Die tyd stap aan, maar nie altyd vinnig genoeg nie

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Die tyd stap aan, maar nie altyd vinnig genoeg nie

Nederlanders dink nie flou grappies oor ‘African time’ is snaaks nie, skryf ANESCA SMITH.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

’n Gelukskoot in my huwelik is dat ek en my man verbasend veel gemeen het vir mense uit verskillende kulture. Maar daar is ook dinge waaroor ons hemelsbreed verskil – soos ’n besef van tyd.

Só verkies hy om altyd eerder te vroeg as te laat te wees. Om dié rede was ons al gisteroggend seweuur op Corfu se lughawe vir ons terugreis na Nederland al was ons vlug eers twaalfuur.

Ek kon natuurlik vasskop, maar ek vind in dié soort gevalle is dit beter om jou mond te hou en jouself die stres te spaar van iemand wat snaarstyf in die hotelkamer die horlosie sit en dophou.

Ongelukkig, hoewel Corfu ’n mooi Griekse eiland is, is daar weinig te vertel oor sy lughawe. Maar daar sit jy dan vir vyf uur met niks om te doen nie behalwe wag op jou vlug.

Ek, daarenteen, is omtrent altyd laat. Ek weet dis nie oorerflik nie, maar ek wil net noem my moeder is dieselfde. As jy haar vir enigiets nooi, selfs ’n begrafnis, is dit beter om maar ’n uurtjie of twee te vroeg by te lieg.

Image: ANGELA TUCK

Glo my, ek weet hoe onbeskof dit is om byvoorbeeld laat te wees vir ’n afspraak, maar om een of ander rede skat ek my voorbereiding vir die afspraak altyd te kort in. Nederlanders is gesteld op tyd. By hulle moet jy nie kom met flou grappies oor “African time” nie.

En ek dink ek weet waar my laatheid vandaan kom. Toe ek so 11 jaar oud was, het ek, ’n enigste kind, by my tante in Atlantis gaan woon waar daar nog 10 ander kinders in die huis was. En skielik het jy soggens in die badkamer net vyf minute om klaar te maak voor iemand aan die deur hamer.

En vanaf daardie tyd het ek myself oortuig dat ek iemand is wat net vyf minute nodig het om te klee. Dit is natuurlik onsin.

Wat my man betref, het ek geen idee waar sy obsessie met vroeg wees vandaan kom nie. Miskien iets te make met die Nederlander se drang om beheer en alles goed gereël te hê.

Ek skryf die ure op Corfu se lughawe maar af as ’n verlore dag.

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.