Ons is gevangenes van ons verontwaardiging

MAANDAG MET MAX

Ons is gevangenes van ons verontwaardiging

MAX DU PREEZ kan die situasie in Gaza nie anders stel nie as om te sê: Dit ruik na volksmoord.

Die South African Friends of Israel het my genooi om môre ’n vertoning van gru-beelde van Hamas se aanval op Israelse burgerlikes op 7 Oktober by te woon.

Ek hoef dit nie by te woon nie, want ek het al heelwat van dié ontstellende beeldmateriaal, meestal van Hamas-vegters se eie kameras, op YouTube en elders gesien.

Toe ek op sosiale media my besorgdheid oor die veiligheid van joernalistieke kollegas in Gaza uitgespreek het – minstens 35 joernaliste is in die afgelope vier weke daar dood – het verskeie fanatiese Israel-ondersteuners van die video’s en foto’s vir my aangestuur. Meestal met die beskuldiging dat ek ’n Jodehater/pedofiel/rassis/monster is.

Die Hamas-aanval daardie dag was allerverskriklik. Bloeddorstig, wreed, barbaars, wys die video’s en foto’s. Absoluut onvergeeflik. Kinders en volwassenes is soos diere doodgeskiet terwyl die moordenaars Allahu Akbar geskreeu het.

Hoe uiter ’n mens “God is die grootste” terwyl jy onskuldige burgerlikes koelbloedig afmaai? In watter soort monster van ’n god glo jy dan?

Ek het Maandagoggend 9 Oktober die eerste keer in Vrye Weekblad oor die bloedbad in Israel/Gaza geskryf. “Die Hamas-vegters se doodskiet en ontvoering van Israelse burgerlikes Saterdag is beslis moreel totaal veragtelik,” het ek geskryf nog vóór die barbaarsheid van die aanval duidelik geword het.

En toe kom die Israelse weermag se reaksie. Tienduisende missiele en bomme wat groot dele van Gaza in puin gelê het. Mense se blyplekke, hospitale, skole en die Al-Azhar-universiteit is vernietig. Gaza is afgesny van alle elektrisiteit, water, medisyne en kos.

Kollektiewe bestraffing.

Die ekwivalent in die geskiedenis sou wees as die Britte die meestal Katolieke Noord-Ierlandse stad Londonderry met missiele platgevee het na ’n gru-bomaanval deur die IRL in die 1980’s. Of die ou SAW wat Mamelodi of Soweto ná die Kerkstraat-bom in Pretoria in 1983 sou gebombardeer het.

Soos ek hier skryf, is die name van meer as 9 500 burgerlikes wat in dié aanvalle gesterf het, gepubliseer. Rondom 700 was babas onder drie jaar oud. Minstens 72 VN-werkers is dood.

Gaza se bevolking word op ’n skamele 2,2 miljoen geskat.

Ek kan dit nie anders stel nie: Dit ruik na volksmoord.

Dit sou natuurlik vir my baie beter gewees het as ek óf nie ’n woord oor die konflik gesê/geskryf het nie, óf saam in die koor van blindelingse ondersteuning van alles wat Israel doen en sê, gesing het.

Ek het verskeie goeie ou Joodse en ander vriende verloor omdat ek dit nie gedoen het nie.

’n Joodse kollega, ’n nasionale rubriekskrywer en radio-aanbieder, het op sosiale media verklaar dat hy nou alle respek vir my verloor het, dat ek nou die “vyand” geword het. ’n Afgetrede media-professor het my op sosiale media ’n “Jew-hating imbecile” en ’n “lover of babykillers” genoem. Op Twitter is ek as ’n “Hamas-apologeet” en, natuurlik, kommunis/verraaier/linkse uitgekryt.

Mense wat Israel haat, selfs ’n getroue Vrye Weekblad-leser, het my weer daarvan beskuldig dat ek “sag” is op Israel; dat ek te banggat is om regtig teen “die Jode” op te staan; dat ek deurgaans geweier het om my agter die pro-Palestynse beweging Boycott, Divestment and Sanctions (BDS) te skaar.

Soos oudpres. Barack Obama dié week oor die onderwerp gesê het: “We are confining ourselves to our outrage.”

Die konflik in Israel/Gaza het die wêreld nou skerp verdeel. Massiewe, hoogs emosionele betogings teen Israel se bombardering is die afgelope week oral in die wêreld gehou. TikTok en YouTube is vol jong Moslems in die Weste wat dreig om nou ook djihadi’s te word. Anti-Semitisme en Islamofobie neem oral toe.

Kyk gerus na dié onderhoud met Obama oor die geweld in Gaza. “If there’s any chance of us being able to act constructively to do something, it will require an admission of complexity,” sê hy. “Maintaining what on the surface may seem contradictory ideas – that what Hamas did was horrific and there’s no justification for it, and what is also true, is that the occupation and what’s happening to the Palestinians is unbearable.”

Ja, natuurlik was Hamas se aanvalle die sneller vir die jongste orgie van geweld.

En ja, Hamas se leierskap is duidelik ’n klomp bloeddorstige, outokratiese Moslem-fundamentaliste.

Weereens, die kompleksiteit. Soos die sekretaris-generaal van die VN, António Guterres, tereg gesê het: Die Hamas-aanval het nie in ’n vakuum plaasgevind nie.

Israel en Sioniste wêreldwyd het nou, vier weke ná die Hamas-aanval, met ’n internasionale propagandaveldtog begin om die wreedheid van dié aanval onder mense se aandag te bring, daarom die vertoning van die beeldmateriaal.

Dit is moeilik om dit as enigiets anders te sien as ’n poging om die dood van by die 10 000 Palestyne in Gaza te regverdig. Waar gaan dit eindig – 20 000? 30 000?

As die regering van Israel hulle land onmiddellik ná die aanval beveilig het en toe vir ’n oomblik gewag het om die beste moontlike reaksie daarop te bedink, sou hulle dalk besef het dat ’n ingehoue, nie-gewelddadige reaksie die wêreldmening, ook dié van die meeste Moslem- en Arabiese state en selfs die meeste Palestyne, skerp teen Hamas sou gedraai het.

Maar toe, met die aanvanklike aanporring van die Weste wie se politici hulle meer aan hulle binnelandse gewildheid as menseregte steur, laat hulle die hel op Gaza losbars met hulle Amerikaans-gefinansierde militêre oormag.

Dalk gaan Israel daarin slaag om die meeste senior Hamas-leiers en hulle infrastruktuur te vernietig.

Maar dit gaan die lewe van waarskynlik nog tienduisende Palestynse burgerlikes kos. Israel gaan vir dekades onveiliger wees as voor 7 Oktober. Israel gaan met groter passie as ooit tevore gehaat word.

Die gebeure gaan ’n letsel op almal van ons se menslikheid laat.

Die Palestynse begeerte tot vryheid, menswaardigheid en die teruggawe van hulle grondgebied kan nie met missiele vernietig word nie.

Die moord op 1 400 Israeli’s op 7 Oktober was ’n daad van verfoeilike terreur.

Maar, en ons moet dit elke dag oor en oor vir onsself sê, die lewe van ’n Israeli en die lewe van ’n Palestyn is ewe veel werd.

Gegroet
Max


Petra Müller

Om te lewe is om te brand
Andrea Voznesenski

Dit was 'n wilde nag toe ek weer luister
na die aanhoudende ritmes van jou tikmasjien
hoekom fladder jou hande deesdae soos vlerke
luister jy alweer na kraaie se geritsel in die riete
of engele stroom oor wilde heuwels
'n vreemdeling brand die vlerke van jou gedigte

My weemoed vlug na herfs in die riet se bos
riet en rietbos dra geel aan die melancholiese aronskelke.

- Melanie Grobler

Uit: Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik ('n huldiging)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.