Van Marconi tot by Jack the Ripper in (min of meer) 6 stappe

WOENSDAG MET WILLEM

Van Marconi tot by Jack the Ripper in (min of meer) 6 stappe

WILLEM KEMPEN speel (soort van) six degrees of separation met Danie Theron en Thabo Bester.

Image: ANGELA TUCK

DIE 149ste herdenking van die geboorte van die Italiaanse uitvinder Guglielmo Marconi is gister gevier. Hy was glo ook die vader van die idee dat niemand meer as ses stappe van enigiemand anders verwyderd is nie – die gewaande six degrees of separation.

Die Boere-baasverkenner Danie Theron se tweede verjaardag, op 9 Mei 1874 in Tulbagh in die Kaapkolonie, was dus net ’n week of wat weg toe Marconi gebore is. Teen die einde van daardie eeu was Theron en sy wielrijders in die Anglo-Boereoorlog besig om lord Roberts se lewe te versuur; Marconi was in Europa besig om sy draadlose telegraaf te ontwikkel.

Theron het voor die oorlog al koppe gestamp met die Britte, en spesifiek die Iers-gebore Skot William Monypenny, destyds redakteur van The Star, wat in ’n hoofartikel na The Ignorant Dutch” in die ZAR verwys het. Die hoogs begaafde Theron, wat toe sy eie regsfirma in Krugersdorp bedryf het, was so woedend hieroor dat hy Monypenny persoonlik daaroor gekonfronteer en te lyf gegaan het, hoewel dit vandag onduidelik is wat presies gebeur het. Minder as ses maande voor die amptelike begin van die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 is Theron aan aanranding skuldig bevind en beboet, maar sy ondersteuners in die hof het die hele bedrag daar en dan ingesamel en namens hom betaal.

Frederick Burnham, hoof van die Britse leër se verkenners tydens die oorlog, het oor Theron se latere rol gesê: “He was, without doubt, one of the finest scouts the Boer nation produced. He repeatedly entered our lines and obtained most valuable information. Again and again he cut off our scouts and patrols, raided our stock, and did all manner of splendid military service for his people.”

Image: ANGELA TUCK

So, as jy nou dié maneuvers tussen vyandelike lyne, en die naam Monypenny (sommige bronne gee dit as Monneypenny of Moneypenny) bymekaar sit, dan moet jy sekerlik dink aan James Bond, hoofkarakter in Ian Fleming se beroemde spioenasieverhale. Plus die moontlikheid – ek kry talle verwysings daarna, maar die bronne is nie een oortuigend nie – dat Theron hom in die oorlog by geleentheid as “Captain James Bond” sou voorgedoen het om die Engelse om die bos te lei, lank voordat Fleming sy boeke begin skryf het.

Tog, die aanvaarde verklaring is steeds dat Fleming sy karakter hoofsaaklik na ’n ornitoloog met dieselfde naam sou genoem het: “When I wrote the first one in 1953, I wanted Bond to be an extremely dull, uninteresting man to whom things happened; I wanted him to be a blunt instrument ... when I was casting around for a name for my protagonist, I thought by God, [James Bond] is the dullest name I ever heard.”

Dalk was dit ook oor die onopvallendheid van dié naam dat Theron homself Captain James Bond sou genoem het, as hy inderdaad het?

Vals name en onbekende herkoms bring ons, toegegee met ’n láng ompad, by die geval Thabo Bester.

Anders as Marconi en Theron meer as ’n eeu tevore weet niemand tot vandag toe presies wanneer Thabo Bester gebore is nie, want sy geboorte is nooit geregistreer nie en ’n geboortesertifikaat is nooit vir hom uitgereik nie. Die eerste keer dat sy naam amptelik iewers aangeteken is, was op 14 Januarie 1997 – by die Laerskool Danie Theron in Kibler Park in die suide van Johannesburg.

Bester het effens meer gemeen met ’n ander berugte karakter wie se naam steeds in Suid-Afrikaanse tronke voortleef, ’n man wat enkele jare voor Theron en Marconi as Joseph Lis in Pole gebore is en later in Johannesburg as Joseph Silver bekend was. Hy is ook die onderwerp van die historikus prof. Charles van Onselen se fassinerende boek The Fox and the Flies (2007). Silver se lys van aliasse is selfs langer as Bester s’n, en hy is die rede dat polisie-informante tot vandag toe “impimpi” genoem word, afgelei van die Amerikaanse woord vir iemand wat prostitute organiseer.

En van Joseph Silver af is dit ’n maklike sprong om te maak, as jy wil, terug tot in Londen in 1888, toe Whitechapel se prostitute gely het onder die skrikbewind van ’n man wat hulle Jack the Ripper genoem het ...


hoe ontlief ek jou? ons welig na vrede
ek is lief vir jou limfe jou sukkel-psalms
skietdiep lief is ek met 'n vretende passie
in my ou griewe in my melktand-gebede
ek het jou onbuigsaam lief soos my verdwalende duiwels
ek asem in ons liefde ons vreugde ons sorge al ons lewens
en as god so belowe
sal ek jou beter lewe in die oorle

– Jolyn Phillips

(Van: LitNet)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.