Onkruid-snuffelaar in New York

RAAK WILD

Onkruid-snuffelaar in New York

’n Suid-Afrikaanse New Yorker leer ons meer oor hoe ‘foraging' die mensdom van 'n koskrisis kan help red, en identifiseer 12 wilde plante wat jy nou kan pluk en eet. Deur ANNELIZE VISSER.


MARIE Viljoen stap met lang hale teen ’n steil voetpad in die Kirstenbosch Botaniese Tuin uit, verby kapokbos, suurvy, kankerbos, nastergal en wilderoosmaryn. Ons is vergeefs op soek na misbredie, ’n eetbare “onkruid” wat meestal deur plaaslike boere uitgeroei word, al het dit meer voedingswaarde as enige ander blaargroente.‘
Dié plant-geek en voormalige operasangeres woon nou in Brooklyn, New York. Sy is die skrywer van die kosboek 66 Square Feet, wat op haar gelyknamige blog gegrond is, en sy opvolger, Forage, Harvest, Feast. Skielik sien Marie regs van die voetpad ’n paar bossies porselein raak wat Kirstenbosch se skoffelaars misgekyk het.
Met twee lang treë is sy in die middel van die bedding, kniel om die onkruid uit die grond los te wikkel en prop dit in ’n bruinpapiersak wat vermoedelik juis vir dié doel in haar handsak is. Sy gaan dit fynkap saam met knoffel en suurlemoenskil vir ’n soort gremolata, met porseleinblaar wat instaan vir pietersielie. (Die digter en koskenner C. Louis Leipoldt het dit terloops saam met gemmer, foelie, sout en peper in vet gebraai en ’n glas wyn bygeroer vir ’n porseleinbredie by rys en aartappels.)‘
Tuis in die VSA is Marie ’n “forager”, ’n soeker na wilde kos langs New York se sypaadjies en in die stad se parke en woude. Sy neem mense wat die wilde kos in hul stad wil ontdek en proe op staptogte. So word jy byvoorbeeld genooi om op Werkersdag na perdeblomme en brandnetels in Brooklyn se Dead Horse Bay te gaan soek, of om ’n Delicious Thugs Walk mee te maak om met die smaaklike skurke van die plantwêreld kennis te maak en ’n piekniek van onkruid te geniet.
Marie pluk dikwels misbredie in Brooklyn se Prospect Park, wat oor meer as 200 hektaar van Prospect Heights tot by Flatbush strek. Dan maak sy ’n misbredietert waarvoor sy ’n resep van die legendariese Franse sjef Roger Vergé aangepas het. Die kans is goed dat monsieur Vergé glad nie sou omgegee het nie: Hy was ’n voorstander van cuisine heureuse, wat hy beskryf het as ’n kookstyl wat die natuur se gawes saamvoeg “soos ’n bos wilde blomme uit die tuin”. Met ander woorde ’n geesgenoot.
Net soos die misbredie ontwyk ’n enkele beskrywende Afrikaanse woord vir “forager” ons nou al dae lank. Die woordeboek gee onder meer “snuffelaar” (te wyd) en “plunderaar” (gelukkig nie in vredestyd van toepassing nie).
Met die werkwoord “forage” gaan dit nie beter nie: “Kossoek” is te breed en “skrop” laat ons ons oë rol. “Onkruidkos” werk ook nie heeltemal nie omdat dit inheemse plante uitsluit, en Leipoldt se “veldkos” is sekerlik ’n wanbenaming as jou weiveld een van die wêreld se grootste stede is.
Terug na Marie se blog. Die 66 m² waarna die titel daarvan verwys, was die eerste in ’n reeks terrasse – meestal in Brooklyn, eenmaal in Haarlem – waar sy sedert 2007 tuinmaak, kosmaak en die stad se seisoenswisselinge aanteken.
In Oktober het sy en haar Frans-Kanadese fotograaf-man opnuut getrek, dié keer na ’n dakwoonstel so te sê reg langs Prospect Park. Maar daar was skaars kans vir die kerrieboom, die gemmerplant, die pynappellelie en die bergroos om tuis te voel op die nuwe terras voordat Marie in Kaapstad moes kom afskeid neem van haar pa, die man wat sy ’n paar jaar tevore beskryf het as “soos die beste boeke; die soort wat jy oor en oor lees, en elke keer iets nuuts vind”.
In die somermaande ná sy dood het Marie begin soek na wilde blomme en fynboskruie teen Tafelberg se hange, en vlierblomme en wildepruime laat fermenteer in dieselfde kombuis waar haar kosstorie begin het.
MARIE het van kleins af op die koppie oorkant hulle huis in Bloemfontein rondgekrap en wat sy uitgekrap het, geëet, voordat haar pa se regsloopbaan hulle in die Kaap laat beland het. Hier was tuinmaak haar voorland: met ’n tuin wat tot feitlik teenaan die berg strek, het haar ma, Maureen, dadelik by die botaniese vereniging aangesluit en Marie het begin uitgeek op plantboeke.
Sy het haar eerste kruietuin aangelê – ’n praktiese dambord-ontwerp – en toe Maureen ’n tyd lank siek was, het Marie haar in die kombuis begewe waar sy uit resepteboeke ’n gesofistikeerde repertoire begin opbou het. Ná skool wou sy eers ’n joernalis word en het sy ’n graad in Engels en geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad behaal voordat sy by die Suid-Afrikaanse Musiekkollege as operasanger opgelei is.
Sukses op die operaverhoog het haar na Washington gelei, maar ná ’n kort, “rampspoedige” huwelik het sy haar loopbaan in New York voortgesit. Toe ’n onskuldige hoesie in kinkhoes ontaard en sy ’n tyd lank nie kon sing nie, het sy haar brood by ’n kwekery in Manhattan gaan verdien en tuine vir skatryk New Yorkers se penthouse-dakke en luukse woonstelbalkonne begin ontwerp.
Nadat die tragedie van 9/11 bykans al die ondernemings onderkant 14th Street ’n knou gegee het, is sy as ontwerphoof aangestel by ’n maatskappy wat tuine vir kieskeurige kliënte soos CNN se Anderson Cooper ontwerp het. Maar die finansiële ramp van 2008 het die vraag na $200 000-dollar-tuine aansienlik laat krimp, en binne ’n jaar daarna was Marie haar pos kwyt. Vir die eerste keer het sy tyd gehad om voltyds te skryf, om meer aandag te gee aan die blog wat sy twee jaar tevore as ’n stokperdjie begin het, en om aan haar eerste boek te begin dink.
Daar was niks in New York se talle boekwinkels oor tuinmaak, kook en kossoek in die stad se wonderlike parke of oor die opwindende plantlewe wat in die seisoenuiterstes floreer nie.
Anders as die meeste boeke oor wilde kos wat meestal net ’n handvol saai resepte bevat, wou Marie ’n boek vol interessante resepte saamstel vir kos wat jy nog nooit geëet het of selfs geglo het bestaan nie. Avokado-en-kappertjieblaarslaai met sjerrie-vinaigrette; boeuf bourguignon voorberei met drie koppies hen-van-die-bos-sampioene; geroosterde heel hoender met ’n vulsel van wildeknoffel; en natuurlik die misbredie-weergawe van Vergé se klassieke spinasiebeettert.
Kos raak nog wilder in Forage, Harvest, Feast, wat in 2018 verskyn het: Hier kry jy sop met daglelies, karmosynbos met ansjovisbotter, en “cattail blinis” – wat nog lawwer klink as jy dit na papkuilpannekoekies vertaal.
En as jy dors is, is daar troos by die voorliefde vir skemerkelkies wat Marie by haar pa geërf het. Sy meng elke week drie of vier skemerkelkies wat niemand nog geproe het nie, met bestanddele soos vodka wat met dennenaalde deurtrek is, of jenewer waarin bloureënblomme twee weke lank gedryf het.
Om vandag kanferfoelieblomme te pluk en dit oor ’n week in ’n vonkelende drankie te drink is “verskriklik romanties”, sê sy. Maar die geure praat ook met die amigdala, die amandelvormige selbondels in jou agterbrein waar herinneringe van goeie en slegte tye gestoor word, en ’n jaar later neem die reuk van byvoorbeeld vlierblomstroop jou terug na ’n tuin en word dit “die idee van ’n seisoen”.
DIS nie asof Marie wil hê dat jy nou die naaste woud moet binnestorm en alles pluk en eet wat jy sien nie. Inteendeel. Namate die kossoek-tendens wêreldwyd vlamvat, aangevuur deur hipsters en hashtags soos #wildfoodlove en #forage, raak dit al hoe noodsaakliker om te onderskei tussen geil indringers (pluk na hartelus) en stadiggroeiende inheemse plante (pluk so min as moontlik). Sogenaamde koswoude wat toenemend in Amerikaanse stede gevestig word – eintlik mensgemaakte eetbare ekostelsels waar letterlik enigiemand gratis mag pluk – skep ’n meer volhoubare geleentheid vir meer mense om die lesse van “foraging” te leer.
Daar is in die eerste plek die herontdekking van uiters voedsame antieke gewasse wat in baie kulture as onkruid of “armmens-kos” letterlik van die tafel gevee is, en wat jy waarskynlik naweke tussen jou rose of ranonkels uitspit, maar wat die mensdom van ’n dreigende koskrisis kan help red.
Daar is die plesier om die reuke en smake van ’n land deur middel van sy inheemse plante te leer ken. En daar is bo alles die avontuur van geure wat jy nog nooit vantevore ervaar het nie, en die opwinding as jy daardie geure letterlik tussen die sementkrake in jou woonbuurt raakloop.
Hoe herken mens ’n “forager” in ’n stadsomgewing? wil ek ten laaste weet (noudat ek presies gesien het hoe een in ’n botaniese heiligdom soos Kirstenbosch te werk gaan).
Dis mense wat aandag gee aan hul omgewing, sê Marie. Hulle kyk selde op van die sypaadjie, en wanneer hulle dit doen, sien hulle nie ’n anonieme groen muur nie. Hulle ken elke plant. Dis soos om musiek te lees, verduidelik sy. As jy nie weet hoe nie, sien jy net die swart notasie. Maar as jy kan, dan word dit “ingewikkeld, moeilik en mooi. Dan lees jy die musiek van plante”.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.