Bose toevlugsoorde vir boewe, sakke geld vir politici en kokablare

Op reis deur Suid-Amerika

Bose toevlugsoorde vir boewe, sakke geld vir politici en kokablare

JACQUES PAUW en sy reisgenoot, Anton Espost, ontdek die obskure agterstrate van Argentinië (natuurlik!), korrupsie (nog steeds), die Inka-koninkryk (broodnodige kultuur), kokablare (te bitter) en 'n wingerd (niemand is verbaas nie).


DIS maklik om gaande en liries oor Buenos Aires te raak en dis een van my gunstelingstede, saam met Istanbul in Turkye, Hanoi in Viëtnam, Maputo in Mosambiek en Porto in Portugal. Maar soos ander groot stede in die ontwikkelende wêreld koester Buenos Aires tientalle krotbuurte in sy buik. Die Argentyne verwys na ’n slum as ’n villa miseria.Dis soos Kaapstad wat nie net uit Seepunt, Kampsbaai en Bishopscourt bestaan nie. Daar is ook Langa, Nyanga en Gugulethu. Die meeste toeriste verkies om te maak asof laasgenoemde drie nie bestaan nie. Dieselfde met Buenos Aires: Jy kan weke lank in die stad rondhang sonder om deur ’n villa miseria gekonfronteer te word.Niks verder nie as ’n klipgooi van die swierige fasades, modeboetieks en windgat kroeë van Retiro – een van die rykste woonbuurtes in Buenos Aires – lê die “ander” Argentinië: ’n see van mankolieke sinkdak-gehugte wat bekend staan as Villa 31, waar sowat 40,000 na 50,000 mense woon.
Villa 31 wys nie op stadskaarte nie. Minder as die helfte van die huise het water en elektrisiteit en dienste soos riolering en vullisverwydering bestaan omtrent nie. Net 20% van sy skoolgaande bevolking slaag uiteindelik matriek en die kinders word uitgedelg deur paco, ’n hoogs verslawende mengsel van rou kokaïen wat met chemikalieë, gom en rottegif gemeng word voordat dit gerook word.
La Boca is ’n sokkermekka en die tuiste van die legendariese La Bombonera-stadion waar Diego Maradona sy sokker gespeel het. Die ou hawe aan die magtige Matanza-rivier is opgedollie en ou vervalle geboutjies en sinkhuise is nou ’n wonderlike en kleurvolle mosaïek van kuns, tango en kos.
Villa miserias: ‘bose toevlugsoorde’
Die groter metropool van Buenos Aires het ’n bevolking van 15 miljoen mense, van wie 10% in meer as 150 villa miserias woon. Argentyne glo dat dié buurte bose toevlugsoorde vir boewe is en die polisie huiwer glo om dit sonder versterkings daar in te waag. Ons taxibestuurder sou vir geen geld in die wêreld daar inry nie.
Die Argentynse regering is vol planne om villa miserias op te hef en het pas aangekondig dat die inwoners van Villa 31 eienaarskap van hul eiendomme gaan kry en dat die eerste bank, ’n nuwe skool en ’n McDonald’s op pad is.
Ten spyte van die ekonomiese geneukery is daar oral in Buenos Aires projekte om die barrio’s op te knap. Die beste voorbeeld hiervan is La Boca net langs San Telmo. Italiaanse immigrante het hulself in die 1800’s hier gevestig, die Genuese vlag gehys en onafhanklikheid verklaar. Dit was van korte duur.
In een van La Boca se agterstrate is ’n ouwêreldse cantina met die naam El Obrero (die werker) wat sy deure in 1954 oopgemaak het. Dis ongelukkig nie meer ’n geheim nie, want sterre soos Susan Sarandon, Francis Ford Coppola, Bono en Tommy-Lee Jones was al almal daar terwyl Maradona steeds sy eie tafel het. Bill Clinton het tydens ’n besoek aan Argentinië vir middagete ingeval, maar die kelner het hom nie herken nie en gesê die plek is vol. Die eienaar het tot Clinton se redding gekom en vir hom ’n spesiale tafel gedek.
Stap draaie om die junkies en dealers
Weens El Obrero se obskure ligging in La Boca is daar min toeriste, en ek en Anton is gewaarsku om nie daarheen te stap nie. Dis juis wat ons gedoen het, sonder enige probleme, maar met wye draaie om die junkies en dealers op die straathoeke.
El Obrero is, soos Bar El Federal in Buenos Aires, ’n plek wat jy vóél, eet, ruik en proe. Die kos proe of daar ’n matriarg met pofhandjies in die kombuis is wat liefderik geboorte gee aan die cazuela (’n Suid-Amerikaanse stowegereg van onder meer tamatie, seekat, mossels en calamari).
Ek en Anton is ’n tweede keer terug na El Obrero, dié keer saam met Alfonso, ’n ou vriend van Anton. Hy’t ons met ’n 19-voertsek-Peugeot 405 kom haal wat aan die brand gestoot moes word. Hulle het in vervloë dae saam tot in die vroeë oggendure gefuif, maar sedertdien het Alfonso ’n paar finansiële terugslae beleef en sy vrou het hom uitgeskop. Hy’t sy skouers opgehaal en in krom Engels gesê: “Sheet, it happens,” en vertel hy’t nuwe werk en besit boonop ’n stuk grond op ’n eiland êrens in die moerasse noord van Buenos Aires waar hy besig is om ’n huis te bou.
Alfonso is Argentinië en Argentinië is Alfonso.
“Alfonso het nóú niks, maar kom terug oor ’n jaar of wat en hy sal jou by sy huis – wat hy waarskynlik in Vogue kan sit – op die eiland ontvang en jou bederf met die beste kos en wyn. Moet hom net nie vra om jou te kom haal nie, want hy gaan nog steeds daai Peugeot ry!” sê Anton.
Ernstige korrupsie
Net soos in Suid-Afrika was dit nie ’n moordriller of liefdesroman wat in 2018 die beste verkoper in Argentinië was nie. Dié land het ook sy kwota van The President’s Keepers, Gangster State en “Gupta e-mails” gehad wat ’n vlaag onthullings van ernstige korrupsie teen die land se mees senior politici gemaak het.
Die ondersoekende joernalis Hugo Alconada Mon se boek The Root of All Evil is net voor my en Anton se besoek aan Argentinië gepubliseer en onthul dat korrupsie ’n integrale deel van Argentinië se politieke speelveld geword het.
“Korrupsie is nie meer op die kantlyn van die politieke aktiwiteit nie, maar het die hoofspeler geword. Dis endemies en senior politici, regters, joernaliste en sakemense is almal betrokke en sonder omkopery kry jy niks reg nie,” sê Mon.
Hy skryf hoe sakke geld by die gewese president Christina Fernández afgelewer is en van ’n komplot om etlike miljoene peso’s te “was” vir die verkiesingsveldtog van haar opvolger, Mauricio Macri. Volgens ’n akte van beskuldiging teen Fernández het sy die omkoopgeld op een van haar plase in Patagonië begrawe. Of sy egter ook in die beskuldigdebank sal staan, is ’n ander vraag. Net 2% van die korrupsiesake voor die howe lei tot uiteindelike skuldigbevindings.
In die laaste maande van verlede jaar is ’n reeks hoëprofiel-politici en -amptenare weens korrupsie en bedrog in hegtenis geneem, onder wie ’n gewese vise-president en ’n minister.
Die reeks inhegtenisnemings is teweeggebring deur ’n drywer by die departement van openbare werke wat oor die jare notas gemaak en boekgehou het van geld wat hy by sakemanne moes gaan haal nadat hulle tenders gewen het.
Elke Argentyn met wie jy oor korrupsie praat, uiter dieselfde sentimente. “Dis net stories, stories, stories, maar niemand sit in die tronk nie. Wat word van al die geld in die land? Alles word gesteel! Dit lyk soms of almal skep, van die hoogste tot die laagste politikus. Jy sal nie weet hoe erg dit is nie!” vertel Anton se vriend Alfonso.
Nee, Fernando, ek weet presies waarvan jy praat.
Ná die sensoriese kopfok van Buenos Aires was Salta – geleë in die noordwestelike hoek van Argentinië in die rigting van die grens met Bolivië – soos ’n stowwerige cowboy-buitepos uit die 19de eeu. Rugbyliefhebbers sal dié naam herken as een van die arenas waar die Springbokke en die Pumas kragte meet én waar die Suid-Amerikaners hulle al ’n slag of wat kafgedraf het.Dié pragtige stad is letterlik gebore uit die bloed van die Spaanse veroweraars wat die plaaslike Inkas met hulle koeëls, masels en ander smetsiektes bykans uitgewis het.
Inka-koninkryk
Nadat hulle die hoekstene vir die Plaza 9 de Julio in 1582 gelê het, het hulle ’n asemrowende pienk-en-room Catedral Basílica de Salta gebou wat die as van die oorlogsheld genl. Martín Miguel de Güemes bewaar. Langs die katedraal is die 18de-eeuse stadsaal, die ornate El Cabildo, wat onder meer ’n versameling Inka-artefakte bevat – net om almal te herinner dat die Inka-koninkryk van die 1400’s en vroeë 1500’s van Colombia tot in die noordweste van Argentinië (’n afstand van sowat 5,000 km) gestrek het.
Die Inkas het wiskunde bemeester, astronomie beoefen en was meesterlike argitekte en bouers. Een van hulle grootste prestasies is ’n 39,000 km lange padnetwerk wat hulle deur vandag se Argentinië, Bolivië, Peru, Chili, Ecuador en Colombia gebou het – met hulle hande. Deur middel van tonnels en kanale, wat vandag nog gebruik word, het hulle water na woestyne gebring.
Dit was ironies die einste “Inka-pad” wat die einde van dié ryk verhaas het, want toe die Spanjaarde die Stille Oseaan-kus in 1532 bereik het, het hulle dié netwerk gebruik om die inwoners tot in elke uithoek van hulle land te verjaag, te dood en te besmet.
Aan die oorkant van die plein is die argeologiese museum wat die oorblyfsels van drie gemummifiseerde Inka-kinders uitstal wat in 1999 naby ’n vulkaan in die Andesgebergte ontdek is. Argeoloë sê die kinders is in 1490 in ’n vrugbaarheidseremonie aan die gode geoffer. Hulle is perfek gepreserveer in die ys rondom die vulkaan.
Plaza 9 de Julio met sy magdom fonteine, kafees, kroeë, kiosks, skoenpoleerders en straatkunstenaars is die hartklop van Salta en die tempo is langsaam en talmend. Om eenuur knip almal ’n uiltjie, en al wat dan op die plein beweeg, is ’n groep jillende skoolkinders wat mekaar met water gooi ná ’n uitstappie in die museum, twee of drie nonne wat penorent en uitdrukkingloos in swart gewade en in gelid oor die mosaïekteëls stuiwe (God slaap nie) en ’n halfgeslyte F100-trok wat met ’n bak vol uie en wortels om die plein rammel.
Luilekker met die kokablare
Een van die redes vir die luilekker tempo van Salta is waarskynlik die feit dat dit een van net twee state in Argentinië is waar die kou van kokablare wettig is. Kokablare is die rou produk waarvan kokaïen gemaak word en die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad het jare lank probeer om die Argentynse owerhede te kry om dié gebruik te kriminaliseer. Maar dis alles verniet, want dié gebruik is eeue oud en almal in Salta kou glo kokablare, die polisie inkluis. Hulle maak ook tee daarvan.
Ek weet nie hoe dit proe nie, want ek het dit nie gekou nie. En nie weens enige morele besware nie – inteendeel – maar omdat dit ’n matige stimulant is, omtrent so sterk soos koffie. Dis boonop bitter en ek hou nie van blare nie, nie eens slaaiblare nie. Teen laatmiddag was daar gebolde kieste oral om die plein. Dis glo ideaal om die kokasap met ’n donker Salta Negra-bier af te sluk.
Gerieflike kamer vir goedkoop
Salta was nog goedkoper as Buenos Aires. Ek en Anton het in ’n gastehuis gebly waar ons elkeen R400 vir ’n gerieflike kamer betaal het (dis enkeltariewe; dubbel is ’n bietjie duurder) met lugreëling en ’n badkamer. Ontbyt was ingesluit. Die wonderlike parrillas in die dorp was ewe goedkoop. Die malbec, wat naby Salta gemaak word, was dieppers, effe rof en gepeper met swartbessiegeure.
Salta lê in ’n bergagtige subtropiese vallei en word omring deur kaktuswoestyne wat die tuiste is van ’n netwerk van antieke Inka-paadjies, rotskuns, ou oorlogsgrafte en antieke gehugte. Ons bestemming was die mistieke Quebrada de Humahuaca-vallei, eens ’n antieke Inka-handelsroete. Dié lang, smal vallei is ’n labirint van eindelose en veelkleurige rotsgebergtes en oeroue kaktusse. Soos die son oor die aardbol span, wuifgroet hy die berge in geel, oranje, pers en bruin, en teen die tyd dat hy agter die hoogste piek inswem, voel jy asof jy ’n sak kokablare verorber het.
Dit was Oktobermaand, maar die sneeu het nog op die hoogste pieke van die Andes gelê en smelt. Dit het uiteindelik stroompies gevorm wat lewe aan droë rivierlope gegee het. Gee vir ’n Argentyn ’n gietertjie water en wat gaan hy doen? Malbec en torrontés plant!
Soos ʼn wingerd in die Namib
Die wêreld se hoogste (en een van die droogste) wingerde is in dié vallei op 3,329 meter geleë – dis so hoog soos Mont-aux-Sources, een van die hoogste pieke in Suider-Afrika. Anton, self ’n wynmaker, se mond het letterlik oopgehang.
“Dis amper so goed soos om op ’n wingerd in die middel van die Namib af te kom,” het hy uitgeroep. Ons het daai aand ons bokvleis met ’n robuuste malbec afgesluk.
Ons het ’n kar gehuur om die Quebrada de Humahuaca te verken. Die kar was goedkoop – sowat R500 per dag met omvattende versekering – en in ’n uitstekende toestand. As jy in Suid-Afrika kan bestuur en oorleef, kan jy op bykans enige plek in die wêreld bestuur.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.