Anderkant die ANC wink so baie dinge wat gemaak werk kan word

WOENSDAG MET WILLEM

Anderkant die ANC wink so baie dinge wat gemaak werk kan word

WILLEM KEMPEN wonder hoeveel dinge daar is wat Thandi Modise nie weet nie.

Image: ANGELA TUCK

DIE dowwe gedoef van kanonskote in die verte is gewoonlik nie ’n goeie ding om mee wakker te word nie, maar dit kan vreemd gerusstellend wees as jy soos ek naby ’n artillerieskool woon. Klompie jare gelede nog het mens gereeld snags of vroeg soggens die ontploffings gehoor, maar deesdae is dit nogal seldsaam.

Gerusstellend, want dit laat mens dink daar is darem nog lewe in die weermag. Ons hét nog kanonne, ons hét nog ammunisie vir hulle, ons hét nog mense wat weet hoe om hulle afgevuur te kry sonder om Eie Magte op te blaas in die proses (sover ek weet, in elk geval).

Maar dan wonder jy: Hoekom juis nou? Het die nuwe begroting vir die jaar ingeskop, of word daar geoefen vir een of ander nuwe gevaar iewers waarvan die res van ons nog nie weet nie? Is dit regtig ’n prioriteit vir ons gehawende leër om ingeoefen te wees op kanonne wat ’n teiken 40 km weg kan tref? Of is dit eintlik die plaaslike ammunisiefabriek wat daar aan die toets is aan produkte wat hulle iewers heen gaan uitvoer?

Letterlik af in die straat van my huis af is ’n kruising waar drie wêrelde bymekaar kom. Op een hoek, die een punt van die weermagbasis. Oorkant die straat na die ooste, die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit. Na die suidooste, ’n drieverdieping-woonstelkompleks, een van die menigte in ’n buurt vol studentebehuising waar boontoe gebou moet word omdat grond so skaars is. Op die vierde hoek, sportvelde wat ook aan die universiteit behoort.

Aan drie van die vier kante van daardie kruising is die grond ontwikkel om die beste daarvan te maak. Selfs die sportvelde is glo eintlik net ingerig sodat dit nie braak lê totdat daar eendag goedkeuring is om ’n mediese fakulteit daar te begin nie. Grond is kosbaar en niemand kan bekostig dat dit onbenut bly nie.

Image: © DefenceWeb

Behalwe aan die weermag se kant. Dáár is g’n teken van ontwikkeling of vooruitgang nie. Net oop stukke veld; hier en daar ’n oorgroeide paradegrond; ’n klompie vervalle bungalows met stukkende ruite waarin dienspligtiges eens op ’n tyd vir ’n klompie maande op ’n slag gebly het; ’n skuur of twee waar ’n paar Samils staan en verroes. Verder na die noorde is daar ’n paar eenhede wat wel nog funksioneer, soos die skool vir taktiese inligting waar mens nog soms soldate vir kursusse sien opdaag, maar na die suide gaan daar omtrent niks aan nie. Selfs die rugbyvelde word bitter selde op gespeel.

Ek wonder of selfs ons pelotons vol generaals en admirale eens naastenby weet hoeveel grond die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag besit, nog minder hoeveel daarvan behoorlik of selfs enigsins benut word, of hoeveel vir iets anders gebruik kan word. Ditto die minister van verdediging.

Enorme stukke grond in staatsbesit oral in die land waarop niemand meer leer hoe om oorlog te maak of vrede te bewaar nie, maar wat ook nie gebruik word om op te boer of om huise of fabrieke of skole op te bou nie.

Dink net wat is al hierdie grond dalk in die regte hande werd. Dink net wat kan ’n bekwame staat doen met die opbrengs op die verkoop daarvan. Dink net as ons ’n deel van daardie geld kan gebruik om ’n kleiner maar effektiewe professionele weermag te bou wat ons viswaters en landsgrense kan patrolleer en almal weghou wat nie daar mag wees nie.

Dink net as ons ’n regering gehad het wat al hierdie dinge kon laat gebeur.


Selkie Weaning Young

Finding her hide we trailed                                     
fingers down then against              
grains of fur thrusting shoulders into its waxy skin. 

                                                                This is how she found us
                            the past draped about us like a cloak 
hands separating peach halves from a core. 

                                   Her form in the sound 
a pandan leaf peeking through milk. The only seals in Vietnam:                                                                      American men with green faces.

– Diana Khoi Nguyen

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.