’n Lisensie om te plunder: Mosambiekse politici en Chinese...

MOSAMBIEK

’n Lisensie om te plunder: Mosambiekse politici en Chinese visbote vang die see leeg

Eers was dit hout. En toe het Chinese maatskappye met politieke bande begin om onwettig vis te vang en uit te voer. ESTACIO VALOI het die plundering in Mosambiek die afgelope drie jaar ondersoek.

'n Chinese vistreiler in die water aan die kus van Cabo Delgado. Dié foto is in September 2018 geneem, 'n jaar nadat die direkteur van visserye gesê het die Chinese het opgehou om in dié provinsie op groot skaal vis te vang.
ONGERYMD ... 'n Chinese vistreiler in die water aan die kus van Cabo Delgado. Dié foto is in September 2018 geneem, 'n jaar nadat die direkteur van visserye gesê het die Chinese het opgehou om in dié provinsie op groot skaal vis te vang.
Image: ESTACIO VALOI

’N NETWERK van beamptes van die Mosambiekse regerende party en Chinese maatskappye is lank reeds bekend vir die plundering van die land se woude. Nou word die land se visbronne ook geplunder, ten groot koste van arm vissersgemeenskappe aan die lang kuslyn.

Dié Mosambieks-Chinese netwerk stroop die vis hoofsaaklik in die noordelike provinsie Cabo Delgado en om Ilha de Moçambique (Eiland van Mosambiek), wat deel is van die Nampula-provinsie. Terwyl ’n doeanebeampte help om lewende kreef te verpak vir uitvoer, en ’n plaaslike burgemeester sy huis uithuur om die verpakking van ’n beskermde seespesie te versnel, kry maatskappye met politieke bande lisensies “van die hoofstad af” om dit wettig te maak.

Kusgemeenskappe, wat reeds geteister word deur klimaatsverandering, siklone en vloede, verloor só hul inkomste en kos.

‘Die Mozambican Tuna Company (Ematum) het deur beweerde bedrog die land in skuld van $2 biljoen gedompel en die sakke van individue gevul.’

Die Mosambiekese regering sê hy verloor omtrent $63 miljoen per jaar weens visstropery deur buitelandse bote in sy waters. Die gevolge van die stropery kan onmiddellik gesien word deur enigeen wat die land se eens aanloklike strande besoek: Vissers is desperaat omdat hulle niks vang om hul families te voed nie, kusgemeenskappe het al hoe minder om te eet; die toerismebedryf sukkel omdat al die spesies wat voorheen duikers hierheen aangelok het, uitgeroei word; en restaurante sukkel om die beroemde Mosambiekse garnale voor te sit.

Die regering se amptelike kommer oor die beskerming van die visbronne was die rede vir ’n ambisieuse plan, reeds in 2013, om ’n vloot tot stand te bring om die voorsiening van ’n volhoubare voorraad tuna te waarborg. Patrolliebote sou die kuslyn beskerm teen stropers, maar dit was tóé reeds ’n bedrogspul.

Die Mozambican Tuna Company (Ematum) het deur beweerde bedrog die land in skuld van $2 biljoen gedompel en die sakke van individue gevul. Die oudminister van finansies Manuel Chang is in hegtenis geneem op versoek van Amerikaanse owerhede aangesien van die leentransaksies deur banke in New York hanteer is.

Die patrollie- en tunabote lê in die hawens, en dit lyk of die kommer daaroor ook afgeneem het. Groot visbote, baie met Chinese vlae, plunder die vis onder die oë van Mosambiekers. Tydens verskeie besoeke tussen 2017 en 2019 het plaaslike inwoners vertel hoe hulle sien hoe die Chinese met hul vis besig is: op die skepe, by die verpakkingsaanlegte, op die lughawens by Pemba en Nampula, en in die hawens. Die polisie en doeanebeamptes sien dit, maar dit lyk of hulle nie omgee nie.

Talle sleepnettrekkers en kleiner visbote kan in die dag aan die Eiland van Mosambiek se kus gesien word; groot visdromme vir berging is orals. Plaaslike duikers wat deur die Chinese gebruik word om gesogte spesies uit te duik, kry dekompressiesiekte weens onveilige duiktoerusting. “Ná ’n ruk is hulle te siek om te werk,” sê Amade Ismael* van die Macua-skubaduikvereniging, wat probeer om die seelewe vir toekomstige duikers te bewaar.  “Baie van hulle se lewe is verby. Niemand van visserye of die arbeidsdepartement tree tussenbeide nie.”

Die huis van Saide Amur, burgemeester van die Eiland van Mosambiek. 'n Chinese vismaatskappy huur die huis om beskermde seekosspesies te verpak en stoor.
BANDE IN HOË PLEKKE ... Die huis van Saide Amur, burgemeester van die Eiland van Mosambiek. 'n Chinese vismaatskappy huur die huis om beskermde seekosspesies te verpak en stoor.
Image: ESTACIO VALOI

Spooklisensies

Ismael en andere in die vereniging probeer al lank om die regering te oorreed om op te tree, maar word vertel dat die vissersbote wel lisensies het. Spooklisensies, noem Ismael dit, omdat dit gewoonlik onmoontlik is om uit te vind wie die lisensies toegeken het. “Ons weet nie waar hulle dit kry nie, maar hulle vang soveel vis as wat hulle wil. Ons het al bote van 30 meter lank gesien en hulle gevra om die gebied te verlaat. Hulle ignoreer ons net. Ons het klagtes by die plaaslike marine-departement ingedien, maar niks is gedoen nie.” Dit gebeur dikwels. “Wanneer veiligheidsmagte of doeanebeamptes wel iemand aanhou wat lewende krewe en krappe vervoer, dan hoor jy hulle het iemand gebel en dan word hulle vrygelaat.”

‘Oor die volgende paar dae, met die hulp van ’n verkyker, kon ek sien hoe visserye- en toerisme-amptenare kom en gaan, en dit het nie gelyk of enigeen die aktiwiteite probeer stopsit nie.’

Volgens gerugte het die eiland se burgemeester, Saide Amur, in 2016 op besoek aan Amerika ’n oproep gekry dat ’n toeriste-inspekteur ’n Chinese maatskappy, Red Coral, betrap het met ’n vals bedryfslisensie met Amur se vervalste handtekening daarop. Ná die oproep het hy opdrag gegee dat die maatskappy toegemaak word, maar net daarna van plan verander en die maatskappy kon voortgaan met sy werk. Amur het glo gesê hy sal die probleem hanteer met sy terugkeer na Mosambiek.

Toe ek die eiland ’n jaar later besoek het om meer oor Red Coral uit te vind, het ek gesien die maatskappy werk van burgemeester Amur se huis af. Van bo-op ’n gebou kon ek vistenks sien en ’n Chinees wat perlemoen, ’n beskermde spesie, skoonmaak. Oor die volgende paar dae, met die hulp van ’n verkyker, kon ek sien hoe visserye- en toerisme-amptenare kom en gaan, en dit het nie gelyk of enigeen die aktiwiteite probeer stopsit nie.

Met so baie besoekers daar, het ek besluit om sommer ook in te stap met my kamera. Ek het in die kombuis beland, waar mense besig was om iets in ’n groot pot te kook. Dit was Holothuria scabra, ’n bedreigde spesie seekomkommer. Toe hulle my sien, het een geskreeu: “Moenie foto’s neem nie!” Ek het my uit die voete gemaak.

Plaaslike bronne het later vertel Amur verhuur sy huis aan die Chinese vir $700 per maand. Amur het onderneem om kommentaar te lewer op die bewering oor die verhuring van sy huis, maar het dit nooit gedoen nie.

Later in 2017 het ek Red Coral weer raakgeloop, en ook die maatskappy Dragão Longo, dié keer by die lughawe op Pemba. Verteenwoordigers het met doeane- en polisiebeamptes staan en gesels. “Hulle verpak en voer tenks met lewende kreef en krappe uit na Singapoer, Thailand en ander lande in Asië,” het die veiligheidswag Abdul Salesman* gesê. “Jare gelede het hulle die tenks by privaat huise verpak en die uitvoer daarvan het in die geheim plaasgevind. Nou doen hulle dit sommer hier. Hulle het van 20 per week tot 80 of selfs 100 verpakkingshouers gegroei. Doeane en visserye, en die polisie, help met die verpakkingsproses om verleentheid te vermy.”

Ek verstaan: verleentheid sal daar beslis wees as iemand dié verpakking van onwettige, lewende kreef sien.

Lisensies van Maputo

“Een keer was twee amptenare van die staatsintelligensie- en veiligheidsdiens (SISI) hier om mense van Red Coral te ondervra,” vertel Salesman. “Hulle het uitgevind dat ‘mev. Anastacia’, ’n direkteur van die provinsiale visserye in Cabo Delgado, ook daar was. Hulle het haar gevra of sy weet dat dit onwettig is om lewende krewe uit te voer. Sy het glo geantwoord dat sy weet, maar dat sy net opdragte uitvoer en vrae moet gerig word aan die visseryeministerie.”

Ek het “mev. Anastacia” vroeër vanjaar opgespoor. Sy het intussen afgetree, maar weier om haar volle naam vir my te gee. Sy het bevestig dat sy die doeanediens se tegniese amptenaar was. “Ek is opdrag gegee om toesig te hou oor die verpakkingsproses vir Dragão Longo, Red Coral en Hui Yuan International . Ek weet nie of daar onwettighede was nie. Permitte of lisensies is deur die ministerie in Maputo toegeken.”

Onder die owerhede wat glo vir uitvoer toestemming gee, is die direkteur van provinsiale visserye, Cassamo Junior. ’n Lid van die eenheid wat stropery beveg in die bewaarde Quirimba-eilandgroep, noord van Pemba, sê Cassamo beskerm al jare die Chinese wat in die bewaargebied visvang, en ignoreer bewaringsriglyne.

“Hui Yuan International het in 2016 die hele jaar lank onwettig visgevang. Maar Cassamo beskerm hulle,” sê hy. Die eenheid kon nie die inhoud van hul lisensie te siene kry nie, maar hy glo dat “toegelate hoeveelhede” oorskry is. “Drie, vier trokke met drie ton elk het elke dag vertrek.”

Die eenheid het soms individue aangehou en boetes uitgereik. “Maar Cassamo het hulle gehelp om die nodige dokumente te bekom. Hy het ook ingegryp om die boetes ongeldig te verklaar. Amptenare van sy departement het aan Hui Yuan gesê hulle hoef nie die boetes te betaal nie aangesien net visserye gemagtig is om dit uit te reik.”  

Hui Yuan is die visserye-filiaal van die Chinese Mofid (Mozambique First Development Company), wat in 2013 deur die Amerikaanse nieregeringsorganisasie Environmental Investigative Agency (EIA) van die grootskaalse plundering van woude in Mosambiek beskuldig is. In ’n EIA-verslag word die Mofid-direkteur Chaoying Liu aangehaal, en spog hy dat twee Mosambiekse politici die maatskappy gehelp het. “Ek en hy (José Pacheco, oudminister van landbou en nou minister van buitelandse sake) is soos broers,” het hy onwetend aan ondersoekers gesê. En: “Wanneer hy (die minister) geld nodig het, kom soek hy my.” Liu het ook gesê Tomas Mandlate (ook ’n oudminister van landbou en nou parlementslid) het (papierwerk) “vir my uitgesorteer” en dat hy “gesorg het vir die skakelwerk ... soos uitvoerkwota- en konsessiepermitte.”

Volgens Liu is Mandlate elke maand betaal en het hy ’n aandeel in die maatskappy gekry.

‘Ons het gesien hoe hout oral opgestapel word onder die wakende oog van twee wagte, terwyl daar drie swembaddens vol vis weggesteek word agter ’n vraghouer.’

Pacheco en Mandlate het albei bewerings teen hulle ontken, maar dit wil steeds voorkom asof Mofid politieke beskerming geniet. Die Mosambiekse vervolgingsgesag het tydens die bekendmaking van die EIA-verslag in 2013 aangekondig dat Mofid ondersoek sal word, maar dit het nog nie gebeur nie. En in 2016 –  drie jaar ná die EIA-verslag – het Hui Yuan die monopolie op die aankoop van alle seekos in die Quirimba- nasionale park verkry. Volgens bronne het die maatskappy dit steeds. Die Mofid-bestuurder Vicky Lau, of Weia Liu soos sy in die maatskappyregister genoem word, is ook die algemene bestuurder van Hui Yuan.  

Dit lyk of die roetes wat gebruik word om woude te plunder, en nou ook vis, oorvleuel. Red Coral in Muxara, net buite Pemba, is op die perseel van die houtmaatskappy Pingos Marinhos. Pingos Marinhos is in die EIA-verslag beskuldig van houtplundery. Ons het gesien hoe hout oral opgestapel word onder die wakende oog van twee wagte, terwyl daar drie swembaddens vol vis weggesteek word agter ’n vraghouer. Langs die swembaddens word kreef verpak vir die uitvoermark. Doeane- en polisiebronne het gesê ’n sekere mnr. Lee is in beheer van die perseel.

Die kuslyn en die kontrakte

Hui Yuan is tans die enigste maatskappy wat toegelaat word om vis te vang in die Quirimba-eilandgroep, bevestig dieselfde lid van die anti-stropereenheid wat vroeër aangehaal is. “Hulle sê dit is om die stropery te stop, maar die plaaslike gemeenskappe is slegter daaraan toe. Hulle lewer hulle vangs nou aan net een koper, wat die prys kan dikteer.”

Die plaaslike kantoor van die Wêreld-Natuurfonds (WWF) het ’n kopie van die kontrak – gedateer 4 Junie 2016 – tussen Hui Yuan en verteenwoordigers van die Ibo-gemeenskap. Dit gee Mofid volgens sy lisensie “uitsluitlike toegang tot garnale en krappe” en die reg op “volhoubare mariene ontginning”. Die teks van die lisensie is, soos wat dikwels die geval is, nie bekend nie.

Volgens ’n woordvoerder van die WWF, Carlos Serra, skend die ooreenkoms nie net bewaringsgebiede deur die onwettige vangs deur gemeenskappe aan te moedig nie (om aan Hui Yuan te lewer) maar beskerm dit ook nie gemeenskapsregte met betrekking tot arbeid, pryse en volhoubaarheid nie. 

‘Hulle koop krappe in die park en verskeep dit na Pemba. Daar is geen beheer nie.’

Dit kan betwyfel word of die gemeenskappe se verteenwoordigers geweet het wat hulle teken, of wat hul regte is. Plaaslike bronne vertel dat die kontrak in die nag bekragtig is, en dat daar geen regsverteenwoordiger was nie. Met verwysing na voordele vir die gemeenskap bepaal die kontrak – buiten ʼn onderneming oor beter visvangtoerusting – dat inwoners ’n daaglikse bedrag van $9,60 sal ontvang en elke drie maande ’n “belasting” van $80: minder as die koste van ’n bord kreef op die internasionale mark.

Toe Junior in April vanjaar om kommentaar gevra is, het hy gesê Hui Yuan en ander Chinese maatskappye se visbedrywighede in Cabo Delado het tot ʼn einde gekom. In reaksie op vrae het hy in ’n e-pos geskryf dat Hui Yuan International sy aktiwiteite in 2017 beëindig het, dat slegs “artisanal fishing” toegelaat word en hy nog altyd binne die wet opgetree het met verwysing na bedrywighede in die Quirimba- nasionale park.

Hy het nie die vraag beantwoord nie oor hoekom groot Chinese sleepnetbote verlede jaar en vroeg vanjaar steeds by Cabo Delgado opgemerk is. Bronne in Quirimba het in April bevestig dat Hui Yuan International en ander Chinese maatskappye steeds daar bedrywig is. “Hulle koop krappe in die park en verskeep dit na Pemba. Daar is geen beheer nie.”

Mofid-Hui Yuan se Vicky Lau teken 'n vissery-ooreenkoms met gemeenskapslede van die Quirimba-natuurreservaat.
SLEGTER AF ... Mofid-Hui Yuan se Vicky Lau teken 'n vissery-ooreenkoms met gemeenskapslede van die Quirimba-natuurreservaat.
Image: FOTO VERSKAF

Magtige generaal

Noord van die eilandgroep in Maligerane in die Pangane-gebied is daar gerugte dat die veteraan-generaal Alberto Chipande – een van die regerende Frelimo se grootkoppe en ʼn bondgenoot van pres. Filipe Nyusi – sy eie vismaatskappy het. Die maatskappy, genoem na die dorpie Maligerane, is nie geregistreer by visserye nie en dit is dus onwaarskynlik dat dit ’n formele vislisensie het. Min mense sal dit waag om die generaal daaroor uit te vra. Rebelle word in die gebied ondersteun deur gewapende groepe, wat moontlik ’n verbintenis met die weermag het. Dit hou vermoedelik verband met die feit dat die rykste gasbron in die wêreld onlangs daar ontdek is. Nog ’n maatskappy van Chipande, Quionga Energia, is ook by gas betrokke.

Vissers van Maligerane voer ook aan Chipande se maatskappy word beskerm deur 'n private veiligheidsmag genaamd Sakudimba Segurança, gelei deur Chipande se seun, Namoto Chipande.

Die departement ekonomiese dienste in die distrik het bevestig dat die maatskappy al jare lank vis uitvoer, en dit verwag word dat daar “binnekort” omtrent drie ton per week uitgevoer sal word. 

In vergelyking is plaaslike vissers net toegelaat om twee of drie ton in die hele 2018 te vang, het ’n amptenaar van visserye vroeër vanjaar aan my gesê. “Hulle bly langer op see omdat hulle groter bote het en yskaste aan boord het. Ons vissers kan net 'n paar dae met hul klein bote [op see] bly.”

“Ons het altyd omtrent sewe tot agt ton per jaar gevang, maar nou kry ons nie eens die helfte daarvan nie,” sê 'n visser. “Die generaal het die hulpmiddele en ons kan nie meeding nie.”

Die voormalige minister van landbou, Tomas Mandlate, wat met Mofid verbind word.
POLITIEKE BANDE ... Die voormalige minister van landbou, Tomas Mandlate, wat met Mofid verbind word.
Image: FOTO VERSKAF
Die minister va buitelandse sake, José Pacheco, word ook met Mofid verbind..
NOG POLITIEKE BANDE ... Die minister va buitelandse sake, José Pacheco, word ook met Mofid verbind..
Image: FOTO VERSKAF

Inwoners sê hulle was getuies van ’n viering van die samesmelting van Chipande en Chinese uitvoerders – dit is nie bekend of dit Hui Yuan of ’n ander maatskappy was nie – in laat 2016 of vroeg 2017. Sy maatskappy gebruik glo Chinese bote. Die generaal het volgens berigte ook ’n ander vismaatskappy in Inguana aan die ander kant van Pangane.

Oor die Maligerane-maatskappy het Junior gesê die visseryedepartement “is bewus van ʼn  visbesigheid met ’n groot yskas” in die gebied maar het geweier om te bevestig dat Chipande die eienaar is.

Geen kommentaar

Lau van Hui Yuan en Mofid het nie gereageer op vrae wat gestuur is na die e-posadres op haar besigheidskaartjie nie.

ʼn Kontak vir genl. Chipande kon nie in die hande gekry word nie en sy regsverteenwoordiger het nie oproepe of teksboodskappe beantwoord oor kommentaar op die bewerings teen hom nie. ʼn Sakevennoot van Chipande is ook genader vir kommentaar, maar hy het ook nie gereageer nie. Ook die Mosambiekse visseryministerie het nie vrae wat per e-pos gestuur is, beantwoord nie.

Arrestasie in Palma

Toe ek in Desember verlede jaar oor die konflik in Mocímboa da Praia in die Palma-distrik van Cabo Delgado berig het, is ek en twee ander mense vir drie dae in ʼn voertuig aangehou deur die weermag. Daar is vir my gesê: “Jy sal hier doodgaan en niemand sal weet hoekom nie.” My skootrekenaar, kamera en foon is gevat. Hoewel dit nie die hoofrede vir my besoek was nie, het ek toe pas die Macomia-gebied besoek om die bewerings oor Alberto Chipande se onwettige visbedrywighede te ondersoek.

* Name word om veiligheidsredes weerhou.

Met vergunning van AIPC-ZAM. Die projekbestuurder is Evelyn Groenink. Hierdie artikel is een van die ondersoeke wat in sewe lande deur joernaliste van die African Investigative Publishing Collective gedoen is.


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.