teen plastiekbesoedeling – Burundi, Benin, Kameroen, die Ivoorkus, Tjsad, Marokko, Rwanda en Kenia het almal ’n verbod op enkelgebruik-plastieksakke geplaas.
Suid-Afrika het in 2002 ’n heffing op plastieksakke ingestel, en hoewel dit nie baie suksesvol blyk te wees nie met plastieksakke wat steeds een van die grootste oorsake van plastiekbesoedeling is, word ’n verbod op mikrokorrels nou oorweeg. Dit sal die gevoel jeens plastiekbesoedeling versterk en ander lande aanmoedig om ons voorbeeld te volg deur van hierdie relatief maklik verwyderbare oorsaak van plastiekbesoedeling ontslae te raak. Baie Suid-Afrikaanse skoonheidsmaatskappye het reeds beloof om mikrokorrels uit hul produkte te hou.
Die uitdagings
Maatreëls om die wêreldwye plastiekprobleem te bekamp kan ’n swaar ekonomiese las op ontwikkelende lande plaas. Weens plastiek se lae produksiekoste en nuttigheid as verpakkingsmateriaal, is alternatiewe vir enkelgebruikplastiek dikwels duur en plaas dit druk op ander omgewingshulpbronne.
Mikrokorrels kan ’n maklike teiken in die stryd teen wêreldwye plastiekbesoedeling wees. Dit sal eenvoudig wees om dit te verwyder en met meer omgewingsvriendelike alternatiewe soos jojoba-korrels, gemaalde hawermout, amandeldoppe en koffie te vervang. Daar moet ook klem geplaas word op ander maniere van velafskilfering as fisieke skrop, soos met behulp van ensieme en sure.
Plastiekbesoedeling is ’n uiters ingewikkelde probleem en elke land moet sy eie sosio-ekonomiese samestelling en kapasiteit in ag neem om dit die stryd aan te sê.
 

Henk Bouwman is 'n navorsingsprofessor in ekotoksikologie aan die Noordwes-Universiteit.
Carina Verster van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur het ook tot hierdie artikel bygedra.
Hierdie artikel kom uit theconversation.com
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.