Ons het ver gekom, maar ons het ook nog ver om te gaan

WOENSDAG MET WILLEM

Ons het ver gekom, maar ons het ook nog ver om te gaan

WILLEM KEMPEN meen baie Afrikaanse hoërskole is op 'n gevaarlike pad.

Image: ANGELA TUCK

“Ons mag nooit vergeet hoe ver ons die afgelope drie dekades gekom het nie,” skryf Anneliese Burgess onlangs in haar Salige Sondag-geselsbrief.

Maar dan lees ons ook Maandag hoe iemand in kommentaar onderaan Max du Preez se brief verklaar: “Dit is die beleid van die Afrikaan om alles wat gewerk het óf te vernietig óf te steel.”

Ek probeer gewoonlik om ’n hele rukkie na te dink voor ek iemand as ’n rassis afmaak, selfs as dit blatant is soos in dié voorbeeld. Dalk, het ek eers by myself gehoop, bedoel hy met “Afrikaan” ons almal wat in Afrika woon of van hier af kom, swart én wit; dat steel en vernietig so ’n deel van ons kultuur geword het dat ons nie meer anders kan nie.

Toe nou nie, blyk dit uit wat hy later daar sê.

Een van die redes waarom ek versigtig is om daardie etiket om iemand se nek te hang – dalk óórversigtig – is dat ek vermoed iemand se verklaarde (let wel) denke oor rassisme is nie ’n goeie voorspeller van hoe hulle in hulle alledaagse handel en wandel met ander omgaan nie. Ek ken mense van wie ek taamlik seker is dat hulle heimlik oortuig is van hulle eie rassemeerderwaardigheid, maar dit nooit in die openbaar sal verkondig nie. Tog lyk dit vir my sulke mense vaar in die praktyk dikwels beter as die “kleurblindes” met dinge soos om verby iemand se velkleur te kyk om potensiaal raak te sien. Of om te verstaan watter rol hulle eie velkleur gespeel het in al die materiële dinge en kwalifikasies en ervaring wat hulle dalk het. Of om ander mense se basiese behoefte aan menswaardigheid te respekteer.

Aan die ander kant van die muntstuk is daar die vromes wat so graag pronk met hulle eie verdienstelikheid, soos die spoggerige Afrikaanse “oopkop-skool” met die “Christelike waardes” wie se leerders hulle by 'n onlangse nasionale byeenkoms onderskei het in die manier waarop hulle neersien op ander skole se swart kinders.

Nee, daar was niks wat gerapporteer of aangemeld kon word nie, geen video waarop iemand k-woorde rondslinger wat die koerante kan haal nie. Alles gebeur nét ver genoeg van die skeidsregters of die toeskouers se ore af, of is nét subtiel genoeg dat niemand dit wil waag om iets te sê nie. Maar onder mekaar praat daardie swart kinders met mekaar, en met hulle wit maats, en hulle wéét, en hulle gaan dit nie gou vergeet nie.

Moet ons dan verbaas wees as een van hulle oor ’n jaar of drie van nou af iets sê soos “Dit is die beleid van die Afrikaner om almal te verneder en te verkleineer wie se vel swart is”?

Moet ons dan verbaas wees as mense dink oulik-klinkende terme soos “Afrikaans” en “moedertaalonderrig” en “geloof” en “tradisie” en “standaarde” is eintlik net kodewoorde vir “nes in die ou dae”?

Help dít dalk sommer ook verklaar waarom dit so dikwels die Afrikaanse hoërskole is waar mens hoor van onderwysers wat die kinders agteraf met video’s en traktaatjies probeer wysmaak dat “alles wat hulle oor evolusie gaan leer nie waar is nie”; dat hulle moet aanhou om alles letterlik te glo wat in die Bybel staan?

Ons moet dan ook nie verbaas wees as al hoe meer ouers begin dink die tipiese Afrikaanse hoërskool het vasgehaak in die verlede en is nie die soort plek wat hulle kinders behoorlik kan voorberei op die werklikhede van die wêreld daar buite nie.


Soektog

Op die spoor van Nietzsche tot Pascal.
Delwend in die leer van Boeddha tot Baäl.
Deur die digkuns: Sexton tot Celan.

Maar nêrens ’n beeld of teken
vir doodse donkerte,
geen woord as kloon vir eensaamheid.

– Hendrik J. Botha

(Uit: Atropos)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.