Marie Kondo is nie net priester vir die rykes nie

Gee jou goed jou vreugde?

Marie Kondo is nie net priester vir die rykes nie

Kondo het ’n internasionale verskynsel geword met haar doeltreffende oplossings om jou blyplek reg te ruk. Maar dié Japannese organiseringskonsultant en skrywer leer mense eintlik oor meer as net ’n netjiese huis, sê DAISY JONES, ’n voorstander van haar KonMari-metode. In ’n ongelyke samelewing soos ons s’n kan dit selfs jou ingesteldheid oor bevoorregting verander.


EK kyk graag programme oor huisopknappings. Só het ek ’n paar goed besef, soos dat opgaring met hartseer en droefheid verband hou. Dit is nie toeval dat poppe, aksiefigure en strokiesprente sommige van die algemeenste items is wat mense opgaar nie. Hierdie opgaarders het nie vanuit hul kinderjare aanbeweeg nie.
Mense wat klere opgaar, is desperaat om hulself te verander, maar dit werk nie. Dié wat vullis en rommel opgaar, verval in ’n chaos omdat hulle voel hulle het nie ’n doel in die lewe nie.
In Suid-Afrika is dit nie ongewoon dat middelklasmense – nie opgaarders nie, net mense met huise vol besittings – sê hulle weet net nie wat om met hul gemors te dóén nie. Hulle weet nie waar om te begín nie. Hulle voel verskriklik oor al hul besittings, maar hulle het die meeste van daai goed nódig, of hulle kan dit dalk eendag nodig kry. 
Snaaks, dit klink ’n bietjie soos ’n antwoord op die vraag: “Hoe voel jy oor jou bevoorregte posisie in Suid-Afrika?”
Die rede dat ons in Suid-Afrika ons huise vol “goed” maak, is deels omdat ons in die verlede seergekry het en angstig oor die toekoms is. Ons misbruik van krediet is ’n sprekende bewys daarvan.
Ons is nie alleen nie. Of apartheid ’n rol in jou lewe gespeel het of nie, die moderne lewe kan oral in die wêreld vreugdeloos voel.
Ons word oorweldig deur dinge op ons skerms. Ons huise was eens veel snoesiger: ’n plek vol boeke wat duidelik geléés is, afgeleefde leunstoele en kosgeure.
En nou, in 2019, volg die steurende stemme van vreemdelinge jou nie net tot op jou rusbank nie, maar ook na jou lessenaar en in jou bed. Ons bring moskee-skieters, Brexit-betotteldes, Trump-ondersteuners en staatskapers huis toe – om nie eens van kollegas se vakansie-kiekies te praat waaroor ons so jaloers raak nie. En dan is daar ook al die oordonderende, onweerstaanbare advertensies wat ons nie kan vermy nie.
Ons voel emosioneel uitgeput omdat ons aanhoudend uitgelok word om te reageer, reageer, reageer. Maar wat sien jy wanneer jy jou oë van die skerm wegskeur? ’n Deurmekaarspul van laaierkabels, ’n volgepropte klerekas, ’n vuil kabinet vol ou medisyne en ’n bedkassie oorlaai met boeke wat jy nog nie gelees het nie. Alles – en niks – verg ons aandag. Is dit dan enigsins ’n wonder dat middelklas-stedelinge die sagtheid en beloftes van Marie Kondo, ’n klein mensie met ’n vars gesiggie, so sielsvertroostend vind?
Die vraag wat jy jouself altyd moet vra wanneer jy regpak, is: Watter dinge het ek nóú in my lewe nodig? Kondo neem dit ’n stap verder: Watter dinge in my lewe “verskaf vreugde”?
Kondo is al opgewonde oor opruim vandat sy ’n kind was. Sy glo dis net so ’n belangrike huishoudelike vaardigheid as kosmaak, en sy wy haar professionele lewe daaraan toe om mense die KonMari-metode te leer: ’n opruimingsproses wat by orde skep begin, maar lesse oor organiseer en bêre insluit.
Die kern van die KonMari-metode is die beginsel dat ons ’n verhouding met elke onderwerp in ons huis het: Sekere items tap ons energie, en ander bring vreugde.
Klink dit ’n bietjie getik?
Kondo se Netflix-program, Tidying Up with Marie Kondo (daar is agt episodes), het mense van soveel besittings laat ontslae raak dat sommige kommentators hul kommer uitgespreek het dat ons die aarde met ons weggooigoed gaan versmoor.
“Die meeste van daardie ... sakke sal op vullisterreine beland ... En dit kos liefdadigheidsorganisasies miljoene om dit na vullishope te stuur,” het Alexandra Spring van The Guardian in Januarie geskryf.
Sy oordryf nie. Marie Kondo het na raming tot nou toe 11 miljoen boeke in 40 lande verkoop. Haar TV-program – wat aan die begin van die jaar hier en elders in die wêreld uitgereik is – het nog miljoene mense bereik.
The Life-Changing Magic of Tidying Up is in 2014 gepubliseer. Dit het ’n nommereen-topverkoper van The New York Times geword, en die volgende jaar was Kondo op Time se lys van die 100 invloedrykste mense ter wêreld.
Die sukses van haar opruimtegniek – om elke item in jou huis vas te hou, in volgorde van kategorie, en weg te gooi wat nie vir jou “ ’n vonk van vreugde bring” nie – was fenomenaal. Letterlik.
“Gooi dit weg as dit nie ’n ‘vonk van vreugde’ veroorsaak nie.” Jy rol jou oë. “Dis so simpel, en dis in elk geval onprakties, en wie het tyd?”
Moet dit nie afskiet voor jy dit probeer het nie. Om nuwe idees af te kraak is ’n vorm van emosionele lafhartigheid. En as jy jou oë rol, kan jy maklik vasgevang bly. Kan jy elke dag wakker word met dieselfde naamlose gevoel van ellende wat ontstaan omdat jy in die verlede en die toekoms leef – oor die goed tob wat jy moes en nie moes doen nie – pleks van hier en nou te leef.
Die KonMari-metode het vir my gewerk. Ek het die boek twee keer gelees. Ek het Kondo se metodes presiés gevolg. Ek het ons gesin se “goed” met die helfte verminder. My man, ons twee kinders – en twee honde en ’n kat – woon nou in ’n huis so groot soos ’n drieslaapkamerwoonstel.
Ek het my aan Kondo se logika onderwerp en elkeen van my besittings vasgehou om te besluit of ek dit teen my bors wou vasdruk (dís wat gebeur wanneer die item jou “vreugde gee”). Die proses het my van deugsame dinge soos boeke van Arundathi Roy, jazz-CD’s en jogamatte ontslae laat raak. Ek het dinge van die verlede weggegooi wat ek nie meer nodig gehad het nie, soos kursusnotas en padkaarte. Ek het goed weggegooi waaroor ek voorheen fantasieë vir my toekoms gehad het: waterverf, formele hoëhakskoene en ’n kroonkandelaar.
Daar was nog: Ek het van breekware ontslae geraak wat ek van my ma geëerf het, saam met kunsprojekte, klere wat ek nog nooit gedra het nie en selfs foto’s.
In wese is die KonMari-metode eintlik ’n identifiseringsproses. “Waarvan hou ek?” beteken eintlik: “Wie is ek?”
Die skrikwekkende én wonderlike ding van die KonMari-metode is die antwoord wat jy van jou geliefkoosde besittings sal kry: “Jy is nie soos enigiemand anders nie.”
Vir ’n middelklas-Suid-Afrikaner is dit ontstellend. Ons lewe lank is ons in groepe gegooi: rassegroepe, sosiale groepe, inkomstegroepe – en veel meer. 
Maar wat kan jy jouself nou noem – met hierdie idiosinkratiese versameling klere, foto’s, ornamente en liedjies wat jou hart laat jubel? Jou besittings weerspieël nie ’n verlede in net een spesifieke groep – groot of klein – nie, ook nie ’n toekoms nie.

Nee, jou hartsdinge is eerder tekens van hoe uniek jy nog altyd is. Dis ’n besef wat jou bemagtig én nederig laat voel.
Kondo se les is dat ons die voorwerpe waaroor ons dol is – sodra ons uitgefigure het wat dit is – op ’n manier moet vertoon of bêre wat ons respek en dankbaarheid daarvoor wys. Ons moet ’n ingesteldheid van sorg, selfs meelewing, kweek. 
Dit is ’n goeie les vir middelklas-Suid-Afrikaners. Dit leer jou dankbaarheid. Dis belangrik vir ons om te sê: “Ek het gekies wat ek wil hê, en ek wys my dankbaarheid vir hierdie voorwerpe.” So ’n stelling is die teenoorgestelde van: “Ek is bevoorreg; dis nie my skuld nie.”
’n Goeie voorbeeld: Kondo is baie ernstig oor wasgoed. Sy het ’n metode om klere op te hang (van donker na lig, hoër na die regterkant toe), ’n metode om gevoude items te bêre (regop, in ’n laai) en dring aan om sokkies en sykouse op te vóú en nie op te ról of bondel nie.
In Suid-Afrika het baie middelklas-mense huiswerkers. Hoekom moet ons enigsins omgee oor hoe fantasties dit is om netjies te maak wanneer ons iemand anders betaal om dit te doen?
Natuurlik is dit onredelik om van ’n vrou wat skoonmaak en stryk te verwag om so ’n komplekse, persoonlike taak aan te pak. Dis ook onredelik om dit van ’n ouer of geliefde te verwag.
Kinders sal ’n gewoonte ontwikkel om verantwoordelikheid te ontduik tensy hulle geleer word om hul eie gemors op te ruim. Volwassenes wat nie verantwoordelikheid daarvoor wil aanvaar om hul eie besittings uit te sorteer nie, doen dit tot hul eie nadeel.
Kondo is ’n goeie leermeester. Suid-Afrikaners behoort die geleentheid aan te gryp om hul las op ’n positiewe manier te verlig, verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar, en gewoond raak om dankbaar en sorgsaam te wees.
Nee, jou hartsdinge is eerder tekens van hoe uniek jy nog altyd is. Dis ’n besef wat jou bemagtig én nederig laat voel.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.