Die mite van trofeejag: Die vleis is die sous nie werd nie

NATUURBEWARING

Die mite van trofeejag: Die vleis is die sous nie werd nie

Sommige akademici en jagdrukgroepe voer aan dat trofeejag tot voordeel van natuurbewaring is én ’n stewige finansiële inspuiting vir Afrika-lande bied, maar volgens MUCHAZONDIDA MKONO skets die feite ’n heel ander prentjie.


DEKADES lank al word die publiek die mite gevoer dat trofeejag onontbeerlik is vir volhoubare wildbewaring in Afrika. Sekere groepe in die akademiese wêreld, asook jagdrukgroepe, hou vol dat ’n verbod op trofeejag biodiversiteit in die natuurlewe sal benadeel.
Hulle voer aan trofeejag lewer ’n stewige inkomste waarop Afrika-lande staatmaak om natuurbewaring te befonds. Die argument is dat ’n paar diere deur gereguleerde kwotas opgeoffer word ten gunste van die spesie se voortbestaan. Maar dit open die deur vir Westerse toeriste om die jag van grootwild te regverdig.
Trofeejag dra inderwaarheid slegs ’n klein persentasie by tot Afrika se totale toerisme-opbrengs. Vir die meeste Afrika-lande met ’n aktiewe trofeejagbedryf, waaronder Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië en Namibië, vorm die bedryf slegs tussen 0,3% en 5% van die totale toerisme-inkomste. Dis duidelik dat die ekonomiese waarde van trofeejag oordryf word.
Voorstanders van trofeejag beweer ook plaaslike gemeenskappe trek merkbare voordeel uit die bedryf. Die feite vertel egter ’n ander storie. Volgens ’n ontleding van die trofeejagbedryf wat in 2013 gepubliseer is deur Economists at Large – ’n netwerk van ekonome wat met belangwekkende ekonomiese kwessies help –  vind gemeenskappe in jaggebiede baie min baat by trofeejag. Hulle ontvang slegs sowat 3% van die bruto opbrengs uit die bedryf.
Nog ’n argument is dat toerisme wat nie die natuur verbruik nie, nie winsgewend  genoeg is om bewaring te onderhou nie. Voorstanders van jag het dus ’n mite geskep waarin jag die enigste lewensvatbare manier is om volhoubare natuurbewaring in Afrika te finansier.
Ek het onlangs ’n hoofstuk in ’n boek voltooi waarin ek hierdie en ander beweringe deur jagters ondersoek, veral hoe hulle hul woorde kies om hierdie tydverdryf te rasionaliseer en te suiwer.
Trofeejag omdat hulle diere ‘liefhet’
Trofeejagters beweer gereeld hulle maak diere dood omdat hulle diere liefhet. Hulle sal byvoorbeeld rasionaliseer dat trofeejag help om groter diergetalle te bewaar.
Ek redeneer dat die doodmaak van ’n dier wat jy kwansuis “liefhet”, ’n teenstrydigheid is wat nie eties opgelos kan word nie.  
Ek het woorde ondersoek wat deur jagters gebruik word as eufemismes om trofeejag te beskryf, terwyl hulle die woord “doodmaak” vermy. Woorde soos “oes” en “neem”  word byvoorbeeld ter versagting gebruik.
Hierdie eufemismes is ook deur Walter Palmer, die man wat die geliefde Zimbabwe-leeu Cecil in die berugte “Cecilgate”-voorval geskiet het, ingespan. In sy reaksie op die ophef sê Palmer: “Sover ek weet, was alles omtrent hierdie uitstappie wettig en is dinge korrek hanteer. Ek het geen idee gehad dat die leeu wat ek geneem het, ’n bekende plaaslike gunsteling was nie.”
Hierdie woordkeuse is nie toevallig nie. Die effek daarvan is dat ons vergeet van wat werklik aan leeus, renosters, olifante en ander kosbare spesies gedoen word.
Fototoerisme suksesvolle alternatief
Die voorstanders van trofeejag beweer daar is geen ander werkbare oplossings vir Afrika nie. Hulle impliseer dat nie-verbruikbare vorms van natuurlewe-toerisme, soos fotosafari’s, nie ’n groot genoeg opbrengs lewer om die bewaring van die wildhabitat te regverdig nie.
As ons ophou met trofeejag, sê hulle, verloor die natuur sy ekonomiese waarde vir plaaslike gemeenskappe, en sal die natuurlike omgewing verlore gaan ten gunste van ander grondgebruike.
Die waarheid is egter dat goed bestuurde natuurtoerisme wat niks verbruik nie, wel voldoende is om bewaring te befonds. Botswana, wat in 2014 alle kommersiële jag ten gunste van fototoerisme verbied het, is byvoorbeeld een so ’n suksesverhaal. Volgens ’n studie in 2017 het inwoners van die dorpie Mababe in Botswana opgemerk dat fotografiekampe meer voordele vir die gemeenskap bied omdat daar heeljaar werk is, teenoor jag, wat seisoenaal is.
Trofeejag is nie die antwoord op die uitdagings van natuurbewaring in Afrika nie. Die oplossing is wel goeie bestuur, gekenmerk deur aanspreeklikheid en streng, feitelik gegronde beleide en optredes, en gemotiveer deur ’n werklike waardering vir die inherente waarde van Afrika se pragtige dierelewe, nie net vir die ekonomiese waarde daarvan nie.

Muchazondida Mkono is 'n navorsingsgenoot verbonde aan die  sakeskool van die Universiteit van Queensland in Australië onder die DECRA-program (Discovery Early Career Researcher Award).
Hierdie artikel kom uit www.theconversation.com
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.