In 'n blik gedruk

Fynproe

In 'n blik gedruk

As jy 'n oormaat gaste het, of jou bloedsuiker sak in die middel van die nag, dan is blikkieskos nie te versmaai nie, skryf NETTIE PIKEUR.


VOOR my lê die stukkie plat sleutel waarmee jy 'n blik kan ooptrek. 'n Wonderlike Amerikaanse uitvindsel, nes ruimteskepe en die einste woordprogram waarop ek hier werk, maar soos die bliksleutel, breek hulle soms.            
Treurig gaan haal ek die bliksnyer en wonder hoe die Kakies hulle boeliebief-blikke oopgekry het. Hulle het nog nie ring-pull cans gehad nie en jy kon tog nie veld toe met 'n bliksnyer nie. Vra Frans-Johan Pretorius, hy weet als van die Boere-oorlog.            
Ons oorle’ pa was baie lief vir boeliebief uit 'n blik. Hy het dit uitgeskud op 'n bord, bietjie tamatiesous oorgeskep en net so geëet terwyl die foon lui met sy volgende pasiënt in kraam.
Baie mense versmaai blikkieskos, maar steek hulle tog weg agter die bottels kruie en speserye. Hoe sou ons sonder blikke oorleef in die maer jare toe baked beans on toast al manier was om te spaar vir die vlug oorsee?            
Selfs nou is dit lekker om 'n blik boerbone oop te maak, die soet sous af te gooi en lepelsvol met mayonnaise te eet. Moenie bodder om jou eie mayo te maak nie – Hellmann’s met ekstra suurlemoen is net so lekker.
Om elke jaar te wag vir vars aspersies en artisjokke neem te lank, al word die goed ingevoer. 'n Ou aspersie buig troosteloos krom. Nee wat, koop hulle in 'n blik, veral daardie dik wittes. Rangskik op 'n mooi bord, saam met artisjokke sonder die skerp puntige blare, en eet met 'n vinaigrette-sousie.
Tensy jy met 'n permit gaan duik, kry jy min oesters op jou bord, en wel teen 'n bankrot plaas se prys. Die befaamde wynmeester Bennie Howard het geblikte gerookte oesters gebruik in 'n resep wat ek tot vandag dikwels maak: 2 blikke gerookte oesters, 250 ml room, bietjie gelatien en suurlemoen na smaak. Gooi als in die menger. Verkoel oornag en daar is jou oesterpâté, heerlik met beskuitjies.
Van die beste kos is geblik: kaviaar ook. Die kosskrywer en reisiger Ludwig Bemelmans het beskryf hoe hulle as kelners in 'n luukse hotel kaviaar uit blikke aan super-rykes bedien het. Russiese kaviaar is versigtig uitgeskep uit die reuse-blikke wat geweeg is voor en na die uitskep van lepelsvol van die kosbare vis-eiers.
Versigtig het hulle 'n swaar voorwerp soos 'n silwer-pepermeul onder in die blik geplaas, die res van die kaviaar bo-oor geskep en weer in die yskas bewaar. “Ek het nog nooit soveel kaviaar in my lewe geëet nie,” het Ludwig verklaar. En, soos hy bygevoeg het, was dit heerlik, soos alle gesteelde kos.
Ons oorlede Tante Cecile Cilliers het dié lekkerste sop gemaak op 'n dag toe die hoofgereg dalk te min sou wees. Dit was nie van suinigheid nie, maar altyd 'n oormaat gaste. Siela het álmal genooi, toe moes ons in die koskas rondkrabbel. Daar vind ons toe 'n klomp blikke en het met dié lot ‘n glamorous sop bedink wat almal beïndruk het.
Sy naam is Good Fake Soup. Een blik tamatiesop, een blik ertjiesop, een blik Heinz Consommé, bietjie room, 'n skeut sjerrie en een blikkie garnale of krapvleis. Bedien in klein sopbakkies, of selfs koppies, met die room en sjerrie bo-op.
Dit was die einste Siela wat 'n enorme ysterpot tweedag-afval gekook het en 'n gas gevra het om die pot tafel toe te dra. Voor ek kon keer, want ek weet ysterpotte kantel as jy hulle aan hul hingsels optel, tel die gas die pot op en alles tiep uit op die vloer.
Maak toe die deure, sê Siela. En kom skep terug, die vloer is vanoggend gewas.
Ons het alles in die pot teruggeskep, tot die laaste magie en harslag. Dierbare Wilson Ndu,wat die werf bedryf het, het die vloer kom skoonmaak en sy bakkie afval gekry, kompleet met 'n ekstra blikkie boontjies by.
In die middel van die nag besef jy jou bloedsuiker sak, jy bewe en jy moet dadelik iets inkry. Kook is uit. Blikmielies is die antwoord. Blikmielies en sheshebo, daardie wonderlike tamatie-en-uiesmoor wat die straatverkopers op 'n lang sny witbrood met braaiwors verkoop.
Of jy maak die blik worsies oop, grillerig rooi en gemaak van hemel-weet-wat, maar sterk mostert uit 'n Colman’s-blikkie sal dit eetbaar maak. Dan gaan haal jy die laaste blik en steek met 'n skerppunt-bliksnyer twee gaatjies weerskant bo. Klim terug in die bed, suig slukkies kondensmelk uit die een kant en lees weer Kook en Geniet se soet poedingresepte.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.