Ons innerlike jagter-versamelaar smag na die natuur

MAANDAG MET MAX

Ons innerlike jagter-versamelaar smag na die natuur

MAX DU PREEZ pleit dat groen ruimtes vir gemeenskappe beskikbaar gemaak word.

Image: ANGELA TUCK

Ons, bedoelende lede van die spesie Homo sapiens, lewe vandag in die inligtingsera, die vierde industriële revolusie, ’n tyd waarin kunsmatige intelligensie byna daagliks met rasse skrede vorder.

Maar ons brein en ons lyf dink nog ons is jagters en versamelaars.

Ons is maar sowat 5 000 generasies weg van die mense van Blombos, die eerste mense hier aan die suidpunt wat kultuur en kuns ontwikkel het. Evolusie is ’n baie stadige proses. Soos die Sweedse wetenskaplike en psigiater Anders Hansen dit in sy boek The Happiness Cure: Why You’re Not Built for Constant Happiness, and How to Find a Way Through uitdruk: “The lifestyle that you and I are used to is no more than a flash in the pan of our history, and it has materialised over far too short a period of time for our bodies to have time to adapt to it.”

Hansen probeer eintlik uitwys hoe ons, die nageslag van die min wat die moeilike eerste millennia van ons moderne spesie oorleef het, bedraad is om oorlewing eerder as emosionele geluk eerste te stel, wat ’n impak het op ons geestesgesondheid.

Groenpuntpark.
Groenpuntpark.
Image: FOTO'S: MAX DU PREEZ

Maar ek wil ’n ander hoek belig wat Saterdag by my opgekom het toe ek en my vrou deur Groenpuntpark in Kaapstad gedrentel en daarna langs die Seepuntse promenade gaan stap het.

Ek het onthou van ’n onlangse studie wat bevind het dat mense wat aan die kant van ’n woonstelblok woon wat oor ’n park uitkyk, meetbaar gesonder en gelukkiger was as die mense aan die ander kant van dieselfde blok wat oor ’n parkeerterrein uitkyk.

In ’n studie deur die European Centre for Environment and Human Health waarby 20 000 mense betrek is, is weer bevind dat mense wat twee uur ’n week in groen ruimtes – stedelike parke of die oop natuur self – deurbring, fisiek en psigologies aansienlik gesonder is as mense wat dit nie doen nie.

Ek en my gesin het ’n klompie jare gelede ’n pragtige huis in die welgestelde woonbuurt Rondebosch in Kaapstad betrek. Dit was regtig ’n lekker huis, maar die swembad was te groot om veel plek vir ’n tuin te laat en ons uitsig was ons bure se hoë mure. Suburbia. Ons het nie lekker gebly nie.

Toe trek ons vier jaar gelede Simonstad toe. Ons het ’n pragtige, wye uitsig oor die hele Valsbaai, ons is loopafstand van die beroemde pikkewynstrand en skaars 100 meter agter ons is die berge van die Tafelberg Nasionale Park wat al die pad tot by Kaappunt strek.

Mense wat twee uur ’n week in groen ruimtes – stedelike parke of die oop natuur self – deurbring, is fisiek en psigologies aansienlik gesonder as mense wat dit nie doen nie.
Uit ’n studie deur die European Centre for Environment and Human Health

Omtrent elke keer dat ek met my hond gaan stap, kom ons bobbejane, pikkewyne, dassies en swerms tarentale teë, met so nou en dan ’n ystervark of ’n bokkie of ’n yslike slang.

My klein tuin word gereeld besoek deur onder meer bokmakieries, janfrederikke, Kaapse glasogies, fiskaalvlieëvangers, Kaapse tiptolle, klip- en olyflysters, Kaapse rietsangers, suikerbekkies, fiskaallaksmanne, jangroentjies, rooivlerkspreeus en geel- en rooivinke, en ’n paar witborskraaie krys gereeld uit die boom oorkant die straat. (Nee, geen hadidas hier nie.) Ek verkyk my elke oggend aan die interaksies tussen die tortelduiwe en kransduiwe wat ek buite my kombuisdeur voer.

Ons is gelukkig hier. Ons is bevoorreg en geseënd. My innerlike jagter-versamelaar is tevrede.

Maar net oorkant die baai van my af en net anderkant die heuwel lewe die mense van Khayelitsha, Mitchells Plain, Masiphumelele en ander townships en plakkerskampe. Baie van hulle lewe in sinkhokkies reg langs mekaar.

Dié inwoners het nie tuine of parke nie. Daar is geen kontak tussen mens en natuur nie. Dit is oorbeknop en armsalig, en boonop gevaarlik. Daar is omtrent nie ’n boom in sig nie. Voeg daarby dat die meeste mense in dié gebiede, en in townships en plakkerskampe oral oor Suid-Afrika, baie arm is, en jy het ’n resep vir erge maatskaplike probleme.

In Groenpuntpark is baie oop ruimtes, damme, bome, inheemse plante en wandel- en fietsrypaaie.
In Groenpuntpark is baie oop ruimtes, damme, bome, inheemse plante en wandel- en fietsrypaaie.

Groenpuntpark, 105 hektaar groot en reg langs die imponerende Kaapse stadion, is Kaapstad se Central Park. Dit was eens die dorpsmeent langs ’n ou gholfbaan en is in die aanloop tot die Wêreldbekersokkertoernooi van 2010 in ’n wonderlike park verander.

Groenpuntpark was eens die dorpsmeent langs ’n ou gholfbaan.
Groenpuntpark was eens die dorpsmeent langs ’n ou gholfbaan.

Daar is baie oop ruimtes, damme, bome, inheemse plante en wandel- en fietsrypaaie. Geen smousery, alkohol of harde musiek word toegelaat nie. Niemand mag in die park oornag nie. Daar is ’n piekniekruimte waar ons Saterdag ’n hele klomp kinderpartytjies in volle gang gesien het. Die plek is baie skoon en die reëls word streng toegepas.

Dit is regtig ’n droomruimte, reg in die hartjie van Kaapstad.

Met twee uur ’n week in die natuur, al is dit 20 minute of so op ’n slag, gaan jy baie aan dokterskoste en terapie spaar.
Met twee uur ’n week in die natuur, al is dit 20 minute of so op ’n slag, gaan jy baie aan dokterskoste en terapie spaar.

Nie elke stad of dorp in Suid-Afrika het soveel ruimte soos dié nie, of genoeg geld om dit na te aap nie. Maar as ons ons gemeenskappe gesond wil hou en ons kinders ’n goeie kans in die lewe wil gee, moet ons begin om vir alle stedelinge ruimtes te gee waar hulle met die natuur kan omgaan. Streng reëls en veiligheidsmaatreëls is natuurlik noodsaaklik.

As ons stadsbeplanners behoorlike ruimtes vir parke begroot, gaan dit ook hoërdigtheid-behuising aanvaarbaar maak, wat veel goedkoper is en minder plek as alleenstaande huisies opneem.

Dalk is dit ’n gedagte om te laat by die goeie burgers wat deesdae moue oprol en dorpe en woonbuurte regruk: Verkry ’n oop ruimte vir elke gemeenskap en maak dit veilig en mooi. Dan crowdfund ons vir genoeg bome en struike.

Hoogtepunte uit Groenpuntpark.
Hoogtepunte uit Groenpuntpark.

Maar dit alles is ook goeie raad vir jou wat hier lees en nie gereeld in die natuur kom nie: twee uur ’n week, al is dit 20 minute of so op ’n slag, en jy gaan baie aan dokterskoste en terapie spaar. En jy gaan ’n gawer mens vir dié rondom jou wees, en langer leef.

Wag, die jagter-versamelaar in my fluister dat ek nou te lank agter die rekenaar sit. Tyd vir ’n vinnige wandelinkie.

Max


Jy plons die lewe binne
by jou ma leer jy liefde ken
en dan kom die wêreld met sy afgryslikhede
en jy word deel daarvan
Nee
Ek wil nie meer saamspeel nie
Vandag wil ek liefs in die tuin
’n takkie pluk
en my hond speels daarmee piets

– Jeanne Goosen

(Uit: Het jy geweet ek kan toor)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.